Posts Tagged ‘Radiohead’

Andries Bezuidenhout. Radiohead se nuwe plaat

Monday, March 28th, 2011

ʼn Mens kan dit seker nie meer ʼn plaat noem nie. Ook nie ʼn CD nie. Dalk ʼn album. Binnekort is die CD iets van die verlede. Maar ʼn mens wil iets van die musiek kan sien, in jou hande vashou. Nou het Radiohead ʼn koerant laat druk, om saam met die musiek te gaan. ʼn Heel siniese, dalk ironiese ding om te doen, veral omdat koerante op papier seker ook binnekort iets van die verlede gaan wees, danksy tablette wat gawer met die oë is as rekenaarskerms. Gaan luister gerus hier, op die Guardian se werf, na Radiohead se nuwe plaat. Die band is werklik besig om die musiekbedryf te verander. Die Guardian het toe sommer ook musiek gemaak as antwoord op die musikante se koerant. Dalk kan ons digters iets hier leer.

Andries Bezuidenhout. ‘n Droedel uit Johannesburg

Tuesday, October 19th, 2010

SARA BESOEK SUID-AFRIKA VIR HAAR PA SE BEGRAFNIS
(gebou uit gesteelde skerwe sms en vertaalde liriek)

maak my dood sara, maak my weer dood met liefde
op die lughawe, soek
jou boek tevergeefs
ek voel my geluk kan draai
yes, was vinnig hier
vir my pa se
begrafnis. spyt my dit was so kort
dit gaan ʼn wonderbaarlike dag wees
was ʼn mooi
begrafnis
red my uit die vliegramp red my uit die wrak
toe ek dit gehoor
het, het ek heeldag
Radiohead geluister
ons staan by die afgrond
want toe ek jou van
ʼn RH konsert geteks
het, het jou pa pas
gesterf
die staatshoof roep my naam
maar ek het nie tyd vir jou nie
RH is nou vir
my begrafnismusiek
ons staan op die afgrond ons staan op die afgrond

 

Sien “Lucky” op Radiohead se OK Computer

Andries Bezuidenhout. Rit deur koorsige Hoëveld

Tuesday, August 11th, 2009

Nou ja toe. Ek moes verlede week Ladysmith toe ry, verby Warden, Harrismith, Drakensberge met sneeu regs. Ek luister Radiohead se “Hail to the Thief” kliphard in die huurkar, voel bevoorreg omdat my eie kar se radio nou al vir meer as ʼn jaar stukkend is:

In pitch dark I go walking in your landscape
Broken branches trip me as I speak
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there…

In Ladysmith se Royal Hotel oorgeslaap. Darem tyd gekry vir ʼn paar honderd bladsye uit Titaan voor ek aan die slaap raak. Die volgende oggend weer terug Johannesburg toe gekom. Luister Leonard Cohen, sy plaat “New Skin for the Old Ceremony”:

There is a war between the rich and poor,
a war between the man and the woman.
There is a war between the left and right,
a war between the black and white,
a war between the odd and the even.

Why don’t you come on back to the war, pick up your tiny burden,
why don’t you come on back to the war, let’s all get even,
why don’t you come on back to the war, can’t you hear me speaking?

Die stuk hier onder is my eerste poging om van die dinge langs die pad en in die nuus vas te probeer vat. Dalk ook maar na ek Toast Coetzer se donker boek gelees het. Nog steeds besig met Titaan. Kommentaar baie welkom!

KOORSIGE LAND
(Winter 2009, naby Harrismith of Piet Retief)

Die Grootrivier is elders groot,
hier’s dit bloot ʼn sloot met gal
wat koud die grond in sypel.
Iemand brand ʼn bondel blare,
rook wat eenbeen regop staan
word deur wind geamputeer
en bloei dan uit die truspieëlraam.
Kaal drom populiere saam
om by are onderaards in te naald,
bloekoms krukke vir die koorsige lug,
mielielande swere wat skurf uitskif.
Deur die township se dampe is sneeu
hospitaallakens smerig op die berg se eelt.
In fondamente smeul kliniek en biblioteek.
Iemand soebat in Frans en Lingala.
Koolstowe, motorbande, brandende plastiek.
Hou hierdie landskap wat agtertoe verdwyn
vir nog ʼn ruk in kwarantyn –
dit het winter onderlede en is siek siek siek.

  •