Posts Tagged ‘poësie en fisika’

Mellet Moll. Jacques-Yves Cousteau

Saturday, May 28th, 2022

 

Jacques-Yves Cousteau

 In the deep space of the sea I have found my moon. – Jacques-Yves Cousteau

 

Daar was ‘n tyd van meerminne

en seeperde, van fosfor en gety.

 

Ek kyk nog soms met stersku oë

na nagte uit ‘n stilgebore droom,

‘n rolprent van idilles wat verdof

en uiteindelik net dowe stemme

in die entropie van alle dinge bly.

 

Ek loop geboë in die dooiemaan,

dagblind vir die ouman in sy kyk

as ek, die seevaarder, sy ligspraak

in al die onverkende oseane soek.

 

© Mellet Moll, 2022

 

Eduan Naudé. ‘n definisie van entropie

Tuesday, May 24th, 2022

 

‘n definisie van entropie

 

Wat is lewe?

Volgens Schrödinger

niks meer as kortstondige orde

binne die groter

chaos

van die heelal

elke   lewende   wese:

etlike proefstukke

wat vergeefs worstel na ‘n mate van verstaan:

‘n spinnekop wat sy web presies span

turbines wat wind as gestoorde krag opvang

die mens se soeke na ware liefde en omgang

en as gevolg ‘n embrio gebore daarvan

 

steeds onvermydelik dié

verval

            van verniel en

van verraad

daar is katastrofe in die uitwissing van die by

van aardverwarming en die smelt van pool ys ‘

dit is die aard van energie

en van   materie

met Formules kan ‘n fisikus    dié

onsekerheid pre5ies bepaal

TOT op die punt waar alles al_om = eQuiliBrium bereik

,toT     1n

                                                                                   di3       laaste

                                                                 ᶁ00

Ɖ

£ina@L .

 

© Eduan Naudé, 2022

 

Mellet Moll. Carl Sagan

Monday, April 11th, 2022

 

Carl Sagan

(1934 – 1996)

 

i.

 

Snags het die firmament ons bewaar

en ons soos vuurwaens laat voortstu

deur heelalle vol verblindende sterre

wat bewoon is deur almagtige gode:

Isis, Osiris en Horus wat die aardse

 

lot van sterflinge soos ons geskik het.

En ons het hulle vereer deur planete

en konstellasies na hulle te vernoem.

Dit is hoe graag ons wou glo dat ons

nie alleen in hierdie uitspansel is nie.

 

Juis daarom dan, het hierdie panteon

van hemelwesens in stryd getree met

mekaar, en ons het hulle monumente

opgerig, as bewys van ons erkenning

in die hemele maar ook op die aarde.

 

Later het ons al hierdie gode vervang

met nuwe gode, wat ook nie ons vrae

kon verantwoord nie. Ons gunstelinge

op mensgemaakte altare, het ons ons

antwoorde in die wetenskappe gevind.

 

Maar ons, as gelowiges, het ’n sein in

die kosmos gaan soek, ons het priem-

getalle, die goue plaat van Bach en ’n

boodskap deur Jimmy Carter gestuur.

Ons oë was na die hemele opgeslaan.

 

ii.

 

Ons was gereed om die ongelooflike

te aanvaar, om ons lotsbestemming

in ’n verre sterrestelsel te sien staan.

Maar daar was net ’n dawerende stil

nag sonder aliens of gode of engele.

 

Behalwe by Cornell Universiteit in ’n

verlate kantoor waar snags die Bran-

denburg Concerto’s weer eens speel

en waghou oor die eensame planeet:

En hoe intens die aarde jóú nog mis.

 

Ai Carl

die wese en die niet is steeds te veel.

 

© Mellet Moll, 2022

 

Eunice Basson. Besoek aan Pelindaba

Wednesday, March 23rd, 2022

 

Besoek aan Pelindaba

Gedagtig aan Eugène Marais (1871-1936)

 

Blink soos lak in die oggendson rol ’n duisendpoot

voor haar voete oop, voel-voel oor die klam grond

op soek na rothout. ’n Ent van die opstal af,

onder karees en opslag, lê die voorsate met ’n uitsig

oor uitgediende drome van fisici en oorlogmakers.

 

In die koel rondawel-opstal met grasmatte

oor leiklipvloere wat in die winter na houtvuur ruik,

sou die digter hier kon asem skep. Sy verbeel haar

’n kaggel, smiddae reeds aangepak, waar hy langbeen

en vredig kon uitstrek, respyt vir sy gemoed.

 

© Eunice Basson, 2022

 

Mellet Moll. Gaston Bachelard: In ruimte, tyd en materie

Thursday, March 10th, 2022

 

Gaston Bachelard: In ruimte, tyd en materie

i.

 

en dáár, onder die bome, het ons gesit

jy het my van Rilke vertel –

en dat die bome manjifiek is, maar tog,

dat die ruimtes tussen die boomtoppe

’n verhewenheid het, dat dit saam met

die bome groei, dat dit waardiger word

soos wat die krone bejaardheid bereik

 

ii.

 

en ons het die bome opnuut ingeasem,

die vars lug was ons portaal na vryheid

waar ons gewandel het tussen hemele,

toe die tyd ’n onsterflike pelgrim deur ’n

realm van gedroomde voorlewens was

en ons het die suurstof statig verwissel

om ons oneindigheid self te kon ervaar

 

iii.

 

totdat die water in vloed met die spruite

en strome hulle eindbestemmings vind

in die dieptes van ’n anonieme oseaan

waarin ons kon vertoef en ons innigste

geheime met die water kon deel, en die

fonteine ons weer daaraan herinner het

dat ons die aarde aan die water herken

 

iv.

 

ek was ’n kind wat die onblusbare vuur

van die verlede met wye oë kon ervaar,

ek het aanhoudend bly voortbeur, weg

van die eksistensiële vlamme en gesien

dat alles agter my drome was, dat alles

om my net oomblikke was, en dat alles

voor my helder was deur ’n tydlose lens

 

v.

 

daarná wou jy my van Baudelaire vertel,

jy het gesê hierdie alledaagse skouspel

was die simbool van ons eie grootsheid,

en die konvergensie van die verbeelding

van twee verlore mense is ’n voorspraak

van die poëtika van onverkende ruimtes

in die doolhowe waarin ons twee dwaal

 

vi.

 

en toe terug onder die bome het jy vir my

’n huis gaan wys, vol ongeleefde lewens,

en ’n stilte waarin ons onsself verloor het

jy het gesê poësie is net die verrekening

van die drome wat langs die pad verruil is

en dat ons ons enigheid tussen die mure

en die rame en die plafonne kon bewaar

 

en jy het vir my ’n skoon vel papier gegee

en gesê eendag sal ek verstaan waarom

 

© Mellet Moll, 2022

 

Nini Bennett. Nefolitos

Monday, March 7th, 2022

 

Nefolitos

 

I.

 

Klippe leef stadig

gedagtig aan hul

grootvaders, vulkane

en antieke seebodems.

Miljoene jare se sediment,

die versweë geraamtes

van molluske en korale –

magtige tektoniese kragte in die worp

van kalligrafiese skulpe.

 

Klippe: chronoloë van die aarde,

die pelgrims van veraf berge. Klippe

is die drome van fossiele, soos

koolstof droom om diamant te word.

 

II.

 

Moenie ’n klip omkeer

as jy nie gereed is om

sy bleek diere te aanskou nie.

Miere streep uit

forte en fabrieke, soldate en werkers

monolities ge-bunker

in mos se groen asem.

 

III.

 

Nefolitos – wolkklip. Die Chinese

glo dat klippe soos wolke

morf, aan hul wortels ontruk.

Uiteindelik droom

klippe om katedrale te word,

soos katedrale droom

om wolke te word.

 

© Nini Bennett

 

Mellet Moll. Ars Scientia

Tuesday, February 15th, 2022

 

Ars Scientia

 

Hoe groot die rykdom van die enkeling

wat in die laatskemer in eenkant parke

met die eerste naguil loop, die wysheid

van die aarde uit die wisseling van stof

tot stof herwin. Hoe raar die meetsnoer

wat die tydlyn in skakerings van papier

onthou, die oomblikke van kleine dade

in die grootsheid van geskrifte ken, wat

elders in die skathouers van humaniteit

bewaar word dat die enkeling se lig bly

brand. Hoe groots die infinitesimale reis

van stippellyn na stippellyn en enkeling

na enkeling. Die onblusbaarheid van lig

is sterker as die stof wat aan ons voete

in die wandelgange van die parke klou.

 

© Mellet Moll, 2022

 

Mellet Moll. Nuovo Mondo

Tuesday, February 15th, 2022

 

Nuovo Mondo

 

Die aarde gee geboorte aan ‘n nuwe hemel.

Haar baringstem raak hees en resoneer tot

swewings wat verby die stratosfeer tot daar

anderkant die ewigheid se einders deur die

ongerepte klankgrens tril. Frekwensies van

haar ongedane adhan word in ‘n kosmiese

ossiloskoop vibrasies van ‘n sinoïedale golf.

 

Met sonsopkoms oor Hirosjima hoor sý die

ewigheid, die swye van planete en getalle

wat hulle asems vir ‘n stille oomblik ophou,

afwagtend op die dreunsang van die gode

vanaf hul vergeleë grondstasies in die nag.

Daar puls ‘n heilige metrum in die reëlmaat

van die omwentelings van konstellasies in

 

die uithoeke van infiniteit, in ‘n ongedanste

ritueel van nalewe en nadood, van niks en

als wat is en was en nog sal wees. En ons,

die primitiewe wesens vanaf die weerlose

en bleek planeet, word uitgelewer aan die

verste lugstasies waar infinitesimaalrekene

gebruik word om die nuwe hemelruim te yk.

 

Swewend oor die aarde, wat woes en leeg

soos ‘n verlate vaartuig in die niet bly hang

terwyl ‘n klok weerklink en die stem van ‘n

ouman saggies sê “laat daar weer lig wees”.

 

© Mellet Moll, 2022