Desmond Painter. Droedel: ‘n Nota langs jou kussing
Thursday, April 29th, 2010
‘n Paar jaar gelede, in ‘n karige boekwinkeltjie in die omgewing van die Universiteit van Havana, het ek ‘n bundel gekoop van die Kubaanse digter, Roberto Fernández Retamar. Dit is tweetalig in Spaans en Engels gepubliseer deur die plaaslike uitgewer, José Martí, en die dikwels swak Engels laat ‘n mens wonder oor die kwaliteit van hierdie vertalings.
Soms, wanneer ek sit en droedel (dankie, Chris Coolsma, vir hierdie woord!), neem ek een van die vertalings, skryf dit rofweg oor in Afrikaans, sit die boek weg, en probeer dan my eie gediggie op Retamar se fondamente staan maak. Die een hier onder het ek gisteraand baie vinnig gedroedel, terwyl Claire op die telefoon was en die TV dus op ‘mute’ moes gaan…
‘n Nota langs jou kussing
(vry na Roberto Fernández Retamar)
vir Claire
Te veel herinneringe en té veel hoop
is daar al tussen ons gekonkel. Te veel lewe
by nabetragting gelewe vir ons reis om ooit te skei:
nie die jare wat ons in die gesig vat nie;
nie die jare wat ons net by benadering geleef het
nie die somer se aftog nie, kan ons meer skei
nie. Tyd, daardie veerboot van soveel vlugte, spoor
van soveel verlore liefdes, van Stellenbosch na Grahamstad,
van Bellville na Havana, na weemoed, na ontsetting
selfs, na meer illusies as in drome kon – soveel so dat niks,
behalwe dít wat alle dinge skei, ons meer kan skei nie.
Meisie van gister en môre, vrou van my lewe.