Posts Tagged ‘Rooshoek’

Marlies Taljard. Rooshoek se poësiekerk 4

Tuesday, March 1st, 2011

 In die laaste aflewering in hierdie reeks fokus ek op die twee laaste vensters van die Rooshoek-kerk, naamlik die Verlosser-venster (n.a.v. Sheila Cussons se “Die Verlosser”) en die Nuwe Hemel-venster (n.a.v. Izak de Villiers se liriek). Hierdie twee vensters vertoon bepaalde ooreenkomste met mekaar en werk ook op interessante wyse op mekaar in.

Die Verlosser

 
Die Verlosser

 

 Die Verlosser – Sheila Cussons

Hiervoor het die óú wêreld gehunker

na Hom

want sonder Hom

was die hemel slegs ‘n briljante winter

skrynend van afwesige bloeisels

‘n ruimte waar ‘n Tuin was

brandend van engele

 

maar toe Hy te midde van hulle staan

glansend gevlees

juig skepsel skepsel toe: dié asem

en dié warmte en dié bloedklop

van ‘n Paradys wat sag sy wonde sluit:

 

O het niemand kon raai toe Hy

deur daardie tóé deur loop

hoedat hulle blóm hulle blóm hulle blóm

hoedat die hemel swaar is van die geur

van die vrugsoet somer wat sal kom.

 

Gesang 177

Gesang 177

 

Gesang 177

Ek sien ‘n nuwe hemel kom,

‘n aarde nuut en vry.

Die see en al wat skei verdwyn.

God self kom by ons bly.

 

Die nuwe stad Jerusalem,

daal uit die hemel neer:

skoon soos ‘n bruid in heerlikheid –

geliefde van die Heer.

 

Oorwinnaars sal ons alles erf

en drink uit die fontein

van lewenswater, heerlik, rein.

En God sal oor ons skyn.

(Izak de Villiers)

Hierdie is twee baie interessante vensters. Die Verlosser-venster is deur Sophie du Toit gemaak, terwyl die Nuwe Hemel-venster deur Rita Röscher gemaak is. Beide die vensters beeld die verheerlikte Jesus uit in die triomferende posisie . Die boonste twee-derdes van die twee vensters verskil min van mekaar, veral ook wat kleurgebruik en komposisie betref. Dit kan daarop dui dat die persoon wat die vensters ontwerp het (waarskynlik Rita) ‘n besondere verband tussen die gegewens van die verskillende tekste gesien het.

In die Verloosser-venster word die onderste deel van die kunswerk in beslag geneem deur mense wat in donker dog ryk kleure geklee is. Sodoende ontstaan ‘n soort spanning tussen die aardse en die hemelse. Die wolke vorm in beide die vensters die skeiding tussen die boonste en die onderste deel van die vensters.

In teenstelling tot die eerste venster, word die onderste deel van die kunswerk in die tweede venster in beslag geneem deur ‘n tuin wat deur rose en ‘n plant met blare gerepresenteer word. Interessant is dat Gesang 177 glad nie melding maak van blomme en plante nie – die naaste verwysing is waarskynlik “skoon soos ‘n bruid”. Daarteenoor verwys die eerste strofe van “Die Verlosser” direk na blomme: “… want sonder Hom / was die hemel slegs ‘n briljante winter / skrynend van afwesige bloeisels …” Ook in die laaste strofe staan:  ” … hoedat hulle blóm hulle blóm hulle blóm / hoedat die hemel swaar is van die geur / van die vrugsoet somer wat sal kom.”

Hier is dus ‘n baie interessante geval van leen uit ander tekste (intertekstualiteit) te bespeur: die kunstenaar wat die vensters geskep het, dui die verband tussen die gegewe in die twee verskillende gedigtekste aan deur sowel ‘n herhaling van tematiese materiaal, as ‘n oordrag van betekenis deur gediggegewens met mekaar te vermeng. Hierdie tegniek is niks anders as hibridisering nie – ‘n tipiese postmodernistiese praktyk! Hoewel die kunswerke dus op die oog af na redelik tradisionele uitbeeldings mag lyk wat poog om die betekenis van bepaalde gedigte deur middel van ‘n ander medium oor te dra, het die Zeitgeist ook op hierdie kunswerkwe sy onontkombare stempel afgedruk!

 

Marlies Taljard. Rooshoek se poësiekerk 2

Saturday, January 1st, 2011
Hierdie reeks besprekings gaan oor Frans van Rensburg se kapelletjie in Potchefstroom waarin tien gebrandskilderde glasvensters van Rita Röscher, Sophia du Toit en Mariana du Toit pryk. Elk van dié vensters is gemaak na aanleiding van ‘n Afrikaanse geestelike gedig. In hierdie bespreking gaan ek by twee van dié vensters stilstaan, naamlik die “Maria”- en “Golgota” (W.E.G. Louw)-vensters.

 Gebrandskilderde glas is ‘n kunsvorm wat veral met die Christelike Kerk gesassosieer word. Waar en wanneer dit ontstaan het, is onseker, maar die eerste voorbeeld van gebrandskilderde glasvensters word aangetref in ‘n sewende-eeuse klooster. Dit is egter veral Gotiese katedrale wat met dié kunsvorm verbind word. Na die twee Wêreldoorloë herleef die kuns van gebrandskilderde glasvensters, hoofsaaklik omdat so baie van dié vensters in die oorlog verwoes is en herstel moes word. Moderne kunstenaars maak dikwels van dieselfde simboliek gebruik as wat in antieke tye die geval was omdat die taal van simbole steeds tot ons praat en, aldus ‘n kenner “have the power to evoke images and thoughts in us that words don’t”.

 Vanaf die tiende tot die dertiende eeu het gebrandskilderde glasvensters in kerke hoofsaaklik die doel gedien om ongeletterde kerkgangers te onderrig, te troos en te inspireer. Dit het meestal tonele uit die Ou en Nuwe Testament uitgebeeld. Die kleure en die lig wat daardeur skyn het ‘n besondere invloed op die gemoedstemming van die kerkganger en skep ‘n atmosfeer van aanbidding en verwondering. Natuurlik het die vensters ook ‘n estetiese funksie gehad – dit het die somber ou kerke verfraai en lig deurgelaat – een van die oudste simbole vir die aanwesigheid van God.

 Die meeste gebrandskilderde glasvensters word gekenmerk deur eenvoud van vorm en die gebruik van simboliese voorwerpe en ligsimboliek. Daarom is dit belangrik om te let op wat persone byvoorbeeld in hulle hande hou of watter voorwerpe in die agtergrond uitgebeeld word. Dit is ook belangrik waar persone staan en hoe hulle geklee is. Verder speel die kleure wat gebruik word ‘n belangrike rol by die interpretasie van die stof. So word blou byvoorbeeld dikwels gebruik as die kleur van spirituele liefde en standvastigheid. Dit is hoekom die Maagd Maria dikwels blou dra. Wit is die simbool van reinheid, terwyl rooi ‘n komplekste simbool is wat bloed en lyding kan uitbeld, maar ook lewe kan simboliseer. Groen is dikwels die kleur van hoop. Baie vensters maak van numerologiese simboliek gebruik. So is die aantal voorwerpe wat voorkom byvoorbeeld belangrik: drie, sewe en twaalf is syfers wat dikwels simboliese betekenis het.

 Gebrandskilderde glasvensters het ‘n gevestigde ikonografie. Van die bekendste simbole sou wees die lam, die kroon en septer, sakramentele voorwerpe, blomme, vuur, plante, die duif, die vlinder (as simbool van lewe na die dood) en die skaapwagter.

 Vervolgens gaan ek enkele van die Rooshoek-vensters tesame met die gedig na aanleiding waarvan dit gemaak is, plaas. Ek vertrou dat hierdie en al my vorige besprekings as rigtingwysers mag dien … Maar die eintlike doel is dat die kyker dit geniet en daaruit inspirasie put. Ek wil so min as moontlik verder sê en jou, die leser, die geleentheid gee om te praat – per slot van sake is hierdie ‘n forum waarin ons met mekaar praat. Hier is nou ‘n gulde geleentheid waar dié met kunskennis ‘n gewaardeerde bydrae kan lewer. Julle maak my nerveus as julle so stilbly … dan wonder ek of dié blog dalk in die onmeetlikheid van die kuberruim verdwyn het en iewers anoniem aan’t rondsweef is …

 

Maria - WEG Louw

Maria - WEG Louw

Maria

Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan,

haar hande needr’ig oor haar bors gevou,

toe hy, verblindend soos die son, daar staan:

drie wit lelies het hy in sy hand gehou.

 

Half-skaam, verleë, het sy opgekyk

en is opeens met groot vrees bevang:

sy oë het van haar nie afgewyk,

sy vleuels het oor heel die tuin gehang.

 

“Geseën is jy onder die vroue” – sy woorde –

of was dit winde? – verruis nog in haar oor,

toe hy teen die son in goue vlug verdwyn …

 

Sy het haar neergebuig en half-versmoorde

klein snikkies in haar hart gehoor,

van verlossing reeds die vreugde en die pyn.

(WEG Louw)

 

Golgota - WEG Louw

Golgota - WEG Louw

 

Golgota

Met rooi, gewonde voete en die pyn

van dorings wat Sy hoof in spot omsluit,

het Hy – gelaaf met mirre en bitter wyn –

teen Golgota Sy droewe gang gestuit.

 

Soldate het Sy klere uitgetrek

en luid getwis oor kleed en lendedoek;

sy naakte liggaam het hul oopgevlek

oor stam en balk en dit met smaad vervloek.

 

Die wrede spykers word deur vlees en been

met felle slae ingejaag: Sy hande,

verstrak in laaste, goddelike seën,

het Hy wyd uitgebrei oor alle lande …

 

Die vroue roep in duisternis en treur …

Die aarde beef … Die tempelvoorhang skeur.

Marlies Taljard. Rooshoek se poësiekerk 1

Tuesday, December 21st, 2010

 

Rooshoek kerk

Rooshoek kerk

Drie weke gelede trou my kind in dié pragtige kapel in Potchefstroom en ek besluit terstond dat die juweeltjie ‘n blog werd is. Die kapel is in privaat besit – behoort aan my buurman, die akteur/skrywer Frans van Rensburg. Hy het die eiendom waarop dit tans staan in 1992 by die 93-jarige mej. Anna Liebenberg gekoop. Destyds was daar net ‘n huis – ‘n nasionale gedenkwaardigheid – op die erf. Vyf jaar later besluit Frans om die huis in ‘n gastehuis – Rooshoek – te omskep. Die naam was eintlik vanselfsprekend omdat die huis op ‘n hoek staan en omring is met wit Iceberg-rose. ‘n Jaar later bou hy ‘n kerkie langs die huis. Tien vensters word ontwerp en gemaak deur Mariana du Toit, Sophie du Toit en Rita Röscher na aanleiding van tien Afrikaanse geestelike gedigte – elkeen ‘n kunswerk in eie reg. Op 13 Februarie 1999 open die 99-jarige mej. Anna Liebenberg Rooshoek se kapel. Die vensters is ‘n geskenk aan die mense van Potchefstroom.

 Wanneer ‘n mens na die kapel kom kyk, sal Frans-die-akteur die gedigte wat die inspirasie vir die vensters was, voordra en dan kom ‘n mens onder die indruk van die gelaagdheid van hierdie kunswerke: eers was daar die Bybelteks, toe die gedig, daarna die venster en hier luister jy na Frans se interpretasie van die poësieteks wat op sy beurt jou siening van die kunswerk beïnvloed …

 Ek het in my vorige besprekings ‘n bietjie stilgestaan by intertekstualiteit, en hier is dit nou in die praktyk werksaam. In Genette se terme is dít wat hier aan die werk is, hipertekstualiteit of dié verhouding wat die klem vestig op die palimpses of gelaagdheid van kunswerke, ‘n doelbewuste en self-bewuste intertekstualiteit waarin een kunswerk (die hipoteks) as basis vir ‘n ander kunswerk (die hiperteks) gebruik word. Alhoewel dit goed is as mens ook kennis het van die hipoteks, kan die hiperteks egter ook op sy eie waardeer word en betekenis genereer – soos in die geval van die Rooshoek-kerkie se vensters.

 Een faset van hipertekstualiteit is wanneer kunswerke uit verskillende kunsgenres in ‘n intertekstuele verhouding tot mekaar staan – Genette praat hier van transtekstualiteit. Volgens Genette is dié proses nooit ‘n neutrale proses nie, maar behels dit ‘n hersignifikasie van formele strukture vir doeleindes anders as in die oorspronklike genre wat as hipoteks funksioneer. Deur een kunswerk by wyse van intertekstuele verwysing binne die raamwerk van ‘n ander kunswerk in te bed, word beide kunswerke verruim deur betekenisoordrag van een op die ander. Of dit ook by die gebrandskilderde glasvensters wat ek in die volgende afleweringe gaan bespreek gebeur, moet die lesers self oordeel. Vandag plaas ek slegs ‘n foto van die kapel, maar in volgende afleweringe sal ek enkele van die foto’s van die vensters saam met hulle intertekste plaas. Ek verwelkom, soos altyd, elke individuele leser se siening en interpretasie.

 En nou wens ek dat elkeen wat hier gelees het, ‘n vreedsame en vreugdevolle Feestyd sal ervaar en indien moontlik ook sal uitrus voordat die nuwe jaar ons in sy stroom intrek!

  •