Posts Tagged ‘Pieter Fourie’

Joan Hambidge. Die digkuns as klokhelder stilte

Monday, September 13th, 2021

 

 

 

Pieter Fourie debuteer met ‘n pragbundel Knapsekêrels (Naledi, 2017) wat kontreiverse bevat wat sterk herinner in stylaard aan Van Wyk Louw se Klipwerk-reeks.

Boerneef, ons ander groot volksdigter, praat ook saam.

Hierdie soort skerf-gedig, soos hierdie leser dit tipeer, word dikwels geskryf deur ‘n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug. Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; van ‘n wêreld wat vir ewig verby is.

Fourie skryf boere-haikoes. Punt-digte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.

Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks is volksliedjies en guitighede wat hy aangepas en verdigterlik het. Pieter Fourie se gedig “voorbode” (111) is ‘n voorbeeld van hoe hy dig:


voorbode 

’n ouvolk sit
op dophouklip

skielik gil
tinktinkie skril

in huisnok skuil
die nonnetjie-uil

dan kou die lam
aan doodsnot van
witappeltjie 

Witappeltjie as die giftige karoobossie wat die gevreesde gousiekte by skape veroorsaak, word hier met die ouvolk, ‘n primordiale dier verbind.

By Louw is die skunnige eweneens aanwesig. Fourie laai ‘n varkblom met seksuele innuendo (103). Die reeks “los kraletjies” (59) is ‘n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2

tietermantollie
tonteldosie
in knippievlam
kring ons krosie

 

En hoe pragtig om te verneem van die “bokwagter” (39) se kaviaar in die diep Tankwa.


Wingerdgriep

my baaisiekel se naam
nugter-en-dronk
dorp toe nugter, huis toe dronk

ai, toggie, ai
swerkater
ou swartmaraai

tortel kan buite koer
maar my tessie
kom deur tralies loer (86)

 

Die derde digbundel van Pieter Fourie, Stof en ster is ‘n vervolg op die eerste twee bundels Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018). Die leser vind dieselfde tegnieke hier: skerfies gedigte, die optekening van ‘n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde.

Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal.

Menslike deugde en ondeugde word teenoor mekaar geplaas.  Alles gesitueer binne ‘n herkenbare landskap. Die verse is mooi in hul eenvoud, sonder om eenvoudig of eenduidig te wees. Die seksuele, dans, sport, skuldmaak, die dood, die herinnering aan oorlog, klasverskille kom aan bod.

Stof en ster; orde teenoor chaos; lewe teenoor dood: die binariteite wat die stramien van die lewe behels en wat hierdie digter opteken. ‘n Mens sou ‘n uitgebreide studie kan onderneem oor hoe “Klipwerk”, Boerneef en Fourie se verse dieselfde prosesse belig waar die digter dikwels aan die stemlose ‘n stem gee. Vir sommige lesers sal daar selfs sprake mag wees van kulturele appropriasie; vir ander is die optekening alreeds ‘n daad van argivering.

Ons vind ‘n volmaakte drieluik in sy diguns.  Ek het uitvoerig oor hom geskryf op my blog Woorde wat weeg na die verskyning van elke bundel.

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=pieter+fourie Besoek 13 September 2021

 

So praat hy met Boerneef in Bidsnoer:

 

misterie

(vir boerneef)

sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot

(22)

 

 

Daniel Hugo: Pieter Fourie: Die digter wat my ‘n job gekos het

Monday, September 13th, 2021

Pieter Fourie: Die digter wat my ’n job gekos het

 

Die veelbekroonde dramaturg Pieter Fourie het op 77-jarige ouderdom as digter gedebuteer. Die bundel met die titel Knapsekêrels bevat gedigte wat soos klitsgras aan ’n mens bly klou. Hier is een, met die titel “stroois”, wat toon watter meester Fourie van die kriptiese vers is:

 

                               in huisie wit

                               skraalloop klein

                               het lamp nog pit

                               gesels nog grein

 

                               buite skink

                               skotvers bies

                               wit heuning

                               uit die lies

 

Fourie roep ’n bykans vervloë landelike wêreld in sy gedigte op – hoewel dit nie altyd so idillies daaraan toegaan soos in hierdie klein kamee nie.

Hy gebruik ook woorde wat al grotendeels uit die volksmond verdwyn het, en daarom bevat die bundel ’n verklarende woordelys. Daarin word “skraalloop” en “skotvers” verduidelik. “Skraalloop” gebeur wanneer jy “maag intrek en penorent loop in ’n beknopte vertrekkie”, en ’n “skotvers” is “’n jong (opgeskote) vers wat die eerste keer gemelk word”.  Siedaar die digter self: ’n vers wat die eerste keer gemelk word! En sy verse is niks anders nie as “wit heuning uit die lies”.

Een van my gunstelinge, “tortel”, kom uit die afdeling voëlgedigte. Hier word die digter met die dramaturg versoen:

 

                               opgepof

                               pronk hy

                               hop-hop

                               agter haar

                               bly jag

 

                               bo-op

                               boggelruggie

                               paar

                               grinnik

 

                               richard III

                               in koninklike drag

 

Fourie en sy vrou, Maletta, aan wie hy die bundel opgedra het, woon deesdae [2017] op Onrus. Hy beskryf homself soos volg in die bekendstellingsvers voorin die bundel:

 

                               in onrus sit ’n oompie

                               mymer: “my dae verdwyn

                               soos kwartels in lang gras”

                               besin

                               ryg string na string

                               woordkrale in

 

Die aanhaling kom uit D.J. Opperman se bekende gedig “Vakansiebrief”. Die Oppermanreëls gaan inderwaarheid só: “my dae verdwyn / in stiltes soos kwartels in lang gras”. Fourie oorwin met Knapsekêrels inderwaarheid ’n jarelange digterlike stilte. Hy het gedurende die 1960’s gedigte in literêre tydskrifte gepubliseer en was ook ’n student in D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch.

Daarom is dit soveel skrynender dat die laaste afdeling, getitel “stilte”, gedigte bevat waarin die dood seëvier. Bondiger en klankryker kan dit nie gesê word as in “graf” nie:

 

                               nommerpas

                               letterkraag

                               marmerjas

 

                               perdalks

 

                               kleikalbas

                               kraaktraag

                               beenmeelas

 

In die allerlaaste gedig, “uittogfluit”, gaan die digter die “klokhelder stilte” tegemoet.

Maar daar is ook talle uitbundige gedigte, veral in die afdeling “goljaartjie” – wat volgens die woordelys ’n streekswoord vir ’n bokjol of joligheid is. En dit is sinoniem aan “goggatik”, ’n dansparty of opskop. Die lang gedig “plaasskuurdans” is ’n wonderlike eweknie vir Pikkedel se “op Hartebeesfontein” van 1898. En sulke vrolikheid gaan altyd gepaard met drank wat vrylik vloei. In die plesierige vers “dors” word wyn onvergeetlik beskryf as “giskind van die korrel”!

Fourie het al vroeër – eintlik al ’n leeftyd gelede – probeer om ’n digbundel gepubliseer te kry. En by daardie geleentheid was ek ’n onbedoelde slagoffer.

Die storie gaan soos volg. Aan die einde van my diensplig doen ek in 1978 aansoek vir ’n paar geadverteerde poste in Pretoria waar ek twee jaar lank in uniform rondgeloop het. Een daarvan is ’n redakteurspos by Daan Retief Uitgewers.

Vol verwagting daag ek by die onderhoud op. Die destydse bestuurder sit ’n manuskrip gedigte voor my neer en vra of ek so iets sou publiseer as ek die werk kry. “Wie is die digter?” vra ek. “Pieter Fourie,” kom die antwoord. Hy het toe al reeds opslae in die teaterwêreld gemaak met Faan se trein en Faan se stasie, en sonder om te huiwer sê ek: “Natuurlik!”

En net daar is die onderhoud afgeloop.

Nee, kry ek te hore, Daan Retief is nie ’n literêre uitgewery nie. My smaak, verstaan ek by implikasie, is te elitisties vir dié produsent van kinderboeke en liefdesverhale.

My lewe het sedertdien baie draaie gegooi, maar altyd binne sig van uitgewerye. Daarom het ek, veertig jaar ná die Daan Retief-debakel, onmiddellik ja gesê toe Johan Coetzee van Naledi my vra om Knapsekêrels persklaar te maak. Met byna sardoniese plesier het ek die redigeerwerk aan die manuskrip gedoen. Op ’n manier het ek tog daardie job by Daan Retief gekry.

En ek is bowenal bly ek kon uiteindelik ’n bewys lewer van my geloof in die digter Pieter Fourie.

 

Rapport, 7 Mei 2017

 

Naskrif

Pieter het Knapsekêrels (2017) met nog twee digbundels opgevolg: Bidsnoer (2018) en Stof en ster (2019). Bidsnoer was in 2019 op die kortlys van die UJ-pryse.

 

Gedigte vir Breyten Breytenbach: 16 September 2019

Monday, September 16th, 2019

Breyten Breytenbach.”Pensief”  Grafika, DWV

Vir Breyten Breytenbach met sy 80ste verjaarsdag op 16 September 2019

Liewe Breyten, hiermee wens Versindaba jou geluk met die vername jarigheid vandag. Uit verskillende oorde het ons ʼn paar bydraes vir jou versamel (alfabeties vlgs van) as ʼn gebaar van waardering deur jou mededigters en ook om hopelik ʼn bietjie prettigheid toe te voeg tot jou geboortedag. Ons almal is saam met jou bly vandag en vier jou as mens én uitsonderlike digter.

 

Voorspoed en vele kreatiewe jare word jou toegewens!

 

=====================================================

Nini Bennett

16 September 2019

op weg na kû

Breyten Breytenbach

 

kyk hoe hou hy die handspieëltjie

hoog in die duister

om die melkweg as droomstroom

te vang in die skuit van bewussyn

 

ek slaap in ’n satelliet se vergesig

en alles wat verborge

of verlore is, als argief

 

mag die dag nooit breek

hierdie nag se vergete juwele

die silwer reën van meteore

verder as

die galery van sterre ja verder as

die bladeindes van nog ’n vers

 

[© Nini Bennett. 2019]

=====================================================

René Bohnen

16 September 2019

 

al die honde blaf geel

vandag-vandag

is breyten

taggentag

 

kom dans dan, dans

van sonkol tot sonkol

al kou die ure aan ons

blou hande, al klou

die winter aan die tuinklip

met sy logogramme

 

weet

ook vir ʼn landskap is ʼn mens

net een keer

ʼn maagd

ook vir papier

word

mettertyd ons rymelinge

mymeringe

in ʼn veld van suggestie en skaduwees

 

so minsaam so min saam

skyn

die kulprofeet ou sensmaan

en gevlekte uile met ingehoue vokale

uil die donker vol –

nagvlieërs op ʼn blinde reis

tot in der skewigheid

 

kyk            kyk

 

Woordgogel

hurk daar op die dak

  die ene vlerk en inasem(s)ing

breytenste buiteblaf

dankie jy

 

bring gloeipampoene vir ons ont-donkering

 

(© René Bohnen. 2019)

*

====================================================

Marius Crous

lama dashi

Vir Breyten Breytenbach, 16 September 2019

 

baardbard

elke lente droom jy

oor kamers vol rooi blomme

trap jou skaduwee sonder kop in jou spoor

soggens met die kleur van café con leche

voet op die vloervelletjie

wink jy iesie-iesie die dood nader

maar geel soos sult is jy ou ingesoute

opgefrommel soos dasji-dorzo

in jou trans van toekdam

*

vat jou hand selfgestook vlam

op blaaie vol foto’s van slagters

opgekaptes swaaiend aan ‘n haak soos slagskape

in die aand die maan rooi soos pampoen

knars jy skulpe sonder skoene see toe

jou skryfhand ‘n fakkel vir die nagdwalers

 

die staanklokke groei vlerke in die heuwelhuise

jy bind ‘n stralekrans (vis aan tou) om jou kop

kuif teen die wind hand onder die lapel (klein generaaltjie)

seil jy uit onder ‘n string seevoëls

soos gebedsvlae saam bo die skuit

 

die land sal jy nie meer sien nie

ou blinde seeman

die beentjies in jou ore verkrummel

ou patatrank

selfs die klank van bokkoms en boegoe

irriteer nie meer jou neushare

ou uitgebrande botterlamp

 

toemaar

 

ons gevlerktes

wit soos ghwano op die klippe

ons wag vir jou

ons sal die boot vang

met die verbykom

 

[© Marius Crous  – 2019]

*

=====================================================

Heilna du Plooy

Wat die digter weet

Deurentyd en deur die tyd heen
gaan dit oor veel meer as net ewewig;
oor meer as die eweveel
op twee pannetjies van die weegskaal;
veel meer as die balans waar alles val
en een ding staande bly.

Dit gaan gewis oor meer
as blote simbiose of meeleef,
oor meer as die samehang
in die weefsel van ’n spinneweb
waarin meervoudige vertakkings
as een patroon meetril.

Hoe onverklaarbaar die maan
en die eb en vloed van die oseaan
se liefkosings wedersyds heen en weer
wat waters laat kook en bedaar
langs die kus en snags oor die land
silwer weerkaatste son áfstraal.

Hoe skrikwekkend die kragte en magte
van magma onder die aardkors
wat gloeiend die aardplate dra
en onverstoorbaar stuwe en kolk
totdat dit uitbars in kokende klip
en die as van ’n verbrandende wolk.

Hoe ontstemmend die mensdom
se heersug, die griewe, die labiliteit
wat voortwoeker onder die vel,
wat heimlik agter die oë ver van die lig
strukture selfkoesterend uitdink
en ander se lewens vertroebel en kwel.

Nogtans, nogtans, nogtans.

Onder die son en die maan
bly die see steeds binne sy strande,
die rivier steeds binne sy bedding; sprei
die boom homself ondergronds uit,
wyer as die span van sy takke bo
en dieper as sy kruin teen die lug.

ons weet nie
wat vir ons bestem is nie
ons tas
met dun
wortels in die lug
heg
met senings
aan die aarde
vir gerusstelling
en vir uitsig

Goedaardige amoebes is wat nodig is
om hulleself in duike en in skeure te werp,
hulleself óm bulte en óór uitstulpings te vou
in die onvoorspelbare wêreld en wêrelde:
allerindividueel bestem, versigtig
soos die slange en opreg soos die duiwe.

want ons weet nie
hoe die sterre hang nie
hulle bots nie
en hulle val nie
en ons
ons stort
bloot
voorsiens
in
ons voortgang
in

 

[© Heilna du Plooy. J’baai 2019]

*

=====================================================

Louis Esterhuizen

Lumier

 

En jy, tot stilstand gebring

 

deur die trae spoed

van ʼn begeerte: die landskap wat knak,

voue maak, met jou. Iewers elders,

 

hoog, deur die wind

in ʼn stadige valk se sirkelgang gesluit –

 

Daar is melk in die aarde se holtes,

hoor jy, heuning in die lig se gebreekte klip.

 

[© Louis Esterhuizen / Sept. 2019]

*

=====================================================

Diana Ferrus

om tagtig op te verdeel 

(vir breyten breytenbach op sy 80ste verjaarsdag)

 

ons sukkel nie meer met literêre verset nie.

nou drup daar genoeg rooi op ‘n witblaai.

met gesigte teen die wind blaas ons uit

terug na daar waar die onheil broei.

ons boeke laat vure ontvlam,

hoeke so skerp, dit sny die swere oop.

tog is ons blaaie verbande, ons woorde salwend

en ja,

mag ons nooit vergeet dat daar ‘n tyd was

toe jy geen doekies om onreg wou draai nie.

jy het revolusie gedrup en daarvoor …

het jy met ‘n groot hap uit jou tagtig betaal.

 

enkosi, dankie, thank you, merci,

die een en enigste breyten

breytenbach!

 

[© Diana Ferrus. 2019]

*

======================================================

Pieter Fourie

onrus kiekie van breyten

[tussen uys en jan]

 

bruingebrand

in jou winterlandfrokkie

bobaas ontbaasde slaweklokkie

 

om die hele ou spulletjie van ons

se koppe trompop op te dons

 

meedoënloos sonder kies of keur

gesondheid boere

teer en veer

 

wees hom nie ge-nadig

kyk, hy is ons-kuldig

 

[© Pieter Fourie]

*

=======================================================

Melanie Grobler

Sterftejas

’n gedig vir Breyten Breytenbach

 

Deur die nag gekom

verby verlate stasies gereis

daagliks klop die koerier

aan die geelhoutvoordeur

 

omdat die sterfjas

te swaar, te lomp

is vir ’n hemelvaart

stuur sy vrou dit terug

na die onkoloog.

 

Die sieke vra ’n mooier jas

of selfs ’n seremoniële baadjie

’n seeblou lotus borduur deur sy geliefde

nee, ’n lang synagrok van die langoorrivierkonyn

kartel teksture in die varingplek van berge

die middernagson wat sweef deur die singende bome

 

kontinente wat seismies skeur

heeldag voor die kaggelvuur

almal huil, maar niemand

dink aan oleanderspatsels

as die donkerte aan die ruite pluk

of die raaisels van die dood

wat hom skielik uit die bloute pas.

 

Alles van waarde is weerloos.

 

[© Melanie Grobler]

*

=====================================================

Pieter Hugo

 

‘n HANDVOL BREYTEN

 

Almal ken mos die maer man

die een met die groen trui

hy vir wie ons woorddadig al haarloos blinkgevat het

hy wat die drome van ons reis

deur hierdie voorlopige suide

met geheime gedigte

in die deuropening laat staan

 

Maar ken ons hom?

Die ruiter van syn op die perd van lug

die ros van asem wat moes vlug

voor die gedaste menere van ons liederlike nagmerrie?

Hy was skadeloos, maar ons was hom ongenadig.

 

Wat het geword van Bittergesig Buiteblaf?

Hy het aanhou gedigte kug

terwyl hy die swaar klip moes dra

sy kop het bly groei hemelruim toe

met sy ware handskrif een van rus

woordend aan die volmaking

van die wysheid die lieflike die heilige

soos ‘n bergkruin vol sneeu

maar ons het hom genadeloos

te lig ge-yk

te donker ge-sel

gedink sy skaduwee sal klein skuil in sy lyf

 

Wie is hierdie Bullebach?

Hy is die groot voël so groot soos lig

Dié Afrikaanse Vokaal in ons familie van verskeurde klinkers

met ‘n konstellasie van sterre op sy voorkop wat arendsoog

steeds méér sien

steeds murg uit die werwels suig

*

Breyten, ken ons jou?

Of ken ons net die hond se swartvlieërblaf

teen die donker ruit?

Hoe leef jy in hierdie Taal wat jou ge-Judas én ge-Jesus het?

Wees ons, die fokkenvolk, tog genadig

 

Al is daar die kraak en knetter en krimp

van die verbygaan van die lewe

laat die Akashiese voël tydloos

gedigte pik pik pik

teen jou tronkselskedel

op weg na die kû

tot jou vlerke met koel blou windteue vryvlieg

héél in die heelal

 

[© Pieter Hugo. Sept. 2019]

*

======================================================

Louis Jansen van Vuuren

 

Liewe Breyten

 

Ek begin ‘n odegedig te skryf:

 

‘n speedcop sê my op agtien:

jy dobbel met jou lewe

as die naald op tagtig bewe

 

my moed begewe my

eerder, ‘n mondvol van jou eie woorde

as verjaarsdaggeskenk aan jou:

 

‘oopgaandae, vorentoeverstand, nagswerwer en soen

lysternagtegaal, wegvlerk. oerdonker en oerkluis

saamreisengel, weggooibrak en sterre

trapdans, spookvoëls, witgloeimaan en flintroer

besnuffel, handuitsteek, bekrabbel en ‘n pluksel vye

sterfjas, voordagbreekglans en huis-toe

droomkluitjie, botteroog en roetrook

 

ek stuur vir jou hier

die mondklippies toegedraai in papier’

 

baie geluk Breyten

van Louis

 

[© Louis Jansen van Vuuren. 2019]

*

======================================================

Antjie Krog

Mag die jaar wat voorlê skandalig geseënd wees , liewe Breyten!

En ter herinnering ’n gedig oor die tye toe ons waarskynlik op ons heelste was…

 

watervalberaad

                                                     liberation – here I am this first day shimmering bright

                                                     among angel choirs; afar the feathered folk sing psalms

   breyten breytenbach

 

die plat breë groen voorkop van die Zambesi

wat stort en stort     af

af

vallende water

skakels skuim

spattende slierte

hare stromend

rokend

reënboë wat bind   opbind

die damp

die sproei

 

die stomende groen voorkop van die onliegbare Zambesi

 

op die versengende lughawe

anderkant die doeane

Breyten sigbaar tuis op die vasteland

yours now slaked of all dishonour

sy oë eboniet    grys bak baard om die towertong

 

Barbara met die blinkste oë

in dié gedig wil ek jou teen my vashou

jy omarm my weeklagende hart

sê weer: everything will come right

weer: and it will be soon

and you’ll wait for us at the airport

 

Essop maak sy kinders groot in Londen

leer hulle Schweitzer- Reineke sê

hulle enigste land lê net op sy tong

 

Rebecca en Baleka:  ons kyk foto’s

van ons kinders onbevange gesiggies na die kamera

onsself stram op die agtergrond

huise waarin politiek nooit gaan lê nie

 

yours all freaked free in the boweries of the night

 

‘n aparter strofe vir Albie Sachs

donkerblou penstrepe skryf fyn oor die gesig van die vers

Mandela   Mandela  sing Baleka

Freedom is in your hands

 

en die harde stemme van skrywers

en die moeë stemme van digters

vlek die aand die land soos ‘n mat

skiet dit oop aan ons voete

en dit lê  ons land lê tussen ons

deur taal getaal totaal vertaal

deur soveel  trane en trooste verlangend afbetaal

praat ons ons land se nuwe taal ‘n metaallose taal

‘n veelkleurige heel taal se soel soet mense-taal

 

Senzenina – wat het ons gedoen

wat het ons gedoen

yours where dolphins windsoftly wheel

 

die bus rammel   almal gepak   deure toe

en julle bly staan voor die Makasa hotel

ons ry stadig vorentoe

en julle bly staan voor die Makasa hotel

en ons groet en roep en waai en huil

en julle bly staan voor die Makasa hotel

vuiste in die lug

die gesig van Jeremy Cronin kry ek nie vergeet nie

oë opgeskroef onleesbaar

Jeremy in die maroentrui kry ek nie vergeet nie

julle bly staan voor die Makasa hotel

soos ons vorentoe beweeg gaan sy vuis effens los

sy vingers roer asof hy iets wil saamgee wil vashou

julle bly staan voor die Makasa hotel

agter julle die druisende damp van die Zambesi

 

bly staan geliefde kamerade

nou in hierdie vers

ek skryf dit neer soos ek dit onthou

sodat op papier solank

ons een kan wees

en saam kan uitkyk uit hierdie vers

totdat bevryding skuimend druisend oor ons spat

die ballinge terugkeer soos engele of bokke of bome of honde

en ons mekaar omhels

binne en buite

alle vers

 

(Zimbabwe Julie 1989)

 

[© Antjie Krog]

*

======================================================

Johann Lodewyk Marais

 

Wêreldboom

 

Die kolos spel hom uit in tak en blaar,

wat in ʼn ander bestaan groter is

as alles in die sirkel rondom hom.

Heel bo tuur ʼn witkruisarend waaksaam,

bosnagape vreet sy jong lote,

bobbejane verorber sy vrugte

en mieliekewers en boomslange

misbruik sy sagte hout en gasvryheid.

In die soel tropiese nag vlieg motte

om die blomme en vrugtevlermuise

raak-raak met hulle vlerke die stampers,

terwyl ’n bruinhiëna onder draai

en ’n boomeekhoring op en af hol

asof hy iets aan die arend fluister.

 

(Vir Breyten Breytenbach)

 

[© Johann Lodewyk Marais. 2019]

*

====================================================

Susan Smith

onkant

al brand
die reënwoude
al skilfer die skubbe
binneste buitentoe
van reptiele af
al kook skilpaaie lewend
in doppe sous

al hou
kapibara’s vyf
minute asem op
al hoor ons
skreeuape drie kilometer ver

sal ons laaste asem
woorde wees
om bome mee te saag
en balke drome en nagmerries
snorkend skuimend bloots
tot satwordenstyd
te ry

ons is saad
van ons soort
ons reis deur ’n woud
van vuurhoutjies en vuiste

skotvry om ons goeiemôres
en goeiewense te krap
in as van verkoolde been

al vlug
luidiere vier meter per minuut
al loei pienk
rivierdolfyne ten
hemele in borrelende
amasoonriviere
al drup korwe was      verskiet
bye in vonke onderweg
na pampoenblomlandskappe

vyf   en   tagtig   duisend
vure in die hand

vier ons woorde wat ons in ’n wip
onkant vir ’n verjaring
betrap

skryf ons

hande in die vuur

dat die gedig ‘haar om mag draai
om die nag in die oë te kyk’

 

[© Susan Smith. 2019]

*

====================================================

Carina Stander

‘n Goëllied vir Breyten

(16 September 2019)

 

As die taal ‘n liggaam is

is jy die inkvlek op haar handpalm

vloeiend oor die vlegtende treinspoorgroewe van vel.

Die taal is die skelwit orgidee wat jou met morbiede beloftes verlei

asof jy ‘n insek is.

As jy ‘n rietfluit is, is die taal die verderflike moeras

waaruit windklanke gekerf word.

As jy ‘n wolk is, is die taal die glas

wat jou watergeboorte en -sterfte weerkaats.

As jy ‘n muis is, is die taal die duisterswiepende uil.

As jy ‘n skokbeentjie is, is die taal die slaanstok wat agter die deur skuil.

As jy ‘n rivier is, is die taal jou oewer, die grens wat jy oorstroom.

En as jy steeds ‘n rivier is, word die taal so waar die padda wat manel dra

en in jou woon.

As jy die grond is, sal die taal ‘n tuin wees.

En as die taal ‘n tuin is, is jy die klouterstruik,

die pampoenblom met geel vlerkslae

of hopelik die komposhoop.

Want as jy die komposhoop is – ‘n blareberg, erdwurmdeurwoel –

sal die taal sonder tyding ‘n boord kan word

swaardragtig aan bittersoet woorde.

As jy die vyeboom is,

is die taal die by wat jou bestuif

en as die taal die by is,

is jy die nektar.

Omdat jy die nektar is,

haal ons vandag met dié verdigsels

kaalhand heuning uit die taal

– dwase wat storm waar die duiselgrote engel huiwer –

ons vingers en voelers tintelend van al wat swewend leef en kleef.

 

[© Carina Stander / 2019]

*

====================================================

De Waal Venter

Ode aan ’n vangriem

Hulde aan Breyten Breytenbach

geskryf in ‘n styl van Pablo Neruda 

 

Oda a un lazo

.

El captor de plumas

de pájaros y sus peculiaridades,

atrapas vacas

rumiando sobre ellos

filosofías

 

Vanger van vere,

van voëls en hulle bekkighede,

jy vang koeie

herkouende aan hulle

filosofieë,

bronsrooi Afrikanerbulle

vang jy aan die uitgeleende been,

keer hom om

bleekpens bo

horings krap

kragtelose

sirkels in die grond,

witbont verse

van Friesland vang jy,

sandbruin verse van Frankryk,

met oë

soos mere

wat lepellê tussen die alpe,

want in baie lande

is dit vroegaand nog donker,

blinkblinde visse

vang jy

onder melkgroen water,

onbevange

oor honde in mense,

mense in hulle toegedinkte

stanings

waar wit latte van slaap

soos ’n hut groei om hulle op,

vanger van woorde

wat vlug soos voëls

weg

van die waarheid

se brand,

kleure kom nie weg

uit jou noustropstrik nie,

sodat die roos

se ruisende rooi klanke

soos kruimels tummel,

jy krul

om ’n ietermagog

wat snuifel

aan ’n miernes

vol waarhede,

oud soos die antikythera dinkding,

en vang hom vas

dat hy praat

deur sy beskubde lippe

van dít wat vroue

weet

wat mans nie weet nie,

grypend na wat ons

almal soek

pluk jy dit in jou

vangende hande en gee ons

vye wat suur word,

maar die liefde,

maar die liefde is soeter as vye,

alles is vliegtig

smeltend, verdampend

in mense se hande,

maar jy met jou

diereriem,

jou vasleggende tongriem

trek dit nader

sparwelende blinkvis

in die net,

jy lig dit uit

omdat die gedig in sy toegevoude hand

’n klippie

versteen soos dromer se skip

beskerm

teen die gekerm

van onthouspoel en sand.

Is daar iets

wat jy nie kan

vasgryp nie?

Wat maak jy

met woorde soos bitter moer

ná die drink?

Dalk kan jy nie

meer die voetspore intrek

wat ingedagte geliefdes geloop het nie,

of die smaak

van jou heel eerste woorde

op papier

nou lank vergane.

Jy raak al dunner, riem,

langer en vattender meer

meer as wat lesendes

in een jaar of meer

kan verteer,

ons groet jou

en jy glimlag terug,

môre donkerbreek-dagbreek,

ligfetus

met handjies en hare platgelek,

en jy praat met stilte,

die sabbatsgeluid van koelte

wat jou nooi om oor

jou eie skaduwee te tree.

Alles wat jy vang,

dankie gebêre in boeke

en dankie

dat ons

die gewone

breyten

kan kry in die mielieland.

 

[© De Waal Venter. Sept. 2019]

*

=====================================================

Cas Vos

’n Verjaarsdagsgedig

Vir Breyten 16 September 1939 –

 

Die feestafel kreun onder al

die lekkernye en soet verleidinge;

ook pampoenkoekies word opgedis

om jou te herinner jy is nou tagtig.

Genooides en ongenooides,

moedswilliges en onwilliges,

kwaadstokers en vrededuiwe,

vergun my om julle voor te stel

aan Breyten Breytenbach,

die man met die verweerde groen trui,

glo my tog, hy is nog steeds skadeloos.

 

Op 16 September is ’n seun

met ’n mond vol woorde gebore.

Sy pa was trots op die bulkalf

en sy ma op haar skoothondjie.

Snags voor bedlê het hulle klein

Breyten aan die Here opgedra:

“Here, ons weet nie hoe hy die see

gaan bevaar en hoe sy weg

oor berge en dale gaan kronkel,

met wie hy gaan konkel nie.

Maar wees tog net goed vir

hierdie vreemde woordsmous van ons.”

 

Die trotse Parysenaar het in sy onthou

traanbelope aan sy pa en ma gedink.

Oubaas en Ounooi het gesien hulle spruit

was van speentyd af ouderwets.

Kleintyd het die jongeling reeds

’n lotus met woordstiksels borduur.

 

Die swikswaar taak is aan my opgedra

om ’n lourierkrans met lowergroen woorde

vir die kunstenaar se 80ste te vleg.

Ek smeek Apollo om my krag te gee –

tot behae van die jarige en sy geliefde.

Na tagtig jaar op die woeste aarde

het ek hom in ’n woud opgespoor.

Hy vra of ek ’n ster vir hom sal pluk.

In die sterlig het ek dinge gesien

en gehoor waarvan ek nie kon droom nie.

Sy baard het sy inkennige ken bedek,

maar ek kon sien hy is veel gryser en wyser.

Die grys is die gevolg van al sy seereise,

die wind het die seesout opgeswiep,

sy hare en baard besprinkel en dit so gegeur.

 

Ek het soms by ’n onkreukbare regter

tuisbesoek gedoen. Hy het my na sy

studeerkamer gelei waar ons ure lank

Virgilius en Catullus bewonder het.

Al om die uur het ons onder eed oor jou

fluisterpraatjies gemaak, te bang

vir selspioene met bose gedagtes.

Vra jy wie die regter is? Die eerbare

een wat jou met vyftig rand vir briefsmokkel

en gedigte met vlerke beboet het. Hy het sy geheim

aan my toevertrou wat ek aan jou, tagtigjarige, onthul:

“As ek die regter was, sou ek Breyten vrygespreek het.

Miskien ’n paar rand vir sy ontydige vliegrit.

Hy is tog net ’n dromende digter en skilder – niks meer nie.”

 

Sewe lange jare het jy voorspooksels gesien,

hoe veroordeeldes met “Here, wees my genadig”

asemsnakkend met die geklingel van kettings

galg toe strompel waar die doodsengel wag.

 

Jou drome het jou snags onder vonklig na jou

geliefde in die verte gelei om haar hoop te gee.

Wette kon nie jou skeppingsdrang gevange hou

en die muse het jou nie aan die waansin van alleenheid

se skroeiende verlange oorgelaat nie, maar jou met ’n oorvloed

influisteringe besoek. Vryhand kon jy tydig en ontydig dig.

In ’n visioen het jy gesien: om te lewe is om te sterwe.

Daarom moes jy lewe voor jy sterwe en reik na die ontmoeting:

sange het jou bevryding uit die grot begroet, palms is gewuif,

jou gesig was welriekend en jou eens geboeide hande is gesalf

vir die belofte in volvoering: bevryding na die beminde.

Jy het ná sewe jaar in doodskadu opgestaan om die lewe te vier.

 

Nou beier die klokke klankryk en ek staan met die gedig voor jou

om jou te kroon en jou te vra om op jou digterstroon te sit.

Ek hang ’n mantel om jou skouers waarop pryk: Woordmaker.

Mag jy nog nagte deur droom en skemerwoorde een vir een naderwink.

Mag jou gedigte ons harte altyd verheug en soos die singende son

en sterre ons pad vol skrikgodinne na die ongesiene anderkant lig maak.

 

[© Cas Vos. 2019]

Met vergunning van Naledi. [Vlug van die gees, 2019]

 

===================================================

Nuwe publikasie: Knapsekêrels (Pieter Fourie)

Tuesday, May 16th, 2017

knapsekêrels

pieter fourie

Omslag

Die gedigte in hierdie debuutbundel handel onder meer oor ‘n byna uitgestorwe plattelandse lewe met tradisionele gebruike en ambagte. Tog word dit haarskerp en klokhelder verwoord sodat ook die moderne stadsmens aanklank daarby kan vind. Hy skryf ewe meevoerend oor die stad (Kaapstad) se leefruimte. Daar is ook aktuele gedigte oor Suid-Afrikaanse toestande, tydlose verse oor die dood en prikkelende, maar ook skreiende uitbeeldings van die liefde. Die verse het ‘n eie, unieke klank en styl. Die minimalistiese woordgebruik is besonder suggestieryk en skep dikwels meerduidighede – betekeniseggo’s wat naklinkend in die leser se kop bly draai. Die beelde en klanke klou inderdaad aan jou vas soos knapsekêrels.

Die skrywer is ’n Hertzogpryswenner asook die mees bekroonde en gepubliseerde dramaturg in Afrikaans. Hy skryf onder meer Faan se Trein en Mooi Maria .Hy word op 77 die oudste debutant in die Afrikaanse poësie. Sy kwantumsprong van dramaturg tot digter is getrou aan die aard van Fourie se hele loopbaan. Die vestiging van die KKNK as eerste Uitvoerende Hoof is maar een voorbeeld. Hy ontvang ’n ere-doktorsgraad in dieself­de jaar (2011) as Desmond Tutu by die Universiteit van die Vrystaat. Pieter Fourie is wyd bekend in die teater- en me­diawêreld in Suid-Afrika.

kwartel
(vir d.j.opperman)

.
ek koester jou
ratspootpassies
dartelend
in opslaggrassies
lui draffie
van fisant
is minder
amusant
kelkiewyn

o, ja
fynpikkewyn
riethaantjie
spog rooikousies
op waterlelieblaar
harlekyn
ballerina
gordyn

Die bundel kan ook bestel word op die webtuiste. www.naledi.online

(Naledi, 2017; Prys R 175.00, Sagteband • 128 p • 213 mm x 137 mm, ISBN: 978-0-928316-77-3)

.