Posts Tagged ‘Rykie van Reenen’

Desmond Painter. Hennie Aucamp se Oor en weer geresenseer

Monday, July 19th, 2010
Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

My resensie van Hennie Aucamp se gebundelde onderhoude, Oor en weer, het vanoggend in Die Burger verskyn. Dit is bykans onmoontlik om hierdie of enige ander boekresensies op hulle webblaaie te vind; en die weergawe wat op die blogruimte Boekeblok verskyn is net ‘n massa woorde, sonder enige paragraafbreke… So ek plaas dit maar hier ook — dan kan die nie-Kapenare dit darem ook lees! Hierso is hy:

Onderhoude met allerlei “bekendes”, oppervlakkig gefokus op hul besittings, prestasies en dikwels banale (self-)insigte, word vir jare al soos kulturele kitskos deur populêre tydskrifte voorgesit. Afrikaanse tydskrifte is geen uitsondering nie. Gesprekke met glanspaartjies sorg vir beter verkope, en ’n skrywersonderhoud in só ’n publikasie dien as goeie ­bemarking vir ’n nuwe boek.

Tog kan deeglike, deurdagte onderhoude met kunstenaars, intellektuele en politieke figure fassinerende leesstof bied. Soos Aucamp tereg in sy inleiding tot hierdie bundel onderhoude aandui, die onderhoud kan as ’n “essay geskryf deur twee” gelees word. Dit is dus ’n literêre genre in eie reg, een met sy eie konvensies, moontlikhede, en voorbeelde van voortreflikheid.

Om sodanige voortreflikheid te ervaar, lees gerus Philip Roth se gesprekke met skrywers in Shop Talk: A Writer and His Colleagues and Their Work. Of Daniel Barenboim en Edward Said se gesprekke in Parallels and Paradoxes: Explorations in Music and Society. Ek noem ook die onderhoudbundels van Michel Foucault – ’n Franse filosoof wat die ­onderhoud ingespan het as ’n volwaardige ruimte vir die uitbou van sy idees, naas die boek, essay en artikel.

Naas literatore en ander skrywers vind ook ’n breër leserspubliek skrywersonderhoude dikwels insiggewend. Dink maar aan die goeie bywoning van openbare gesprekke met skrywers op kunste- en literêre feeste, of die gewildheid van Daniel Hugo se onderhoude met digters oor die radio. Behalwe dat sulke gesprekke die leser insigte gee in die leefwêrelde en verwysingsraamwerke van ’n bepaalde skrywer, verskaf die goeie onderhoud ook literêre genot. Hier ervaar die leser en luisteraar die woordkunstenaar immers direk aan die woord.

Wat vakkundige studie en publikasie in boekvorm betref, is die onderhoud as genre in Afrikaans (soos briefbundels en dagboeke) egter ’n literêre stiefkind. Dat Aucamp in hierdie verband as bydraer en bloemleser weereens betrokke is by die agterhaling en bestendiging van ’n genre in Afrikaans behoort niemand te verras nie. Hy is immers bekend daarvoor dat hy literêre stiefkinders onder die vlerk neem en grootmaak. En mooi grootmaak ook: Dink maar aan sy bloemlesings en sy eie gepubliseerde dagboeke.

In die inleiding tot Oor en weer skets Aucamp die stand van die genre bondig, maar bevredigend. Volgens hom is die onderhoud “waarskynlik een van die twintigste eeu se belangrikste bydraes tot sowel die joernalistiek en die letterkunde.” Ek sou wou byvoeg: ook tot die sosiale wetenskappe.

Aucamp verwys na publikasies soos Playboy en The Paris Review, bekend vir hulle onderhoude, maar sonder ook plaaslike hoogtepunte uit: Rykie van Reenen se onderhoud met Cliff Richard; Amanda Botha se onderhoud met Marlene Dietrich; André le Roux s’n met Karel Schoeman en Annesu de Vos.

Die leser moet in gedagte hou dat die oorspronklike plek van publikasie bepalend (en dikwels beperkend) was vir die vorm van die onderhoude wat in Oor en weer opgeneem is. Omdat baie van die stukke in dagblaaie verskyn het, is hulle relatief kort, en neig na die vraag-en-antwoord-formaat, eerder as wat hulle volledige tweegesprekke, of essays geskryf deur twee, kon word.

Ook in dagbladonderhoude is Aucamp gelukkig deurgaans deur uitstekende onderhoudvoerders bedien. Francois Smith kry dit byvoorbeeld reg, in ’n ­onderhoud wat in Die Burger verskyn het, om met sy intelligente, analitiese vrae iets tot stand te bring wat veel meer geword het as bloot promosiemateriaal vir die bundel In die vroegte, maar ’n stukkie kultuurteoretiese besinning in die klein. Sonder om aan toeganklikheid in te boet. Dieselfde geld onderhoudvoerders soos Herman Wasserman, Abraham H. de Vries en ander. Baie van hierdie onderhoudvoerders is literêr uitstekend onderlê en boonop deurwinterde joernaliste. Bygesê, Aucamp se vermoë om aforisties te skryf dra natuurlik ook by daartoe dat selfs kort onderhoude met genoegsame ideë- en taalinhoude gelaai word.

Van die 16 onderhoude het nie minder nie as 11 sedert 2000 verskyn, en slegs 2 voor 1995. In hierdie verband speel die internet ’n deurslaggewende rol. Veral LitNet moet genoem word, waar vyf van die onderhoude oorspronklik verskyn het. Die ­internet maak meer en langer onderhoude in Afrikaans weer moontlik, en dit is ’n positiewe ontwikkeling. Maar natuurlik, selfs materiaal wat op die internet verskyn, smeek om bestendiging in boekvorm.

Feitlik al Aucamp se kreatiewe uitinge word aangeroer: die kortverhaal, kabaret, gedigte, dagboeke en sy rol as bloemleser. Daar is ook interessante besinnings oor kwessies soos taal, seksualiteit en die ouderdom. Aucamp is ’n boeiende en vrygewige gespreksgenoot. Hierdie kwaliteite word in Oor en weer uitstekend vergestalt.

Johann Lodewyk Marais. Breytenbach en Opperman in die hof

Tuesday, September 15th, 2009

In 1977 het ek Breyten Breytenbach se tweede verhoor in die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria bygewoon. Ek en ‘n skoolvriend, Costa Georghiou, wat later ‘n diplomaat sou word en nou as politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Johannesburg verbonde is, was byna elke dag daar. Ons is selfs ‘n keer op die trappies van die gebou afgeneem en op SA Mirror/SA Spieël, die destydse nuusprogram wat in rolprentteaters vertoon is, getoon.

Die digter D.J. Opperman was lank siek weens lewerversaking, maar nadat hy wonderbaarlik herstel het, het hy onder meer na die noorde gereis en Breytenbach se hofsaak bygewoon. Ek het hom (baie maer, gedas en in ‘n pak klere) die eerste dag saam met sy aantreklike dogter, Diederi, in die deur van die hofsaal sien verskyn, terwyl ons gewag het vir die hofverrigtinge om te hervat. Hy het later by Rykie van Reenen in die persbank gaan sit en gesels en tot laat die middag gebly toe die hof vir die dag verdaag is. (As ek reg onthou, het die regspanne na die bande van die gesprekke tussen Breytenbach en die bewaarder, Lucky Groenewald (wat het van hom geword?), geluister.)

Die hofsaak is die volgende dag hervat. Dit was ‘n besondere geleentheid, wat my vandag nog hoendervel gee. Breytenbach is ingebring en het in die beskuldigdebank bly sit totdat regter W.G. Boshoff hom na die getuiebank geroep het. Breytenbach het opgestaan, na regs beweeg, verby die persbank waar joernaliste soos Rykie van Reenen en Martin Welz (van die faam van Breyten en die bewaarder (1977)) gesit het.

Opperman was weer tussen hulle. Toe Breytenbach by hom kom, het Opperman opgestaan, hom met sy maer hand ‘n handdruk gegee en waarskynlik sterkte toegewens vir wat voorlê. Daarna het Breytenbach na die beskuldigdebank gegaan waar hy die eed voor regter Boshoff afgelê en sy advokaat, Johann Kriegler, hom begin ondervra het. In die gehoor het mense soos Ampie Coetzee en John Miles gesit. Almal was bewus daarvan dat ‘n stuk geskiedenis besig was om te ontvou.

Daardie dag was die Afrikaanse poësie in solidariteit bymekaar.

  •