Posts Tagged ‘Ruimte tyd materie’

Mellet Moll. Gaston Bachelard: Die poëtika van ruimte, tyd en materie

Thursday, March 10th, 2022

 

 

“As for me, I have only reading through which to know man – reading, that marvelous means of judging man by what he writes.” – Gaston Bachelard

Ek het iewers deur die jare oor die rol van die Franse strukturalisme en post-strukturalisme nagelees ten einde te verstaan wat hulle invloed op die kunste en veral die literêre kritiek is. Eendag langs daardie reis het ek op die naam Gaston Bachelard afgekom as een van die invloede op die sogenaamde Nouvelle Critique saam met Roland Barthes, Michel Foucault, Jacques Lacan en die Switserse linguis en grondlegger van semiotiek, Ferdinand de Saussure. Ek het aan myself die guns bewys om ’n wyle met Bachelard se denke te vertoef en het ’n verbluffende intellek ontdek – hierdie merkwaardige man het inderdaad verskeie dimensies gehad. Om sy werk in volledigheid te lees, stel hoë eise omdat dit soveel dissiplines integreer in ’n transdissiplinêre geheel.

In die voorwoord tot die vertaling van een van sy eerste boeke, The Intuition of the Instant, (oorspronklik in Frans in 1932 gepubliseer) skryf die vertaler, Eileen Rizo-Patron, soos volg (14):

“The last decades of twentieth-century philosophy witnessed a marked preoccupation with the discontinuous and the disruptive – whether in the form of epistemological and historical cuts in Althusser, Canguilhem, and Foucault, the ‘differend’ (Lyotard), the incursion of the symbolic (Lacan), or the trace in its differential power (Derrida).

This massive but multiform preoccupation is often regarded as a response to the formal continuities, homologies, and symmetries that were the object of structuralist linguistics and anthropology. Such an explanation, while true, overlooks the contribution of a figure who, though prominent in his own time, became eclipsed with the rise of the postmodern movement in the latter decades of the twentieth century. This is Gaston Bachelard (1884-1962), whose groundbreaking contributions to the philosophy of science, as well as to literary criticism and poetic theory, are today being rediscovered with burgeoning interest.

As early as 1928, Bachelard had shown that the discontinuous in the form of error and the unexpected, far from being an aberration or regression, was intrinsic to the progress of science. By 1932, Bachelard posited the instant as a shattering of the regnant Bergsonian model of sheer continuous duration. It also provided a positive model whereby human experience more generally could be understood in its non-assured, often unanticipated turns. By this tour de force, Bachelard was able to stake out a new style and direction in philosophical thought, one that would become increasingly fecund in the practical domains of literary criticism and the philosophy of science, as well as in fields related to psychology, neurobiology, and the creative and healing arts.”

 

 

I.

Maar laat ek voor begin om my fassinasie met Bachelard toe te lig.

Gaston Bachelard (24 Junie 1884 – Parys, 16 Oktober 1962) is gebore en getoë as die seun van ’n tabakhandelaar. Na sy hoërskoolopleiding voltooi hy sy militêre diensplig in ’n telegrafiese eenheid, waarna hy as posklerk werk en in sy vrye tyd fisika en chemie bestudeer as gevolg van sy belangstelling in die moderne tegnologie van die dag soos die relatiwiteitsteorie; radio-aktiwiteit; kwantum-meganika; elektromagnetisme; en draadlose telegrafie. Later studeer hy filosofie en word ’n dosent by Sézanne Kollege, vervolgens ’n professor by die Universiteit van Dijon en uiteindelik ’n professor in die geskiedenis van die wetenskap en die natuurwetenskaplike filosofie aan die Universiteit van Parys (Sorbonne Universiteit).

Hy is in 1937 tot Ridder van die Franse Legioen van Eer geslaan. Hy ontvang ook in 1961 die Grand Prix National Lettres, een van slegs drie filosowe om só vereer te word. Een van die amfiteaters by die Sorbonne Universiteit staan bekend as L’Amphi Gaston Bachelard, ’n eer wat hy met slegs twee ander deel: Descartes en Richelieu.

As ikoniese Franse filosoof en skrywer bemoei Bachelard hom hoofsaaklik met wetenskapfilosofie en poësie, en fokus veral op ‘n soort psigoanalise van die wetenskaplike en die poëtiese intellek.

Sy eerste publikasies (die eerste en tweede inskrywing in die Verwysings hieronder) fokus op wetenskaplik-filosofiese kwessies en die filosofiese gevolge van die voorafgenoemde wetenskaplike deurbrake aan die begin van die twintigste eeu. Die bekendste werke wat uit dié beskouing voortspruit, is The New Scientific Spirit (oorspronklik in 1934 in Frans gepubliseer) en The Formation of the Scientific Mind (oorspronklik in 1938 in Frans gepubliseer). Bachelard reflekteer in hierdie werke oor tyd; ruimte; kousaliteit; die kreatiewe intuïsie onderliggend aan wetenskaplike innovasie; en die gevolge daarvan. Bachelard postuleer sy beskouing van historiese epistemologie as ’n tipe psigoanalise van die wetenskaplike gees. ’n Sentrale voorstel van Bachelard is dat wetenskaplike vordering gemaak word deur van die menslike verbeelding te ontkom. Alledaagse mymeringe en metafore speel die rol van ’n epistemologiese hindernis (obstacle épistémologique). In hierdie verband tipeer Bachelard sy eie werk as psigoanalise van die objektiewe kennis. Bachelard se denke gee direk aanleiding tot hedendaagse seminale werke oor die ontwikkeling van wetenskaplike denke soos dié van Thomas Kuhn in The Structure of Scientific Revolutions (sien Verwysings, 3). Laasgenoemde word dikwels aangehaal as die mees gesagheb­bende bron in die wetenskappe oor die binnewerke van die wetenskaplike brein (wat Kuhn as paradigmas definieer); die vereniging van die wetenskappe deur die aanvaarding en toepassing van generiese benaderings; en die wyse waarop die wetenskappe die samelewing beïnvloed. Hierdie aspek gee ook direk aanleiding tot die denkrigting waarin die verskillende industriële rewolusies (insluitend die huidige vierde industriële rewolusie) tot veranderde sosiale gedrag lei as gevolg van die heersende rewolusie. Op soortgelyke wyse gee hierdie denke ook direk aanleiding tot nog ’n hedendaagse seminale werk naamlik Everett Rogers se Diffusion of Innovation (4) waarin die verwantskappe tussen die samelewing en weten­skap­­like deurbrake ondersoek word.

In die begin van die 1940’s skuif Bachelard se belangstellingsveld na die analise van menslike verbeelding as ’n geïsoleerde verskynsel, in stede van ’n blote struikelblok tot wetenskaplike vooruitgang. Hierdie denkrigting lei hom daartoe dat hy toenemend vergelykings tref tussen wetenskaplike en poëtiese denke en lewer kommentaar oor die psigoanalise daarvan. Die bekendste werk waarin hierdie beskouings geprojekteer word, is The Poetics of Space (oorspronklik in 1958 in Frans gepubliseer), wat die soeklig laat val op die verbeelding rondom ruimtelikheid en intieme huislike spasies (sien Verwysings, 5). Voorts sou Bachelard die vier primêre elemente soos aanvanklik deur die Griekse grondleggers van die wetenskappe gedefinieer (vuur, lug, water en aarde) ondersoek. Die digterlike verbeelding kan volgens Bachelard altyd gekoppel word aan een of meer van hierdie primêre elemente, wat volgens hom ook argetipes is.

Bachelard lewer ’n belangrike bydrae tot die epistemologiese denke waarin hy homself as ’n teen­stander van Auguste Comte (6) posisioneer. Laasgenoemde beskryf wetenskaplike vooruit­gang as drie fases, naamlik ’n teologiese; ’n metafisiese en ’n positivistiese fase. In die teologiese fase word verskynsels op ’n bonatuurlike vlak verklaar. In die metafisiese fase word dit op ’n abstrakte vlak verklaar. In die positivistiese fase word dit uiteindelik wetenskaplik verklaar. Bachelard was veral krities oor Comte se benadering omdat dit die wetenskappe as ’n kontinue proses voorstel. Vir Bachelard is Einstein se relatiwiteitsteorie júís die gevolg van ’n diskontinuïteit in die geskiedenis van die wetenskappe en is kontinue benaderings vereenvoudigings wat nie die werklikheid korrek verklaar nie. In plaas hiervan fokus Bachelard op die sogenaamde epistemologiese hindernisse (obstacles épistémologiques) wat in die geskiedenis van die wetenskap voorkom. Onder sulke hindernisse verstaan Bachelard sekere onbewuste idees en metafore wat wetenskaplike denke onderlê en wat verdere ewolusie as gevolg van hierdie verouderde denkrigting blokkeer. Na hierdie denktrajek is daar soms as die psigoanalise van (wetenskaplike) kennis verwys.

Uiteindelik oorwin die mens hierdie epistemologiese hindernis en lei dit noodwendig tot ’n epistemologiese breekpunt (rupture épistémologique). As gevolg hiervan kan nuwe konsepte skielik ontstaan, wat weer ander heeltemal verwerp of inkorporeer. Bachelard verskil van René Descartes se Cartesiese materialisme en sy idee van onveranderlikheid. In teenstelling met Descartes se stelling, “ek dink, daarom is ek”, maak hy die stelling “ek dink anders, en so verander ek myself ook”. Die wetenskap moet nie die wêreld verduidelik nie, maar moet die ervaring daarvan kompliseer.

Die gedagte van ’n epistemologiese breekpunt of diskontinuïteit bly ’n belangrike beginsel wanneer die ewolusie van die wetenskappe en die deurbrake in die geskiedenis bestudeer word. Hierbenewens toon Bachelard ook aan dat nuwe teorieë nie noodwenndig bestaande teorieë vervang nie, maar dat dit dikwels daartoe lei dat dit mekaar aanvul in ’n nuwe, groter geheel, soos byvoorbeeld die feit dat Newton en Einstein die konsep massa in verskillende kontekste gebruik het en dat hulle bevindings aanvullend tot mekaar is. Nie-Euklidiese meetkunde en Euklidiese meetkunde weerspreek mekaar ook nie, dit vorm deel van ’n nuwe, groter raamwerk.

Met sy epistemologiese werk beïnvloed Bachelard ’n reeks Franse filosowe waaronder Georges Canguilhem, Louis Althusser, Dominique Lecourt, Michel Foucault en Gilles-Gaston Granger.

Bachelard verwerf bekendheid in die literêre gemeenskap vir sy latere literêr-kritiese studies. Oorspronklik gepostuleer as die psigoanalise van objektiewe denke word hierdie literêre essays vinnig outonome, fenomenologiese beskrywings van poëtiese beelde.

Bachelard se beskouing van die vier elemente tipeer hy as die argetipes van die poëtiese verbeelding: die begeerte na rus (aarde); die drang na suiwering en sublimasie (vuur); liefde en doodsbegeertes (water); en die strewe na beweging en transendering (lug).

In sy The Poetics of Reverie (oorspronlik in 1960 in Frans gepubliseer) ondersoek hy ook poëtiese drome op ’n fenomenologiese wyse (7).

Die hermeneutiese metode wat Bachelard van toepassing maak in sy literêr-filosofiese werk beoog om sover moontlik ’n kreatiewe deurgang na die leser se bewussyn te bekom met die literêre verbeelding van die outeur wat in die werk tot stand kom. In hierdie verbeelding, volgens Bachelard, kan elemente van ’n kollektiewe bewussyn hulself manifesteer. Op grond van ’n duidelike neiging om te groepeer en te klassifiseer, word Bachelard se werk soms ook onder die strukturalisme geklassifiseer.

Bachelard oefen ’n groot invloed uit op die Franse Nouvelle Critique van die vyftigerjare en sestigerjare, insluitend Roland Barthes et al.

Bachelard se dogter, Suzanne Bachelard (1919–2007), was ook ’n filosoof en het soortgelyke temas as haar vader ondersoek. Haar uitgangspunt was hoofsaaklik die fenomenologie en ontologiese kategorieë van Edmund Husserl as ’n basis vir wiskunde. Hiervolgens word wiskunde, en nie logika nie, beskou as die geskikte benadering vir die konstruksie van wetenskaplike teorie.

Ten einde te verseker dat sy haar regmatige plek in die filosofie inneem het Bachelard as tydgenoot van die filosoof Simone de Beauvoir, ook ’n eksponent van die feminisme geword.

 

II.

Meiring, in bl. 347 van die Literêre Terme en Teorieë (sien Verwysings, 8) verduidelik die volgende:

“Die kernbeskouing van die sg. Nouvelle Critique wys hoe ver die literêre kritiek gevorder het. Vroeër was die terreine van die literatuur en die literêre kritiek gerieflik en herkenbaar afgebaken. Vandag ding die kritiek soms met die literatuur mee; dit het gegroei tot ’n literatuur in eie reg wat homself allerhande wetenskaplike en filosofiese dissiplines toeëien.

Die Nouvelle Critique se siening van die literatuur as ’n stelsel van tekens dui klaar op sy strukturalis­tiese verbintenis. Dit was eintlik vanselfsprekend dat die strukturalisme na sy evolusiegang deur die eksakte wetenskappe, die linguistiek, die filosofie, die psigoanalise en sosiale en politieke wetenskappe uiteindelik ook tot die literatuur sou deurwerk. In dié verband was Ferdinand de Saussure, as grondlêer van die moderne linguistiek, ’n vroeë vertrekpunt. Sy semiologie met sy aandrang op sinchronie (die hier en nou van die taal) eerder as die diachronie (die taal se ontwikkelingsgang) en sy onderskeid tussen die betekenaar en die betekende asook sy besinning oor die willekeurige gedrag van tekens in die sosiale lewe, was ’n rigtingwyser na nuwe literatuurteorieë.

Die strukturalisme bemoei hom nie meer met die werklike literatuur nie, maar met die moontlike literatuur, maw met dié abstrakte eienskap wat die literêre daad uitmaak: literariteit.

Die tradisionele kritikus was ’n beskeie mens: hy het geglo ’n literêre werk is bedoel om verhelder te word. Die werk het net een objektiewe waarheid en dié moes die kritikus belig dmv die mens se hele arsenaal wetenskappe, van literatuurgeskiedenis tot sosiologie. Die Nouvelle Critique vra nie meer na die skrywer nie: die skrywer is dood, verkondig Roland Barthes. Dit probeer nie meer die een of ander boodskap of verborge sin ontsyfer nie. ’n Teks het geen kant en klaar objektiewe betekenisinhoud nie. Die Nouvelle Critique se waarheid is meervoudig. Hy skroom nie om subjektief te wees nie; hy paradeer juis sy eieheid.

Onder die aanvoerders van die Nouvelle Critique beklee Gaston Bachelard ’n bevoorregte plek. Vir Bachelard was die psigoanalise die aangewese werktuig om die poëtiese beeld deur ’n diepliggende droomwerklikheid heen te herlei tot vier grondelemente: water, vuur, lug en aarde.

 

III.

Voor die dae van die periodieke tabel, voor die dae van die atoomteorieë en kwantumwetenskappe het die Griekse wetenskappe onder leiding van Aristoteles, vier elemente onderskei. Hierdie vier elemente (vuur, lug, water en aarde), voldoen nie noodwendig aan die vereistes van Mendeleev se klassifikasie nie, maar bly steeds ’n interessante en insiggewende klassifikasie van beide materie en die toestande waarin materie voorkom, naamlik vaste stowwe, vloeistowwe en gasse.

Hy definieer ’n element soos volg:

’n Element is ’n liggaam waarin ander liggame opgeneem mag word maar wat nie verdeelbaar is in enige ander vorme nie.

Aristoteles bespiegel verder dat daar moontlik ’n vyfde element mag bestaan naamlik eter. Hy verduidelik dat dit nie moontlik sou wees vir hemelliggame om uit enige van die vier elemente te bestaan nie en definieer dus laasgenoemde as ’n hemelse stof.

Hierdie klassifikasie kom natuurlik ook voor in verskeie mitologiese vertellings in verskeie antieke kulture asook die boustene van alchemie. Die filosoof en wiskundige, Bertrand Russell het later gesê dat baie bewerings van Aristoteles (soos bogenoemde) tot ongeveer die sewentiende eeu ’n soort Bybelse kanonisering geniet het.

Bachelard se bedoeling om hierdie vier elemente te onderskei is uiteraard daarop gerig om die literêre beeldspraak, simboliek en metaforiek daarvan te verstaan omdat dit die basiese en sigbare verwantskappe tussen die mens en sy omgewing verteenwoordig. Elke mens staan op een-of-ander wyse in verwantskap tot elkeen van bogenoemde en assosieer op verskillende wyses daarmee. Dit is belangrik om te besef dat Bachelard hierdie elemente op verskillende tydgleuwe van sy loopbaan ondersoek het. Wat Bachelard regkry, is om ’n uiters poëtiese verduideliking van elk te verskaf.

 

IV.

Die poëtika van vuur

“So, like a forgotten fire, a childhood can always flare up again within us.” – Gaston Bachelard

Bachelard se laaste werk, oor die vuur-element, Fragments of a Poetics of Fire, is in 1988 postuum gepubliseer nadat sy dogter, Suzanne Bachelard, die onvoltooide manuskrip verwerk het. Dit bevat essays oor die feniks, Prometheus, en Empedokles ( sien Verwysings, 9).

Volgens oorlewering was Bachelard ontevrede met sy eerste poging The Psychoanalysis of Fire wat in 1937 in Frans gepubliseer is (sie Verwysings, 10), en keer daarom terug na hierdie tema. Hy was besig met hierdie gewysigde manuskrip ten tye van sy afsterwe in 1962. Die manuskrip, wat as fragmente gepubliseer is, is uiteindelik ná sy dogter se verwerking in 1988 gepubliseer. Die boek fokus hoofsaaklik oor waarnemings wat Bachelard gemaak het uit die feniks, Prometheus en Empedokles. Hierdie waarnemings vorm ’n koherente struktuur wat getrou is aan die vloeibaarheid en openheid van lewe – die kragtige beeld van vuur.

Met hierdie twee studies poog Bachelard om ’n antropologiese studie van die geboorte van vuur, soos dit vergestalt word deur die geskiedenis van die mensdom, daar te stel. Bachelard verwys na die libidinale komponente van vuur: dit is opvallend dat hy aanhaal uit die werk van Carl Jung, maar nooit uit dié van Sigmund Freud nie, alhoewel daar raakpunte is in beide skrywers se werk. Bachelard fokus onder meer op die mitologisering van vuur deur die mite van Prometheus te verhelder.

In The Psychoanalysis of Fire vra Bachelard vir ’n dieper psigoanalise van vuur-as-element.  In die voorwoord beweer hy: “I am going to examine a problem in which objectivity has never held sway, where the initial seduction is so compelling that it deforms the most rational minds and leads them to the cradle of poetry, where daydreams replace thought, where poems hide theorems. This is the psychological problem presented by our convictions about fire. The problem is so directly psychological that I have no hesitation in speaking of a ‘psychoanalysis of fire.”

Vuur as fenomeen beweeg dus tussen die raakvlakke van die wetenskap en poësie.

Sou ’n mens die vuur-motief in Afrikaanse poësie opsoek, val die rol van vuur as suiweraar op in die werk van Sheila Cussons, hoewel sy moontlik al vier elemente gemistifiseer het:

 

Bedekte naak

 

’n Gloed dra ek

tussen die wêreld en my bloed

meer myne, meer eie aan my as enigiets

’n sonder-naam

wat, om te vernietig

sou wees vernietiging van my:

o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.

 

“Christ of the burnt men”

Thomas Merton

 

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende

skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare

op jou afstand gadegeslaan het: jy het

jou hande nie tóé uitgesteek toe ek

jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie

maar fel jou kruis geteken oor my, in hand

en romp en hoof, en deur die beswyming

onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke

kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag

van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë

blink van ‘n verskriklike akkoord.

En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur

van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –

– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand

as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand

onder my eenvoetig-springende begrip agter jou

ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik

omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel

met ’n verwoede en stormende son:

o my kosmiese Christus:

drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees

wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry

opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy

dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,

amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

 

Uit: Die swart kombuis (1978).

 

V.

Die poëtika van lug

“Air is the very substance of our freedom, the substance of superhuman joy…. aerial joy is freedom.” – Gaston Bachelard

In Air and Dreams: An Essay on the Imagination of Movement (oorspronlik in 1943 in Frans gepubliseer) verduidelik Bachelard dat die mensdom se strewe na vryheid en vlug deur die lug-element uitgebeeld word (sien Verwysings, 11).

Die lug bokant ons is gratis. Dit is vry. Daarom is die fenomeen van lug so opvallend. Dit verskaf ook die riglyne vir die mees basiese gedrag: om op te staan; te groei; te klim; te vlieg; en te reinig. Sentraal tot elke psigologiese fenomeen is die vertikale as. Hierdie vertikaliteit is ’n beginsel waarvolgens ons gemeet kan word. Ons kan ook uitdrukking gee aan emosies daaroor. Trouens, alle aspekte van die mens se geestestoestand; die mees delikate of subtiele emosies; hoop en wanhoop; en moraliteit het ’n vertikale as in die volle geometriese sin van die woord. So ook die beelde wat verband hou met die fundamentele waardestelsels van die mensdom: vryheid; geluk; ligtheid; en sublimasie.

Die metafore wat verband hou met hoogte: elevasie; diepte; en afname is alombekend. In eenvoudige taal, hierdie uitinge is gemoeid met die natuurlike herkenning van die onbeperkte ruimte bokant ons. Dit is onmoontlik om moraliteit uit te druk sonder om die vertikale as te betrek. Elke senuwee in die menslike liggaam is ’n vertikale geleier.  Om die impak van dinge te bepaal, is die eerste stap dikwels die bepaling van die massa daarvan, met ander woorde die impak daarvan op die vertikale as. Dit skep vervolgens ook ’n belangstelling in die nut daarvan. Volgens Bachelard is die belangrikste metafore vir die verbeelding die metafore wat ’n vertikale impak het: lig; hoogte; diepte ensovoort. Die gewaarwording wat hiermee gepaard gaan, is dat hierdie metafore ’n meer natuurlike kwaliteit het as enige ander. Dit is metafore wat uiting gee aan ons verhouding met swaartekrag.

Hierdie metafore reguleer die diskoers van hoop en wanhoop. Omdat vertikaliteit so sigbaar en omvangryk is, is die impak daarvan oombliklik. Sou die fisika van poësie bestudeer word, sou die gevolgtrekking wees dat die vertikale as die omvang daarvan bepaal. Daarom is beelde so belangrik – dit definieer onder meer vertikale oriëntasie en die kwaliteite van idees en ideale, die ligtheid daarvan. En hoe hoër daar gereik word, hoe vryer is die verbeelding, en hoe reiner word ons. Op dieselfde wyse is die afwaartse reis simbolies van verval; van negatiwiteit; van ’n verlies aan betekenis. Maar die poëtiese waarde van daardie vertikale metafoor is net so sterk.

Volgens Bachelard speel die verbeelding ’n sentrale rol in die strewe na vryheid. Maar verbeelding is ook onderhewig aan beweging. Die menslike wil word gesien as integrale proses van verbeelding en beweging. Bachelard maak gebruik van sy ruim kennis van Poe, Blake, Shelley en Nietzsche om die lug-trope van die verbeeldingswêreld te beskryf.

Die verandering en vervorming van beelde is die gevolg van die verbeelding. Die verbeelding is die energiebron agter die produksievermoë van die menslike psige, meer so as die wíl of die lewensdrang. Verbeelding manifesteer in die aspirasie om nuwe beelde te skep. As sulks is die verbeelding dus, aldus Bachelard, die dryfkrag agter transendering. Maar ook: verbeelding is die sintuie in die oortreffende trap, dit skep beelde en vorm idees daaruit.

Volgens Bachelard moet die mens die verskillende uitinge van die almagtige swaartekrag ken om die verhoogde verbeelding te begryp: die vertikale metafore soos lig; hoogte; elevasie; diepte; afname; en val.

Sou ’n mens die lug-motief in Afrikaanse poësie opsoek, val die rol van lug as vertikale as en vryheidsimbool op in die werk van Breyten Breytenbach, veral tydens sy aanhoudingsjare, hoewel hy uiteraard oor ’n komplekse en multidimensionele oeuvre beskik:

 

3

 

alles wat búíte is vlieg

en die wind is ’n vegvalk bukrug bo sy prooi

komma op die bladsy sodat die wolke

wegkruipskaduwees soek en die bome is skoelappers

ontplof die trein ’n kreet hoe wieg die heuwels

die huise is vlieërs en die stemme van mense

is die klanke die spore op lug van vlugte

die son is ’n dingvoel van streng metaal

metááltaal van dingvuur van vreugde maar die nag

sy

met die wit oë in die vlerke is geweldiger

want sy verteer die heerlikheid want sy bloei die son

paptet, onsigbaar is sy maar hier-en-daar

op nokke in mikke in selle onder naels

sy

sy met die koue lyf en die stemme van mense

die geruis van gate in die lug

alles wat ek nooit kan sien nie vlieg

(hier kom die boodskap) ook die hárt

wil spring uit die rib-boot-kaas nés

bakgat in die verspotte dons en spoeg

van my skamele woorde (woordkamele) úítgevat

“vlieg, my blerrie muiskuiken, vlieg!”

 

Uit: Voetskrif (1976).

 

H. VITUS

(“It is advisable to stop dancing once the music has ceased.” – D.E.)

 

ek wil my brein die toertjies leer

om soos ’n gimnas die rekstok se ruimtesnitte

af te tas –

as sweefarties bolmakiesie

                                                  in die geslote koepel te tol

(…)

 

Uit: (‘Yk’) (1983).

 

4.6 die gedig op reis

 

(…)

kyk, jy is die gedig

                          wat ek nog gaan skryf

kyk, ek bespaar jou die vermoeiende vlug

(…)

want jy is my ongeskrewe vluglyn

                           voël

en as dood in die beweging

                             moet wees

sal ek jou versigtig bevry

uit die hokkie van my kop

om oor die gebroke lyk te streel

                               en koer:

kyk, ek hou jou hoog om die wind

                                  te ruik

kyk, ek het jou tot hier geskryf

                                   by ons bestemming

kyk, ons is tuis

by nou se dae

en nou se nagte

 

Uit: Op weg na kû (2019).

 

VI.

Die poëtika van water

“I was born in a country of brooks and rivers, in a corner of Champagne, called Le Vallage for the great number of its valleys. The most beautiful of its places for me was the hollow of a valley by the side of fresh water, in the shade of willows. My pleasure still is to follow the stream, to walk along its banks in the right direction, in the direction of the flowing water, the water that leads life towards the next village. Dreaming beside the river, I gave my imagination to the water, the green, clear water, the water that makes the meadows green. The stream doesn’t have to be ours; the water doesn’t have to be ours. The anonymous water knows all my secrets. And the same memory issues from every spring.” – Gaston Bachelard

In Water and Dreams: An essay on the Imagination of Matter (oorspronklik in 1942 in Frans gepubliseer) beskryf Bachelard water as meer as net ’n element; water verteenwoordig die sone van die aktiewe verbeelding; en dit is ook die mees ontvanklike element (sien Verwysings, 12). Riviere, damme en strome is in wese vroulik, terwyl die see ’n manlike teenpool verteenwoordig met sy robuuste avonture. Die pre-Sokratiese beskouing van water verteenwoordig diepgang of die vertikale ontwaking van ’n gedig. Begrippe soos refleksie, wat dui op introspeksie, is ontleen aan water. Ook die klankwaarde in poësie doen ’n beroep op water – en roep begrippe soos sonar voor die oog. Volgens Bachelard vergestalt die klank in ’n gedig ’n tipe resonans: water, binne ’n poëtiese konteks, dui op die ouditiewe. Bachelard se poëtika van water vergestalt die digterlike verbeelding; drome; literêre tekste; en die psigoanalise van laasgenoemde.

Bachelard verskaf ’n droomwêreld waarin alles vloeibaar is; waarin die oppervlak van die water die yking van die horisontale as bepaal (dink maar aan die begrip waterpas); waarin narsisme in ’n refleksie op daardie oppervlak voorkom; en waarin die dood ons tot in die dieptes daarvan neem. Helder water; troebel water; die simboliek van Charon; water saam met ander elemente; vrugwater; water as simbool van moraliteit en reiniging; water as noodsaak vir lewegewing; water as simbool van geweld; en die hoorbare stem van water.

Bachelard gebruik water as ’n eindelose regenererende beeld waarin die wêreld aanhoudend herverbeel word.

Om water te verbeel neem ’n baie eiesoortige verbeelding. Hoewel water een van die vier elemente is, simboliseer dit ook ’n soort lotsbestemming wat die vermoë het om ons wese te transformeer. ’n Wese wat in die water leef is ook vloeibaar. En die dood is nie noodwendig die gevolg van vuur nie maar die gevolg van die faling van water. Dood wat met water geassosieer word, is dromerig maar bevat ook eindelose pyn.

In die Afrikaanse poësie is daar verskeie digbundels waarin die tematiek van water ’n bepaalde rol speel. Neem byvoorbeeld die bekroonde digbundel Wat die water onthou van Louis Esterhuizen (2010).

Vervolgens ’n gedig uit hierdie bundel waarin die titel geaktiveer word:

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

te betree nie, dat water nooit terug-

draai nie, maar te alle tye alles opneem

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

met die groter water

sonder vaart […]

 

Uit: Wat die water onthou (2010).

 

Ook die bekroonde Johann Lodewyk Marais maak gereeld tematies van beelde uit byna al vier elemente gebruik. In die geval van water dink ons byvoorbeeld aan die digbundel In die bloute (2012).

Hieronder ’n gedig van Marais uit sy digbundel Plaaslike kennis:

 

PLATBERG SE WATER

 

Nog een maal wil ek in die laatmiddag

weer op die dorp kom as die mis opsteek,

weer met die grondpad teen die berg op stap

waar die oostewind deur die ouhout waai,

weer my glas uit die Gibsondam volmaak

en die soet water van die bergstroom drink.

 

Uit: Plaaslike kennis (2004).

 

Terloops, ek vertrou dat lesers ook die fyn intertekstuele spel (en pastiche) met ’n gedig van NP van Wyk Louw hierin herken:

 

Nog eenmaal

 

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand

weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,

weer met my rek op in die donker skiet,

en luister, en al word ek seer en dof,

hoe die klein klippie ver weg in die riet

uit donker in die donker water plof.

 

Uit: Nuwe verse (1954).

 

VII.

Die poëtika van grond/aarde

“Imagination is a tree. It has the integrative virtues of a tree. It is root and boughs. It lives between earth and sky. It lives in the earth and the wind. The imagined tree imperceptibly becomes a cosmological tree, the tree which epitomises a universe, which makes a universe.” – Gaston Bachelard

In Earth and Reveries of Will: An essay on the Imagination of Matter (oorspronlik in 1948 in Frans gepubliseer) vul Bachelard die skeppende, aktiverende rol van die aarde met helder beelde aan. Dit is ’n omvangryke, swaar boek, miskien simbolies van die massa en omvang van die aarde. Vir Bachelard is die elemente die terrestriële materie wat die menslike verbeelding ontgin en omvorm. Maar die verbeelding is ’n belangrike en dinamiese bevryder van die onderdrukking van idees (en epistemologiese deurbrake). Vir Bachelard is hierdie vermoë diepliggend in die onderbewuste.

Bachelard onderskei tussen formele en materiële verbeelding en ongelukkig domineer die formele dikwels die kreatiewe energie wat loswikkel deur die reproduksie van visuele patrone.

Die formele verbeelding fokus op die oppervlak, betekenis en simbole terwyl die materiële smag na die sluimerende vier elemente.

Die motief van grond (of aarde) word geassosieer met geboorte en dood; met rus; met standvastigheid. Dit herken beide die mikro- en die markovlakke van waarneming. Woude, maar ook plante en bome; woestynlandskappe, maar ook klein lewensvorme. Dit wil sê aardsheid – alles wat ván of déúr die aarde tot stand kom; of afsterf.

Stof-tot-stof.

In die strak maar ook diverse Suid-Afrikaanse landskap is daar heelwat poësie wat hierdie tematiek oproep en beklemtoon. Trouens, dit is sekerlik die basismotief in die meeste tradisionele Afrikaanse poësie en ondergaan gereeld gedaanteverwisselings, byvoorbeeld die bewegings in die natuurpoësie wat in die hede na verskeie transformasies ekokritiese en ekologiese tematiek omskryf. Dit is eweneens belangrik dat kontreipoësie ook hier vermeld word. Dink maar aan die Afrikaanse tradisies van Boerneef, Hans du Plessis, Peter Snyders, Thomas Deacon en andere.

Onder die gerekende digters wat die aardmotief volg, is die veelbekroonde Antjie Krog; Marlise Joubert en Daniel Hugo. Ek merk ook dat die komende digbundel van Lina Spies (Aarde en Firmament) beide elemente aktiveer.

Hiermee enkele gedigte van Marlise Joubert wat die aarde as element op verskeie manier aktiveer:

 

Só is my vingers

 

Só is my vingers

verminkte planete

maar wandelend deur ruimtes lig

brandend donker en dis jammer

dat my haat heel is en hél is

oor dit waarin my woord geen bestaan het

oor dit waaroor my bloed wetend strek

álwetend maar los sinnig

los en leeg soos niet

en só is my voete

windgewaaide bote oor woestyne

niemandswêrelde van wit verlore strande

en dis jammer dat ek sleepvoetend reis

korrels land en dorp en gesigte sluk

maar nêrens

nêrens spore trap

te wéét dat ek is ek.

 

eendagwens

 

eendag is ek nie meer

hier of daar nie –

en dan, geliefde, wil ek

soos ’n spits denneboom

driehoekig voor jou staan

neem my dan

astraal in jou op: geletsel

met repe droë bas tot by

die toppunt van hoogtes

van hierbenede na die bowêreld

soos hande sal elke kegel

palmkaal voor jou voete val

ruik my in die oksel

van die denneboom

streel die immergroen naalde

se wasbedekte nerwe

sien my in elke oggend

wat uit die landskap stoom

veral in die uitspansel

van jou nagblinde oog

 

Uit: Disteltyd (2021).

 

Johann Lodewyk Marais skryf eweneens soos volg:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

 

In die Atlasberge van Marokko

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Uit: Veldboek (2020)

 

VIII.

Die poëtika van ruimte

“And all the spaces of our past moments of solitude, the spaces in which we have suffered from solitude, enjoyed, desired, and compromised solitude, remain indelible within us and precisely because the human being wants them to remain so. He knows instinctively that this space identified with his solitude is creative; that even when it is forever expunged from the present, when, henceforth, it is alien to all the promises of the future, even when we no longer have a garret, when the attic room is lost and gone, there remains the fact that we once loved a garret, once lived in an attic. We return to them in our night dreams. These retreats have the value of a shell. And when we reach the very end of the labyrinths of sleep, when we attain to the regions of deep slumber, we may perhaps experience a type of repose that is pre-human; pre-human, in this case, approaching the immemorial. But in the daydream itself, the recollection of moments of confined, simple, shut-in space are experiences of heartwarming space, of a space that does not seek to become extended, but would like above all still to be possessed. In the past, the attic may have seemed too small, it may have seemed cold in winter and hot in summer. Now, however, in memory recaptured through daydreams, it is hard to say through what syncretism the attic is at once small and large, warm and cool, always comforting.

If I were asked to name the chief benefit of the house, I should say: the house shelters daydreaming, the house protects the dreamer, the house allows one to dream in peace.”

Bachelard se seminale The Poetics of Space (1958) is ’n fenomenologiese ondersoek na die betekenis van ruimtes soos wat dit in poësie voorkom, veral intieme ruimtes soos ’n woning; ’n lessenaarlaai; ’n bedkassie; asook wyd verspreide ruimtes soos uitsigte en woude. Bachelard gebruik die fenomenologie van argitektuur, maar binne die konteks van geleefde ervarings in argitektoniese konstruksies en hulle onderskeie kontekste in die natuur.

Binne hierdie konteks word argitektuur gedefinieer as die kuns om ruimte sodanig te omvorm dat ons daarin kan woon.

Bachelard fokus veral op die persoonlike, emosionele respons in geboue en strukture in sowel die lewe as in literêre werke soos prosa en poësie. Indirek sinjaleer Bachelard dat argitekte moet besin oor die ervarings wat ruimtes by inwoners en verbruikers van argitektuur sal ontlok, eerder as die abstrakte modelle wat aan hulle voorgehou word. Die filosofie van verbeelding ontgin huishoudelike ruimtes.

In die eerste hoofstuk plaas Bachelard die fokus op interne huishoudelike ruimtes en die komponente daar: die verskillende vertrekke en die meubelstukke daarbinne. Bachelard poog dan om die oorsprong van die poëtiese beeld in die subjektiewe bewussyn te vind.

Die huis is vir Bachelard die primêre fenomenologiese objek – die plek waar persoonlike ervarings ’n hoogtepunt bereik. Bachelard beskou die huis as ’n soort univers waarin alle bewoonde ruimtes ’n tuiste word. Daarom gaan Bachelard voort om hierdie tuiste te ondersoek as ’n manifestering van die onderbewuste waarin poëtiese beelde voorkom. Daarom ook dat lokaliteit in die binneruimtes van die huis intieme plekke word wat in die geheue vasgelê word as beelde vir poësie.

Bachelard verduidelik sy beheptheid met poëtiese beelde as ’n unieke eienskap van die onskuld wat in die onderbewuste teenwoordig is, dus iets wat bewuste denke vooruitgaan en wat geen verdere kennis benodig nie. Hierdie verwantskap tussen poësie en realiteit beklemtoon die realiteit van persepsie. Volgens Bachelard manifesteer poësie gelyktydig inwaarts en uitwaarts.

Bachelard verduidelik dat die huis beide eenvoud en kompleksiteit omvat, dat dit bestaan uit geheue en ervarings en dat die verskillende dele van die huis verskillende sensasies oproep wat gesamentlik die ervaringsveld van die lewens daarbinne word. Volgens hom is dit juis hierdie kwaliteite wat hy kon uitwys in die poësie wat hy ontleed het. Huishoudelike toestelle beklemtoon kognitiewe ervarings. ’n Oop kas is ’n onthulling, laaie bewaar geheime. Trouens elke aksie in die binneruimte open eindelose dimensies van ons mees intieme bestaan.

Bachelard stel ’n sistematiese psigologiese ontleding voor van die al die plekke wat deel vorm van die intimiteit van lewe. Volgens hom bied die huis ook ’n veilige ruimte vir die dagdromer en daarom ook ’n manier om die onderbewuste te koester.

Voorbeelde van Afrikaanse bundels waarin die poëtika van ruimte ’n rol speel, is:

Die sin van die hut (Gilbert Gibson, 2017). Lees gerus (Prof) Louise Viljoen se resensie van hierdie bundel wat sterk steun op Bachelard se beskouing:

https://versindaba.co.za/2017/12/12/resensie-die-sin-van-die-hut-gilbert-gibson/?fbclid=IwAR3RIrKQJh3KaF18uXR8C1vxtvEEQW3ao5SACd8Q-G4f21zgyFHCtXHhNpo

In die afwesigheid van sin (Susan Smith, 2012):

In dié bundel word ’n matriargale beskouing verbeeld aan die hand van huise. Die bundel belig ook ’n intieme inkyk op ’n huis se sekuriteit, alarms en binneruimtes wat skuiling bied, met die gepaardgaande vrees vir misdaad. Die huis wat die dromer moet beskut, word een van ontgogeling.

 

IX.

Die poëtika van tyd

“One must always maintain one’s connection to the past and yet ceaselessly pull away from it. To remain in touch with the past requires a love of memory.” – Gaston Bachelard

In The Intuition of the Instant (oorspronklik in 1932 in Frans gepubliseer) ondersoek Bachelard twee benaderings tot die menslike belewenis van tyd (sien Verwysings, 14). In die eerste geval word die benadering van Henri Bergson as uitgangspunt geneem. In die tweede geval word die benadering van Gaston Roupnel as uitgangspunt geneem. Bachelard omskryf Bergson se benadering as ’n filosofie van tydsverloop, en die benadering van Roupnel as ’n filosofie van oombliklikheid.

Bachelard verwerp Bergson se benadering aangesien, volgens hom, tydsverloop kontinuïteit tussen die verlede, die hede en die toekoms impliseer. Dit maak nie voorsiening vir die ontwrigtende oomblik waarin daar dikwels ’n wending in kreatiewe denke of wetenskaplike ontdekking bestaan nie. Hierdie gedagtegang lê natuurlik die fondasie vir sy latere werk oor die epistemologiese breekpunte wat in alle wetenskaplike vooruitgang en in nuutgeskape poësie voorkom. Die geskiedenis moet onderbreek word ten einde nuwe geskiedenis te skryf.

Wanneer die kunste ontleed word, is dit belangrik om te besef dat goeie kuns die sintuie herskik en selfs restoureer, ’n aksie wat onmoontlik sou wees indien die toekoms ’n blote voortsetting van die verlede is. Bergson se teenargument hierteen is die belewenis van musiek (wat met tydsverloop gepaard gaan). Bergson postuleer dat geen enkelnoot die kreatiewe daad van die musiek kan verteenwoordig nie.

In sy sintese hiervan verduidelik Bachelard dat kontinuïteit juis die kronograaf is waarmee oomblikke van diskontinuïteit onderskei kan word. In die ervaring van poësie is dit belangrik dat hierdie ambivalensie erken word, naamlik dat poësie beide kontinuïteit en diskontinuïteit insluit, juis omdat tyd ’n reeks oomblikke is. Maar om ’n beeld of gedagte poëties vas te vang gebeur in die oomblik, hoewel daardie oomblik ’n stilfoto vanuit ’n langer periode mag wees.

In poësie is tyd byna alomteenwoordig. Daar is kronologie; daar is ’n ewigheidsbeskouing; daar is die verlede; en daar is profesie. Tyd is beweging. Wanneer ons byvoorbeeld die sogenaamde laatwerk van ’n digter lees word ons opnuut bewus watter kosbare kommoditeit tyd is.

In die Afrikaanse poësie is daar talle voorbeelde van die tydsbewussyn. Miskien is die bekendste daarvan vasgelê in die poësie van NP van Wyk Louw. Neem maar sy alombekende Vier gebede by jaargetye in die Boland uit Die halwe kring (1938) waarin die seisoene wel elkeen ’n eie tydsduur het, maar waarin oomblikke vasgevang word as vergestalting van elke seisoen.

 

X.

“Baudelaire writes: In certain almost supernatural inner states, the depth of life is entirely revealed in the spectacle, however ordinary, that we have before our eyes, and which becomes the symbol of it. Here we have a passage that designates the phenomenological direction I myself pursue. The exterior spectacle helps intimate grandeur unfold.” – Gaston Bachelard

Om ’n meer volledige oorsig oor Bachelard en sy werk te gee is uiteraard ’n omvangryke en uitdagende taak, daarom het ek gefokus op spesifieke raakvlakke tussen wetenskaplike denke en poëtiese denke. Opsommend: Bachelard het sy ondersoeke in die poësie op die sigbare eienskappe van gekanoniseerde werke gebaseer en daardeur ’n korrelaat geskep vir die studie van wetenskaplike denke. Hierdeur het hy onskatbare waarde tot beide oënskynlik disparate velde toegevoeg.

Ek het met die onderstaande gedig gepoog om hulde aan Bachelard te bring:

 

Gaston Bachelard: In ruimte, tyd en materie

 

i.

en dáár, onder die bome, het ons gesit

jy het my van Rilke vertel –

en dat die bome manjifiek is, maar tog,

dat die ruimtes tussen die boomtoppe

’n verhewenheid het, dat dit saam met

die bome groei, dat dit waardiger word

soos wat die krone bejaardheid bereik

 

ii.

en ons het die bome opnuut ingeasem,

die vars lug was ons portaal na vryheid

waar ons gewandel het tussen hemele,

toe die tyd ’n onsterflike pelgrim deur ’n

realm van gedroomde voorlewens was

en ons het die suurstof statig verwissel

om ons oneindigheid self te kon ervaar

 

iii.

totdat die water in vloed met die spruite

en strome hulle eindbestemmings vind

in die dieptes van ’n anonieme oseaan

waarin ons kon vertoef en ons innigste

geheime met die water kon deel, en die

fonteine ons weer daaraan herinner het

dat ons die aarde aan die water herken

 

iv.

ek was ’n kind wat die onblusbare vuur

van die verlede met wye oë kon ervaar,

ek het aanhoudend bly voortbeur, weg

van die eksistensiële vlamme en gesien

dat alles agter my drome was, dat alles

om my net oomblikke was, en dat alles

voor my helder was deur ’n tydlose lens

 

v.

daarná wou jy my van Baudelaire vertel,

jy het gesê hierdie alledaagse skouspel

was die simbool van ons eie grootsheid,

en die konvergensie van die verbeelding

van twee verlore mense is ’n voorspraak

van die poëtika van onverkende ruimtes

in die doolhowe waarin ons twee dwaal

 

vi.

en toe terug onder die bome het jy vir my

’n huis gaan wys, vol ongeleefde lewens,

en ’n stilte waarin ons onsself verloor het

jy het gesê poësie is net die verrekening

van die drome wat langs die pad verruil is

en dat ons ons enigheid tussen die mure

en die rame en die plafonne kon bewaar

 

en jy het vir my ’n skoon vel papier gegee

en gesê eendag sal ek verstaan waarom

 

“Rilke wrote: These trees are magnificent, but even more magnificent is the sublime and moving space between them, as though with their growth it too increased.” – Gaston Bachelard

Mag die gees van Gaston Bachelard nog lank met ons wees.

 

Verwysings

  1. Bachelard, G. The New Scientific Spirit. Beacon Press. 1986.
  2. Bachelard, G. The Formation of the Scientific Mind. Clinamen Press. 2002.
  3. Kuhn, T. The Structure of Scientific Revolutions. University of Chicago Press. 1962.
  4. Rogers, EM. Diffusion of Innovation. The Free Press. 1983.
  5. Bachelard, G. The Poetics of Space. Beacon Press. 1994.
  6. Comte, A. The Positive Philosophy. Bartoche Books. 2000.
  7. Bachelard, G. The Poetics of Reverie. Beacon Press. 1971.
  8. Cloete, TT et al. Literêre Terme & Teorieë. HAUM Literêr. 1992.
  9. Bachelard, G & Bachelard, S. Fragments of a Poetics of Fire. Dallas Institute of Humanities and Culture. 1988.
  10. Bachelard, G. Psychoanalysis of Fire. Beacon Press. 1987.
  11. Bachelard, G. Air and Dreams: An Essay on the Imagination of Movement. Dallas Institute of Humanities and Culture. 2011.
  12. Bachelard, G. Water and Dreams: An essay on the Imagination of Matter. Dallas Institute of Humanities and Culture.
  13. Bachelard, G. Earth and Reveries of Will: An essay on the Imagination of Matter. Dallas Institute of Humanities and Culture. 2002.
  14. Bachelard, G. The Intuition of the Instant. Northwestern University Press. 2015