Posts Tagged ‘Reflektor’

Andries Bezuidenhout. Musiek vir die narsissistiese eeu

Tuesday, September 10th, 2013

Die Kanadese band Arcade Fire het ʼn paar jaar gelede ʼn Grammy vir hul album “The suburbs” gewen en het sedertdien voor veel groter gehore as in die verlede gespeel. Nou wag almal vir die volgende album om te sien hoe hulle op die sukses reageer – ʼn bietjie soos ʼn kultusdigter se eerste bundel na die toekenning van ʼn belangrike letterkundige prys. Sal die digter getrou aan ʼn klein groepie aanvanklike aanhangers bly, of gaan sy vir die hoofstroom skryf? (Die poëtiese hipster se nagmerrie.) Nou is daar ʼn video van “Reflektor” op die web beskikbaar, ʼn vreemde liriek met verwysings na die eeu van weerkaatsings, waarin die figuur van David Bowie ʼn verskyning maak. ʼn Musiekvideo is deesdae so deel van die liriek as wat musikale verwerkings is en Arcade Fire het baie moeite met die visuele aspekte van “Reflektor” gedoen. Dit lyk vir my asof hulle daarin kommentaar op sukses lewer, asook die eeu van narsissisme. Ek haal gedeeltes uit die liriek aan:

Trapped in a prism
In a prism of light
Alone in the darkness
Darkness of white
We fell in love
Alone on a stage
In the reflective age

Entre la nuit, la nuit et l’aurore.
Entre le royaume, des vivants et des morts.

If this is heaven
I don’t know what it’s for
If I can’t find you there
I don’t care

I thought I found a way to enter
It’s just a Reflektor
I thought I found the connector
It’s just a Reflektor

We fell in love when I was nineteen
And I was staring at a screen

Beslis populêre liriek en geen grootse digkuns nie, maar ek hou van die feit dat hulle in Frans sing en daardeur klaarblyklik die punt maak dat hulle ʼn Kanadese band uit ʼn tweetalige land is. Rofweg vertaal sou die Franse deel verwys na iemand wat tussen die nag en die sonsopkoms is, tussen die koninkryk van lewendes en dooies. In een stadium kyk die hele band na die weerkaatsing van hulself – eerder, afbeeldings van hulself – in ʼn waterpoel. Hulle is mense, maar ook poppe – hulle koppe afbeeldings van hulself, baie soos die poppe wat die Occupy-beweging van politici maak. Die tema van die spieëlbal – tipies van discoklubs uit die sewentigs – vind ook neerslag in die elektroniese verwerkings en die ritme. In die liriek word die medium waarop musiek steeds gevind word – die laserskyf, wat ook straks iets van die verlede word – met ʼn spieël vergelyk:

Our song escapes
On neon silver discs
Our love is plastic
We’ll break it to bits

Gaan kyk gerus na die video. Dis langer as die tydsformaat van 3:30 wat deur radiostasies se speellys-polisie voorgeskryf word – ook seker kommentaar op hoe vlak die poele van die narsissistiese eeu geword het.

  •