Posts Tagged ‘representasie’

Pieter Odendaal. Wainaina se opstokery

Thursday, December 22nd, 2011

So ’n maand gelede bars daar ’n virtuele storm op die Britse Guardian se webwerf los nadat berig is dat die Keniaanse outeur Binyavanga Wainaina beweer dat Britse fiksie insulêr is en dat skrywers uit Afrika sukkel om blootstelling in die Noorde te kry as hulle nie stories oor die morele en sosio-ekonomiese verval van ons kontinent skryf nie. Uit die kommentare op die artikel blyk dit dat bitter min van die mense die moeite gedoen het om na die opname te gaan luister (die artikel is in ieder geval ’n redelik gebrekkige opsomming van die oorspronklike podcast, waarna jy hier kan luister): Op die podcast toon Wainaina se stem duidelik dat hy besig is om die rol van opstoker, slaaikrapper en hofnar te speel –’n rol wat deur die blou streaks in sy hare bevestig word.

Wainaina se blou streaks

Wainaina se blou streaks

Die meeste kommentare het op die volgende uitlating gefokus:

“We are not interested in Oxfam, we are not interested in Tony Blair, we are not interested in what Oxfam is doing for Africa, we are not interested in what aid donors are doing, we are not interested in the partnership those people have with global media to be the voice of Africa to the world. We never have been. We don’t talk about it, we don’t discuss it.”

Wainaina hou vol dat die grootste kwessies in Afrika die alledaagse is, “that people laugh, people fuck, people kiss, people speak, people have priorities and it’s the [same all over]”, en dat hierdie alledaagse werklikheid agter in die tou moet staan as dit kom by die uitdeel van publikasieregte in die Noorde.

Maar baie van die kommentators op die webblad sit die pot lelik mis en kry terselfdertyd dit reg om hul onderrokke lelik te laat uithang. So reageer jarndyceandjarndyce byvoorbeeld: “Great – we can stop wasting billions on aid then. Jesus, the fucking ingratitude!!” of Floatingvote01 se reaksie: “WTF, why do we care about this guy? He sounds very Afro-centric and with limited ability to step into others shoes. What a non-story.”

Die kommentare rafel lekker uit soos die “gesprek” aangaan (aanlyn kommentare leen hulself so maklik tot pseudo-dialoog, terwyl kommentators gewoonlik bloot besig is om die reuk van hulle eie poep so akkuraat moontlik te beskryf) – dit word ‘n “gesprek” oor die “ethics of aid”, hoe gatvol mense vir die geween oor “British cultural imperialism” is, en, en, en.

Ontploffings soos die bogenoemde lei selde tot kopskuiwe (so ook van die blafsessies wat al op Versindaba en Litnet plaasgevind het), maar ek dink dat ouens soos Wainaina ‘n belangrike funksie vervul omdat hulle help om die vuilgoed onder die mat uit te vee en bloot te lê. Wainaina impliseer belangrike vrae in sy podcast: Waaroor kan/moet die nuwe generasie skrywers uit Afrika skryf? Watter kwessies kleef aan Afrika-outeurs wat in Engels skryf? Vir wie skryf Engelse skrywers in die globale township? Waar lê die lyn tussen die private en die politieke in die letterkunde? Van die vrae is nuut, van die vrae is ou koeie wat weier om in die sloot te gaan lê.

Dit is veral die las van representasie waaroor Wainaina dit het, die beelde oor “Afrika” wat in die Noorde gebore word en hier ter plaatse deur die internet, koerante, televisie en radio versprei word.  Het Afrika-skrywers die verantwoordelikheid om teen hierdie modderstorting van die Noordelike media te skryf? En indien wel, waar begin ’n mens? Wainaina se bemoeienis met die kwessie van representasie word die beste in sy beroemde satiriese essay How to write about Africa verwoord (die titel is glo na How not to write about Africa vir VSA-lesers verander omdat hulle die ironie dalk sou mislees). Hieronder volg ’n uittreksel:

Readers will be put off if you don’t mention the light in Africa. And sunsets, the African sunset is a must. It is always big and red. There is always a big sky. Wide empty spaces and game are critical—Africa is the Land of Wide Empty Spaces. When writing about the plight of flora and fauna, make sure you mention that Africa is overpopulated. When your main character is in a desert or jungle living with indigenous peoples (anybody short) it is okay to mention that Africa has been severely depopulated by Aids and War (use caps).

Wainaina vertel elders hoe lekker hy gelag het toe mense, na die publikasie van How to write about Africa, manuskripte aan hom begin stuur het vir goedkeuring, vir ’n klop op die skouer wat sê “Mooi so, jy skryf Afrika-vriendelik, jy verval nie in dieselfde retoriek as ander nie”. Maar hierdie reaksie van ander skrywers op How to write about Africa onthul ’n dieper en kommerwekkende onvermoë om die probleme met die Noorde se representasie van Afrika raak te sien.

En hier op eie bodem? Tot watter mate kyk ons Suid-Afrikaners deur die brille van die Noorde na Afrika? Hoeveel van ons weet waar Siërra-Leone is, of wat in 2008 na die Keniaanse verkiesings gebeur het? Dis seker belangriker om te vra waarom ons so min weet en hoekom en hoe ons hierdie onkundigheid moet teëwerk.

Ek wou nog oor Afrikaans se las van representasie post-1994 gesels, maar dis vakansie en ek’s nie nou lus vir ’n oor-en-weer-gepoepery nie. Miskien sien ek in die nuwe jaar kans om die Afrikanerbul by die horings te pak.

  •