Posts Tagged ‘resensie Hennie Aucamp Teen die lig’

Resensie: Teen die lig (Hennie Aucamp)

Monday, October 8th, 2012

Teen die lig  – Hennie Aucamp  (ISBN 9781869197643; sagteband , pp 64, R150; Protea Boekhuis, 2012)

Resensent: Joan Hambidge

 

Ek leun teen die hoekpaal, my hart klop sterk:

Hiér vind ek heiligheid, hier is my kerk.

 

I

 

omslag

omslag

Hennie Aucamp is ʼn gevestigde kortverhaalskrywer, teoretikus, aforis, dagboekskrywer, kabarettis én digter. Trouens, hy is besonder veelsydig en die afgelope paar jaar het hy ʼn paar aangrypende sonnette gepubliseer. Sy gedigte het in alle waarskynlikheid nog nie genoegsame kritiese aandag geniet nie, omdat ons binne die Afrikaanse letterkunde so genre-bewus is. Die digters staan aan die een kant; die prosaïste aan die ander kant. Dit is egter so dat vele groot skrywers – ʼn mens dink hier onwillekeurig aan Borges – beide genres met gemak en geesdrif bedryf.

Die jongste bundel staan in die teken van “afskeid en vertrek”, maar ons vind nie hier ʼn sentimentele bestekopname nie. Die gedigte is ʼn terugkyk op ʼn lewe en jeugherinneringe aan “Rust-mijn-ziel” word in verskeie verse, sonnette en veertienreëlige verse, onder die loep geneem. Die verskillende fases van die ervaringe op ʼn plaas soos bakdag, slagdag, skeertyd, ensomeer word in die gedigte bewaar soos die afstof van kiekies en daarmee saam, herinneringe aan ʼn vervloë tyd. Daar is humor soos in “Bakdag” met sy Bybelse verwysing én seksuele toespeling. Maar vele van die mense is reeds oorlede soos ons verneem:

 

Almal is dood, net ek is nog hier,

om ʼn plaas en sy vreugdes met woorde te vier

 

(12, “Slagdag op Rust-mijn-ziel”).

 

Die tematiek van vreugde en die gedagte van die “carpe diem” is iets wat ons terugvind in die kortverhale en ʼn navorser behoort uit te wys in welke mate Aucamp die ervaring van die gay-mens, in al sy geledinge, sonder skuldgevoelens beskryf het. Die mens se lot (fata) word in die gedig oor skeertyd verbind aan Jason se goue vlies. Daar is ‘n huldeblyk aan Topsi Venter, daardie priesteres van kookkuns en “Spyskaart” (18) is vir enige kosskrywer ʼn les van hoé om dit te doen! Die nostalgie kom aan bod, maar sonder verwyt of verdriet:

 

Trek daar ʼn nárook waar ons vure was?

En is die slaggoed vanjaar weer mooi deurwas?

 

(“Vlei toe op ʼn winterdag”, 19)

 

Reuke, smake én sig rig die verse sodat die leser ingetrek word in ʼn ou, vergange wêreld. Maar terselfdertyd word verse ook iets méér: hulle vra vir ʼn dieper, selfs psigoanalitiese lees soos “Snuf in die neus” (20) en die aangrypende “Ma se resepteboek” (14) met sy kelders en ʼn kosboek as dagboek. Die gevoel van rus, selfs die numineuse, word geaktiveer in “Hoekbaken” (21):

 

Ek leun teen die hoekpaal, my hart klop sterk:

Hiér vind ek heiligheid, hier is my kerk.

 

wat weer inspeel op Coenie de Villiers se bekende lied. Die hele bundel aktiveer ʼn Derrideaanse spanning tussen absence en presence met die gedig wat telkemale alles behou.

 

Heerlike, aardse humor vind ons in die volgende “Boeretroos” (30):

 

 

Die voorbok mors met sy ghitaar,

die vedel is uit wans,

maar dit hou niemand teë nie

in die papkoejaweldans. (30)

 

Hier speel Aucamp natuurlik in op die punt-digte van A.G. Visser wat Van Wyk Louw later moes erken, belangriker is as wat hy aanvanklik geoordeel het. (Kyk afdeling III). Waar Aucamp dikwels meer verliteratuurd gedig het, gee hy nou in hierdie laatwerk meer aandag aan die natuur (“Geen kunstenaar kan beeldhou / soos die oernatuur”, 34) wat ʼn aweregse gesprek word met TT Cloete se pragvers “God die digter” en weer Neruda aktiveer. 1. “Die sneeu van voorverlede jaar” (35) speel in op Villon en Uys Krige. In kort spitsverse (wat apart gelees kan word of as onderafdelings van die gedig) ontluister hy die gang van sake en hoe die ouderdom mense en kunstenaar ontmasker:

 

 

Diva

 

 

Op haar dag ʼn groot sopraan

wat tierelier en kweel,

maar tyd, die wrede rower,

het haar talent gesteel (36).

 

Die digkuns, ironies genoeg, is wel ʼn kunsvorm (anders as sang en dans) waarin die kunstenaar verbeter.  Die genoeglike “Diereriem” laat ʼn mens glimlag. Aucamp se belangstelling in die Namas, Boesmans en Himbas word verwoord in slim verse soos in “Swymelary” (44):

 

Boesmans het altoos

dwaalbos gerook

en jantwak oor ʼn misvuur

tot tinkture verkook.

 

Beelde gaan kop toe,

okkult surreëel:

En dis hoe sjamane

bestaansbreuke heel.

 

 

Netjies die “Boesman-I.D.” (47):

 

Sy handdruk teen ʼn rotswand

wou nooit ʼn grot versier;

bevestig bloot, en oor en oor;

Eenmaal was ek lyflik hier.

 

Hoe vindingryk om die Cheetah met die Koningin van die Nag te vergelyk. Gepas is daar ʼn lykdig vir George Weideman waarin die digter se geloof in – en aan sy woorde – geloof word. Die chanson – met sy refrein – “Lalie in die riete” (61) is Aucamp op sy stukke. Essensieel is hierdie vers: met die ironiese “maar swanger was sy nie” wat juis beklemtoon dat sy wel swanger was en vermoedelik vermoor is. Hier ontgin die digter die poëtikale taal tot sy uiterste met inversie, herhaling en oordrywing. En luimig word ou knorrige Barend J Toerien (“Aan Barnie ʼn paar vrae”, 62) ter take geneem oor wat nádoods gebeur. Hierom in die bundel ʼn spel met anderkant / deuskant, ʼn wete dat die finale vertrek om die draai is.

 

 

II

 

Natuurlik aktiveer so ʼn herbesoek aan die vergange wêreld altyd in die spreker tog ʼn “argeologie van triestigheid” (23), omdat daardie wêreld vir ewig verby is. Op die solders van die geheue is daar ʼn “verleefde tyd” opgesluit waarvan die spreker in die hier-en-nou bewus bly. “Eenmaal was daar Nietvoorbij” (26) word verruim met sy toespeling op Tsjechof se kersieboord.

 

 

Ou woorde word afgestof en tot nuwe lewe gewek soos beduimeld, smeuïg, adret, vedel, onverhoops, boen, tinkture, liemaak, buryn, baroe, ensomeer.

 

III

 

ʼn Bundel soos hierdie laat ʼn mens nadink oor die ars poëtika en die digter se posisie binne die kanon. Die volgende punte is tersaaklik:

 

 

1 Dit sal die leser loon om Helize van Vuuren se skitterende artikel op LitNet te lees oor laatwerk (“‘n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge) en haar besondere siening oor die laaste werk van ʼn digter te lees. Sy wys op die spanninge in die gemoed van die ouerwordende digter wat o.a. minder toeganklik dig of meer aandag gee aan die speelse en vreugdevolle wat ʼn digter beleef (soos by Opperman) wat terugkeer het uit die dode. By Aucamp is daar ʼn terugkeer na die jeug, die ongeskonde plaaslewe en ʼn bestekopname soos hy dit verwoord in “Nature morte” op bladsy 8:

 

Die ware stillewe

is ʼn essay:

altyd metafisies, altyd

deurtrokke van sterflikheid.

 

 

2 Die gesiene kritikus Frank Kermode se An appetite for poetry is eweneens hier tersaaklik: hoe ʼn digter in wese ʼn besondere wyse van lees (en interpretasie) opeis. Trouens, die titel verwys na Valéry se uitspraak dat daar mense is wat die literatuur bestudeer, wat geen aptyt (smaak) of sal ons skryf, smoel het daarvoor nie, maar tog oordele uitspreek. Aucamp se vormbeheer imponeer hierdie leser en die outo-gesprek met temas al aangespreek in die kortverhale verruim die bundel. Ek bewonder vormbewuste digters soos Aucamp en Daniel Hugo, wat die aard van die digvorm ken en eiewys toepas. 

 

3 In Van Wyk Louw se bekende essay “Geestigheid in die poësie” verwys hy na die kelk-vaas-urne beelde in Visser se digkuns wat my laat besluit het dat ʼn mens na hierdie gedigte van Aucamp as ʼn urne kan verwys (1972: 116).

 

Die oorgang tussen lewe en dood word met nuwe beelde gelaai in die slotvers:

 

Aandlied

 

Dood kom oor die bulte,

ʼn ou man in ʼn kros,

en hy is in die leegte

moet ek my pen laat los

En eers ons padkos regkry

-die ou sal honger wees, gewis –

twee flessies duineheuning,

ʼn broodjie en ʼn vis.

 

Die bundel word opgedra aan Johann de Lange.

 

 

Joan Hambidge is professor in Afrikaans & Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

 

Oktober 2012

 

Bronne:

 

Frank Kermode. 1990. An appetite for poetry. Essays in literary interpretation. Londen: Fontana Press.

 

N.P. van Wyk Louw. 1972. Opstelle oor ons ouer digters. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Helize van Vuuren: http://www.litnet.co.za/Article/n-almanak-van-klippe-laatwerk-en-breyten-breytenbach-se-die-beginsel-van-stof-laat-verse  (Besoek 3 Oktober 2012).

 

 

Endnote:

 

1. T.T. Cloete (geb. 1924)  

God die digter

Chili is deur ‘n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomologie

in die moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

  die aarde is deur ‘n digter gemaak.

 

 

 

  •