Posts Tagged ‘Sean Else’

Jelleke Wierenga. Selfsensuur

Thursday, June 17th, 2010

Sal ek my woorde tel angsvallig
elke kleur vermy al kom kleur
nie alleen nie o Here gee
dat ek in géén woord verraai

dat ek stafies in my hart het
en kloppende keëltjies in my keel

mag lojale vlaggies uit my ore spruit
mag hulle sokker speel met my kop
mag dit deur alle grense skop
mag ek Verwoerd vloek.

O liewe Heer
wat’s fout met my?

Waarskynlik oorlaai deur ’n sekere desperaatheid het my selfsensor gefaal. Ek het die woord “rassegrens” gebruik in die stuk wat ek oor Charmaine C se dood geskryf het. Per implikasie, bewus of onbewus, het ek erken/beken/toegegee/laat glip dat dit nog ’n geldige begrip is en dat sodanige grens oorskry (kan) word en dat dit afkeurenswaardig is.

 

Só reken Annemarie van Niekerk in haar kommentaar onderaan die stuk.

 

Bevind ons ons weer in die era van sensuur waar geskrifte gesuiwer moet word van alle (moontlike) aanstootlikhede? Is politieke korrektheid die nuwe sensor, die boei aan die pen? Moet jy suutjies-suutjies skryf opdat die heilige kudde jou nie skuldig bevind aan rassistiese of seksistiese onreinheid in woord en denke nie? Sodat jy nie slagoffers – goedgekeurde slagoffers – êrens te na kom nie?

 

’n Mens wil dit van die dakke af skree: Ons is álmal slagoffers. Elkeen van ons. Nie net sekeres wat tydens ’n sekere bewind gely het nie. Elkeen van ons word te na gekom of voel ons beledig of gekrenk of in ons regte of menswaardigheid aangetas. Om te lewe, is om te ly. Om niemand aanstoot te gee nie, behoort jy nooit jou mond oop te maak nie.

 

Dit gee my aanstoot om vermaan te word: “… maar ons as woordmense behoort versigtiger met ons woorde om te gaan”.

 

Dit is smartlik om jouself buite die geïdealiseerde en ideale wêreld van geïntegreerde advertensies en gehomogeniseerde gemeenskappe te bevind. Om in ’n wêreld te leef waar daar nog altyd bodorpe en onderdorpe is, en ja, werklik, kleure en kleurgrense en verskillende rasse en volke en arm en ryk en dom en slim en maer en vet en lelik en mooi en man bo en vrou onder. ’n Wêreld van ongelykhede en teenstellings en onregverdighede en oordele en vooroordele.

 

Ek verstaan nie hoekom dit so is nie. Maar dit is so. Ek glo dit sal so wees tot die dag van die Apokalips. As ’n mens maak of dit nie so is nie, gaan dit weg?

 

Dis mooi en goed om aan vryheid, gelykheid en broederskap te glo, maar moet ander hul woorde in die dwangbuis van jou slagspreuk giet?

 

Wie het alleenreg op die waarheid? Vandag se waarheid is môre se leuen. Gister se heilige is vandag se ketter. Vandag se ketter is môre se heilige. Gister se verdrukkende apartheidsregime is vandag se verdrukkende apartheidsregime.

 

Om waar te neem en jou waarheid weer te gee, van watter kant van die spektrum ook al, in watter vorm ook al, is om te probeer sin maak van jou/die lewe. Soms word dit as kuns beskou. Deur die eeue was daar nog altyd wagters op die mure wat besluit het watter waarnemings aanvaarbaar is of nie, watter toegelaat mag word of nie.

 

Vandag se selfaangestelde wagters op die mure is die PK-polisie. Hulle is altyd waaksaam en aan diens om die oortreders van die één ontsmette, goedgekeurde weergawe van die “waarheid” uit te ruik en aan te tree.

 

Om te kwalifiseer vir dié onkreukbare posisie, neem ek aan, moet ’n mens jouself in die spieël bekyk het en baie tevrede gewees het met wat jy sien.

 

Maar hoe goed kyk jy as jy so goed is?

 

Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;


Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?

[Uittreksel uit “Ballade van die Bose”, N.P. van Wyk Louw]

 

Ek het ook die spieël gesien en my morele verontwaardiging ken geen perke nie. Dit trap my spoor soos ’n goeie hond: my onverdraagsaamheid, my verwaandheid, my selfsug, my venynighede, my eenogigheid … Ja, daar is ander dele ook, maar dit bied geen rede tot ’n groot gejubel onder die engeleskaar nie.

 

Sal ek my hond die blaf belet oor sy nie sondeloos is nie? Mag sy net op dié noot blaf en nie op dáárdie nie om by die melodie van die heersende psalm in te pas?

 

Ek los maar my hond om haar stukkie sondige bewussyn te blaf teen die volmaakte skyn van die heiligheid in.

 

—–

 

“Na die enorme kabaal oor die relatief ‘onskuldige’ Sewe dae by die Silbersteins het hy my vertel van sy groot vrees vir selfsensuur. Moes hy die heeltyd skryf terwyl hy wonder of dit of dat kan aanstoot gee, en vir watter lesers?” – Charles Malan oor Etienne Leroux

 

“Dis onmoontlik om te sê hoe sake vorentoe gaan ontwikkel; die geskiedenis het ’n interessante manier om tussen uiterstes te slinger. Wat wel gesê kan word, is dat ’n nuwe paradigma in Nederland ontwikkel het wat in die toekoms opnuut in ’n soort politieke korrektheid kan ontaard. Dié politieke korrektheid sal egter eerder regs en konserwatief wees as links.” – Leopold Scholtz

 

“Om gedurig polities korrek te wees spreek van lafhartigheid. Kyk die waarheid met al sy lelike gesigte reguit in die oё – en daarbinne sien jy dalk die seer en die mooi van menswees.” – Sean Else

 

De volledige debat op LitNet oor selfsensuur kan hier gelees word.

 

  •