Posts Tagged ‘Resensie Bernard Odendaal’

Resensie: Karos orie dyne (Hans du Plessis)

Wednesday, July 4th, 2012

Karos orie dyne. Nuwe Griekwapsalms en anner gedigte. Deur Hans du Plessis. Lapa-uitgewers. ISBN 978-0-7993-5531-4. 83 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal (Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

Omslag

Met hierdie derde bundel Bybelse poësie in Griekwa-Afrikaans maak Hans du Plessis en Lapa-uitgewers as ‘t ware weer so: vlot, toeganklike en waarskynlik gewaarborgde gewilde verskuns vir waardeerders van Christelike literatuur én van die verkwiklike seggingskrag van ‘n niestandaardvorm van die taal.

Die twee genoemde waarderings het ook met mekaar te doen. Naas Du Plessis se vaardige omdigtings van die Bybelse materiaal – hy noem in die “Outeursnota” dat al die gedigte in die bundel, “op een of twee uitsonderings na”, gegrond is op Bybelstekste – is dit juis die kleding van die bekende geestelike stof in die aards-konkrete, romanties-eenvoudige baadjie van die Griekwa-tongval wat die poëtiese effek bewerkstellig.     

 

 

 

Alman van ons kom tog yt die Jirre yt,

dies wat Hom kjen, hoor wat ek praat,

ma dies oener jille wattie Jirre haat,

jille se ore gat van hierie storie tyt,

 

lui dit in die openingstrofe van “eerste liefde”. Dis egter juis ook die ingewydes en die reeds oortuigdes wat die ervaring van nuutmaking gaan beleef by die lees of aanhoor van hierdie omdigtings van bekende Bybelse gedeeltes en gegewens.

Bowendien het die vermenging van “verhewe” onderwerpsmateriaal en “lae” taalregister ‘n humorvolle effek, wat die aantrekkingskrag van dié gedigte versterk. 

Blote “vertalings” (dialektiese oorsettings) is dit nie. “Die digter is immers ‘n skeppende kunstenaar,” waarsku Du Plessis in die “Outeursnota”. Allerlei vorme van om- en bywerking of verkorting is dus aan die orde van die dag. Ook bekende kerkliedtekste is onder digterlike hande geneem, en nie almal is noodwendig ewe singbaar op die bekende melodieë nie. Vergelyk die weergawe van “Stille nag” (Lied 348) op bladsy 43 in die bundel. Die tweede strofe lui byvoorbeeld:

Stille nag, heilage nag,

Jesuskjind lief en sag.

Liefde skyn ytie heilage nag.

Liefste, jimmelse Kjind,

liefste, jimmelse Kjind.

 

Soos in Innie skylte van die Jirre (2001) en Boegoe vannie liefde (2002) vind die strewe na eenvoud van segging ook vormlik neerslag in versbou wat ‘n neiging na vastighede vertoon (wisselende eindryme, relatiewe reëlmaat in strofe en versreëllengtes, ‘n hele paar veertienreëlige gedigte), sónder om rigied te word. Die veertienreëlige verse vertoon byvoorbeeld nooit volledig die kenmerke van die klassieke sonnetvorme nie. Selde word eindrympatrone volgehou. En slegs een of twee maal wonder ‘n mens of jy ‘n sweem van rymdwang bespeur het. Vergelyk in laasgenoemde verband:

God se enagste  Kjind

het ons in liefde gebind.

(“Die Jirre het gekom”)

 

Maar dan word hierdie einste twee reëls onmiddellik opgevolg met die volgende onthoubare stelwyse:

Sos kjinnerse ytie selle hys

hoort die liefde tissen ons tys.       

 

Du Plessis aanvaar met “Josef” (bladsy 40) die uitdaging om Elisabeth Eybers se bekende “Maria”-gedig (kontrastief-parallellerend) na te doen – myns insiens met gedeeltelike sukses. Die openbarende klimaktisering wat Eybers se gedig bereik deur die strenge herhaling van die retoriese vraagvorm in haar gedig, word in die middeldele van “Josef” prysgegee ten gunste van belerende stelsinne. Die vraag in die slotstrofe bewerkstellig derhalwe nie die (leserontdekte) openbarende afloop as die Eybers-gedig nie.

Die bundel skop af (nog voor die inhoudsopgawe) met “Die Jirre se pat”, na aanleiding van Spreuke 3:1-10. “Vra eers wasie Jirre se pat / voorlat jy jou eie ene vat,” lui ‘n frase daaruit.

Dan volg vyf afdelings, met die volgende opskrifte: “Innie begin”, “Hy kom!”, “Kalaharikrismis”, “Hy kom wee!” en “Einde”. So op ‘n rytjie geplaas lyk dit na die uitstipping van die bakens van die Bybelse tematiek van skepping, (sondeval en) verlossing, wederkoms en eindoordeel. En tog is dit moeilik om die afdelingsfokusse suiwer op hierdie tematiese bakens afgestem te sien; die verse is hoogstens in relatiewe terme sodanig gerangskik. Ou en Nuwe Testamentiese materiaal staan byvoorbeeld verweefd gerangskik in die drie middelste, langer afdelings.

Die klem val deurgaans eerder op die menslike afhanklikheid van God en op God se liefdevolle, deurlopend reddende teenwoordigheid in die leefwêreld wat hier uitgebeeld word – die “karos” van die “jimmel … orie donker dyne” waarvan in “Die Jirrie spannie jimmel” gewag gemaak word, en waarvan die bundeltitel afgelei is.

Met Karos orie dyne versterk Du Plessis die gewaardeerde posisie wat hy as religieuse digter en as funksionele benutter van ‘n Niestandaardafrikaans-vorm beklee.

 

 

Resensie: Flitse (Clinton V. du Plessis)

Sunday, July 1st, 2012

Flitse – Clinton V. du Plessis. Ama-Coloured Slowguns (Posbus 547, Cradock, 5880). ISBN 978-0-620-53231-0. 34 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal

Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit

 

omslag

 “Twitter”-gedigte noem Clinton V. du Plessis die verse in hierdie sewende digbundel van hom. En haal HAT-omskrywings van die titelwoord (in die enkelvoud) voorin aan, waaronder: “Skielike, besonder helder gedagte of iets soortgelyks.”

Inderdaad is die 28 verse in Flitse bondig en pittig van aard, meermale kwatrynagtig in bou, meestal mét ryme, maar wat net hier en daar vaste patrone aanneem. Nie verniet nie word in “Knoop” (nie self ‘n kwatryn nie!) gewaarsku:

Die lewe is soms ‘n kwatryn

wat nie ‘n fok wil rym. 

Sodoende verryk Du Plessis sy digœuvre (hy is ook ‘n gepubliseerde prosaïs) met iets nogal nuuts vir hom. “Lewensloop” verklap waarskynlik iets van die ontwikkelingsgang wat sy eie digterskap gevolg het (hoewel hy self nog ‘n dekade weg van die ouderdom van sestig staan):

 

Op twintig

skryf ek versetverse

betrokke, breytenbachbriesend:

op veertig maak ek voetnotas

by die lewe:

soveel verlore kanse/liefdes en keuses:

op sestig soek ek in afgebrande biblioteke

besete na woorde, na grepe uit ons boeke.

 

Hoewel die gedigte nie in afdelings ingedeel word in die bundel nie, staan hulle tog min of meer tematies gegroepeer. ‘n Viertal openingsverse oor die digkuns en die digterskap word gevolg deur groepe oor die internetwêreld, oor sosio-ekonomiese kwessies, oor dood en verval en oor sosio-politieke vraagstukke.

Dan volg ‘n sestal gedigte met die name van Afrikaanse digters as titels, en waarin hierdie digters meestal ook aangespreek word. Treffend is die gestroopte kwatryn oor Adam Small, nie net in die lig van Small se digterlike swye van nou reeds tientalle jare nie, maar ook van Du Plessis se eie LitNet-blogskrywe van 2010 waarin hy Afrikaans as “fokof”-taal vaarwel sou toegeroep het :

Die kitaar

het geen snaar,

en die mond

is ‘n oop stil wond.

 

“Dirk”, wat onmiddellik op “Adam Small” volg, steek derhalwe opvallend af hierteen vanweë die beeldeenheidsgebrek en die sinsboustruikeling waaraan dit mank gaan:

Jy, Opperman van die woord

met jou wit stok

stap jy saans met Hom om die blok

tel jy jou woorde … kyk jy wrokkig noord?

 

Dan volg weer ‘n drietal gedigte oor die (eie) digterskap, met tot slot twee verse oor die menslike en aardse nietigheid (die heel laaste met funksionele benutting van rekenaarbeelde).

Du Plessis het al herhaaldelik sy onvrede met bepaalde aspekte van die Afrikaanse literêre sisteem te kenne gegee, wat syns insiens steeds deur ‘n “meesternarratief” van blankheid oorheers word. Vandaar dat hy, nadat sy debuutbundel geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar in 1984 by Perskor verskyn het (en André P. Brink as kritikus geoordeel het dat die bundel liefs nooit as sodanig gepubliseer moes gewees het nie), telkens self sy bundels uitgee. En vandaar dat hy weier dat van sy gedigte in Groot verseboek (met Brink as samesteller) opgeneem word.

Dis na my oordeel ‘n jammerte. Eerstens word die sifting-en-slypingsbystand van keurders en redakteurs by die gevestigde uitgewerye ontbeer, sodat gedigte se volle potensiaal nie altyd verwesenlik word nie (soos Flitse op ‘n paar plekke wys). Voorts word die beskikbaarheid van Du Plessis se werk ietwat gekortwiek.

Slaan ‘n mens die vroeër gedigte van Du Plessis na wat wel in bloemlesings soos Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (1999) en Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997) opgeneem is, kom ‘n mens agter hoeveel Afrikaanse poësieliefhebbers dreig om mis te loop.