Posts Tagged ‘Satelliet Elizabeth Eybers’

Bernard Odendaal. “Satelliet”

Thursday, December 3rd, 2009

Satelliet

 

1        Kyk maar, die arme satelliet

2        kan nooit aan die planeet ontvlug

3        en wíl ook nie: wat sou sy doen

4        diep in die eindelose lug?

5        Op lyn geslaan deur swaartekrag

6        het sy ten minste nou ’n baan,

7        sy moet, as sy ’n systap waag,

8        onmiddellik te pletter slaan.

 

9        Daarom dat sy aandagtig tol

10      en nougeset afstand bewaar,

11      geoefen in die wakker rol

12      wat lig in stand hou teenoor swaar.

 

13      Sy lei, soos dit ’n maan betaam,

14      sy oseane heen en weer,

15      vir haar part kan die heelal vergaan

16      terwyl sy op hóm konsentreer.

 

17      Res net ’n skrefie filigraan

18      nuut noem hulle dit, maar ai, hoe oud

19      word sy by tye, klein en koud –

20      bly sy nog met hom in die weer.

 

  • Elisabeth Eybers

 

Eybers is een van Afrikaans se heel belangrikste digters. Sy was soos Van Wyk Louw een van die Dertigers en het, naas gedigversamelings en enkele ander publikasies, uiteindelik 21 digbundels die lig laat sien voordat sy op 92-jarige leeftyd op 1Desember 2007 in Amsterdam oorlede is. Merkwaardig is voorts dat sy in Nederland, waar sy sedert 1961 gewoon het, net soos in Suid-Afrika vereer is as groot kunstenaar. Beide lande het hulle hoogste literêre eerbewyse aan haar toegeken (byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Hertzogprys en die Nederlandse P.C. Hooft-prys).

Een van haar uitstaande bydraes tot die Afrikaanse poësie is die wyse waarop sy die stem van die vrou laat opklink het: eers as jong meisie en toe as volwassene, as jong getroude vrou, as moeder, as belewer van die trauma van huweliksvervreemding en egskeiding, as middeljarige en as bejaarde. Dikwels teken sy die vrou as emosioneel en droomomwaas, in teenstelling met die logiese rasionaliteit en saaklikheid van die man. Veral in haar vroeër poesie staan die vrou boonop in vrywillige afhanklikheid tot die man. Later sou ’n duideliker verset teen sodanige stand van verhoudings en teen die verdeling van rolle intree.

Van laasgenoemde is die gedig “Satelliet” uit die bundel Bestand (1982) ’n voorbeeld.

 

Vrae

1. Watter aanduidings kan u in die gedig vind dat daar (waarskynlik) van ’n vrou en ’n man sprake is?

Daar word van ‘n “sy” en ‘n “hy” gepraat (reëls3,6,7,9 ensovoorts).

2. Waar Eybers aanvanklik in die trant van die Dertigers hoofsaaklik direkte belydenisverse geskryf het, “ontwikkel haar verse (mettertyd) tot objektiewe beelding en beskouings van lewensmomente” (Nienaber, Roodt en Snyman, 1994:91) – hoewel ’n resensent soos Tim Huysamen (1983:34) in Eybers se bundels sedert Tussensang (1950) by Eybers ’n “terugkeer” bespeur “na die persoonlike, selfs belydenis-, poësie van haar vroegste bundels”, met “Satelliet” as eintlik die enigste “gestaltegedig” in Bestand. Verduidelik kortliks wat die sentrale beeld in die gedig is en sê ook waarvan dit ’n beeld is.

Die sentrale beeld is die van ’n maan wat as satelliet op ’n vaste baan om ’n planeet bly wentel, en slegs met katastrofiese gevolge daarvan kan losraak. Dit beeld die verhouding tussen man en vrou uit, waar die vrou in vrywillige (vergelyk reël3) afhanklikheid van die man as meerdere (vergelyk reël12) bly leef en haar na hom skik (strofe 4, byvoorbeeld).

3. Hoewel die vrou vrywillig afhanklik bly van die man, is sy tog steeds ’n soort gevangene van die verhouding. Haal woorde uit die gedig aan wat sodanige gevangenskap impliseer.

”[K]an nooit […] ontvlug […] nie” (reëls 2-3); “[o]p lyn geslaan” (reël 5); selfs “soos dit ’n maan betaam” (reel 13).

4. Is daar dalk aanduidings dat ’n ontsnapping aan die verhouding oorweeg is of word? Toon dit aan.

Ja. Dat die vraag ontstaan wat van die “satelliet” sou word indien sy van die planeet ontvlug, is ’n aanduiding dat so ’n ontvlugting oorweeg is (strofe 1). Eweso as daar in strofe 2 die opsie genoem word van ‘‘’n systap waag” van die vaste baan af. Wat haar weerhou daarvan om weg te breek, is taamlik negatiewe oorwegings: die vrees vir eensaamheid (reël 4) en vernietiging (reël 8). Sy is klaarblyklik nie juis positief aangetrokke tot die verhouding nie.

5. Het die spreker simpatie met die vrou (die “satelliet”)? Staaf u antwoord uit die gedig.

Ja, die woord “arme” in versreël 1 druk dit direk uit, asook die uitroep en die tekening van haar erbarmlike toestand in versreëls 18-19. Strofe 1 en versreëls 18-19 is ook die twee plekke in die gedig waar dit die duidelikste blyk dat dit eintlik om die uitbeelding van ’n menslike toestand gaan, en nie om die hemelliggame nie. Nog sterker as in die res van die gedig gryp die spreker in om sy/haar eie ingesteldheid te laat blyk. Dit het tot gevolg dat die beelding hier eintlik ’n bietjie oneg word, dat die metafoor nie heg ‘sluit’ nie. Die maan kan byvoorbeeld nie regtig “wíl” soos ’n mens nie (reël 3), net soos wat “nuut en “oud […] by tye, klein en koud” (reel 18-19) nie in alle opsigte ewe gemaklik op die vrou sowel as die maan van toepassing gemaak kan word nie.

Indirek blyk die simpatie van die spreker natuurlik ook uit die keuse van die sentrale beeld om die verhouding uit te druk. Dit is ‘n beeld wat onontkombare vasgevangenheid en onderworpenheid (wil) suggereer. H.C.T. Müller (1982:35) wys egter op nog ’n onoortuigendheid in die beelding in hierdie verband: “Daar is ’n mate van inbreuk op die fyn, veelduidige balans van die parallel in [reëls 15 en 16]. Dis of, gesien binne die vers as geheel, die menslike (vroulike) handelswyse te dominant word in die verhouding met die satelliet wat die rol van die metaforiese beelddraer aangeneem het.” Met ander woorde: Daar is iets teenstrydigs daarin dat die vasgevange en onderworpe vrou (en maan) vasbeslote en teen alle omringende kragte in blý fokus op die man (aarde). En, aansluitend by die kritiek op die beelding in reëls 3 en 18-19 hierbo: Die deur middel van personifikasie aangeduide optrede van die vrou oorskry hier té duidelik die grense van waartoe die (in werklikheid willose) maan in staat is.  

6. Hoewel nie openlike opstandigheid nie, is daar dus tog ’n duidelike toon van onvrede met die vrou se posisie in die man/vrou-ver houding wat uit die gedig spreek. Dis asof die spreker die leser wil konfronteer met ’n gegewe wat duidelik genoeg van ’n misstand spreek. Waaruit blyk die appèl op die leser se oordeel die duidelikste?

Uit die bevelsvorm (“Kyk maar”) en die retoriese vraag “wat sou sy doen / diep in die eindelose lug?”) in strofe 1. Die woord “maar” in die bevel het ongeveer die betekenis van “gerus”, waardeur die vanselfsprekendheid van die situasie soos verder in die gedig beskryf, onderstreep word. Die retoriese vraag rig nie slegs ’n appèl aan die leser om saam na te dink nie, maar impliseer eweneens die onontkombaarheid van die posisie waarin “die arme satelliet” haar bevind.

7. Die ondertoon van onvrede word ook duidelik gemaak deur die benutting van die dubbele implikasies van bepaalde woorde/uitdrukkings, in besonder deur die spel tussen letterlike en figuurlike betekenisse in die metaforiseringsproses. Gaan sodanige voorbeelde na en verklaar die verskillende implikasies. (Let terselfdertyd op die nuutmaking van sekere geykte uitdrukkings.)

  • “Op lyn geslaan deur swaartekrag” (reël 5) – letterlik: deur swaartekrag in ’n vaste baan gehou; figuurlik: deur konvensie (aangaande die huwelik?) gebind aan die man, in ’n ondergeskikte rol teenoor die van die oorheersende man geplaas.
  • “[H]et sy nou ten minste ’n baan” (reël 6) – letterlik: het die maan darem ’n vaste wentelbaan in plaas daarvan om koersloos deur die heelal te dryf; figuurlik: het die vrou darem ’n bepaalde plek en rol in die samelewing. (In Nederlands beteken om ‘n “baan” te hê ook om ’n betrekking/werk te hê.)
  •  “[A]s sy ’n systap waag” (reël 7) – letterlik: as die maan sou durf om van die wentelbaan af te wyk; figuurlik: as die vrou sou durf anders optree as wat die konvensie vir haar voorskryf, of ook as sy sou durf om uit die verhouding los te breek.
  • “[N]ougeset afstand bewaar” (reël 10) – letterlik: noukeurig in die wentelbaan bly; figuurlik: oppas om nie té intiem betrokke te raak by die man se aangeleenthede nie. (Straks ook wat betref hulle eie verhouding?)
  • “[G]eoefen in die wakker rol” (reël 11) – letterlik: bedrewe en bedag in die volg van die wentelbaan; figuurlik: al gewoond om haar te kwel (snags wakker te lê) oor hulle verhouding.
  • “[L]ig in stand hou teenoor swaar” (reël 12) – letterlik: die minder massale maan in sy baan hou om die groter planeet; figuurlik: die minder belangrike vrou ‘op haar plek hou’ in die verhouding met die belangriker man.
  • “Sy lei […] sy oseane heen en weer” (reël 13-14) – letterlik: die maan veroorsaak deur haar aantrekkingskrag dat daar verskillende getye ontstaan; figuurlik: soos wat daar van haar as vroulike wederhelf verwag kan word, sien sy om na sy verskillende behoeftes, of streel/stuur sy op vroulik slinkse manier sy gedagtes / gemoedstemminge in gunstige koerse.
  • “Res net ’n skerfie filigraan:” (reël 17) – letterlik: as net ’n fyn sekelmaantjie oorbly; figuurlik: as net ’n bietjie van haar vroulikheid/skoonheid oorbly. (Filigraan = “fyn edelsmeewerk, veral uit goud en silwer, met die voorkoms van kantwerk” – Odendal et al., 1994.)
  • “[B]ly sy nog met hom in die weer” (reël 20) – letterlik: bly die maan en die planeet mekaar se meteorologiese omstandighede beïnvloed; figuurlik: bly die vrou met die man besig wees. (Die uitdrukking “in die weer wees” beteken op en besig wees; kyk Barnes, s.d: 240.)

8. Verklaar wat die uitdrukking “hoe oud word sy by tye, klein en koud” (reël 18-19) aangaande die vrou se geestestoestand suggereer.

Dat haar ervaring van die verhouding tussen man en vrou soms net te veel vir haar word, haar lewenslus blus, haar vernederd en geestelik afgestomp laat voel.

9. Gaan die rymskema in die gedig na en probeer die funksionaliteit daarvan verklaar in terme van wat geïmpliseer word aangaande die vrou se ervaring van die huweliksverhouding.

Die basiese rympatroon is kruisrym, wat ’n besonder hegte rympatroon is. Dit is funksioneel om die onverbiddelikheid van die sosiale konvensies aangaande die huwelik en die rolle van man en vrou daarbinne te suggereer, asook die ervaring van vasgevangenheid binne hierdie konvensies deur die vrou.

Daar is egter ’n aantal afwykings op die rympatroon. In strofe 1 rym versreëls 1 en 3 nie. In strofe 2 is die rym tussen reëls 1 en 3 nie heeltemal vol nie, soos ook in strofe 4. In die slotstrofe is die afwyking selfs meer ingrypend, deurdat ons hier slegs paarrym van die twee binneste versreëls vind.

Al die afwykings kan as ’n soort sigbaarmaking van die ondertoon van onvrede (in die vroulike gemoed) oor die konvensies aangaande die huweliksverhouding gesien word, miskien selfs as tekenend van die wankele voet waarop die konvensionele beskouings oor die huweliksverhouding berus.

10. Verklaar hoekom die titel bloot “Satelliet” heet, en nie byvoorbeeld “Planeet en satelliet” nie.

Die vroulike ervaring van die huweliksverhouding staan in fokus, en nie soseer die man/vrou-verhouding self nie.

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat 

Bronnelys

Barnes, A.S.V. Sonder datum. Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, en ander uitdrukkinge. Tiende druk. Elsiesrivier: Nasou Beperk.

Huysamen, Tim. 1983. Eybers maak hier vrede met ’n hele lewe. Rapport, 30 Januarie:34.

Müller, H.C.T. 1982. “Weloorwoë, sonder nood of haas …” Buurman 13(2), Desember 1982/Januarie 1983:35.

Nienaber, P.J.; Roodt, PH.; en Snyman, N.J. (samestellers). 1994. Digters en Digkuns. Vyfde uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.

Odendal, F.F. (hoofred.); Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; Du Toit, S.J.; en Booysen, C.M. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Derde, hersiene, uitgebreide uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.

 

  •