Posts Tagged ‘Poësie as kunsvorm’

Daniel Hugo. Oor digters en rymelaars, woordvaardiges en stamelaars

Saturday, March 28th, 2020

 

 

 

Ek word soms deur uitgewers gevra om hoopvolle digters se pogings te beoordeel met die oog op publikasie in boekvorm. Dit is mense wat meestal reeds op die sosiale media gepubliseer het en juigend deur familie en vriende aangemoedig word met uitroepe soos “Hartswoorde!” en “Jy kan toor met woorde!”.

Facebook is die grootste demokrasie op aarde, waar elkeen ’n eie en ’n vrye sê het. En as ’n ander se opinie jou nie aanstaan nie, kan jy hom of haar ontvriend of vir ewig blokkeer. Dit is meer as ’n demokrasie, dit is ’n staat waarin jy jou eie wette soewerein kan toepas.

Dit is onvermydelik dat my opvattings oor die digkuns my oordeel oor ander se skryfwerk sal beïnvloed. Ek glo dat ’n gedig klankryk moet wees en ’n sekere samehangende struktuur moet hê. Elke gedig het sy eie logika, ’n eie argument wat eerder beeldend as betogend gevoer moet word. Verder moet ’n digter daartoe in staat wees om afstand te kan neem van sy opborrelende emosies. Die Poolse digter Czesław Miłosz (1911-2004) het gesê: “Liriese digters het altyd yskoue harte.” Die warm trane van hartseer en ellende moet in die vers stol tot gladde, glinsterende pêrels, het die sewentiende-eeuse Nederlandse digter P.C. Hooft beweer en briljant in sy gedigte gedemonstreer.

Om rou gevoelens en ervarings tot ’n estetiese produk om te vorm, vereis vakmanskap. En onderrig in die poësie-ambag is gratis beskikbaar by duisende digtende voorgangers en tydgenote in al die tale van die wêreld. Hoe wyer jy lees, hoe groter is die kans dat jy die digtegnieke onder die knie sal kry en – paradoksaal genoeg – ’n eie stemgeluid sal ontwikkel in die oorweldigende roesemoes van stemme uit die verlede en die hede

Ondanks die onbeperkte publikasiemoontlikhede wat die internet bied, is ’n professionele boekuitgawe nog steeds die lewensideaal van talle kuberdigters. Daardie papierproduk met sy tasbaarheid, ruikbaarheid en ritselende hoorbaarheid as jy daarin blaai, bly ’n gesogte reliek. Dit is nie iets wat slegs bestaan by die wispelturige grasie van elektriese krag nie. ’n Boek kan sy wonders ook by maanlig en by kerslig prysgee. Dit benodig geen leesapparaat nie, buiten ’n leesbril vir die bysiendes.

’n Boek is natuurlik ook die  enigste manier om in die hoofstroom van die letterkunde opgeneem te word. Maar om in daardie stroom te beland, verg ’n langdurige en soms pynlike proses. Dis nie sommer net vir van die wal af inplons nie. Sonder hekwagters soos uitgewers, keurders, redakteurs, proeflesers, resensente, bloemlesers en literatuurhistorici is daar geen kans om gekanoniseer te word nie. Want in die literêre wêreld staan die beste stuurman inderdaad aan wal. Ongelukkig verstaan die duisende sosialemedia-digters dit nie. Hulle verwag dieselfde demokratiese en anargistiese vryhede in die gevestigde literatuursisteem as waaraan hulle gewoond is op digitale platforms. Die kunste is per definisie ’n elitistiese aangeleentheid.

My taak as uitgewerskeurder is om te onderskei tussen die ware digters en die rymelaars, die woordvaardiges en die stamelaars. Ongelukkig moet ek meermale optree as die verwoester van ideale. Die ambisie is meestal groter as die talent.  Dit is net enkeles wat wel in die literêre domein opgeneem sal word. Die letterkunde is ’n outydse koninkryk met sy eie adelstand wat hier en daar ‘n hofnar en ’n towenaar duld. Maar dit is beslis nie ’n sosialistiese welsynstaat nie.

 

Hierdie rubriek het in die week van 17-23 Maart in “Die Burger” verskyn. Met dank aan Media24

  •