Andries Bezuidenhout. Wynand op die vloer, Francois teen die muur
Monday, June 28th, 2010ʼn Kamer met ʼn parketvloer. Francois sit met kitaar en sing Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur”. Langs hom op die vloer lê ʼn kopie van Erfdeel – ʼn versamelbundel van al Koos du Plessis se lirieke en gedigte – asook Wynand, klaarblyklik dood of uitgepass.
Ek het baie van Johannes Kerkorrel se tribute aan Koos du Plessis gehou. Het Kerkorrel destyds die songs live gesien opvoer in Jargonelles in Brixton, Johannesburg.
Ek het ook baie van Battery 9 se weergawe van “Kouevuur” gehou. Het hulle dit live sien doen by Oppikoppi een Nuwejaar. Het begin dans – nog in my army boots – en nie opgehou tot vroeg die volgende oggend nie.
Dan is daar Gert Vlok Nel se afskeidslied aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand.” Ek het hom dit van agter my donkerbril hoor speel in ʼn tent – was dit Oppikoppi, Oudtshoorn?
En nou het Van Coke Kartel hierdie weergawe opgeneem en ʼn video daarvoor gemaak. Kyk dit hier.
Wynand Myburgh, Van Coke Kartel se baskitaarspeler, sê oor hulle weergawe van Skadu’s: “Ons vind aanklank by Koos se werk – en veral sy woorde. Ons het nog altyd van die song gehou en het gedink dit sal lekker werk met ʼn moderne klank.”
Oor die band se verwerking van Skadu’s sê Francois van Coke: “Die oorspronklike song is in ʼn majeur. Ons het dit na ʼn mineur verander want ons het gevind dit werk vir ons beter by die toon van die woorde.”
Ek hou ook baie daarvan en kan nie wag om te sien hoe hulle dit live doen nie.
Binnekort word ʼn versamelalbum van Koos du Plessis se musiek in Nederland uitgereik.
Wat is dit wat maak dat generasie op generasie steeds inspirasie vind in sy musiek?