Posts Tagged ‘Rumi’

Wicus Luwes. Bysake, bywoorde en bygelowe

Monday, September 14th, 2015

bee_drawing

“Like a bee you fill hundreds of homes with honey, though yours is a long flight from here.”
– Rumi

Ek het as kind op ‘n dooie by getrap. Die angel het in my voet bly sit terwyl ek aan al die rate vir die bysteek probeer dink het: ys, botter en ‘n mes wat in die regte rigting skraap. Ek was nog altyd versigtig vir ‘n by. Ek het geweier om my blikkie koeldrank verder te drink as ‘n by daarby sou inklim. Seker maar die soet reuk wat die by se GPS op my ingestel het. Ek het iewers gelees dat sommige bye jou verder as ‘n kilometer volg en vir jou wag as jy besluit om in water weg te kruip. Ek het op die harde manier geleer dat selfs ‘n dooie by jou nog leed kan aandoen.

Die Kalahari San-mense vertel ‘n pragtige verhaal van ‘n by wat op ‘n keer ‘n hottentotsgot oor die rivier moes help. Halfpad oor die rivier, kon die by nie sy passasier se gewig verder dra nie en moes noodgedwonge die hottentotsgot op ‘n drywende blom neersit. Die moeë by het toe ‘n saad op die hottentotsgot se lyf geplant. Die saad het later tot die eerste mens ontwikkel.

Bye is deesdae vir ander redes in die koerante. Vreemde sterftes en diefstal van bye is weekliks in die nuus. Die kort beriggies en kriptiese leidrade het my laat wonder of iemand dalk al in-diepte studies daaroor gedoen het nie. Ek bedoel nie slegs wetenskaplike navorsing nie. Ek het eerder ‘n persoon wat kriminele sake behartig in die oog, want ek dink die saak het ‘n hele paar vlakke. ‘n Gesoute kenner soos Leroux se Speurdersersant Demosthenes H. de Goede sal dalk net die regte persoon wees vir die saak / bysaak. Deon Meyer se Griessel sal dalk ook die pyp in hierdie bynes kan rook. Die misdaadtoneel is ‘n byeboer se plaas in Kanada. Ek is nie seker of De Goede se jurisdiksie buite die landsgrense sou strek nie. ‘n Byeboer se bye het spoorloos verdwyn. Die klaer in die saak gebruik die bye om sy kliënte se gewasse te bestuif en vir heuning. Bestuiwing is nodig vir ‘n groot aantal kosse wat ons bloot van ‘n winkelrak af pluk.

BeeHiveCheck7

“I’ve said this over and over, but I’ll say it a million more times – I’m concerned more about the death of a bee than I am about terrorism. Because we’re losing hives and bees by the millions because of such strong pesticides.”
– Patti Smith

Daar heers groot bekommernis oor die ineenstorting van korwe. Amerikaanse Vuilbroed of jongbysiekte verwoes hele korwe en kolonies ook in Suid-Afrika. As Speurdersersant Demosthenes H. de Goede ‘n rede benodig om sy speurwerk in Noord-Amerika voort te sit, kan die verwantskap met Amerikaanse Vuilbroed dalk net die regte motivering wees. Ja-Nee, Speurdersersant H. de Goede is ‘n ervare geregsdienaar, maar het lanklaas ‘n saak van hierdie omvang behartig. ‘n Vinnige kykie na die definisie van ‘n bywoord deur Wikipedia, kan hom dalk net in die regte rigting stuur: ‘n Bywoord of adverbium is ‘n beskrywende woord wat ‘n werkwoord, hele sin, byvoeglike naamwoord, telwoord of ander bywoord nader bepaal. Dit verskaf meer inligting oor plek, tyd, wyse of graad. (Plek of Ubi in Latyns. Tyd of Quando. Wyse of Quomodo.) Al wat Wikipedia se definisie van ‘n bywoord nie vir ons gee nie, is die ‘Qui’ of die ‘Wie’.

Jy kry nie maklik ‘n stoeier onder nie, soos wat Advokaat Gerrie Nel se greep op hedendaagse regskennis al vir ons gewys het. Speurdersersant Demosthenes H. de Goede is ook ‘n kenner in hierdie gevegskuns en met ‘n bietjie aanmoediging sal hy die bygreep of ‘shuffling bee’ vir ‘n nuuskierige konstabel demonstreer.

Quando
Die tyd waarin ‘n misdaad plaasgevind het, is van kardinale belang. Indien Speurdersersant H. de Goede by die ‘Wie’ wil uitkom, kan hy die ander afdelings gebruik om die tydsraamwerk te bepaal. Die verdwyning van die bye in konteks van die bestuiwing van vrugtebome of groente, moet in ag geneem word. Daar is sekere siklusse waarin bye ‘n rol speel en om die skuldige (of skuldiges) vas te trek, sal hierdie siklusse ondersoek moet word.

siklus

all that rots forms a family
– Fabian Casas

daar is bote in the hawe
waarvan jy die name nie weet nie
hulle rus soos wit swane op water

daar is klanke van voëls waarvan
jy die gapende snawels nie sien nie
hul skaduwees sny soos skeermesse
oor dakke se verskimmelde kakebene

snags hoor ek die honde blaf in my buurt
maar ek kan hulle nie aanraak nie

agter die tuinmuur restoureer iemand sy huis
en ek luister met weemoed na die slae
van ‘n hamer op spykers
wetende dat kewernomades
aanteel om die planke te vreet
dat swart bye nesmaak in ruïnes –
elke familie het immers ‘n sikliese substraat

hier is die liefde spoorvas en soos ‘n ooglid
vertrou ek ons knipsel reise –

maar soms soek ek na môre se sinne
in ‘n geslote boek op die tafel
om soos ‘n foto
geskeur uit die siklus van stof
sigbaar in die lig te leef

deur Marlise Joubert
uit bladspieël

Ubi
Kanada mag dalk aan die ander kant van die wêreld wees, maar dit is duidelik dat die korf of kolonie van ons bekende wêreld dalk kleiner is of kleiner gemaak word deur die migrasie-patrone van die mens. Die mense wat voordeel kan trek of byval kan vind by die verdwyning van die klaer se bye, is heel moontlik nie aan die ander kant van die wêreld nie. Motief is egter iets wat bydraend is, maar nie bepalend nie. Die plek waar die bye gehou word en die plek waar die bye gebruik word, sal verdere insig bied in die ontknoping van hierdie taai saak. Ek lees al meer berigte oor die lot van bye en byeboere in die aanlyn nuusblaaie (sien skakel onder). Hierdie voorval in die VSA het in die staat, Alberta, plaasgevind, maar daar is ‘n tendens regoor die wêreld met betrekking tot die diefstal van bye. Die omvang van die skade is ook nogal groot – daar is 600 000 bye en 12 korwe by die Alberta-boer gesteel. Dis asof daar ‘n kriewelrigheid oor die sterftes van bye as sekondêre saak is. Die gemanipuleerde (of gemonopileerde) bedryf van sade of bestuiwing tree telkens na vore. Die verspreiders van die geneties gemanipuleerde saad wil hul winste hoog en die landbougemeenskap lojaal hou. Hul kweek plante wat nie saad maak nie en bou genetiese meganismes in hul produk wat nie geraak word deur bekende  siektes nie.

Ek is dus nie meer seker wat die beste plek vir Speurdersersant Demosthenes H. de Goede sou wees om die saak te onderoek nie. Dit wil voorkom of die plekke waar bysake aangemeld word, by die dag vermeerder.

wit by

wat meer weet ek as die durende gedreun
jou wegwees draal seshoekselle uit bottende drome

hoe stil is jy so stil so stil

in die vroemore vermoed ek jou wit koningin
in die wind vind ek jou in die heuningsoet wind

verloor ek jou skielik soos stilte
al wat bly is die songoud drade wat ek spin

teen die vergetelheid in – spyse uit die eter –
soetigheid uit die dromende dye

hoe stil is jy so stil so stil

om en om jou soos goue koorde korf ek woorde
in my verbeelding verdra jy dit my blinde koningin

hier in ons domein van roes en heuningdou
sal alles stiller stom geliefde vrou

deur Tom Gouws

BeeStuff_on_Parchmt

Qui
In die soeke na ‘wie’, moet ‘n mens bepaal ‘wie nie’. Die omvang van die bysake maak die speelveld groter en groter. Al die klaers vind dit vreemd en party wil nou selfs GPS-senders in hul byekorwe plaas as voorsorgmaatreël. Daar is diegene wat sê dat ons minder bekommerd moet wees, want die mens kan steeds bestuiwing toepas sonder die bye. Daar is ook die vraag oor die wenner en verloorders; miskien ook die manipuleerders en die wat gemanipuleer word. Ons almal weet dat daar onvoorsiene dinge gebeur as jy spelers uit die siklus neem. Die paniek wat tans in byekringe regoor die wêreld heers, word miskien uit eie geledere gevoed.

Dis hoekom ek dink dat Speurdersersant Demosthenes H. de Goede die regte persoon vir die saak is. Hy het per slot van sake al misdade op plase ondersoek en nie geskroom om internasionale sindikate aan te vat nie. Die Speurdersersant se naamgenoot, die Griekse spreker en politikus, Demosthenes, het by geleentheid gesê dat ons geneig is om te wens vir iets wat ons reeds glo. Beide Aristotles en Plato gebruik die bykolonie as metafoor vir die mensdom. Dit kan moontlik wees dat die bysake op die oppervlak verskil van die bysaak onder die oppervlak. Die Midde-Oosterlinge wat in die antieke tye geleef het, het geglo dat die by ‘n brug tussen die bo- en onderwêreld bied. Die by was dus ‘n mitologiese brug tussen die lewe en die dood. Ek weet nie presies hoekom hul so sou glo nie, maar ek weet wel dat ‘n dooie by se angel ‘n lewendige mens se lyf kan laat sweer.

 

Honey Bee

Honey bee hanging,
drop of sun-
splashed water,
from a stem
hugged and tugged
into a furring haze

caterpillar drops to
arthritic contortions
on cold shade stone

dung beetle drums
across gravel

from the tensile
stem the heavy droplet
falls up into the air.

deur Charl J.F. Cilliers
uit: Collected Poems 1960-2008

 

Bronne:
1. Cilliers CJF, Collected Poems 1960-2008, Malgas Publishers, Melkbosstrand, 2008
2. Internet: https://af.wikipedia.org/wiki/Bywoord
3. Internet: https://en.wikipedia.org/wiki/Bee_%28mythology%29
4. Internet: http://globalnews.ca/news/2191248/thousands-of-honey-bees-stolen-from-alberta-farmer/
5. Internet: http://landbou.com/bedrywe/bysiekte-moet-bestry-word/
6. Internet: http://www.katinkahesselink.net/sufi/rumi.html
7. Joubert M, In a Burning Sea, Protea Book House, Pretoria, 2014
8. Joubert M, bladspieël, Human & Rousseau, Kaapstad, 2015

Prente:
1. Internet: http://journal.illuminatedperfume.com/2010_08_01_archive.html
2. Internet: https://www.pinterest.com/explore/bee-drawing/

Bernard Odendaal. Versigtig met die liefde

Tuesday, February 16th, 2010

Oor die liefde moet mens versigtig skryf, al skryf jy so tweedehands oor ander se skrywes. Om te kies is nie eenvoudig nie. Dis nie ’n ding van dié een kry tagtig persent en daardie een negentig nie. As die een liefdesgedig vandag jou hartsnare geroer het, gaan die volgende een môre jou tone laat tingel. Tog moet Boerneef sekerlik hoog op die lysie staan:

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê

Daardie berggansveer gaan nog lank lê en tril daar by Woeperdal.

   Die liefde kortgevat is Rumi se dertiende eeuse kwatryne. Uit die Persies vertaal deur John Moyne en Coleman Barks klink dit so, onder andere:

Come to the orchard in Spring.

There is light and wine, and sweethearts in the pomegranate flowers.

If you do not come, these do not matter.

If you do come, these do not matter.

   en:

I would love to kiss you.

The price of kissing is your life.

 

Now my love is running towards my life shouting,

What a bargain, let’s buy it.

     Die Amerikaanse digter e.e. cummings skryf ’n lang gedig, “somewhere i have never travelled” waarvan die laaste reël vir my maar op sy eie kan staan:

nobody, not even the rain, has such small hands

 

en uit my kinderdae onthou ek dié een van W.E. Henley:

 

The nightingale has a lyre of gold,

The lark’s is a clarion call,

And the blackbird plays but a boxwood flute

But I love him best of all.

 

For his song is all of the joy of life,

And we in the mad spring weather,

We too have listened till he sang

Our hearts and lips together.

   As ek verder uit Afrikaans moet kies, dan Elisabeth Eybers. Vele, vele, maar dié een bly ’n gunsteling, omdat dit die woordloosheid, die stomgeslaanwees van liefde, maar ook die somtyds onlewensvatbaarheid daarvan so reg sê.

 

Die antwoord

 

Of ek jou liefhet?… Hoe vra jy, wanneer

my oë van die antwoord vol is, weer

dieselfde vraag so twyfelloos en teer?

 

Toe Christus met die derde haangekraai

sy blik vol stil verwyt na Petrus draai,

wie kon die later vraag en antwoord raai?

 

Drie maal het hy gevra … Daar was alleen

die één gebroke antwoord oor vir een

wat in die nag oor eie verraad moes ween.

 

Wanneer ek elke roekelose eed

van eew’ge trou en liefde reeds vergeet

het, sal ek nog soos Petrus sê: Jy wéét …

Op dieselfde trant ’n gedig van A. Roland Holst, waarvan ek ook die eerste reël ver, ver terug onthou:

 

Zwerversliefde

 

Laten wij zacht zijn voor elkander, kind –

want, o de maatlooze verlatenheden,

die over onze moegezworven leden

onder de sterren waaie’ in de oude wind.

 

O, laten wij maar zacht zijn, en maar niet

het trotsche hooge woord van liefde spreken,

want hoeveel harten moesten daarom breken

onder den wind in hulpeloos verdriet.

 

Wij zijn maar als de blaren in den wind

ritselend langs de zoom van oude wouden,

en alles is onzeker, en hoe zouden

wij weten wat alleen de wind weet, kind –

 

En laten wij omdat wij eenzaam zijn

nu onze hoofden bij elkander neigen,

en wijl wij same’ in ‘t oude waaien zwijgen

binnen een laatste droom gemeenzaam zijn.

 

Veel liefde ging verloren in den wind,

en wat de wind wil zullen wij nooit weten;

en daarom – voor we elkander weer vergeten –

laten wij zacht zijn voor elkander, kind.

Laat ons die “trotse hoë woord van liefde” dus maar met versigtigheid sê.

  •