Posts Tagged ‘Resensie uit die kroes’

Resensie: Uit die kroes (Lynthia Julius)

Monday, July 6th, 2020

 

 

 

Uit die kroes deur Lynthia Julius. Kwela Boeke, 2020.

Resensie: Joanette van der Merwe

 

In Lynthia Julius se debuutbundel Uit die kroes (2020) loop twee hooftemas deur al die gedigte: persoonlike geskiedenis en die geskiedenis van bruinmense in Suid-Afrika. Hierdie twee temas is onlosmaaklik vervleg – beïnvloed mekaar wedersyds in ʼn ryke en soms ontstellende kruisbestuiwing – en konfronteer die leser met die ongemaklike feit dat rasse buite die wit hegemonie histories nog nooit kon aanspraak maak op ʼn “universele” ervaring nie.

In ʼn dekonstruktiewe raamwerk word ʼn nie-wit ras as ʼn gemerkte term beskou; dit beteken kleur is die mees opvallende aspek van ʼn persoon. Uit die kroes kan gelees word as terselfdertyd ʼn verset teen en ʼn toeëiening van so ‘n “gemerktheid”, sowel as die veroordeling van ‘n struktuur wat verset en/of toeëiening vereis en min ruimte laat vir ‘n ander opsie.

Die gedig “Kleur kom tog alleen” (28) (‘n inspeling op Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie (2000)) vat hierdie spanning saam: “Kleur kom alleen as jy die enigste van jou soort by ‘n party is” en “[k]leuralleen kom met die dosent saam wat vir jou sê / jy moet jou werk na ‘n sekere uitgewer stuur, / hulle soek bruin skrywers”. Maar ook: “[j]ou huile, jou alleen soos gat / (en jou kleur, jy’t altyd nog jou kleur)”, en die onteenseglike slotsom:

 

So of jy moer met kleur of nie

kleur die etter kom alleen.

Die twee gedigte waarmee die bundel afsluit, eggo hierdie tema en bring die nuanses van ras na vore:

Gaan sê jou ma jy’s verlief op

‘n Nama(kwa)kind

een met kroes hare en ‘n geel vel

                                                (“Wat sal jou ma sê”, p.81)

 

en:

 

fok glad wees

[…] ek vee nie die geskiedenis uit my hare uit nie

kroes is kroes

kroes word nooit tot die wortel glad nie

                                                (“Kroes”, p.82-83)

 

Dit is ‘n digter se opdrag om die wêreld ánders te bekyk en hierdie visie vir ander aan die lig te bring. Julius bied die persoonlike aan deurtrek met die politiese, en woeker met die politiese sonder om die persoonlike uit die oog te verloor. Die feit dat sy deurgaans twee sulke groot temas gesamentlik aanpak laat egter nooit haar gedigte of die bundel as geheel lomp voel nie: dit getuig van Julius se vaardigheid dat sy hierdie proses amper moeiteloos laat lyk.

In terme van styl en stem is dit die opregtheid en die intimiteit waarmee sy skryf wat ‘n sukses maak van hierdie geskiedskrywing. Daar is geen ironiese afstand tussen die skrywer en haar woorde of haar leser nie. Die beelde is lyflik en aards (soms skokkend) en haar taal is pretensieloos en toeganklik, dog robuust genoeg om sterk idees oor te dra.

Die stylfigure is ook nooit opvallend of steurend nie, maar dit beteken nie dat dit afwesig is nie. Die kombinasie van gemaklike taal en ‘n informele struktuur laat die gedigte eenvoudig voorkom, maar dit is juis hierdie kenmerke wat die gedigte by die leser laat bly en telkemale laat teruggaan om te herlees en wéér te lees.

Die bundel open met portrette van bruinmense in die bloedige geskiedenis van Suid-Afrika – “Sara” (7), “Frederik die Hottentot” (8), “Amria van Bengale” (12) – en ander ongenaamd, soos wat die geskiedenis hulle ook naamloos gelaat het: “Halfnaatjie” (9), die “jou” van “Swyg” (10) en “Die psalmboek” (15), en die “meid” van “Nege-en-dertig slae” (13).

Die gedigte “1830” (16) en “1949” (21) bied ‘n groter snit van die geskiedenis. “1993” (24) sluit hierby aan en het die potensiaal om een van die gedigte te word wat ‘n generasie of tydsgees gaan kenmerk:

 

Ek het apartheid net geruik

seker tot my spyt

miskien as ek kon voel

wat Adam Small in sy veertig jaar

in die woestyn gevoel het

sou ek beter verstaan het hoekom die studente so kwaad is[.]

 

Die ervaring van die post-apartheidjare word verder ondersoek in “Skuld” (24-25). Die verset teen oorgeërfde trauma word op sigself ‘n poging om hierdie trauma te verwerk:

 

Ek betaal nie skuld af vir my ouers nie

[…] ek las nie goed aanmekaar wat ek nie breekgemaak het

maar so kom kry het nie

[…]

my arms gaan nie gebeentes vashou van

gefossileerde haat en seerkry nie

ek gaan nie die massa van my land

my mense op ‘n paar kilogram lyf se rug dra nie

 

Net so aangrypend en gevoelig geskryf is die intieme blikke op ‘n persoonlike lewe. Dit sal ‘n fout wees om die persoonlike ‘n metafoor vir die politiese te maak, of omgekeerd, maar die eggo’s tussen die poging om ‘n afwesige pa te begryp en te vergewe en die poging om van die geskiedenis sin te maak, skep ‘n melankoliese leitmotif wat die bundel as ‘n geheel verryk.

In hierdie opsig staan “Naggesprek” (32-33) en die kort, oënskynlik-eenvoudige “Luna” (29) uit vir hulle onderblemtoning; ‘n vrugbare jukstaposisie met die meer voor-die-hand-liggende (maar nie minder treffende)“Krismisboom” (30-31), “Die vrouens in my familie” (34) en “Ma’s ‘n huis” (36).

Die samestelling van die bundel is só dat die verskillende temas van die gedigte mekaar ten beste vertoon. Tussen die familie-verse is “Ontheemding” (41-42) wat terselfdertyd ‘n elegie vir die Nama-taal en -kultuur is en ‘n besinning oor hoe ras en taal behorigheid kompliseer:

 

Ek is toe verkimberley, ‘n whyster gemaak

ek kon nog nooit soos hulle praat

as ek in Springbok kom is ek te stad

in Kimberley te Nama.

 

Uit die kroes sluit aan by groot tradisies in die Afrikaanse poësie. Die gedigte wat met die Suid-Afrikaanse rassepolitiek in gesprek tree, roep die passie en sterk gevoel van Antjie Krog se politiese verse op, terwyl die intieme blikke op die huislike lewe, liefdesverhoudings, en innerlike soeke ʼn mens telkemale aan Elisabeth Eybers herinner.

Ook aangrypend is die gedigte waarin Julius die tradisionele (wit) kerktradisie konfronteer, byvoorbeeld “Geloof se mosterdsaadjie” (74):

 

Jy weet nie of jy weer in die wit Jirre

met die gladde hare

se kerk kan sit

en vorentoe gaan vir nagmaal nie

 

Die wyse waarop Julius die goddelike leemte aanspreek en vergestalt (die afwesigheid as’t ware teenwoordig maak) in gedigte soos “Vir ʼn one laat vat” (58) en “Between a rock and a hard place” (75) is ‘n her-verbeelding van godsdienstige poësie. Ook hierdie gedigte spreek tot die ander temas in die bundel, soos dié van ras, geskiedenis, en herkoms. Die spreker is “’n Nama(kwa)kind… wat soms nog wil glo in die Jirre God / al moet sy twyfel as sy teen haar mense kyk” (“Wat sal jou ma sê”, p.81).

Enige digbundel het ‘n paar gedigte wat minder sterk is, of bloot nie alle lesers in dieselfde mate sal geval nie. In Uit die kroes is daar dan ook enkele gedigte waarin die styltegnieke effens selfbewus voel en die klimaks miskien geforseerd voorkom. Eerder as om afbreuk aan die bundel as ‘n geheel te doen, beklemtoon hierdie handjievol gedigte egter net die hoë standaard van die res, en laat dit ‘n mens met vertroue dat Julius met haar digkuns vorentoe net van krag tot krag sal gaan.

Reeds in haar debuutbundel wys Julius dat sy ‘n sterk en unieke stem het en die digkuns vaardig aanwend om haarself uit te druk in verse met blywende krag. Uit die kroes laat die leser met heelwat om oor na te dink en nog meer: laat ʼn mens uitsien na Julius se volgende bundel.

 

 

  •