Posts Tagged ‘Siamese tweelinge’

Leon Retief. Wanneer twee een bewussyn deel

Tuesday, November 16th, 2010

“…only one proposition about how the brain makes us conscious – how it gives rise to sensation, feeling, and subjectivity – has emerged unchallenged: We don’t have a clue.” (Alva Noë, filosoof en neuro-wetenskaplike, lid van die Institute of Cognitive and Brain Sciences aan die universiteit van Kalifornië, Berkeley).

Die neurobiologie van bewussyn (wat die Engelse “consciousness” noem) is ʼn fassinerende studieveld wat wetenskaplikes uit baie ander terreine gelok het. Francis Crick, (ʼn fisikus wat saam met James Watson die Nobelprys gewen het vir die ontrafeling van die struktuur van DNS, oorgeskakel het van molekulêre biologie na neuro-wetenskappe en tot sy dood in 2004 hard maar onsuksesvol probeer om die “neurale korrelate van bewussyn” te vind), Gerald Edelman wat ook die Nobelprys gekry het vir sy werk oor die struktuur van antiliggame en Sir Roger Penrose, waarskynlik die grootste lewende wiskundige van ons tyd, is slegs drie voorbeelde.

Net om darem ʼn definisie te hê sal ek Edelman, tans direkteur van neurobiologie by die Scripps Research Institute in San Diego se beskrywing aanvaar, naamlik (so ietwat oorvereenvoudig) dat bewussyn ʼn proses is en dat dit beteken dat iemand bewus is van sy bewustheid – en ook dat dit beteken dat mens bewus is van jouself as ʼn aparte, diskrete entiteit, iemand anders as jou ouers, sibbe of eggenoot/eggenote. Dit is hopelik ʼn sienswyse waarmee almal ten minste tot ʼn mate kan saamstem sonder om te veel oor fynere besonderhede te vit (of so hoop ek).

Ongelukkig moet ek sê dat ek met Noë saamstem – die hele kwessie is nog troebel en daar is geen lig aan die einde van die tonnel nie. Met die dat kwantumfisika deesdae baie in die mode is, veral onder New Ager’s en ander onkundiges, het verskeie sogenaamde teorieë oor die verwantskap tussen hierdie vertakking van fisika en breinfunksie die afgelope paar jaar die lig gesien – Deepak Chopra is een van die voorbokke ten spyte van die feit dat elkeen van sy uitsprake op hierdie gebied sy diepgaande onkunde oor sowel breinfisiologie as kwantumfisika openbaar.

Bogenoemde paragraaf ten spyt is dit egter nie onmoontlik dat kwantumfisika wel betrokke mag wees by bewussyn nie, aangesien dit wel ʼn rol speel by ten minste twee biologiese prosesse, te wete fotosintese en reukreseptore. Meeste lesers van Versindaba is waarskynlik bekend met kwantumfisika en dus sal ek nie uitbrei oor die eienaardighede van hierdie vertakking van fisika nie en slegs volstaan deur te noem dat Penrose en Stuart Hameroff, ʼn narkotiseur en direkteur van die Centre for Consciousness Studies aan die universiteit van Tucson in Arizona, ʼn kwantumteorie (of liewer ʼn hipotese) van bewussyn voorgestel het.

 

Penrose

Sir Roger Penrose

Stuart Hameroff

Stuart Hameroff

Een van die wonderlike dinge in die biologie is dat daar altyd ʼn spanner in die works gegooi word en in hierdie geval is daar sommer twee spanners. Hul name is Tatiana en Krista Hogan en hulle is op 25 Oktober 2006 in Vancouver gebore.

 

Die Hogan tweeling

Die Hogan tweeling

 

Soos die foto duidelik toon is Tatiana en Krista wat in Afrikaans bekend staan as ʼn Siamese  tweeling. Die aanvaarde Engelse term is “conjoined twins” – is daar dalk ʼn ekwivalente Afrikaanse woord? Indien wel sal ek graag wil hoor.

Terwyl Tatiana en Krista nie spekulasies oor die fisiologie van bewussyn sal beïnvloed nie mag dit wees dat die definisie van presies wat bewussyn wel is radikaal hersien sal moet word. Hulle is nie sommer ʼn gewone Siamese tweeling nie maar wat in Engels bekend staan as “craniopagus twins” – dalk ʼn kraniopage tweeling?

Kraniopage tweelinge deel ʼn skedel – op sig self niks besonder buitengewoon daaraan nie aangesien sulke tweelinge al lankal in die mediese literatuur beskryf is. Wat hulle wel buitengewoon maak is die feit dat daar ʼn brug is tussen hul talamusse, daardie deel van die brein wat sensoriese informasie prosesseer en na ander dele van die brein gelei.

Dit wil voorkom asof Tatiana en Krista deur mekaar se oë kan sien. Hulle deel nie ʼn gemeenskaplike gesigsveld nie maar wanneer ʼn voorwerp aan een van hulle gewys word kan die ander een dit akkuraat aanvat sonder om daarvoor rond te tas al is daardie voorwerp nie in haar visuele veld nie. Breinskanderings toon ook dat elkeen se brein seine van die ander een se visuele veld ontvang.

Tatiana en Krista se intellektuele ontwikkeling is tans nie soos wat mens by gemiddelde vierjariges verwag nie en selfs al was dit so sou dit moeilik wees om kleuters op hierdie jong ouderdom uit te vra oor dinge soos persoonlikheid en bewussyn. Hul ouers is wel beslis oor een ding: die tweeling is bewus van mekaar se gedagtes. Een van hulle sal byvoorbeeld uit die bloute aan die ander een sê “If you’re going to be mean to me I’m going to stop being nice” – sonder dat daar ʼn woord vooraf gewissel is of enigeen iets gedoen het wat so ʼn opmerking tot gevolg kan hê.

Mens moet uiteraard staatmaak op die ouers se sienswyse oor die tweeling se persoonlikhede – per slot van rekening is hulle die mense wat hul kinders die beste ken. Hulle is van mening dat hul dogters elkeen ʼn eie, diskrete persoonlikheid het. Ten spyte hiervan ontstaan die noodwendige vraag: as twee kinders mekaar se onuitgesproke gedagtes kan weet en eendag, wanneer hulle volwasse is, ook mekaar se diepste innerlikhede ken – wat gaan eendag ons definisie van bewussyn wees?

Ten laaste – ek moet my hoed afhaal vir Tatiana en Krista se ouers. Hul toestand is reeds voor geboorte diagnoseer maar hulle het verkies om nie ʼn aborsie te ondergaan nie. Terwyl ek self geen beswaar teen aborsie het nie kan ek hulle maar net admireer.

Mens moet natuurlik ook wonder hoe hierdie kinders eendag deur die lewe sal gaan. Siamese tweelinge is nog altyd beskou as freaks en dit gaan geen maklike reis deur hierdie ondermaanse wees nie. 

THE CONJOINED TWINS

We looked so lovely when, as girls, we wore
those fat, starched ribbons in our ponytails,
white matching pinafores of eyelet lace,
and coal-black patent leather boots. A pair
of beauties in cahoots, we whispered jokes,
then sang on stage in high, canary voices
our slow, plaintive duet, its innocent
refrain of love and never-lonesomeness.
They asked for autographs, the soft-voiced men
who stared with quivering hands and rheumy eyes,
and looked like they might gobble us.  We shared
that uncleaved slope of skin and bone, our pelvis-
to-pelvis perma-dance; like knotted gymnasts,
we shook and shimmied cute but double-wide
through doorways into spotlights with a smile
and dual curtsey, to applause, gasps.
Charmed by our pale parasols, they wept,
the wives, and whiskered gentlemen adored us,
but we yearned for the lion tamer’s boy.
We wrote him love notes on blue stationery.
He kept away from us until we lured
him close with mirrored blossoms, twenty fingers
to coax him toward our slim, carnivorous petals.
He tugged our manes and gentled us like felines.
We were a two-stemmed cherry made for sharing,
but he picked only one.  The smell of lions,
fur and fetid breath, would make us flinch,
but we stayed stalwart, played the melded darlings
until the end. Now our strange rest positions
remain a comfort underneath the sheets
these evenings as we hum ourselves to sleep.
Our joints are bad, our voices crack, we charm
no one at all.  The carnival has gone.
We stare out separate windows of the house,
and hold a single silence, drink our tea.
When we undress for bed, we speak no words,
dream riven dreams of sharp knives glittering.

– Joanna Pearson