Posts Tagged ‘Rutger Kopland’

Louis Esterhuizen. Rutger Kopland, Nederland se mees geliefde digter, oorlede …

Sunday, July 15th, 2012

 

Hartseernuus vanoggend is dat die NRC Handelsblad pas bekend gemaak het dat Rutger Kopland (foto), allerweë beskou as een van Nederland se mees geliefde digters, op Woensdag, 11 Julie, oorlede is. Hy was 77 jaar oud. Luidens die verklaring, die volgende: “En nog altijd is zijn werk ongekend populair. Van zijn bundels zijn in totaal meer dan 200,000 exemplaren verkocht, en ze worden nog steeds herdrukt. Die grote populariteit zal ongetwijfeld te maken hebben met Koplands toegankelijke, bedachtzame stijl, zijn milde ironie, zijn weemoed, en met de voor velen herkenbare onderwerpen, vooral in de vroegere poëzie.”

Rutger Kopland se regte naam was Rudi van den Hoofdakker en hy is in 1934 in Overijsselse Goor gebore. Hy het hom na sy skoolopleiding as sielkundige bekwaam In die sestigerjare was hy werksaam as sielkundige in Groningen en in die sewentigerjare was hy verbonde aan die departement Biologische Psychiatrie aan die Groningse Universiteit, van 1981 tot en met sy emiraat in 1995 as hoogleraar.

Verdermeer is Kopland die tweede Nederlandse digter wat deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is en binne enkele dae van mekaar gesterf het. Sy vertalings van Kopland se verse, Onder die appelboom, het in 2010 by Protea Boekhuis verskyn. (Die ander digter is Gerrit Komrij.)

In ‘n onderhoud wat ek in Februarie 2011 met Daniel Hugo gevoer het, het hy die volgende oor Kopland se digkuns te sê gehad:

“Rutger Kopland se gedigte gee ‘n soort mistieke ervaring van die werklikheid weer in gedigte wat die eenvoudigste taal denkbaar gebruik. Hy skryf ook graag digterlike besinnings van die mens se belewing van tyd. Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. Afrikaans is ‘n minder vloeiende en konkreter taal as Nederlands, met die gevolg dat heelwat Kopland gedigte eintlik onvertaalbaar bly […] Tipies van Kopland se denkwyse is die volgende reëls uit sy gedigreeks ‘Een lege plek om te blijven’: … Geef mij / maar een vraag en geen antwoord. In die gedig ‘Wat is poëzie’ probeer hy formuleer wat die digkuns nou eintlik is. Ten slotte relativeer hy sy poging met die woorde: ‘is dit een antwoord vraag ik.’ Vir Kopland bestaan daar nie vaste sekerhede nie. Sy bewussyn is ‘n waterryke, mistige landskap waarin ‘n mens maklik verdwaal en ten slotte verdwyn.”

En ‘n laaste aanhaling, oor Kopland se invloed op die Afrikaanse digkuns, die volgende wat ek met ‘n ligte blos op die wange plaas: “Daar is in Afrikaans geen digter wat werklik met Kopland vergelyk kan word nie. Ek weet wel, Louis, dat jou bundel Wat die water onthou deur Kopland beïnvloed is […] Met jou bundel het Kopland byna ongemerk ‘n deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword. Die vertaling van sy verse gee hom nou ‘n prominenter staanplek in die geledere van ons poësie. Hopelik sal Kopland in die toekoms nie net Afrikaanse digters ten goede bly beïnvloed nie, maar sal hy ook die Afrikaanse lesers met sy unieke kyk op die wêreld verryk en verruim. Hy beskryf ‘n vloeibare, gedempte wêreld wat opvallend kontrasteer met die harde, droë wêreld van die Afrikaanse digkuns – as ek nou só grof mag veralgemeen.”

Inderdaad is ek iemand wat vandag hier ter lande ‘n glasie lig op ‘n grootse digter. Rutger Kopland was vir my ‘n reus onder reuse. As huldeblyk plaas ek die gedig wat Daniel uitgesonder het tydens die onderhoud as ‘n gunsteling van hom, met daarnaas ‘n vers van Kopland met ‘n spesifieke betekenis vir my as toegewyde roker.

***

Die roeier

 

Vanaand trek die mis oor die weiveld

 asof die aarde oopgaan en

 die grondwater oor sy walle stroom

 

 perde en koeie begin dobber en

 soos in ‘n moeras uit die oertyd

 dryf ten slotte nog net koppe

 en rûe verby

 

 uit die bome aan die oorkant

 raak iets los wat vir my lyk na

 ‘n roeier wat oorsteek om my te kom haal.

 

***

 

Oor die verlange na ‘n sigaret

 

Ken jy die verlange na ‘n sigaret

na daardie gelukkige tye toe jy nog gerook het?

 

Niemand verstaan dié verlange nie, behalwe ek.

 

Ek herinner my aan iemand wat altyd

as ek iets sê wat hy nie verstaan nie

geantwoord het: dit is nou baie interessant.

 

En ek herinner my ook dat ek dan

daardie uitspraak ‘n paar keer

in my kop moes herhaal:

dit is nou baie interessant

totdat die betekenis verdamp.

 

God kan ondeurgrondelike dinge met ons doen

danksy die feit dat hy nie bestaan nie

 

en so kan ook ondeurgrondelike dinge

gesê word danksy die feit

dat dit niks beteken nie.

 

Vandat ek dit bedink het, verstaan ek veel meer.

 

Die verlange na ‘n sigaret is

die verlange self.

 

© Rutger Kopland (Uit: Over het verlangen naar een sigaret, 2001.)

Vertalings deur: Daniel Hugo (Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

 

Onderhoud met Daniel Hugo

Sunday, February 6th, 2011

Onder die appelboom

Daniel Hugo in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou redakteur by Protea Boekhuis. Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke. 

 

 

Daniel, hierdie is reeds die derde Nederlandstalige digter wie se verse jy in Afrikaans vertaal. Vroeër was daar Herman de Coninck, Gerrit Komrij en nou ook Rutger Kopland. Is dit moontlik om te sê presies wat jou aantrek na dié drie digters se digwerk?

Die gedigte van Herman de Coninck spreek tot my vanweë hulle intieme spreektalige toonaard, verbluffende vergelykings en gevatte woordspel. (Die laasgenoemde eienskap stel natuurlik groot uitdagings aan die vertaler.) Sy verse oor die liefde en die dood is van die aangrypendste wat ek ken. Sy ontspanne gebruik van die sonnetvorm vind ek daarby besonder sjarmant.

Die uitdaging van Gerrit Komrij se poësie lê in die klassieke vormvastheid daarvan. Sy gedigte rym altyd volgens ‘n vaste patroon en die versreëls het altyd dieselfde aantal lettergrepe. Verder is dit ook nie maklik om die gedrae, ironiese toon in Afrikaans weer te gee nie. Die hele sfeer van sy verse is dekadent-Europees en dit kos heelwat moeite om hulle deur die kulturele doeaneposte na Suid-Afrika te laat emigreer.

Rutger Kopland se gedigte gee ‘n soort mistieke ervaring van die werklikheid weer in gedigte wat die eenvoudigste taal denkbaar gebruik. Hy skryf ook graag digterlike besinnings van die mens se belewing van tyd. Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. Afrikaans is ‘n minder vloeiende en konkreter taal as Nederlands, met die gevolg dat heelwat Kopland gedigte eintlik onvertaalbaar bly.

Ten spyte daarvan dat Kopland allerweë beskou word as een van die vernaamste digters in Nederland, is hy vreemd genoeg nie baie bekend in Suid-Afrika nie. Waar het jy die eerste keer met sy digkuns te make gekry?

Rutger Kopland

Rutger Kopland

Toe ek in die tagtigerjare ‘n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat was, is Kopland se bundel Het orgeltje van yesterday (1968) deur oud-kollega Charles Malan daar voorgeskryf. Maar Kopland is inderdaad ‘n onbekende digter in Suid-Afrika. Ongelukkig geld dit vir die meeste belangrike digters wat ná die Nederlandse Vyftigers gedebuteer het. By die meeste universiteite was Lucebert (1924-1994) tot nie so lank gelede nie die jongste Nederlandse digter in die leerplan. Gelukkig het die vertaalopdrag van Protea Boekhuis my gedwing om weer deeglik kennis te neem van Kopland.

Hoe het jy hierdie vertaalprojek in teenstelling tot jou voriges ervaar? Het jy pertinente uitdagings by die Kopland-verse teëgekom wat byvoorbeeld nie by Komrij óf De Coninck teenwoordig was nie?

By De Coninck is dit nooit werklik moeilik om die betekenisinhoud van die gedig te snap nie. Komrij se verse is meer dikwels duister as De Coninck s’n, maar die grillige spronge wat Komrij se poëtiese verbeelding maak, is altyd boeiend. Kopland se “duisterheid” lê in die vae, huiwerige, dikwels abstrakte stelwyse. Tipies van Kopland se denkwyse is die volgende reëls uit sy gedigreeks “Een lege plek om te blijven”: “… Geef mij / maar een vraag en geen antwoord.” In die gedig “Wat is poëzie” probeer hy formuleer wat die digkuns nou eintlik is. Ten slotte relativeer hy sy poging met die woorde: “is dit een antwoord vraag ik.” Vir Kopland bestaan daar nie vaste sekerhede nie. Sy bewussyn is ‘n waterryke, mistige landskap waarin ‘n mens maklik verdwaal en ten slotte verdwyn.

Wat die leser oombliklik opval van hierdie keur, is hoe verteenwoordigend jou keuse van gedigte is; ‘n keuse wat Kopland se loopbaan van Onder het vee (1966) tot met Toen ik dit zag (2008) betrek. Watter faktore het jou in die keuse van verse vir hierdie keur beïnvloed?

Die belangrikste oorweging by die vertaling van ‘n gedig is doodgewoon die vertaalbaarheid daarvan. Dit beteken dat die oorspronklike vers nie te veel negatiewe stelwyses moet bevat nie – die lomp, dubbele negatief in Afrikaans gee ‘n vertaler baie gou ‘n sintaktiese hoofpyn. Verder moet die kullturele verwysingsraamwerk nie té Europees of obskuur wees nie – ‘n vertaalde gedig met verklarende aantekeninge of voetnote is ‘n onding. As dit dus nie moontlik is om ‘n Afrikaanse teks te skep wat as ‘n selfstandige gedig op sy eie pote kan staan nie, moet die vertaler dit maar gewonne gee. As daar genoeg vertaalbare verse is wat tegelyk ‘n verteenwoordigende beeld van ‘n digter se werk gee, is dit onverdiende genade. Ek het oneindige simpatie met vertalers wat die opdrag kry om ‘n digter se oeuvre integraal te vertaal.

Het jy ‘n persoonlike gunsteling onder dié keuse wat jy gemaak het? Verduidelik sommer ook hoekom juis dié vers tot jou spreek in die mate wat dit doen?

Ek het meer as een gunsteling, maar die ongelooflike eenvoud van “Die roeier” uit Kopland se debuutbundel bly my steeds by. Met die grootste gemak en sonder enige sensasie beskryf hy sy eie dood in die slotstrofe:

 

                        Vanaand trek die mis oor die weiveld

                        asof die aarde oopgaan en

                        die grondwater oor sy walle stroom

 

                        perde en koeie begin dobber en

                        soos in ‘n moeras uit die oertyd

                        dryf ten slotte nog net koppe

                        en rûe verby

 

                        uit die bome aan die oorkant

                        raak iets los wat vir my lyk na

                        ‘n roeier wat oorsteek om my te kom haal.

 

Die gebrek aan leestekens en die opvallende enjambemente (twee keer) ná die voegwoord “en” stel die vloeiende beweging van die mis en die water visueel op die bladspieël voor. Die byna terloopse verwysing na die mitologiese veerman Charon wat die skimme van die dooies oor die Styx-rivier na die doderyk neem, is met een woord magistraal.

Dit is interessant dat Kopland in sy jongste digbundel wat meer as veertig jaar ná sy debuut verskyn het, weer oor dieselfde onderwerp ‘n gedig geskryf het. Myns insiens vertoon dit egter nie die sublieme subtiliteit van die vroeë vers nie.

 

                        Roeiboot

 

                        Waarom hou ek aan kyk

                        na hierdie poskaart – ‘n roeiboot

 

                        wat lê op die rimpelende spieël

                        van ‘n skemer hemel

                        geanker met ‘n dun tou

                        aan iets in die diepte

 

                        dit is ‘n foto maar jy sien hoe

                        die boot skommel en

                        ruk aan sy anker

 

                        so moes dit altyd gewees het

                        ‘n boot wat wag op sy roeier

 

                        daar is al beweer dat ons eendag

                        gehaal en oorgeroei sal word

                        na ‘n verre oewer

 

                        daarom

 

Met elke teks wat in ‘n bepaalde taal vertaal word, glo ‘n mens dat dié vertaling die bestaande letterkunde sal verruim. En welke mate glo jy sal hierdie Kopland-vertalings ons eie digkuns verryk? Met ander woorde – watter aanklank behoort die Afrikaanssprekende poësieliefhebber by hierdie gedigte te vind?

Daar is in Afrikaans geen digter wat werklik met Kopland vergelyk kan word nie. Ek weet wel, Louis, dat jou bundel Wat die water onthou deur Kopland beïnvloed is. En dit was al rede genoeg om dié Nederlandse digter te vertaal! Maar alle grappies op ‘n stokkie. Met jou bundel het Kopland byna ongemerk ‘n deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword. Die vertaling van sy verse gee hom nou ‘n prominenter staanplek in die geledere van ons poësie. Hopelik sal Kopland in die toekoms nie net Afrikaanse digters ten goede bly beïnvloed nie, maar sal hy ook die Afrikaanse lesers met sy unieke kyk op die wêreld verryk en verruim. Hy beskryf ‘n vloeibare, gedempte wêreld wat opvallend kontrasteer met die harde, droë wêreld van die Afrikaanse digkuns – as ek nou só grof mag veralgemeen.

‘n Laaste, ietwat moedswillige, vraag. Ek en jy het al dikwels (goediglik) verskil oor die belangrikheid van “emosie” in ‘n vers. Nou het jy heengegaan en júís die digter wat ek as die meester van emosie-hantering in ‘n vers beskou, vertaal. Beteken dit dat jy gelyk gee, of volstaan jy daarmee dat die emosionele lading van ‘n vers irrelevant is?

Ek wantrou digters wat beweer dat jy emosioneel ontroer moet wees voordat jy ‘n gedig kan skryf. Ek ontken darem nie dat ‘n gedig die leser kan ontroer nie. Maar daardie ontroering kan deur suiwer rasionele middele bewerkstellig word. Lees maar J.C. Steyn se gedig “Spooroorwegramp by Henley-on-klip”. Dit is ‘n gedig wat in ‘n groot mate uit taalspel opgebou is, waarmee die digter juis die emosie probeer bekamp. In ‘n gedig moet die warm trane van die gemoed stol tot koel pêrels van van die rede – as daar dan nou werklik oor trane geskryf moet word!

Naskrif: Ek sien ek het by die eerste vraag hierbo van Herman de Coninck se “aangrypende” gedigte oor die liefde en dood gepraat. Eintlik behoort ek die woord “oortuigende” te gebruik het!

Daniel, dankie vir die geleentheid om oor hierdie wonderlike toevoeging tot ons digkuns te kon gesels. Veels geluk daarmee; ‘n kragtoer, inderdaad. Maar plaas sommer as leesprikkel nog een van jou gunstelingverse uit Onder die appelboom hieronder?

                       

Die stem van ‘n tjello

 

Waaraan die klank van ‘n tjello laat dink

 

die tjellis Widlund vertel my dat daar

in hierdie instrument iets woon – ‘n stem

‘n baie ou stem waarna jy soek

as jy speel en wat jy herken

as jy dit vind

 

dalk is dit die rede waarom ek moet dink

aan die oudste klanke wat ek ken, soos

dié van neurie, sing, kreun en huil

 

en ook aan die kleure van ‘n woud in die herfs

asof jy die heimwee hoor van die tjello

na sy herkoms

 

 

© Rutger Kopland (Uit: Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

Vertaling deur Daniel Hugo

 

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Om Rutger Kopland onder oog te kry

Monday, December 13th, 2010
Rutger Kopland

Rutger Kopland

Via ‘n skakel op De Contrabas beland ek op Cobra se webblad waar ‘n besonderse bespreking van die derde, hersiene uitgawe van Rutger Kopland (1934) se Verzamelde gedichten deur Paul Demets bespreek word; en ai, watter besonderse digterskap is dit nie híérdie nie … Gewis een van die heel belangrikstes in die meer onlangse Nederlandse digkuns.

Demets se inleidende kommentaar tot sy bespreking verdien myns insiens om aangehaal te word, aangesien dit Kopland se digwerk op ‘n besonderse manier in perspektief plaas: “Wat we met onze zintuigen waarnemen, is wat het is. En dat is heel veel, natuurlijk. Rutger Kopland, nog altijd één van de meest geliefde dichters bij het lezerspubliek, was tijdens zijn actieve loopbaan hoogleraar biologische psychiatrie. Een dichter én een wetenschapper, dus. Met de wetenschap deelt de poëzie van Kopland het empirische, het onderzoek naar het feitelijke, los van het bovennatuurlijke. Er is natuurlijk een wezenlijk verschil: de wetenschap analyseert de werkelijkheid door ze als afzonderlijke feiten te ontleden. Poëzie gaat eerder op zoek naar de samenhang tussen de dingen. En bij die samenhang stelt Rutger Kopland voortdurend vragen, stel je vast als je zijn Verzamelde gedichten leest. Dat maakt zijn poëzie zo levensnoodzakelijk.”

En dan ook die volgende waarneming, enkele paragrawe verder: “Koplands poëzie is meteen herkenbaar: de rustige toon waarop hij vragend, aarzelend, soms met humor zichzelf nuancerend, bedenkingen en vragen formuleert bij wat hij ziet. En bij de grote thema’s: leven en dood, liefde en lijden, heden en verleden. Door het frequente gebruik van de ik-vorm en door de bijna spreektalige formulering, voelt de lezer zich sterk aangesproken. Wellicht verklaart dit allemaal waarom de poëzie van Kopland zo populair blijft.”

‘n Mens kan ten slotte ook nie anders as om te hoop dat Daniel Hugo se uitmuntende vertalings van dié literêre reus daartoe sal bydrae dat Kopland ook nou by die Afrikaanse poësieliefhebber tot sy reg sal kom nie. Onder die appelboom – ‘n Keur uit die gedigte van Rutger Kopland (2010: Protea Boekhuis) is ‘n wonderlike leeservaring; juis vanweë die gemaklike, trefsekere manier waarop Hugo die rustige, bykans mymerende toon – wat so kenmerkend van Kopland se digstyl is – in Afrikaans te berde bring. Nóg ‘n pluspunt van dié keur is natuurlik dat dit van die vroegste Kopland-verse tot die mees onlangses bevat.

Inderdaad, ‘n besonder insiggewende bespreking deur Demets en eweneens, ‘n besonderse vertaalprojek deur Hugo. Vir jou leesplesier plaas ek ‘n persoonlike gunsteling onder aan vanoggend se Nuuswekker; ‘n vers wat waarskynlik kan staan as die Groot Versugting van alle rokers.

***

Afgesien van Onder die appelboom wat vanoggend op die hoofblad aangekondig word, is daar sommer heelwat bydraes om die nuwe week mee te verwelkom. Indien jy iemand is wat nie daarvan hou om hardop te sit en lag terwyl jy iets lees nie, moet jy liewerster Philip de Vos se nuutste stuk vermy, want na alle waarskynlikheid is dit die mees vermaaklike stuk wat tot nog toe op hierdie webblad verskyn het. By wyse van aanvulling tot sy onlangse stukke oor Eugène Marais het Johann Lodewyk Marais ‘n artikel ingestuur oor Gustav S. Preller; by Wisselkaarten bespreek Luuk Gruwez Pieter Boskma se nuutste bundel Doosbloei,  en in ‘n besonder knap geskryfde stuk bedink Jelleke Wierenga die seisoen van vreet, verlange en kooplus wat op hande is.

En nog steeds is het einde niet – Ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, het sy resensie oor Lina Spies se mees onlangse bundel Tydelose gety gelewer, terwyl daar in Joan Hambidge se gedigtekamer nog ‘n nuwe vers bygekom het. Dan het ons ook ‘n volgende reisbeskrywing van Breyten Breytenbach ontvang; dié keer oor sy reis na Bogotá, Kolombia. En ai, watter inspirerende stuk skryf werk is dít nie …

Inderdaad, ‘n kruiwa vol heerlike leesstof.

Mooi bly.

LE

  

Oor die verlange na ‘n sigaret

 

Ken jy die verlange na ‘n sigaret

na daardie gelukkige tye toe jy nog gerook het?

 

Niemand verstaan dié verlange nie, behalwe ek.

 

Ek herinner my aan iemand wat altyd

as ek iets sê wat hy nie verstaan nie

geantwoord het: dit is nou baie interessant.

 

En ek herinner my ook dat ek dan

daardie uitspraak ‘n paar keer

in my kop moes herhaal:

dit is nou baie interessant

totdat die betekenis verdamp.

 

God kan ondeurgrondelike dinge met ons doen

danksy die feit dat hy nie bestaan nie

 

en so kan ook ondeurgrondelike dinge

gesê word danksy die feit

dat dit niks beteken nie.

 

Vandat ek dit bedink het, verstaan ek veel meer.

 

Die verlange na ‘n sigaret is

die verlange self.

 

© Rutger Kopland (Uit: Over het verlangen naar een sigaret, 2001.)

Vertaling deur: Daniel Hugo (Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

 

Rutger Kopland – vertaling in Afrikaans

Thursday, November 19th, 2009

Rutger Kopland – vertaal deur Daniel Hugo.

 

 

Uit: Rutger Kopland, Toen ik dit zag, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam, 2008.

 

Wat is poëzie

 

In de verte groeit het geruis

van een trein

 

stopt zegt ze en

ze zet de recorder uit

 

door de ramen stroomt steeds meer

zwart licht de kamer in

 

is er zoiets als zwart licht

zit ik te denken

 

de trein is voorbij en uit de verte

nadert ons langzaam stilte

 

is er zoiets als een stilte die

kan naderen denk ik

 

nog één vraag zegt ze

en ze start de recorder

 

poëzie wat is dat – eigenlijk

ze beweegt de microfoon naar mijn gezicht

 

ik begin te denken tot ik

aan een schilderij denk van Magritte

 

een wolk in de vorm van een rotsblok

een rotsblok in de vorm van een wolk

 

ze zweven samen boven een landschap

is dit een antwoord vraag ik

 


Wat is poësie

 

In die verte groei die geruis

van ’n trein

 

stop sê sy en

sit die bandmasjien af

 

deur die vensters stroom steeds meer

swart lig die kamer in

 

is daar so-iets soos swart lig

sit ek en dink

 

die trein is verby en uit die verte

kom die stilte stadig nader

 

is daar so-iets soos stilte wat

kan naderkom dink ek

 

nog één vraag sê sy

en sit die bandmasjien aan

 

poësie – wat is dit nou eintlik

sy hou die mikrofoon voor my gesig

 

ek begin dink tot ek

aan ’n skildery dink van Magritte

 

’n wolk in die vorm van ’n rotsblok

’n rotsblok in die vorm van ’n wolk

 

hulle sweef saam bo ’n landskap

is dit ’n antwoord vra ek

 


Park

 

We wandelen tot aan de oever

van een vijver – daar stonden we

te luisteren en te kijken.

 

We hoorden de geluiden van de stad

maar het was alsof we daarachter

een grote stilte hoorden.

 

We keken in het water en zagen

ver voorbij de kruinen van de bomen

de lege hemel in de diepte.

 

We liepen terug en wisten waar

we voor gekomen waren.

 


Park

 

Ons wandel tot aan die rand

van ’n visdam – daar gaan staan ons

om te luister en te kyk.

 

Ons hoor die geluide van die stad

maar dit is asof ons daaragter

’n groot stilte hoor.

 

Ons kyk in die water en sien

ver verby die toppe van die bome

die leë hemel in die diepte.

 

Ons loop terug en weet waarom

ons hierheen gekom het.

 


Toen de nacht

 

Toen het licht van de nacht

duisternis was

 

het licht van de nacht

ons onzichtbaar maakte

en wij alleen nog stemmen waren

op een bank in de tuin

 

toen de nacht ons omgaf

en meenam in de duistere vragen

wanneer en waar en wie

 

toen de nacht een geheim was

dat met de nacht verdween

 


Toe die nag

 

Toe die lig van die nag

duisternis word

 

die lig van die nag

ons onsigbaar maak

en ons nog net stemme is

op ’n bank in die tuin

 

toe die nag ons omgeef

en meevoer in die duister vrae

wanneer en waar en wie

 

toe die nag ’n geheim word

wat met die nag verdwyn

 


Een merel

 

Er is iets aan de zang van een merel

het is voorjaar, je wordt wakker

 

je ligt te denken in de nacht

het raam staat open – er is iets

 

waarvan die vogel zingt

en je denkt aan wat je moet opgeven

 

er is iets in je dat leeg is en het stroomt vol

met het zingen van die merel

 


’n Merel

 

Daar is iets in die lied van ’n merel

dit is lente, jy word wakker

 

jy lê en dink in die nag

die venster staan oop – daar is iets

 

waarvan die voël sing

en jy dink aan wat jy moet opgee

 

daar is iets in jou wat leeg is en dit stroom vol

met die lied van die merel

 


Roeiboot

 

Waarom moet ik blijven kijken

naar die ansichtkaart – een roeiboot

 

hij ligt op de rimpelende spiegel

van een avondhemel

verankerd met een dunne lijn

aan iets in de diepte

 

het is een foto maar je ziet hoe

de boot schommelt en

rukt aan zijn anker

 

zo moet het altijd te zien zijn geweest

een boot wachtend op zijn roeier

 

er is gedacht dat wij ooit zouden worden

gehaald en worden gevaren

naar een verre overkant

 

daarom

 


Roeiboot

 

Waarom hou ek aan kyk

na hierdie poskaart – ’n roeiboot

 

wat lê op die rimpelende spieël

van ’n skemer hemel

geanker met ’n dun tou

aan iets in die diepte

 

dit is ’n foto maar jy sien hoe

die boot skommel en

ruk aan sy anker

 

so moes dit altyd gewees het

’n boot wat wag op sy roeier

 

daar is al beweer dat ons eendag

gehaal en oorgeroei sal word

na ’n verre oewer

 

daarom

 

 

(Uit: Rutger Kopland, Toen ik dit zag, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam, 2008. Vert. deur Daniel Hugo)

 

Rookverslaafde martelaars

Thursday, August 27th, 2009
Lynn Barber

Lynn Barber

Synde ‘n lojale en toegewyde lid van die Nasionale Rokersvereniging, het die volgende berig my omtrent laat regop sit. Lynn Barber, ‘n bekende skrywer en joernalis in Brittanje, het naamlik van die Richmond Book Now-fees in November onttrek nadat die organiseerders daarop aangedring het dat sy ‘n ander foto vir hul promosiemateriaal moet verskaf. Op die foto wat sy vir hul brosjure ingestuur het, teug sy salig aan ‘n sigaret en die organiseerders is van mening dat sy hierdeur ‘n swak voorbeeld stel. “We don’t like to use images of people smoking in our promotional material. As a local authority we are responsible for encouraging good health habits in the area, and to be seen to be endorsing smoking, no matter how unintentional, doesn’t complement this. We asked Miss Barber for an alternative picture but she declined and has withdrawn from the festival, which is a shame given her standing as an author and journalist,” het ‘n segspersoon namens die organiseerders aan The Guardian se verslaggewer gesê.

Lynn Barber se reaksie? “I always wanted to be a Smoking Martyr and obviously this is my opportunity. If a pic of me smoking is such a threat to the good burghers of Richmond, imagine what my presence would do.”

Nou ja, toe. Uiteraard vrees die organiseerder nou ‘n massale ontrekking deur al die ander lojale rokers op hul feesprogram. Gelukkig – soos dit maar alte dikwels die geval is – is daar steeds géén beperking op drank-advertensies of foto’s van mense wat “gesellig verkeer” met ‘n glasie wyn in die hand nie. Die vooruitsig op ‘n “gesellige fees” – soos dit maar alte dikwels die geval is –  word dus nié hierdeur geaffekteer nie … Solank daar darem drank is.

So, druk dood daardie sigaret en skink ‘n glasie op ‘n gesonde lewensstyl.

Dan is dit vandag die verjaarsdag van een van ons gereelde medewerkers op die webblad, naamlik Charl-Pierre Naudé. Lekker verjaar, Charl-Pierre, en mag die nuwe lewensjaar ‘n vreugdevolle affêre wees … (Gelukkig is Charl-Pierre nié ‘n roker nie; die hoop op nog vele jare beskaam dus nie.)

Nietemin, vir jou leesplesier vanoggend, die onderstaande gedig deur Rutger Kopland.

Mooi bly.

LE

 

Over het verlangen naar een sigaret

 

Ken je het verlangen naar een sigaret,
naar die gelukkig tijd dat je nog rookte?

Niemand begrijpt dit verlangen behalve ik.

Ik herinner mij iemand die altijd
als ik iets zei dat ze niet begreep
antwoordde: op zich is dit heel intrigerend.

En ik herinner mij ook dat ik dan
die uitspraak een aantal malen
in mijn hoofd moest herhalen:
op zich is dit heel intrigerend
totdat de betekenis verdampt was.

God kan ondoorgrondelijke dingen met ons doen
dankzij het feit dat hij niet bestaat

en zo kunnen ook ondoorgrondelijke dingen
worden beweerd dankzij het feit
dat ze nergens over gaan.

Sinds ik dit bedacht begrijp ik veel meer.

Het verlangen naar een sigaret is
het verlangen zelf.

 

© Rutger Kopland

 

Wanneer ‘n skrywer hom vererg …

Tuesday, August 25th, 2009
Alain de Botton

Alain de Botton

Alain de Botton is natuurlik bekend vir vele boeke, waaronder die lieflike The Art of Travel (Penguin, 2003). En elkeen van hulle is heel uniek in opset. So het hy byvoorbeeld vroeër vanjaar vir ‘n ruk voltyds sy intrek by die Heathrow-lughawe buite London geneem ten einde ‘n boek, wat later vanjaar beskikbaar gaan wees, te skryf oor die wel en wee van aankoms en vertrek. Enkele maande gelede was De Botton egter nog in die nuus na ‘n negatiewe resensie van sy boek Pleasures and Sorrows of Work in die New York Times verskyn het. De Botton is van mening dat die resensent, Caleb Crain, sy boek in die VSA met dié resensie “vermoor” het en het soos volg op Crain se webblad gereageer: “So that’s two years of work down the drain in one miserable 900 word review … I will hate you till the day I die and wish you nothing but ill will in every career move you make“.

Volg gerus die skakel na Caleb Crain se webblad en lees die voledige kommentaar. (De Botton s’n is vierdie van bo af.) Lees sommer ook die ander lesers se reaksie. Fassinerend. Maar ai, hoeveel skrywers sal nie al hul ou penne verrruil vir ‘n resensie in die New York Times nie … Selfs ‘n negatiewe een as dit moet. Maar nou ja, ‘n toon wat seer is, is ‘n toon wat seer is.

Dan is dit tog ook vreemd hoe dikwels die soet en die suur van die lewe langsmekaar op dieselfde bord beland. Soos gister, byvoorbeeld. Die soet was beslis Lucie Möller se debuut, Watermerke, wat in die boekwinkels gearriveer het; ‘n besonder afgeronde debuut met kragtige, natuurgerigte verse. (Maak seker dat jy die onderhoud lees wat Marlise Joubert met dié nuwelingdigter gevoer het.) Aan die hartseerkant het ons gister verneem dat Ilse van Staden se ma, die bekende kunstenaar Marcella de Boom, Sondagaand onverwags oorlede is. Enigiemand wat Ilse ken, weet hoe na sy en haar ma aan mekaar was en hoe absoluut tragies hierdie verlies vir haar moet wees. Ons innige simpatie, Ilse; ons dink aan jou in hierdie hartseertye.

Ten slotte herinner ons graag aan Vers & Klank vanaand om 22:00 op RSG. Daniel Hugo gaan dan sy onlangse vertalings van Rutger Kopland se verse voorlees. Gewis iets om na uit te sien.

Mag die son sag op jou skyn vandag; waar jy jou ook al mag bevind.

Mooi bly.

LE

Rutger Kopland 75 jaar oud!

Wednesday, August 5th, 2009
Rutger Kopland

Rutger Kopland

Gister het Rutger Kopland (pseudoniem vir Rutger Hendrik van den Hoofdakker), een van die reuse in wêrelddigkuns, sy 75ste verjaarsdag gevier. Kopland het in 1966 gedebuteer met Onder het vee. Daarna het nog vyftien digbundels gevolg, waarvan Toen ik dit zag (2008: Van Oorschot, Amsterdam) die mees onlangse is. In sy loopbaan het hy vele pryse verower, waaronder die VSB Poësieprys (1988) en die PC Hooft-prys (1988). Kopland, wat hom as psigiater bekwaam het, het hom deur die jare heen gevestig as een van Nederland se mees geliefde digters. Die onveranderlike in die mens se doen en late kan as sentrale motief van Kopland se digwerk beskou word. In vers na vers verset hy hom teen dit wat verbygaan, met die besef dat die mens telkens daarheen terugkeer langs ánder weë. Hierdie teenstrydigheid het hy self treffend saamgevat in ‘n aanhaling op Poetry International se webblad: “Everyone finds a lost paradise in my poetry, a longing for it. I don’t long for the past, I long for experience (…) and experience is new, now.” Net so het hy by geleentheid die teenstelling tussen die nostalgiese toon van sy verse en die nie-nostalgiese betekenis daarvan, beskryf as “memories of the unknown”, ’n uitspraak wat uiteindelik as titel vir Kopland se vertaalde gedigte in Engels gebruik sou word. (Lees gerus die inligtingstuk hier.)

Hieronder volg ’n vers uit die pen van hierdie meester, plus ‘n vertaling daarvan deur Daniel Hugo.

Dan is dit vir my besonder aangenaam om ’n nuwe toevoeging tot ons digkuns te verwelkom, naamlik Jelleke Wierenga met haar debuutbundel, Bloot mens” wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. By die eerste deurlees is dit veral die emotiewe lading van die verse en die besonderse gebruik van ironie wat ’n mens met ’n voorhamerslag tref. Ek vermoed dat ’n vergelyking met Jeanne Goosen se “Elders aan diens” en Ronelda S. Kamfer se “Noudat slapende honde” nie onvanpas is nie. (Maak seker dat jy ook die onderhoud lees wat met Jelleke gevoer is en hier op die webblad geplaas is.)

Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad.

LE

 

Oude vrouw met geiten

 

Zij komt terug, met een mand vol gras komt ze

op mij af tussen uitbundige bermen

om haar heen huppelen geiten

 

het is avond, in haar rug zijn de weiden nog

wit van de zomerse dag, zij is oud en klein

maar haar schaduw danst ver voor haar uit

 

zij is swart, om haar kousen, haar jurk,

haar hoedje, ligt een dun laagje licht

van de zon, het silhouet van het meisje

 

ja ze komt terug met zomers gras voor de geiten

 

 

© Rutger Kopland (uit: Verzamelde gedichten, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam.)

 

 

Ou vrou met bokke

 

Sy kom terug, met ‘n mandjie vol gras kom sy

op my af in die plesierige paadjie,

huppelende bokke om haar heen

 

dit is aand, agter haar is die weivelde nog

wit van die somerse dag, sy is oud en klein

maar haar skadu dans ver voor haar uit

 

sy dra swart, om haar kouse, haar rok,

haar hoedjie lê die son se dun

lagie lig, die silhoeët van die meisie

 

ja, sy kom terug met somerse gras vir die bokke

 

(Vertaling: Daniel Hugo) 

Poetry International ’n groot sukses

Wednesday, June 24th, 2009
Die fees der feeste

Die fees der feeste

De Volkskrant se Peter Swamborn berig dat die pasafgelope Poetry International te Rotterdam ‘n groot sukses was. Dit was naamlik die 40ste jaar waarin dié weeklange poësie-fees plaasgevind het en vanjaar is dit deur 5,500 besoekers bygewoon; aansienlik meer as verlede jaar se 3,400. Nog ‘n belangrike feit is dat geen toegangsgelde gevra word nie; besoekers lewer naamlik ‘n bydrae na gelang van wat ‘n bepaalde item vir hulle werd was. Op dié manier is daar vanjaar 7,850 euro ingevorder. Volgens die beriggewer was ‘n interessante toevoeging vanjaar die 70 studente van die Arnhemse Toneelskool wat gedigte vooraf gememoriseer het en dit dan in die oor van omstanders gefluister het. (Sjoe, wat ‘n briljante idee!) Nietemin, die hooffokus vanjaar was op die 75-jarige Rutger Kopland en sy gedigte wat deur digters uit Swede, Pole, Hongarye, Rusland, Frankryk, China en Australië voorgelees is in hul onderskeie tale. Ook die items wat gerig was op WH Auden en Jan Eijkelboom, het heelwat belangstelling uitgelok; eersgenoemde vanweë die nuwe vertaling wat in Nederland beskikbaar is en laasgenoemde vanweë sy afsterwe verlede jaar. Volgens die organiseerders was die bywoning van die minder bekende oorsese digters egter teleurstellend. ‘n Verdere klagte was gemik teen die parallellopende program wat gemaak het dat die besoekers nie ál die items kon bywoon nie. (De Volkskrant se volledige berig kan hier gelees word.)

Ter afsluiting wil ons jou aandag vestig op Jy het my as drenkeling herken, dr. Hans Ester se briljante artikel oor die korrespondensie tussen Elisabeth Eybers en Chris van Geel. Ook op die woelige gesprek wat onder aan Lucas Malan se artikel Die bruikleen-fenomeen oor intertekstualiteit ontstaan het.

En mag iemand vandag ‘n gedig in jóú oor fluister …

Mooi bly.

LE

  •