Nuuswekker. Amper tyd vir die Adam Smallfees op Pniël
Monday, February 13th, 2017
Adam Small (Foto: Media24)
‘n Uitsonderlike geleentheid vir die liefhebbers van literêre feeste is eersdaags daar om te geniet: die eerste Adam Smallfees wat op Pniël aangebied word. Afgesien daarvan dat die veelsydige Adam Small as digter bekend was, was hy natuurlik ook bekend as dramaturg (waarvoor hy met die Hertzogprys vir Letterkunde in 2012 bekroon is) en vele kultuur-historiese projekte.
Daar bestaan min twyfel dat Adam Small (1936-2016) een van Suid-Afrika se mees geliefde, dog terselfdertyd, mees miskende digters is. Daarom dat ‘n fees van hierdie aard nie net gepas is nie, maar uiters nodig.
In ‘n onderhoud met LitNet het Darryl David, organiseerder van dié fees, hom soos volg oor die fees uitgelaat: “(Maar) 24–26 Februarie 2017 gaan ‘n geskiedkundige naweek wees. ‘n Fees vir Adam Small. Niemand verdien dit méér nie. Ek droom al jare lank oor so ‘n fees. Maar Adam Small is ‘n seun van Wellington. Net soos Breyten. En ek was bang dat ‘n fees vir Adam Small op Wellington altyd in die skaduwee van Breyten sal wees. Dus het ek die skadu’s van die Simonsberge en Groot Drakenstein van Pniël gekies – ‘n gebied ryk aan slawegeskiedenis. (As so ‘n geskiedenis in die eerste plek as “ryk” bestempel kan word!) […] Wat het apartheid aan hierdie man gedoen? Hoe kon Afrikaanse letterkundiges vir so lank nie verby sy velkleur en sy ras kyk nie? En sy register van Afrikaans.”

Darryl David
Gaan lees gerus die volledige onderhoud wat Naomi Meyer met David gevoer het. Die volledige program kan ook op LitNet gevind word.
En teken die naweek van 24 tot 26 Februarie aan: dit gaan ‘n feestelikheid sonder weerga wees.
Vir jou leesgenot volg ‘n ongepubliseerde vers wat deur Iris Bester voorgelees is tydens rsg se huldigingsprogram ter ere van Adam Small op 15 September 2011.
Geniet die week wat op hande is.
Groetnis,
Louis
*
Highpriest van die Socialism
‘n Profit van die liberation djy?
‘n socialist?
djy met djou hys-palys
met djou lang slap mouterkar
djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die
oppressed
met djou tears
en djou woera warra oppie stage
met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class
vannie jets
djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal my
djou verbeel!
En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ‘n chips?
(c) Adam Small / Ongepubliseerde vers