Posts Tagged ‘Pontifícia Universidade Católica de São Paulo’

Desmond Painter. Universiteit, taalpolitiek, literatuur: ‘n Mymerskrif op die muur

Friday, November 11th, 2011

Ek was in Brasilië as gas van die Universiteit van São Paulo (my Portugese titel, terloops, was Auxilio Professor Visitante, nogal kinky!), maar omdat my gasvrou ʼn dubbele aanstelling het, het ek die geleentheid gehad om ook die Pontifícia Universidade Católica de São Paulo (PUC-SP) twee keer te besoek – een keer om ʼn lesing aan te bied, die ander keer om te gesels met navorsers en aktiviste wat werk met jeugdiges in die favelas in en rondom die stad.

Dit was nogal vir my ʼn eer, ʼn thrill, om op die PUC-SP kampus te wees, want dit is ʼn universiteit met ʼn ryk geskiedenis en ʼn sterk tradisie van radikale denke en aktivisme – so anders as my eie universiteit, waar daar natuurlik nie werklik ʼn tradisie van kritiese teorie en radikale praktyk is nie.

Voor die PUC-SP

Voor die PUC-SP

 

Tydens die militêre diktatuur, veral, het akademici en studente van die PUC-SP nie weggeskram daarvan om kritiek te lewer en op ander maniere by te dra tot die verligting van politieke en ekonomiese ellende nie. Die universiteit het ook heenkome gebied aan etlike akademici wat, weens hulle politieke idees en aktiwiteite, by openbare universiteite afgedank is.

Die PUC-SP is ʼn private, Katolieke universiteit wat as ʼn nie-winsgewende instelling bedryf word. Dit is ‘n tipiese stadskampus: dit is in die middel van ‘n besige buurt, daar is graffiti op die mure, jy ruik bier in die stegies en jy voel die energie van studente oral aan, selfs na-uurs. 

Studente en winkel, PUC-SP

Studente en winkel, PUC-SP

 

Een groot figuur in die sosiale wetenskappe wat vir baie jare aan die universiteit verbonde was, is Paulo Freire. Freire, natuurlik, het bekendheid verwerf vir sy teoretisering en toepassing van die ‘pedagogie van hoop’, ʼn begrip wat deesdae baie by my eie universiteit ook gebruik word – trouens, ʼn begrip wat toenemend deel vorm van die US se korporatiewe identiteit.  

In die teoretiese en politieke verbeelding van Freire is ‘hoop’ ʼn radikale, revolusionêre beginsel, en alhoewel ek Russel Botman se goeie bedoelinge in hierdie opsig nie in twyfel trek nie, is dit moeilik om nie ʼn bietjie sinies te wees oor hoe ‘hoop’ aan die US tot ʼn bemarkbare slagspreuk verskraal word nie. Nogtans bly dit ʼn belangrike uitdaging: hoe om teorie, praktyk, die universiteit as sodanig, in terme van ʼn radikale aandrang op en uitbreiding van maatskaplike hoop te herdink. 

Om dit reg te kry, volgens my, kan ons egter nie toelaat dat ons konsepte deur bemarkers oorgeneem word nie. En dit is oraloor presies wat aan die gebeur is, ʼn soort oorname en aftakeling van ons konsepte en semiotiese beweegruimtes deur die leë instrumentalisme en selfdienende opportunisme van bemarkingsdiskoers. Net laasweek nog het ek ʼn ‘Revolution’ T-hemp in Truworths gesien, kompleet met Che Guevara se gesig daarop… Die begrip ‘Occupy’ sal seker dieselfde paadjie loop.

My geliefde Foucault, boekwinkel, PUC-SP

My geliefde Foucault, boekwinkel, PUC-SP

 

Ons moet veg vir die outonomie van ons taal en konsepte, want hiersonder word dit onmoontlik om outonomie in ander domeine ook te bedink en te artikuleer. Bewussynsvryheid is ʼn taalpolitieke kwessie. In hierdie opsig kan ʼn mens seker praat van ʼn globale taalstryd, een wat nie rondom spesifieke tale geveg word nie, maar wat fokus op die onderwerping van alle taal, betekenis en woorde aan die imperatief van bemarking en verkope; op die korporatiewe besitname van bewussyn en die verskraling van groepe en subjektiwiteite tot individuele en kollektiewe verbruikers.

Ek en Miriam, my gasvrou, PUC-SP

Ek en Miriam, my gasvrou, PUC-SP

 

Die poësie (omdat ʼn ander verhouding met taal daar geld) bly ʼn loopgraaf in hierdie semiotiese oorlog – en in hierdie opsig is alle poësie taalpolitiek, net soos alle belangrike letterkunde op ʼn manier die politieke dimensies van ons bestaan aansny. (Politiek breed verstaan: ons moet die begrip ‘politiek’ immers ook terugeis…)  

Enige aandrang op die teendeel (op die essensieel apolitiese aard van die poësie en die letterkunde) is die gevolg van ‘n verkeerde, wesenlik bourgeois opvatting dat menslike selfverwesenliking buite die verband van samelewing (die bemiddelende instellings en praktyke waardeur ons as menslike subjekte tot stand kom en gereproduseer word) tot uitdrukking (tot sê, tot segging, tot storie) kan kom.   

Miriam en ons tolk, Marcio

Miriam en ons tolk, Marcio

 

Taal is by uitstek die ruimte en meganisme van hierdie bemiddeling van (en tussen) die ek, die jy, die ons, en die hulle. Taal, as ‘n gedeelde ruimte, funksioneer vir die ‘ek’ as die moontlikheidsvoorwaarde waarsonder daar geen erkenning en ervaring van die ‘eie’ en die ‘ander’ kan wees nie. Dit is te danke aan taal dat ‘ek’ gesê kan word, en dat die gemeenskaplike gesubjektiveer kan word tot ‘individualiteit’ en psigologiese ‘innerlikheid’.   

Die politiek en die letterkunde begin albei waar ons selfsyn en samesyn vir ons probleem en projek word. Beide is ten nouste verstrengel met die fundamentele taligheid van ons bestaan. Die poging om kennis, wetenskap en literatuur onafhanklik van die politiek te verklaar, berus op ‘n misverstand oor die aard van taal. 

 

 

Ek en kollegas, PUC-SP

Ek en kollegas, PUC-SP