Posts Tagged ‘Protes’

Andries Bezuidenhout. Ligter onderwerpe, asseblief

Thursday, September 17th, 2009

Ek en Irma staan vanoggend en wag vir Senate House se hysbak om ons na ons kantore toe te ontvoer. Gister het ek by die huis gaan werk om van die protesterende studente se jubelsange en blêrende vuvuzela’s af weg te kom. Ek sien die universiteit se bestuur het ʼn hofinterdik teen hulle gekry, so die kampus is vanoggend stil. Dalk stilte voor die storm. Dis elke jaar se storie. Wanneer gaan Wits se bestuur leer om meer sinies te word en die klasgeldverhogings in vakansietyd aan te kondig?

Ek het egter simpatie met die studente. My rekening van die Universiteit van Stellenbosch het aangekom nadat dit vir maande in Wits se gange op en af gedwaal het op soek na die adres op die koevert. My van moes op die ou einde die job gedoen het. Die persoon in Stellenbosch se administrasie wou nie my adres in Engels aanteken nie. Ek het probeer verduidelik het dat mense by Wits nie juis Afrikaans verstaan nie, maar só iets is klaarblyklik heeltemal ondenkbaar.

Langs die hysbak is ʼn plakkaat wat van die Grahamstad-kunsfees se toneelstukke adverteer. Dit word nou hier by Wits opgevoer, sodat Johannesburgers nie al die pad Oos-Kaap toe hoef te piekel nie. Ek lees van die toneelstukke se titels: “Relationshit”, “The School of Whoredom” en “Wages of Sin.”

Daar’s nog slaap in my oë en waarskynlik ontbyt in my baard. Ek mompel iets oor die donker onderwerpe. Kan hulle nie iets lig opvoer nie?

Irma bars uit van die lag: “Jý, van alle mense, kla oor donker onderwerpe!”

Ek dink elke nou en dan na oor iets wat Ilse van Staden op haar blog geskryf het; oor die belangrikheid van stilte vir skryf. Ek dink dis tyd vir vakansie. Nie om te skryf nie. Net om te sit.

  •