Posts Tagged ‘Robert Schall vertaling Jan Wagner’

Onderhoud met Robert Schall oor “Wat ek van klippe weet”

Sunday, November 14th, 2021

 

 

 

Marlies Taljard gesels met Robert Schall oor sy vertaling van Jan Wagner-gedigte (“Wat ek van klippe weet”).

 

Marlies Taljard:

Robert, eerstens baie geluk met jou meesterlike vertaling van ʼn aantal van die Duitse digter Jan Wagner se gedigte wat Naledi uitgegee het as Wat ek van klippe weet. Dit is vertalings wat my persoonlik beïndruk het, veral omdat die gedigte tot my spreek en omdat dit oor onderwerpe handel waarmee ʼn mens maklik kan identifiseer. Ook omdat die vertalings getrou die Duitse teks weergee terwyl dit steeds in Afrikaans werk.

Waarom het jy juis Jan Wagner se gedigte gekies om te vertaal? Ek vra hierdie vraag omdat ek soms die idee kry dat vertalers dikwels willekeurig ʼn teks van die Internet neem en dit vertaal óf kies om slegs “maklike” gedigte te vertaal. Die gedigte wat jy vertaal het, is ingewikkelde gedigte met streng vormbeheer en sterk gelaagde betekenis. Hoe kies jy ʼn teks wat jy wil vertaal? Is die keuse van ʼn bronteks iets waaroor ʼn vertaler ernstig behoort na te dink? 

 

Robert Schall:

In 2019-2020 was ek besig met ʼn Magister in Kreatiewe Skryfkuns (Literêre Vertaling) by die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Henning Pieterse en Francois Smith. Aan die begin van die tweede jaar van die kursus behoort ʼn mens ʼn eerste weergawe van ʼn manuskrip gereed te hê vir bespreking met die dosente en medestudente gedurende dié jaar. Met die oog op hierdie vereiste het ek verskeie vertaalprojekte – spesifiek poësievertaling – oorweeg, d.w.s. ek het aan ʼn paar digters en werke gedink wat ek sou kon vertaal en gebruik vir my “kreatiewe uitset.” Maar gedurende die eerste jaar het iets gebeur wat my van rigting laat verander het: as ʼn rym-oefening het Francois Smith ʼn gedig van Jan Wagner vir my gegee om in Afrikaans te vertaal, naamlik die wonderlike sonnet “botanischer garten” (bl. 46-47; bladsynommers verwys na “Wat ek van klippe weet”). Met hierdie opdrag het Francois my aan Jan Wagner se werk bekendgestel. Ek was onmiddellik geboei en het begin om amper obsessief meer en meer Wagner-verse te vertaal.

Waarom juis Wagner se gedigte? Een rede het jy self al genoem: die gedigte spreek tot ʼn mens, om verskeie redes. As dit by vertaling kom, hou ek van die uitdagings wat “vormvaste” verse bied: die uitdaging, onder andere, om die oorspronklike vers se rym en ritme weer te gee terwyl die vertaling, hoop ʼn mens, ook in die doeltaal ʼn goeie vers word.

Wat die keuse van individuele Wagner-verse betref wou ek ʼn aantal gedigte vertaal wat verteenwoordigend is van die verse wat Wagner self as sy bestes beskou. Dus was my bronteks Wagner se eie keusebundel, “Selbstporträt mit Bienenschwarm. Ausgewählte Gedichte 2001 – 2015” (München: Hanser Berlin, 2016). “Wat ek van klippe weet” bevat omtrent die helfte van die verse in “Selbstporträt”. As met die lees van die bundel iets in ʼn spesifieke vers onmiddellik tot my gespreek het, of ʼn eerste Afrikaanse weergawe van ʼn paar reëls of frases by my opgekom het, of albei, was my “voet in die deur” en ek het maar voortgebeur.

Ek vermoed dat vertalers hulle brontekste kies soos enige ander leser digters of verse kies om te lees: sommige lesers mag “ernstig” daaroor dink, maar dikwels ontmoet jy ʼn digter of ʼn vers toevallig, soms is dit bloot ʼn opdrag of jou werk om ʼn sekere digter of vers te lees. Maar een aspek wat spesifiek by vertaling, en wel tussen Duits en Afrikaans, ʼn rol speel, is dat die vertaling so ver moontlik ʼn goeie vers in die doeltaal behoort te wees; daar kan dit nogal help as ʼn mens die keuse het om sekere verse nie te vertaal nie: jy kan verse uitlaat wat jy eenvoudig nie kan laat werk in die doeltaal nie. Dit beteken nie dat ʼn  mens net “maklike” verse vertaal nie. Ek het gevind dat goeie verse dikwels makliker is om te vertaal as swakker verse; dieselfde geld “vaal kolle” wat jy soms teëkom in ʼn andersins goeie vers: hulle is dikwels die vers se moeilikste deel om te vertaal (nie ʼn probleem by Wagner nie).

 

MT:

Ons het die afgelope jaar of so dikwels van jou vertalings op Versindaba gelees – nie net vertalings van Duits na Afrikaans nie, maar ook die omgekeerde, van Afrikaans na Duits. Vertel ons asseblief so ʼn bietjie van jou agtergrond as vertaler van poëtiese tekste en van die vreugdes en verdriet (as ek dit so mag stel) van die pad wat jy as vertaler geloop het.

RS:

Ek het Wiskunde gestudeer en my beroepsloopbaan was grootliks in die Biostatistiek. Ek het eers redelik laat in my lewe agtergekom dat ek van poësievertaling hou en dalk ook ʼn aanleg daarvoor het – ek was al in my middel-veertigs. My moedertaal is Duits en aanvanklik het ek, min of meer as ʼn blote stokperdjie, uit Afrikaans in Duits vertaal. Dit was enkele verse van ʼn reeks Afrikaanse digters, maar heelwat Van Wyk Louw, Boerneef en die hele “die sterre sê tsau” van Antjie Krog. Ek het dit veral geniet om Philip de Vos in Duits te vertaal, byvoorbeeld sy “Karnaval van die diere” en “Prente by ʼn uitstalling”. My Duitse vertaling van ʼn keuse van GR von Wielligh se Boesman-stories is in 2005 deur die Namibiese Wetenskaplike Vereniging (Kuiseb Verlag) in Windhoek uitgegee en is twee keer herdruk.

Sowat vyf jaar terug het ek “Sechs religiöse Gesänge” soos getoonset deur Josef Gabriel Rheinberger in Afrikaans en Engels vertaal, vir die programnotas van ʼn opvoering van die stuk. Dit het my laat dink dat ek miskien ook uit Duits in Afrikaans kan vertaal, d.w.s. uit die moedertaal, wat waarskynlik ietwat ongewoon is. Later het ek ook ander Liedertekste uit Duits in Afrikaans vertaal, o.a. “Die Winterreise” (Wilhelm Müller soos getoonset deur Franz Schubert) en “Liebesliederwalzer” en “Neue Liebeslieder” (Georg Friedrich Daumer soos getoonset deur Johannes Brahms). Toe tref Wagner my … .

Die vreugdes en verdriet van vertaling … . Ek vertaal eenvoudig omdat dit vir my ʼn vreugde is, omdat ek dit baie geniet; soos iemand al gesê het, “die grootste pret wat ʼn mens kan hê met al jou klere aan.” Die verdriet kom as jy ʼn uitgewer vir ʼn bundel vertalings soek. Ons weet almal dit is (vir die meeste van ons) nie maklik om ʼn uitgewer vir ʼn digbundel te vind nie; maar om ʼn uitgewer vir digvertalings te vind is miskien nog moeiliker, waarskynlik omdat vertalings van gedigte nog slegter verkoop as oorspronklike bundels. Ek is Johan Coetzee van Naledi baie dankbaar dat hy die kans met die bundel gewaag het. Ek hoop van harte die bundel word wyd gelees want ek weet Wagner se verse verdien dit, en as die uitgewer darem nie te veel geld verloor nie gaan hy moontlik ʼn volgende bundel publiseer?

Op hierdie punt: ek weet glad nie, maar doen Suid-Afrikaanse uitgewers genoeg om Afrikaanse digkuns by oorsese uitgewers te “bemark”? Probeer hulle maar het min sukses behalwe miskien in Nederland?

MT:

Watter hulpmiddele gebruik jy by vertaling, bv. woordeboeke. Gebruik jy hoegenaamd rekenaarvertalings?

RS:

Wanneer ek met vertaalwerk begin, maak ek eerste die volgende aanlyn-woordeboeke en -bronne oop: dict.leo.org wat o.a. ʼn Engels-Duitse woordeboek verskaf; pharosonline.co.za wat toegang tot Pharos se tweetalige Afrikaans-Engels woordeboek verskaf maar ook tot 38 ander woordeboeke, vaktaalwoordeboeke en tesourusse; viva-afrikaans.org met sy tesourus en toegang tot o.a. die WAT, die HAT en die Voorsetselwoordeboek; korpus.viva-afrikaans.org; woordeboek.co.za wat die aanlyn-weergawe van die WAT is; en woerterbuchnetz.de wat aanlyn-toegang bied tot ʼn magdom Duitse ensiklopedieë, Duitse woordeboeke uit die 18de en 19de eeu (broeders Grimm, Adelung), streeks- en dialekwoordeboeke, vaktaalwoordeboeke, en, les bes, die Goethe-woordeboek!

Sonder hierdie aanlyn-bronne sou ek verlore wees. Die omvang van hulp, en die spoed waarmee die hulp verskaf word, kan met papierwoordeboeke en -bronne nie naastenby bereik word nie. Met die verskeie bronne kontroleer ek elke vertaal-dag baie honderde woorde se sinonieme, uitspraak, betekenis en gebruiksfrekwensie.

Rekenaarvertaling gebruik ek nie vir digkuns nie, al het ek redelik onlangs uitgevind dat selfs Google Translate Afrikaanse prosa glad nie sleg in Duits vertaal nie. Digkuns is gelukkig (nog?) ʼn ander saak.

MT:

Duits as skoolvak het die afgelope dekades al amper verdwyn. Dit beteken dat min mense nog in aanraking kom met die Duitse kultuur, en selfs met die Europese kultuur. Dink jy dit is vandag nog sinvol om gedigte van Duits in Afrikaans te vertaal.

RS:

Hoe minder mense Duitse digkuns in die oorspronklike taal kan lees, hoe groter word tog seker die behoefte vir vertaling. Afrikaans en Duits is ver genoeg van mekaar om vertaling nodig te maak, maar na genoeg aan mekaar om vertalings moontlik te maak wat ook in die doeltaal “werk”, dikwels met behoud van formele eienskappe soos rym en ritme. Dit maak vertaalwerk tussen die twee tale besonder lonend en bevredigend vir my.

MT:

Robert, in die Voorwoord, die Nawoord en die Benadering tot die vertaling in Wat ek van klippe weet lewer sowel Henning Pieterse as jyself breedvoerige teoretiese kommentaar oor die vertaling as sodanig. Is vertaling dan ʼn wetenskap en behoort die vertaler rekenskap van sy vertaalstrategie te gee? Kan jy dalk motiveer waarom julle die bogenoemde teksdele as noodsaaklik vir die bundel geag het?

RS:

Dit is vir my interessant dat jy die voor- en nawoorde as breedvoerige en teoretiese kommentaar beskou. Ek het gedink die kommentaar is redelik prakties en verskaf net kortliks biografiese inligting oor Wagner self en oor enkele kenmerke van sy digkuns. Ek dink veral Wagner se hoogs ongewone gebruik van rym, naamlik skuinsrym en pararym, verdien ʼn kort kommentaar. Die “waarskynlike” leser in Duits weet van dié dinge 20 jaar na Wagner se debuut, maar die meeste lesers in Afrikaans weet waarskynlik nie daarvan nie. ʼn Mens kon in beginsel besluit het om die bundel sonder voor- en nawoord, en net in Afrikaans aan te bied, amper as ʼn Afrikaanse digbundel (en boonop met ʼn outeursnaam soos Jan Wagner so Afrikaans soos boerewors en braaivleis). Maar die tweetalige aanbieding Duits-Afrikaans, saam met die kort stukkies inligting in die voor- en nawoord, het miskien ook aantrekkingskrag, veral vir lesers wat Duits ten minste kan lees: Wagner se omgang en spel met taal en vorm, sy rym- en klankvuurwerke ensovoorts is iets om te aanskou, en om te sien hoe dié dinge in Afrikaans regkom (al dan nie), is hopelik interessant en ʼn plesier vir die leser.

MT:

Wanneer ʼn mens vertalings lees wat in die doeltaal net so goed werk soos in die brontaal, wonder jy hoe die vertaler te werk gegaan het om by so ʼn eindproduk uit te kom. Die bundel se drie belangrikste metatekste fokus op die vertaalproses en die vertaalteorie wat die bundel Wat ek van klippe weet onderlê. Kan jy dalk kortliks vir ons lesers iets meer oor die vertaalagtergrond en -teorie vertel en dit met voorbeelde toelig?

RS:

Soos genoem was my studies in Wiskunde, en ek het geen opleiding in vertaalteorie nie. Ek hang ook geen spesifieke vertaalteorie aan nie; ek het net ʼn oogmerk of, as jy wil, ʼn ambisie: om, so ver dit vir my moontlik is, ʼn goeie vers in die doeltaal te skryf. As iemand sê ʼn vertaling werk in die doeltaal net so goed soos in die brontaal is dit vir my die grootste kompliment wat die vertaling kan kry. Soos reeds aangedui, by ʼn brontaal/doeltaal kombinasie soos Duits en Afrikaans is dit in beginsel moontlik om redelik getrou aan die bronteks te bly én die vers in die doeltaal te laat werk; dus behoort dit ook die oogmerk of ambisie van die vertaler te wees. (Dit is, vermoed ek, ʼn ander saak by bron- en doeltale wat heelwat verder van mekaar is).

Daarby stem ek heelhartig saam met ʼn paar dinge wat Wagner in ʼn onderhoud (2017, in Engels) oor vertaling gesê het, byvoorbeeld: “A translator of poetry has to be daring and willing to take his or her liberties in order to create what ideally should be created – a poem in his or her mother tongue. […] the underlying, beautiful paradox of the whole matter of poetry translation, to me at least, is that as a translator of poetry you sometimes have to be unfaithful to the text in order to stay faithful to the poem.” Verder, op die vraag “are there unique challenges you see in translating your poems into English?”, het Wagner geantwoord “I am sure that the play with forms, also the subversion of traditional forms, and the play with rhymes and half-rhymes can be rather bothersome – or it can be an invitation to play along.” Twee beginsels dus: “wees waagmoedig, bereid om vryhede te neem”, dit wil sê, om, waar nodig, “af te wyk” van die teks met die doel om aan die vers getrou te bly; en om die digter se uitnodiging om “saam te speel” gretig te aanvaar.

Miskien kan ek hierdie dinge met die vers “wippe” (bl. 138/139) illustreer:

 

wippe

 

mach dich schwerer, rufen sie, also schließe

ich beide augen, denke

an säcke voll zement und eisengieße-

reien, elefanten, an den anker

in seinem schlamm, wo ein manöver wale

vorübergleitet, an das bullenhaupt

eines ambosses. nur eine weile

die luft anhalten, warten. doch nichts hebt

sich oder senkt sich, während ein fasan

schreit und die blätter fallen – meine unwilligen

beine zu kurz, um je den grund zu fassen,

mein kopf beinahe in den wolken.

 

wipplank

 

maak jou swaarder, roep hulle, dus knyp ek

albei oë bot-toe, dínk

aan sakke vol sement, die ystertydperk,

olifante, donderweer, ʼn tenk,

 

ʼn tenkskip op ʼn stormsee waar ʼn weemoed wal-

visse verbygly, dink gou-gou nog aan walrus-

se se spek. net ʼn wyle

die asem inhou, wag. maar niks wil rys

 

of daal nie, net die die-die-diederik-

roep van ʼn diederikkie, asook blare, val – my onwillige

bene te kort om ooit die grond te raak,

my kop so byna in die wolke.

 

ʼn Kind, in my geestesoog is dit ʼn meisie, sit hoog op die een kant van ʼn wipplank maar kan nie afkom nie want sy is te lig; sy probeer haar “swaarder maak” deur aan swaar voorwerpe te dink, aan “säcke voll zement” (sakke vol sement) en dan aan “eisengießereien” (ystergieterye). Vermoedelik word “ystergietery” deur Wagner hier gebruik nie soseer omdat dit ʼn swaar voorwerp is nie (verekussingfabrieke is waarskynlik net so swaar) maar om die “yster” in die woord “ystergietery”. In die Afrikaans word dit “ystertydperk” waarmee ek begin om van die bronteks speel-speel af te wyk: “ystertydperk” is mos hoegenaamd geen fisiese voorwerp meer nie maar dit behou, soos Wagner se “ystergietery”, die “yster”. Toe dié dam eers gebreek was, kon ek my nie weerhou om loodswaar abstrakthede soos “donderweer”, “stormsee” en “weemoed” in die vers in te bou nie. (Moet ek dit uitspel? Swaarweer, swaar see, swaarmoedigheid.)

Ook om aan Wagner se rympatrone getrou te bly moes ek soms van die bewoording van die bronteks afwyk. Die vers bestaan uit drie kwatryne in kruisrym waar Wagner hoofsaaklik met pararyme werk, deels onrein, bv. “denke/anker”. Ek vervang die “anker” met ʼn “tenk” wat die redelik rein pararym “dink/tenk” bewerkstellig. (Aangesien ʼn tenk nog swaarder is as ʼn anker kan die tenk sekerlik nie van rymdwang beskuldig word nie!) – In die derde kwatryn het Wagner ʼn dubbele pararym, naamlik ʼn skreeuende “fasan” (fisant) rym met die kind se voete wat die grond nie kan “fassen” (raak) nie. Die fisant se skreeu word in Afrikaans “die die-die-diederik- // roep van ʼn diederikkie”, waar die “diederik” nogal ʼn driedubbele pararym met “grond te raak” vorm. Vet pret, wat my betref. Met die tweede rym in die derde kwatryn sak die wip egter weer in Wagner se guns: sy driedubbbele pararym, “unwilligen/wolken” kan ʼn mens woordeliks in Afrikaans met “onwillige/wolke” weergee; jy kry die rym pasella al is dit net ʼn dubbele pararym.

MT:

Robert, dit is geen geheim dat jy tans besig is om Goethe se Faust uit die Duits in Afrikaans te vertaal nie. Dit is ʼn enorme werk. Faust is ʼn klassieke teks, die grootste deel in rymende versreëls, wat al duisende vertalings oorleef het, ʼn besonder moeilike en gelaagde teks wat in die laat agtiende eeu ontstaan het, maar steeds tot gehore spreek. Dit word as Goethe se magnum opus beskou, ʼn werk waaraan die digter self ook verskeie veranderinge aangebring het in sy eie leeftyd en waarvan ʼn deel eers na sy dood gepubliseer is. Dit word algemeen beskou as die belangrikste werk in die Duitse letterkunde. Wat het jou gemotiveer om so ʼn teks aan te durf? Intimideer die blote gedagte aan die statuur van die bronteks en die omvang van die werk jou nie?

RS:

As daar so ʼn ding is soos toeval, dan was dit toeval wat my met Faust laat begin het. Soos jy weet, het ek ʼn tyd lank op sekere datums vertalings aan Versindaba gestuur waar die vers op die spesifieke datum betrekking het: Joachim Ringelnatz se vers oor 1 April (https://versindaba.co.za/tag/joachim-ringelnatz-vertaling/), Theodor Fontane se Kersfees-vers (https://versindaba.co.za/tag/theodor-fontane-vertaling-in-afrikaans-engels/), Ringelnatz op Nuwejaar (https://versindaba.co.za/tag/joachim-pingelnatz-vertaling-in-afrikaans/), en toe Goethe se “Osterspaziergang” (Paaswandeling) uit Faust, vir Paasfees (https://versindaba.co.za/tag/goethe-vertaling-in-afrikaans/). Ek het oorspronklik nie bedoel om meer as die “Osterspaziergang” te vertaal nie, dis net 38 versreëls, maar toe hou ek net aan want dit was eenvoudig verslawend.

Is ek geïntimideer? Ja.

MT:

Vertalers besef dat dit belangrik is om met die oudste weergawe (verkieslik die bronteks) van ʼn teks te werk. Tydens Goethe se leeftyd het verskillende dele en weergawes van die teks verskyn en die laaste deel is eers na sy dood gepubliseer. Om die minste te sê, is die publikasiegeskiedenis van die teks besonder ingewikkeld, om nie eens te praat van al die honderde verwerkings wat deur die eeue verskyn het nie. Daar bestaan nog handgeskrewe weergawes van die teks wat van die gedrukte weergawe(s) verskil, asook gedrukte teks waarop Goethe veranderinge aangebring het. Met watter weergawe van die teks werk jy? Raadpleeg jy ook ander weergawes en selfs ander vertalings? Raadpleeg jy sekondêre werke en teksverklarings?

RS:

Ek dink waar moontlik en doenlik sou ʼn mens die laaste deur die outeur goedgekeurde weergawe van ʼn teks vir vertaling gebruik. Weereens, ek is geen opgeleide Germanis en nog minder ʼn Goethe-kenner en dus wil en kan ek nie by debatte oor teksgeskiedenis en -weergawes betrokke raak nie. In beginsel wil ek met die teks werk wat vandag as die standaarduitgawe beskou word. Tot onlangs het ek met die teks in Band V van die “Gesamtausgabe der Werke und Schriften”, JG Cotta’sche Buchhandlung, Stuttgart van 1959 gewerk wat toevallig nog van my skooldae op my rak was. Onlangs kon ek Duitsland weer besoek en het daar die twee gesaghebbende moderne Faust-kommentare en teksuitgawes aangeskaf, naamlik dié deur die groot Goethe-kenners Ulrich Gaier (1999) en Albrecht Schöne (2005; hersiene uitgawe 2017).

ʼn Interessante aspek van teksweergawes is die self-sensuur wat Goethe toegepas het deur woorde of frases te verander en selfs redelik groot dele soos Satan se optrede in die Walpurgisnag-toneel te sny. Van die gesensorde woorde is in die moderne uitgawes weer ingevoeg of na die oorspronklike herstel, maar nie almal nie. Bv. het Goethe op een plek ʼn “saufen” (suip) deur “trinken” (drink) vervang; dit staan ook nog so in die moderne uitgawes. Na ek van dié geval van selfsensuur gelees het, het ek die “trinken” summier met “suip” vertaal.

Ek is klaar met ʼn eerste weergawe van die vertaling en na die nodige hersiening- en slypwerk wat my seker nog lank sal besig hou, wil ek my bronteks en vertaling teen Gaier en Schöne se teksuitgawes en kommentare kontroleer; laastens wil ek ander vertalings raadpleeg in tale wat ek kan lees: Eitemal se Afrikaanse vertaling van 1966, Engelse en Nederlandse vertalings. Tot die eerste weergawe klaar was, het ek doelbewus nie na ander vertalings gekyk nie.

 

MT:

Gee ons asseblief so ʼn vlugtige vooruitskou van hoe jy met hierdie majesteitlike teks omgaan en wat jou strategie is. Hoe vertaal jy ʼn teks wat in die verhewe register in Duits geskryf is, ʼn teks waarvan die Duits selfs vir moderne Duitsers moeilik verstaanbaar is, in Afrikaans sodat dit in ons tye vir lesers begryplik is? Watter register kies jy byvoorbeeld? Bestaan daar ʼn register in Afrikaans wat ooreenstem met die register waarin die oorspronklike Faust geskryf is?

RS:

Die vertaling se register is inderdaad ʼn reusetameletjie. Onlangs het ek gelees wat Rudolf Borchardt, Duitse skrywer en digter, én vertaler van Dante se Goddelike Komedie, gesê het: “Elke kretin kan rym.” ʼn Uitdagende uitspraak, en seker ook so bedoel, maar in die geval van Faust moet ek erken dat die rymwerk dikwels minder problematies is as om die regte taalregister te handhaaf. Dit geld veral vir die Faust-figuur. As die Here in die “Proloog in die hemel” optree, mag Hy seker in ʼn verhewe register praat, en selfs die duiwel (Mefistofeles) solank hy met geveinsde respek met die Here praat. Maar Faust sê self, in versreëls wat ʼn Duitse idioom gewoord het:

 

Zwei Seelen wohnen, ach! in meiner Brust,

Die eine will sich von der andern trennen;

 

overgeset synde

 

Twee siele woon, ag! in my bors,

die een wil van die ander skei;

 

En dit is presies hoe Faust praat, naamlik met twee siele, in twee registers: veral in sy alleensprake is die taal by tye verskriklik verhewe, selfs hoogdrawend, ten minste vir die hedendaagse leser. In dié register wil Faust met die geeste swewe, na die hoogste strewe wyl hy lewe (ʼn mens wil byvoeg: dat die biesies bewe). Maar Faust kan ook baie aards wees, ten slotte wil hy, die ou man, ʼn meisie van veertien jaar na hulle eerste vlugtige ontmoeting sommer dieselfde nag nog in die bed kry. Groot dele van Faust (die teks) is baie onderhoudend, dit kan snaaks, kru, en selfs obseen wees – in ʼn kostelike toneel is Faust so liederlik dat die duiwel hom berispe, en Faust weer berispe die duiwel wie se houding, na Faust se mening, te edel is. Vergewe my, maar ek vind dit makliker om sulke tonele te vertaal as Faust se sweef- en beeftoesprake. Faust, in ʼn verhewe (hoogdrawende?) bui is seker ook vir baie Duitsers ʼn bietjie van ʼn las om te lees. Definitief ʼn oorlas om te vertaal.

My doel is om so ver moontlik hedendaagse, idiomatiese Afrikaans in die vertaling te gebruik, om so ver moontlik kunsmatig-argaïese taal te vermy. (Ek het ʼn Engelse vertaling vol van die “thee’s” en “thou art’s” wat na my mening niks met Goethe te doen het nie waar Goethe die doodnormale “jy” en “jou” gebruik.) Maar ten slotte is en bly daar Goethe se teks, en as Faust se Duits verhewe is, selfs vir sy tyd, dan moet of kan sy Afrikaans tog ook verhewe wees? Aan die ander kant moet verhewe taal tog nie ʼn versperring vir die hedendaagse Afrikaanse leser word nie. Dus, twee siele woon ook in my bors, en om die regte register te handhaaf, is werklik ʼn probleem vir my. Ek weet nog nie of ek dit kan oplos nie, en die hele projek het nog ʼn goeie kans om te misluk.

MT:

Watter vertaling in Wat ek van klippe weet is vir jou die mees geslaagde vertaling? Of van watter vertaling hou jy die meeste?

RS:

Dit is moeilik om die voorkeur vir ʼn vertaling van ʼn voorkeur vir die oorspronklike vers te skei, en in elk geval is die hele saak nie ʼn kompetisie nie. Maar kom, laat ek saamspeel en sê: ʼn sonnet waarvan ek baie hou, is “störtebeker” (bl. 60-61); “selbstporträt mit bienenschwarm / selfportret met byeswerm” (bl. 228-229) is waarskynlik ʼn sleutelgedig, dalk Wagner se ars poetica; dinge soos “cheese and onion pastries” (bl. 86-87) en “schaf, hahn, ente / skaap, haan, eend” (232-233) was nie maklik om te vertaal met behoud van die rympatrone nie. Die meeste pret was die Anton Brant-verse (bl. 152-175), veral “Das Sauen / Bevarkenis” (bl. 166-167), die toppunt van saamspeel met die digter vir my.

Maar ten slotte miskien hierdie sonnet wat my aan NP van Wyk Louw se “Beiteltjie” laat dink:

 

nagel

 

kaum in der wand, war er die mitte,

schnellte sein radius

über die gärten, felder, rübenmiete

hinaus, die hühnerställe, das radies-

 

chenbeet, wurde umfassender, mondial:

wir hängten die hüte auf. wir hängten strick-

jacken und rahmen, hängten regenmäntel

und schirme auf, bis wir ihn fast vergaßen, dessen harter blick

 

noch da sein wird, wenn wir längst ausgezogen

und stadt und haus und straße

verschwunden sind – so unbeirrt weit oben,

 

so glänzend über west und ost,

daß sich im dunkeln navigieren ließe

nach ihm, und alten seefahrern ein trost.

 

 

spyker

 

skaars in die muur, was hy die middel,

pyl sy radius

oor tuine, lande, koringmiedens,

verby die hoenderhokke, die radys-

 

bedding, word omvangryker, mondiaal:

ons het die hoede opgehang; die strik-

das en portrette, reënmantel

en sambreel, tot ons hóm haas vergeet het wie se harde blik

 

nog daar sal wees wanneer ons lank verhuis

het en gebou en straat en stad nie meer

bestaan nie – so onwankelbaar, ver, hoog,

 

so glinsterend oor wes en oos

dat jy snags sou kon navigeer

na hom, vir vroeë seevaarders tot troos.