Posts Tagged ‘Pirow Bekker onderhoude’

Onderhoud met Pirow Bekker

Friday, December 6th, 2013

 

Gisela Ullyatt         gesels met          Pirow Bekker

oor sy jongste bundel  Atlas teen die vergeetrivier,  Protea Boekhuis, 2013.

 

Gisela Ullyatt: Pirow, baie geluk met jou agste digbundel. Die omslagkuns is iets besonders. Het jy insae in die keuse van dit gehad?

Pirow Bekker: Dankie vir jou belangstelling en gelukwense. Ek beskou self die omslag as besonders en sal jou  kompliment oordra. Ja, ek het insae in die keuse daarvan gehad. Uiteindelik was daar twee sterk moontlikhede, maar as span het ons op die een waar die lense oormekaar skuif, besluit.

 

GU: In ’n onlangse onderhoud met J.B. Roux (Die Burger, 9 November), dui jy aan dat Atlas teen die vergeetrivier ’n drieluik voltooi wat uit Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) bestaan. Van die temas wat in al drie bundels belig word is die ouderdom, dood, liefde, en die natuur. Sou jy sê dat Atlas teen die vergeetrivier dieper delf as die eerste twee bundels binne die drieluik, veral wat liggaamlike verval en verganklikheid aanbetref?

PB: Hoewel elke bundel op sy eie bene kan staan, sien ek dit graag as ’n drieluik. Miskien is “drieluik” ’n te sterk inramende woord waar die sirkulerende motiewe voortbeweeg na die skynbaar onontkombare toe, soos ook in die bundeltitels gesuggereer: Stillerlewe, Van roes en amarant, Atlas teen die vergeetrivier. Stillerlewe verbind dit egter aan die skilderkuns en daarom is “drieluik” vir my gangbaar.

 

GU: Reeds in die titel – Atlas teen die vergeetrivier  – word die leser bewus van die feit dat konsepte soos herinnering, vergeet, en vergetelheid moontlike leitmotiewe is. Soos in vorige bundels is daar mitologiese verwysings; hier is dit “Atlas” wat ’n bepaalde emosionele las op sy skouers moet dra asook die Lete, wat die “vergeetrivier” aandui. In die inleidende gedig, “Toekomende verlede” (11), verklaar die “ek” dat daar “net die behoefte aan onthou” is en hy nié uit hierdie “vergeetrivier” wil drink nie. ’n Belangrike metafoor wat saam met vergeet gebruik word, is ’n brug:

 

Laat my nog hier duskant hou

’n sabbatsjaartjie toe om te prakseer

hoe om ’n brug – hoe wankelrig ook al –

oor die vergeetrivier te bou.

 

Sou hierdie “brug” gelykstaande kon wees aan die digter se boetsering teen die vergeet sodat ’n tipe nalatenskap geskep word? Is die brug-tematiek van die bundel bewustelik geskep as ’n vlugroete wat die vergeet en vergetelheid besweer?

PB: Ja, ek meen daar word telkens iets opgestel teen die vergetelheid. Die woord “be-onthou” wat ek in “Toekomende verlede” gebruik, is op sigself so ’n brug. Deur jou daarvan te ont-hou om uit die vergeetrivier te drink en met die voorvoegsel “be-“ word die ander betekenis van “onthou” versterk. Die brug-perspektief oorspan die hele bundel: die eerste afdeling heet “Die aard van brûe” (met die dubbelbetekenis van “aard”) en die slotafdeling en slotgedig “Vlugbrug”. Wat “’n tipe nalatenskap” betref: dit gryp ook terug na die “amarant” in die vorige bundel. Die amarant is in die mitologie die blom wat onverwelklik is.

 

GU: As deurwinterde digter moes jy deur die jare seker al onder die skerp tong van ’n pedantiese kritikus of twee deurgeloop het. In “Nasomer” (17) voel dit vir my of die eerste strofe hiermee verband hou:

 

Beginseisoen se kwetterende bou

aan hangneste is lankal verby;

’n oorkritiese vrou se inspeksie

maak in geen opdons meer saak nie.

 

Kan hierdie “oorkritiese vrou se inspeksie” dus dui op die deurwinterde digter wat vere voel omtrent literêre kritici? En sou die frenetiese bou aan vinkneste as metafoor kon dien vir die gedigte wat in die “beginseisoen” van ’n digtersloopbaan was?

PB: Soos jy die gedig vir jouself interpreteer, is al antwoord wat ek op venynige kritiek gehad het, om maar nog ’n vinknes te bou. Miskien met windeiers in, soos die kritiek sal sê! Vergelyk ook “Randfiguur” (randeier?!) soos ek al genoem is. Maar elke plesiertjie kry ’n diertjie en hierdie een het hom op ’n keer besondig aan die aan die kaak stel van ’n ander digter se regters in “Anatomie van ‘n miskenning” in Amarant.

 

GU: ’n Groot deel van jou oeuvre word deur fyn woordspel gekenmerk. In “Wat wil jy eendag word?” (18) sorg die spel met woorde vir veelvlakkige semantiese en sintaktiese betekenis. Die “ek” beleef die sikliese aard van word totdat dit uiteindelik niks meer as geword is nie. Die volheid van word en selfs die geword, spoel oor tot verwording. Maar nes die leser ’n beeld van agteruitgang en verval begin aanvoel, wag daar ’n verrassende transformasie wat  verwondering betrek:

 

Wil jy opstaan, koffie maak,

jou gesig gaan was, ontbyt?

Dit maak nie saak nie, vanaand

sal jy steeds verwonderd vryf

oor jou nugter maag.

 

Dus sypel die proses van wording (toekomstige tyd) deur na geword (verlede tyd) wat dan ’n verbinding skep met verwording, iets wat gewoonlik degenerasie behels. Tog is daar steeds verwondering. Verder kan die gedig ook nóg ’n kinkel in die woordspel impliseer: die verwoording van hierdie verwording en verwondering. Ervaar jy verwondering as deel van verwording en sien jy verwondering as iets wat meer met die alledaagse as die verhewe te make het? Voel jy dat opmerksaamheid (mindfulness) ’n groot rol in jou digkuns speel? En watter digter(s), volgens jou, verwoord hierdie proses van verwondering en opmerksaamheid op ’n besonderse wyse?

PB: Dit is ’n lawwe reaksie, ek weet, maar ek het my daarop betrap dat ek met verwondering wou uitroep: “Uitgevang!” oor jou lesing van “Wat wil jy eendag word?” Ek dink jy het iets van my werk goed raakgevat met jou “uitleg”. Vir my roep ’n woord dikwels ’n ander een (of meer) agter hom op. Wat jy sien en hoor is op ’n manier sinsbedrog. Selfs net in die klank omarm woorde mekaar, maar hopelik sonder om “die spoed te breek”. Want vaart in ’n gedig kan my kry, waar klank natuurlik grootliks bydra tot die diamiek. In hierdie gedig loop die vrae uit op nugter verwondering. Die “eendag” keer terug na die begin. Anders gestel: die verwondering lê in die prilheid van kinderlike ervaring wat die alledaagse omtower en veel laat verwag. (Verskoon die voortvarendheid, maar jou lesing het my verlei.)

 

GU: In haar resensie oor Stillerlewe merk Joan Hambidge (Rapport:2002) op dat “by die ouerwordende mens (en digter) daar ook selfkastyding en –ironie te bespeur [is]”. Ook in Atlas is hierdie tendens sigbaar, soos byvoorbeeld in die liggaam se “rimpelvel” (“Vriend Weliswaar”:20), die “reuk /van stil ingewande” (“Opgewekte”:84) en veral die “ferratus-lyf” in “Liggaamsbouer keer in” (52).  Tot watter mate dink jy behoort self-ironie ’n rol in die digkuns te speel? Dink jy daar is in die huidige Afrikaanse digkuns genoegsame self-ironie onder jong digters?

PB: Self-ironisering en –kastyding bewaar jou as ‘t ware van selfvertroeteling en –bejammering. In “Vriend Weliswaar” en “Opgewekte” loop die wel aanwesige teistering uit op ‘n positiewe wending wanneer die dood in diens gestel word en plek moet maak vir lewe. In “Liggaamsbouer  keer in” laat die pratende liggaam hom op stuk van sake nie voorskryf nie. In o.m. “Gravitasiegrasie” en die reeksie “Lyfspel” is daar m.i. die absurde uitkoms van oorlewingsaksies soos die danseres wat “die oorle Kaapse kwagga laat sebra”. Ek sou glo dat die self-ironisering belangrik is. Oor die vraag of dit in die jongste Afrikaanse digkuns genoeg saamspeel, kan ek my nie uitlaat nie.

 

GU: “Ingewing” (67) is ’n besonderse liefdesgedig, totaal gestroop van sentimentaliteit. In die laaste strofe werk jy met ’n ongewone, maar treffende metafoor:

 

Daarom plooi ek vir jou

’n foelievuurpyl, lief,

en prop sy knalkop vol woorde

gekou, herkou tot veselglas

 

Ek sal graag wil weet hoe “foelievuurpyl” tot stand gekom het en hoe “veselglas” daarmee verband hou. Kan “knalkop” ook as ’n seksuele metafoor gelees word?

PB: Bly dat dié gedig jou geraak het. As jong verliefdes kon jy ’n stuk foelie in die vorm van ’n vuurpyl rol en die een punt tot ’n houer vir ’n knalkop druk. As jy dan papier kou tot veselvlas (Let wel: nie –glas nie) en dit in die kop saampers sodat dit net-net ontbloot is en jy gooi dit teen die plafon vas, bly dit daar kleef tot die papier ontvou. So kon jy ’n boodskap oordra. Die knalkop sou, soos jy dit vertolk, ook as seksuele metafoor kon dien, maar ook as lewegewende simbool.

 

GU: Jou gedigte is veral bekend vir hulle sterk satiriese inslag. Voorbeelde hiervan is “Gholfsekuriteitsoord” (40) en “Woordweë” (33). Ook ’n uiters geslaagde satiriese vers is “Op Juvenalis se panem et circensis” (39). Ek hou veral van die manier waarop die Romeinse idee van “appeasing the people” (met “brood en sirkusse”) en die moderne nosie van “lewende legendes en idole” (kenmerkend van ’n media-sirkus) vervleg word. Kan jy meer hieroor uitbrei?

PB: Satiriese gedigte het ek maar deurgaans geskryf. Dit help ’n mens speel met spoke wat jy andersins nie kan “bespreek” nie. Eens op ’n tyd was dit hoofsaaklik stories met ’n skeutjie waarheid wat legendes genoem is. Toe kom mense wat in die dood legendes geword het. En vandag wemel dit van legendes. Saam met die brood en spele waarvan Juvenalis rep, kry die massa nou ook lewende legendes en idole by wyse van spreke op hul brood. Daardeur  kry hulle glimpe op onsterflikheid en glorie wat rustig stem.

 

GU: Gaan hierdie “ou woordreisiger” nog nuwe digreise in die nabye toekoms onderneem?

PB: Tans voel ek wel nog na draaksteek in al die betekenisse van die woord, maar niks juis konstruktiefs nie. Hier lê ‘n klompie kortverhale, oorspronklik en verspreid in allerlei publikasies, en verskyning onder een titel was ’n tyd gelede op die horison, maar in hierdie stadium nie meer nie.

 

GU: Laastens, watter gedig in hierdie bundel is jy besonders mee tevrede?

PB: Ek is met geeneen volkome tevrede nie. Skryf is mos maar ‘n volgehoue onvrede met die tevredenheid. Maar ek sou darem ook selfs ‘n liddoring in hierdie verbeelde Atlas nie wou mis nie!

 

  •