Posts Tagged ‘Shell wildekus’

Susan Smith. hoe slaap jy ben van beurden

Friday, November 26th, 2021

 

hoe slaap jy ben van beurden

aan die hoof uitvoerende bestuurder van Royal Dutch Shell

namens die seelewe en waters van die Wildekus

 

hoe slaap jy

ben van beurden

hoe slaap jy in die haag

met die beuels van sterwende

walvisse wat deur jou drome

blaas hoe kussing

jy jou ore ben van beurden

teen die heroute van water

se priemende krete hoe voering

jy met glansbrokaat en digte fluweel

die aanslag van desibels die kolkende

skeurende nágolwe van angs die

uitmekaarruk van nietige

ongewerweldes van hompe walvis

van buike en vinne van dolfyne

die ontploffing van hoormembrane

wat oor duisende seemyle

tyd en plek en oorlewing moes navigeer

die klikke die gromme die polse die klappe

van onderwatertaal

 

hoe slaap jy ben

 

hoe slaap jy in die koninklike

nederlandse shell in die arms

van neokolonialisme jou olie

bedruip die handpalms

van gwede en trawante jou mond

blink by die feesmaal van konings-

garnale en kreef

 

hoe slaap jy ben van beurden

 

hoe slaap jy hoe vou jy

jou kinders toe

hoe sus jy jou kleinkinders

hoe lees jy vir hulle stories

oor die aarde wat eens

mooi was en héél

vóór jou

 

hoe slaap jy

 

hoe sit jy aan

by jou eie tafel

ben van beurden

met die liggaampies

van jou kinders netjies

in voorarmpies en boudjies

in magies en dytjies opgesny

verbros in ‘n sousie

 

dis immers jy

ben van beurden

wat die brood breek en eet

 

© Susan Smith, 2021

 

 

Teken die petisie teen Shell se beplande seismiese opnames aan die Wildekus hier:

https://www.change.org/p/shearwater-geoservices-shearwatergeo-and-shell-stop-blasting-the-wild-coast-our-voices-can-make-a-difference-and-put-an-end-to-shell-blasting-in-the-wild-coast?utm_source=share_petition&utm_medium=custom_url&recruited_by_id=21214010-2bdd-0130-926d-3c764e04873b&fbclid=IwAR0Qw15f1OfXuii1IqS-7AkPGK6x2XgK1J17xvLIPz4QD6Ty82qgGXDqJlk