Dis hondmoeilik om ‘n bekende gedig te vertaal – veral as jy die oorspronklike gedig al soveel keer gelees het dat dit half deel van jou is. Hierdie tipe vertalings klink dikwels bloot na afgewaterde “wannabes” van die oorspronklikes. Dis soos om Chopin se Nokturne in E-mol majeur of Beethoven se Maanligsonata te probeer uitvoer: As jy waaghalsig genoeg is om dié bekende stukke te speel, moet jy seker wees dat jy hulle nuut kan laat klink, asof die ink op die bladmusiek nog klam is van Frédéric en Ludwig se gekrabbel.