Posts Tagged ‘René Bohnen gedig’

René Bohnen. Lug en water

Tuesday, June 29th, 2021

 

 

 

Lug en Water

v         v         v

v    o         o         o     v

v        ë          ë        ë         v

v              l           l     voëls             v

v               s          s         s                 v

vs                                                           sv

s                     w                                s

s                  o                             s

s              r                         s

s   sardien t j  i  e    s

My katoenrompie is ‘n skottel vol vissies

in Amanzimtoti, ek is 8 jaar oud, die sardientjies loop

en mense krioel op die strand, die wêreld is veilig, almal skep

silwer lyfies vir aandetes en middagetes en pret

Tien jaar later by die weir met die baie bome langs die Boemansrivier net voor sononder

swerm die spreeus in hulle duisende sodat koerante daaroor berig, ek is verlig

vandag om murmurasies en skole visse te sien vlieg in die lug

van Escher se alles en orals

kyk op ek kyk af ek kyk afenopenaf en op opper

sardientjies in Toti word voëls in Tilburg, ek is nou vyftig

en die klank van merels vloei in Escher se eie eerste taal

flankeer met die werklikheid, ons klinkers en vokale tessalasies van mekaar,

mekaar se woorde, Afrikaans Nederlands Nederlands Afrikaans

visse van eenderse voëls        en tog ook nie

die metamorfose geleidelik soos wanneer ‘n dogtertjie vrou word

die reis na oneindigheid, sardiens in die see, die kuns

van die onmoontlike, die murmurasies van gedigte bokant die bome

wanneer woorde ‘n lang silwer lap word wat onderwaters wapper

en uitspoel in jou mond soos ‘n sardynloop uit ons geheue; katoenklere

en houtskuite is flappende voëls en migrerende visse

by Tilburg en Toti

val gedigte in my skoot

 

© René Bohnen, 2021

 

René Bohnen. Ek wou vir jou

Monday, March 1st, 2021

 

Ek wou vir jou

 

hoe graag wil ek die rouste lykdig skryf;

die papierdun leed die inkswart kreet

die pelgrimsreis na jou oë uittree

in lettergrepe van geweld

 

maar al die blomme vou toe, die papawer

en die wilde iris

alles word stil, die insekte

swyg en die voëls

 

my gedagtes loop op en af

in die paadjie tussen gister

en ‘n graf

 

my Eerste, my Teenoorgestelde, my noodsaaklike

blouoog Ander

die gedig is ʼn origami van woorde

wat moet oopvou as ‘n stent

in die hart

uitvou langs die lyne van heuwels en valleie

oopgaan

in die landskap van ‘n lykdig

 

stilstaan

by die diep skeur

tusen wil en wou

 

© René Bohnen, 2021

 

 

 

René Bohnen. Klein Covid-skilde

Tuesday, October 27th, 2020

 

Korona-gedigte

 

klein covid skilde

 

onthou jy omhelsings

en die glooiings van vingerpunte op jou vel

sensitief soos ‘n sonar

van liefde?

 

ek dokumenteer dagbreke –

onthou dae sonder deure

en die son meer

as ‘n geraamde gedagte

anderkant die balkon

 

in my huis is ‘n landskapskildery

‘n naelstring na my geboortevallei –

 

dag honderd-een-en-vyftig

my gedig ‘n vergesig

op ‘n land van swart amber

en bitter heuning

 

ek voel soos die eerste letter

van ons –

‘n ou man hoes, die wind waai,

ons loop op dun ys

maar ons maskers is mooi

 

dag tweehonderd-en-twee

die son kom op

die bokmakierie roep

vierlettergreepgeel

 

wat is tydelik, wat is tyd?

ek stoot my woorde

voor my by die deur uit

 

© René Bohnen, 2020