Posts Tagged ‘resensente en digters’

Dewald Koen. Van digters en resensente gepraat

Monday, November 14th, 2016

 Van digters en resensente gepraat

 

Ek is dank verskuldig aan die digter Peter Blum vir die titel van hierdie blog. Nie net klink dit (aldus my) “indrukwekkend” nie, maar is die verwysing na Peter Blum heel gepas binne die konteks van die blog se onderwerp. Die meeste poësieliefhebbers het heel waarskynlik al Blum se gedig “Oor monnemente gepraat” gelees. Laasgenoemde gedig het in sy bundel Steenbok tot Poolsee (1955) verskyn. Peter Blum was ’n eksentrieke karakter wat gereeld in bekgevegte met mededigters en literatore betrokke geraak het. (Gaan lees gerus J.C. Kannemeyer se Briewe van Peter Blum (2008) asook Wat het geword van Peter Blum? (1993)). Die bundel Steenbok tot Poolsee het egter ’n gemengde ontvangs gehad. Van al die positiewe en negatiewe terugvoer was die literator, T.T. Cloete (wat eers in 1980 as digter gedebuteer het) se resensie van Blum se bundel die negatiefste. Cloete se resensie in Die Huisgenoot (2 Januarie 1956) word volgens Kannemeyer (1993:70) “tot vandag toe as een van die ernstigste mistastings deur ’n prominente Afrikaanse literator oor ’n nuwe publikasie beskou”. Blum reageer op Cloete se resensie deur middel van ’n gedig wat hy in ’n brief aan sy vriend, Ernst Lindenberg, skryf:

.

Muse, maak jou uit die voete –

hier kom Theopompus Cloete

met sy verbryselende knewel

van ’n blink swart dopperstewel. (1993:71)

.

Alhoewel nie alle digters so eksentriek soos Peter Blum is nie, is bogenoemde maar ’n enkele voorbeeld van die frustrasie wat talle digters (en skrywers) ervaar wanneer hul werk deur literatore beoordeel word. Om gedigte te skryf is geen maklike taak nie – dit sal enige gepubliseerde digter jou kan vertel. Die skryf van gedigte (óf kortverhale óf romans) is emosioneel uitputtend. Dit is ’n skrywer se hart en siel wat op papier blootgestel word vir die wye wêreld om te lees. (Soms is dit wel figuurlik gesproke bloedspatsels en harsings, maar die skuld moet dan maar liewer voor die keurder en uitgewer se deur gelê word.)

Die resensent speel ’n belangrike rol binne die letterkunde. Die rol van die resensent is om ’n objektiewe taksering van ’n roman of bundel te gee binne die konteks van die skrywer se oeuvre, maar terselfdertyd ’n waardebepaling te maak van die bydrae wat die skrywer tot die letterkunde (in byvoorbeeld Afrikaans) lewer. Resensiekunde is ’n eksakte wetenskap en resensente moet wyd belese wees, objektiwiteit aan die dag kan lê en ’n waardebepaling van die teks kan maak wat eerlik en regverdig is. (Gaan lees gerus Wam de Moor se De kunst van het recenseren van kunst.)

Die Afrikaanse letterkunde (en veral literatore) is soos ’n spul groot visse in ’n klein visdammetjie. Almal veg verbete om belangriker en slimmer as die ander te wees en gewoonlik is dit die skrywer(s) van Afrikaanse tekste wat daaronder ly. Dit is geen geheim dat vetes op kongresse, komitees, in resensies en artikels asook in die geskrewe woord aangevoer word nie. (Uitroeptekens maak dodelike moordwapens.) Tom Gouws se onlangse resensie van Joan Hambidge se bundel Indeks het soos te verwagte ’n beroering in die visdammetjie veroorsaak wat water met tsoenamigolwe laat uitspat het. (Plaaslyne het gegons en posduiwe moes oortyd werk.) Die verskeie alliansies het saamgekoek om hul óf te verlekker óf gal te braak teenoor Tom Gouws se taksering van Indeks. Joan Hambidge is bekend as gesiene resensent en literator wat nog nooit geskroom het om haar mening (soms sonder voorbehoud) te lug en ’n skrywer of digter deeglik te skrobbeer oor sy of haar skryfwerk nie. Resensente bevind hulself gereeld by ’n vurk in die pad: hoe word die teks eerlik beoordeel sonder om die skrywer of digter se karakter aan te val? (Daar is immers altyd ’n mens met gevoelens agter die teks.)

Myns insiens maak beide Gouws sowel as Hambidge hulself aan laasgenoemde skuldig. (Laat ek hier terstond noem – vir deursigtigheid – dat ek ’n groot aanhanger van Hambidge se poësie is en selfs ’n Magister oor haar reispoësie gepleeg het.) In Indeks (2016:49) skil Hambidge self ’n paar appeltjies:

.

Ballade van die getroue verminktes

’n Wintervers vir twee banjo’s en bekfluitjie

.

Die blare val, die water gly;

ek sit by De Lange en drink tee.

Hy het immer die beste raad vir my.

“Hoe moet ek voel oor die Versevee?”

“Daardie kollektiewe klettery

moet jy gerus vir altyd uitvee.”

“Maar daar was tog goeie kettery

in resensies en onderhoude deur my?”

O gaan weg van Versevee!

.

Die lug is koud en grys daarbo.

“en wat dink jy van Vlymnet, die ander slet?”

“O daardie kliekmasjien kan jy nie b’lo,

Dis alles net vir pond en sent.”

“Maar tog het ons indertyd hier met ’n voël

en tet en suig kon goël?”

O vergeet van daardie huis in aanbou!

.

Dit is die winterwind wat waai.

Ja-nee wat help dit om te kla?

“Ons klein bedryf word deur Crito verraai.”

“En klein nagsubbies se woorde dra

sugtelose gesag vol strikfoute, ai.”

“Gaan lees weer Peter Blum voor hy waai;

die groot geknor en allengse lawaai.”

“O vergeet maar van kritieke uitdraai!”

.

L’envoi

.

Gouws se resensie van Indeks is myns insiens nie sonder meriete nie. Sy resensie was gebalanseerd en het beide positiewe sowel as negatiewe aspekte van die bundel onder die leser se aandag gebring. (Ek het die moeite gedoen om alle resensies van Hambidge se bundels sedert 1985 te lees en bevind dat daar sekere punte van kritiek deur Gouws gelewer is wat vantevore deur talle resensente uitgewys is.) Gouws het egter in ’n gevaarlike slagyster getrap – deur na Hambidge as ’n “major minor poet” te verwys (Die Burger 2016:9) word die grens tussen objektiwiteit en subjektiwiteit oorskry. Ek wil nou nie Crito speel nie (Vir diegene wat nie weet wie Crito is nie – dit is ’n resensent wat resensente se resensies resenseer – ongelukkig baie meer subjektief. Dit is immers die gevaar wanneer jy naamloos kan kritiseer…), maar Gouws het myns insiens nie enige geldige redes verskaf waarom hy Hambidge as ’n “major minor poet” beskryf nie. Omdat sy te veel publiseer? Herhalende temas? Moet die fout dan nie dalk voor oorywerige uitgewers se voete gelê word nie? Ja, Hambidge publiseer vinniger as wat sekere politici bedrog kan pleeg. Dalk het sy baie op die hart… Sê maar dan liewer die “gediggies” of “resitasies” (soos ’n vriend van my altyd na poësie verwys) was nie oulik nie.

Hambidge laat haarself egter nie onderkry nie. O, nee! Op haar webblad, Woorde wat weeg, verskyn die volgende repliek op Gouws se resensie:

.

Chirografie

 

In haar lewe publiseer Emily D.

glo net sewe, aanvaarbare verse,

versend aan haar kritiese mentor,

ene Thomas Wentworth Higginson.

Nadoods word die dubbelspraak,

haar ragfyn binnespraak, ontrafel.

Die ryke tapisserie van haar lewe

lok ooreenkomste uit, merkwaardig,

ook met haar, wat op die Stadionkade

mymer oor die digkuns as ‘n valreep.

‘n Ander Thomas stel hom aan,

in ‘n ander tyd en ruimte, as preseptor.

Sy holruggeryde argumente oor

veelheid, vormvit en byltjies slyp,

neem my terug na Emily D. en Elisabeth E.

Waarom dié onheilige Thomas,

‘n blote tentmaker van die woord,

glo bó hulle in ‘n durende akkoord?

.

Daar sal altyd onmin binne die Afrikaanse letterkundige kringe wees. Dit bly nou maar eenmaal ’n feit soos ’n koei. Na dese het ek weereens besef watter belangrike taak die resensent opgelê word – respekteer die teks soos wat jy die persoon agter die teks sal respekteer. Persoonlike vetes tussen literatore en of literatore en skrywers moet asseblief op ’n professionele wyse benader word. (Slaan mekaar met ’n moersleutel by die volgende ‘Moordfees’ in Skelmbos of skryf ’n resitasie op ’n poskaart. Ja, die poskantoor lewer nog pos af.) Almal moet maar die holruggeryde cliché ter harte neem: Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

.

Bibliografie

Gouws, T. 2016. Digter kan doen met groter selftug. Die Burger, 7 November: 9.

Hambidge, J. 2016. Indeks. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kannemeyer, J.C. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Kaapstad: Tafelberg.

.

© Dewald Koen / 2016

  •