Posts Tagged ‘Pirow Bekker Rakelinks’

Resensie: “Rakelinks” (Pirow Bekker)

Monday, June 13th, 2022

 

 

 

Resensie:  Rakelinks deur Pirow Bekker. Pretoria: Imprimatur, 2022. 110 pp. ISBN: 978 0 620 98299 3

 Resensent: Marius Crous

 

Rakelinks is Pirow Bekker se tiende digbundel sedert sy eerste digbundel Die klip sing in 1965. Naas digbundels skryf Bekker ook akademiese studies, radiodramas, romans en kortverhale.

Ten spyte van sy uitgebreide oeuvre, bestaan daar weinig kritiese ondersoeke na sy werk. Phil van Schalkwyk se profiel oor Bekker in Perspektief en profiel Deel 1 (2015) gee vir die leser ‘n oorsig oor Bekker se werk en lig die prominente temas uit. Odendaal (in Van Schalkwyk, 2015: 354) sluit Bekker in by die groep Afrikaanse digters wat ouderdomspoësie skryf. Die digter kyk dikwels met ’n ironies-getinte oog na ouerwording, soos ook die geval in Rakelinks. Ook Amanda Lourens (2017:93) klassifiseer sy werk as laatwerk wat “wys in die rigting van laatwerk wat veral op transformasie, oorbrugging en vrywording fokus, met die liefde wat ʼn deurslaggewende rol speel.” Van Schalkwyk (2015:354) meen dat die puer aeturnus of die ewige jongeling heelwat in Pirow Bekker se oeuvre aangetref word.

Met die lees van die titel kom woorde soos rakelings, ink, links by mens op. Rakelings,  met sy betekenis van “byna raak wees”(HAT) word veral gekoppel aan ink, omdat die bundel so sterk ingestel is op die digkuns. Vir die digter is Homeros vergestalting van die digterskap. In “Homeros hou ’n ogie in die seil” (14) skryf hy in dié verband:

 

Ek bevaar steeds Poseidonseë, krabbel

instinktief notas neer, met my lot

nou minder geleë in die skoonskryf

van apokriewe ou verhale.

 

Of in die slotgedig van die bundel, “Lewe die digter!”(109) word ‘n gesprek gevoer met Coleridge, wie se “Die digter is dood in my!” die prikkel is vir hul gesprek. Hierdie gedig word soos volg afgesluit en beklemtoon die ewigdurende skeppingsdrang van die digter:

 

En iewers roep ’n Homeros weer die muse aan,

maak hy gereed om in te skeep

en rakelings langs ’n blinde kus te vaar.

 

In een van sy briewe aan Charles Lamb vergelyk Coleridge homself met Wordsworth en kom tot dié gevolgtrekking:

The Poet is dead in me—my Imagination (or rather the somewhat that had been imaginative) lies, like the Cold Snuff on the circular Rim of a Brass Candlestick, without even a stink of Tallow to remind you that it was once cloathed & mitred with Flame. That is past!” … “If I die, and the Booksellers give you any thing for my Life, be sure so say—Wordsworth descended on him like the —– from Heaven; by shewing to him what true Poetry was, he made him know, that he himself was no Poet”.

 

Ses jaar vantevore het hy alreeds geskryf:

 

“I abandon Poetry altogether—I leave the higher & deeper Kinds to Wordsworth, the delightful, popular & simply dignified to Southey” (in Moulin, 2010).

 

Anders as Coleridge, hou Bekker aan met skryf, al moet hy sy eie kop “bespeurder”of met voorgangers in gesprek tree.

 

Nes vele andere, skryf Pirow Bekker ook in hierdie bundel oor die ervaring van die grendeltyd. In wat hy sy “krimpvarkiewêreld”(20) noem, neem hy kennis van die nuwe griep in China en daar in ons “oorgangsomer van die jaar 2020” die wêreld inkrimp en die digter in sy “uitskop-laziboy” (23) inspirasie najaag. Die inkrimping van sy wêreldjie word verwoord in “Om te rym met Afrika”(25) waar die digter ’n gemmerpil saam met al sy kapsules en tablette neem.

Tydens die inperking skryf hy onder meer ’n “staartsonnet” (32) sodat hy

 

Pen in die hand […] homo erectus dalk hekel,

Vir basiese afronding konkel met die sober sonnet –

’n stertjie bylas […]

 

In die derde gedeelte, “Odemars deur my rag time” hunker die spreker terug na sy kinderjare en speel perde soos Ragtime ‘n belangrike rol, ’n tipe Pegasus (40). Die vierde afdeling handel oor die liefde en die verhouding van die twee “hoogbejaarde ouers” (51). Aan die einde van “Nooi, nooi, die sitrusnooi” (55) versug die spreker:

 

Vir ons twee, lief,

Wat wonderlik deurwinter is,

Klink bestaan soos dié nou ver

Van ydele oorganklike gedoe.

 

Gevoelvol is “Binneblik”(59) wat soos volg begin:

 

Ons behoort nie meer te koester

vir die gevaar van virusse nie,

’n koronakrans aan ons voordeur

op te hang teen besoekers nie –

ons het reeds niemandsland betree,

wil oor niks meer baasspeel nie:

Ouderdom het ons immuun verklaar.

 

Ek kry die indruk dat die inperking die digter besonder veelwoordig gemaak het. Benewens die dikwels vreemde titels, dink ek die digter kon heelwat meer selfkritiek toegepas het en meer geskrap het. Vergelyk die openingstrofe van “Ek” (70):

 

Heimlik bou ek aan ’n sêding

om ter oorweging op te stuur

na ’n enkelwentelende satelliet

wat dit kan kaats na die engel

wat die laaste huisbesoek doen [..]

 

‘n Teenstelling met die woordoordaad is daar ’n kort, gestroopte gedig soos  “Apokalips van die parkiete” (64) – die titel ten spyte – waar intertekstueel met rympies gespeel word of “Buite die boord”(77). So ook die selfgerigte ironiese verse soos “Spotprent”(80) en “Wasbeeld op 85”(81).

Die ouer ingeperkte digter fokus op alledaagshede soos sy huis se dak, of besin oor die dood van Tolstoi of wat Galilei op sy dogters se briewe sou antwoord. Verder is daar die binnereis wat die vervloë kinderdae oproep met geliefde diere soos die perde en die hond Duister. In “Komplot met ’n vismot”(36) word die osoonlaag opgeoffer om hierdie klein “vandaal”met sy “geknipte vlerke” te spuit:

 

Ek kon nie met gevoude hande toesien

hoe jy die woorde uit my boeke sny

sodat niks vir die uiteindelike leser

sal oorbly nie.

 

Die digter is beslis nie dood in Pirow Bekker nie en as nasaat van Homeros is hy gereed vir die tog vanuit Ithaka oor die seë van Poseidon.

 

Naskrif:

Volgens die beskouing op die agterplat word hierdie bundel gekenmerk deur “beweging, stuwing en vaart […] Wanneer daar stilstand kom, stu die woord verder in odes, gestalteverse en monoloë […]

En dan ter aansluiting by die titel:

Die aangeraaktes word soms links gelaat in die magtige bewegings van planeet en uitspansel, van kernreaktor en vulkaan.

Regtig?

Bronne:

Lourens, A. 2017. Die toepassingsmoontlikhede van die teoretiese gesprek oor laatwerk: ʼn ondersoek van die oeuvre van Pirow Bekker. Stilet 29(2): 73-94.

Moulin, J. 2010. Reflections on the Life of Samuel Taylor Coleridge. https://www.cairn.info/revue-etudes-anglaises. Geraadpleeg op 12 Junie 2022.

Van Schalkwyk, P. 2015. Pirow Bekker. In: Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel Deel 1. Pretoria: Van Schaik. pp. 348-362.