Louis Esterhuizen. “Puin en as”
Friday, October 28th, 2016Andries Bezuidenhout se gedig “In Wellington brand ‘n klavier – ‘n Verleentheidsgedig” en veral die reaksie daarop, is volgens my een van die belangrikste interaksies in ‘n lang tyd op hierdie webblad. Kom ons neem die gesprek verder …
Puin en as
Alles van waarde is weerlo0s
Lucebert
In Wellington word ‘n oudste saal
brand gesteek en jy lees: De zeer oude zingt,
lê donkertyd en luister
na die dreunsang van vlamme, die gedruis
van woede wat deur ‘n petrolbom
uit hout en staal bevry is,
gesigloos,
die ouwêreldse plafon, net-net buite greep
wanneer die beendroë klavier
vlamvat, ‘n allerlaaste akkoord speel
met snare wat
pieng! pieng! en jy verbeel jou
grensdrade wat skietgee vir al die wild
om na nuwe kampe
oor te loop,
want watter sin –
hierdie vraag wat reeds ‘n antwoord is.
(c) Louis Esterhuizen / Oktober 2016