Posts Tagged ‘robert johnson’

Wicus Luwes. Robert Johnson en die kruispad

Saturday, April 4th, 2020

 

Robert Johnson was ‘n musikant wat volgens oorlewering sy siel aan die duiwel verkoop het by ‘n kruispad. Die kruispad waar die transaksie plaasgevind het, is die kruising van Hoofweg 61 en Hoofweg 49 in Clarksdale, Mississippi. Pelgrims van bluesmusiek besoek die plek ter nagedagtenis aan die transaksie. Ek dink al ‘n paar dae oor kruispaaie, want ek vermoed dat die beskawing by ‘n kruispad staan. Die probleem is dat die kruispad geen rigtingwysers of predikante het nie.

 

 

 

 

Daar is seker ‘n paar maniere om kruispadbesluite te neem. Ek noem hier ‘n paar, aangesien ek nie weet of daar ‘n regte en verkeerde manier is om sulke besluite te neem nie.

 

Metode 1: Loting

Hierdie manier is eenvoudig: jy breek ‘n stokkie in ongelyke stukke. Elke stuk verteenwoordig dan ‘n pad wat moontlik uit hierdie kruispad kan loop. Ek is ook nie seker of die paaie by ‘n kruispad ‘na’ die kruispad toe loop, of daarvan af ‘wegloop’ nie. Een probleem met ‘n metaforiese kruispad is moontlik dat jy nie weet hoeveel paaie by die kruispad ontmoet nie en waarheen enige van die paaie sou loop nie. Dit sou goed wees om eers te bespreek waarheen jy op pad was toe die kruispad so ongevraagd opgeduik het.

Robert Johnson was op soek na musikale roem en het twee plate in 1936 en 1937 in klein ateljees opgeneem. Die kwaliteit van die opnames was nie in die plate self nie, maar in die invloed wat hy gehad het op musikante wat sy talent jare later probeer naboots het. Daar het slegs twee foto’s van hom behoue gebly en nege-en-twintig liedjies. Sy bekendheid was meestal beperk tot die Mississipi Delta-gebied. Daar is nie veel neergepen oor sy lewe nie, en dit het miskien bygedra tot die legendes wat ontstaan het.

Robert Johnson is in 1938 op die ouderdom van 27 oorlede. Hy is deel van die sogenaamde Klub 27, ‘n groep musikante wat op die ouderdom van 27 gesterf het. Ander lede van die klub sluit Jimi Hendrix, Janis Joplin, Jim Morrison, Kurt Cobain en Amy Winehouse in. Groot name in die musiekbedryf soos Eric Clapton, Bob Dylan en Keith Richards, noem Johnson as ‘n sleutelinvloed op hul musiek.

 

jy het min tyd ‘n pad te beskryf

 

jy het min tyd ‘n pad te beskryf dan

word dit iemand anders se pad

en sal die pad verdwyn. langs die pad staan

‘n koord van voëls op telefoondrade

en as jy afkyk, jou voete en jou hande

die hande word benoem deur palm en vingers

in onsekerheid word dit ‘n vuis.

die gaping tussen die voetsool en die pad soos

die gaping tussen tande en die stil

tong. kom jy by ‘n kruising in die pad nes

the road less travelled twyfel-

agtig die verskil

 

(Deur Gilbert Gibson uit Vry-, Human & Rousseau, 2015)

 

Metode 2: ‘n Kaart

Die kaart het ‘n sprong van papier na digitale GPS gemaak oor die afgelope paar jaar. Dit is amper asof geen naamborde meer nodig is nie. Die meeste mense kyk nie eens meer na naamborde en ander rigtingwysers nie. Hulle vertroue is slegs op die stem wat uit die GPS kom. Ek het ‘n tyd gelede ‘n artikel gelees oor die mens se vervlakking of afleer van kernkennis. Een van die onderwerpe het juis oor die moderne mens gehandel, wat nie meer na bakens rondom hulle soek tydens ‘n rit in ‘n motor of andersins nie. Ons soek nie meer torings of hoë geboue wat gebruik word om rigting te hou nie.

Kommentators is vinnig om uit te lig dat die wêreld verander het, maar hulle noem nie altyd dat die bestemmings steeds dieselfde bly nie. Maslow se lys van behoeftes speel ‘n rol aan die ander kant van die kruispad.

Vorige geslagte het anders na rigting gekyk. Oupa se kaart het kant-aantekeninge gehad. Verder kon vele reisigers van weleer hele roetes uit hul kop onthou. Jy moes sulke reis-raadgewers eers geken het voordat jy ver van jou omgewing gereis het. Die grootste deel van die avontuur was nie altyd om die roete-gesprekke aan te hoor nie, maar ook die stories wat daarmee saamgegaan het. Die plekke waar hul verdwaal het en die plekke waar die spietkops welbekend was.

Ek dink aan hierdie reis-stories wat ek lanklaas aangehoor het en besef dat ek ook nie net per toeval op Robert Johnson afgekom het nie. Ek het ‘n internetsoektog van stapel gestuur om te soek na die mees invloedryke albums van alle tye. Een van die albums was die Rolling Stones se ‘Exile on Main St.’. Die album het ‘n sterk Bluesinvloed. Keith Richards het blykbaar ‘n nuwe manier van kitaarstem uitprobeer en is daardeur geïnspireer. Dit is interessant dat Richards byvoorbeeld nie wegbeweeg het van kitaarspel nie, maar eerder sy kitaarspel verander het om die oplewing van die Rolling Stones se suksesvolle 1970’s kruispad in te lei.

 

Defeat, my Defeat, my deathless courage,

You and I shall laugh together with the storm,

And together we shall dig graves for all that die in us,

And we shall stand in the sun with a will,

And we shall be dangerous.

 

(Uittreksel uit ‘Defeat’, soos saamgevat in ‘The Madman’ deur Khalil Gibran)

 

Metode 3: Volg die ander

‘n Derde manier is om bloot by die kruispad te wag totdat ‘n ander reisiger verbykom. Deur daardie reisiger te volg, kan jy moontlik die hoofroete bepaal. Dit is nie altyd sleg om die trop te volg nie. Veral as jy veilig wil speel, sou dit ‘n goeie manier wees om die kruispad in jou lewe te hanteer. Ons loop ons hele lewe op die grens tussen die aanvaarde optredes en die verandering van aanvaarde optredes. Daar sal altyd iemand wees wat die derde pad uitwys by ‘n pad waar jy slegs twee opsies oorweeg het.

Ek lees ook van die Britte se gewoonte om mense wat selfmoord gepleeg het by kruispaaie te begrawe. Dit het ‘n parlementêre besluit in die 19de eeu geverg om hierdie gewoonte stop te sit. ‘n Mens staan nie altyd by ‘n kruispad omdat dit jou keuse was nie. ‘n Spreker waarna ek op ‘n keer geluister het, het daarop gewys dat dit min kere gebeur dat ‘n fisiese kruispad ‘n geestelike kruispad vooruitgaan. Jy het heel waarskynlik daardie kruispad besoek voordat jy fisies by die kruispad opgedaag het.

In ‘n sekere sin sou Robert Johnson ook aan homself moes sterf deur sy siel te verkoop. Die storie van die bekende vioolspeler, Paganini, het raakpunte met Robert Johnson se storie. Beide musikante word daarvan beskuldig dat hulle besondere musikale sukses die konkelwerk van die duiwel sou wees. Dit is interessant dat goeie talent dikwels met konkelwerk vergelyk word. Enige musikant wat by ‘n soortgelyke kruispad uitkom, sal daardie kruispad nooit verlaat indien hul musikale roem buite hulleself gaan soek nie.

Hoe dit ookal sy – hier is ons nou by die kruispad. Die vraag is of ons Robert Johnson se voorbeeld moet volg en ons belangrikste besittings moet ruil vir iets wat meer waarde vir jou as vir die duiwel sou inhou. Korttermyn- en langtermyn-duimgooiers staan by die kruispad in hul beste pak klere. Dit is natuurlik ook nie altyd moontlik om terug te draai nie. Die vrees vir die onbekende klim soos Uniondale se spook langs jou in. ‘n Kruispad is amper soos die outydse sentrales se gekruisde lyne – jy weet nie mooi na wie om te luister nie. Die probleem met so ‘n gekruisde lyn, is dat jy ook later nie meer weet wie om te antwoord nie.

 

The Road Not Taken
deur Robert Frost

 

Two roads diverged in a yellow wood,

And sorry I could not travel both

And be one traveler, long I stood

And looked down one as far as I could

To where it bent in the undergrowth;

 

Then took the other, as just as fair,

And having perhaps the better claim,

Because it was grassy and wanted wear;

Though as for that the passing there

Had worn them really about the same,

 

And both that morning equally lay

In leaves no step had trodden black.

Oh, I kept the first for another day!

Yet knowing how way leads on to way,

I doubted if I should ever come back.

 

I shall be telling this with a sigh

Somewhere ages and ages hence:

Two roads diverged in a wood, and I —

I took the one less traveled by,

And that has made all the difference.

 

 

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Robert_Johnson

  •