Gert Rautenbach. Die eerste twaalf treë op Mars
Tuesday, August 4th, 2015Die ATKV het verlede jaar die vrugte van ‘n droom onthul wat jare aan die kom was.
1. Vroegherfs – NP van Wyk Louw
Ek dink die Here vlug elke keer as van Wyk Louw sy mond oopmaak – dis net instruksies vir God (en nie maklikes nie): O Heer, dat hierdie dae geheilig word.
Vroegherfs is so klassiek as wat dit kom in Afrikaanse digkuns – en dit kry hier die ballet-van-’n-sagte-wind behandeling. Die klassieke tapyt, ongetwyfeld die mooiste, maar dit voel soos die veilige keuse in die groep.
2. Bitterbessie dagbreek – Ingrid Jonker
Hierdie gedig is so bekend dat ‘n mens vergeet om oor die woorde te dink (wat ‘n fout is). Ek moes fokus op die beelde, want alles is ongelukkig dieselfde groen/bruin tekstuur waarin die detail moeilik gesien word – ‘n klomp fotospronge deur die…
dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed
Ingrid Jonker lees dit self.
3. Finis – Lina Spies
Jy het al die liedjies van my kindertyd weer in my laat sing.
Dit is waaragtig wat hierdie pragtige filmvers doen. Dis net ‘n kwas wat mooi sprei oor die doek, maar dis asemrowend! Soos ‘n saad wat saam met die woorde ontkiem in ‘n wonderlike blom.
4. Jy vra my hoe my eerste soen was – Danie Marais
Hier is gutzpah soos wat ek nog nooit gesien het nie. Geen stem wat die gedig lees nie. Om die waarheid te sê, geen gedig nie – net donker beelde van figure wat kom en gaan en raak en dan – in stilte, die woorde, lyn vir lyn, op die skerm:
met jou lang vingers oor my rug het jy
maklik maklik
ses jaar se depressie
sewe maer magtelose jare
uit my lewe uit gestreel
soos mens ‘n kreukel
uit ‘n hemp stryk
Alles onderstebo en agterstevoor – die beelde wat die gedig voorafgaan pak weliswaar ses jaar se depressie in twee minute – maar ek het sommer dadelik hoendervleis gekry.
Fortune favours the bold, sê hulle: hierdie animasie is reeds gekeur om gewys te word in die groot internasionale KROK fees in Rusland later vanjaar.
5. Belydenis van ‘n studentedigter – Loftus Marais
As Loftus Marais sy kaarte reg speel gaan hierdie drie minute hom die rock-ster van Afrikaanse digkuns maak. Dit is ‘n onweerstaanbare opstuur van studenteskryfsels wat in regte Cartoon Network styl gedoen word. Ongetwyfeld die crowd-pleaser van die klomp.
6. Visioen van ‘n lessenaar – Antjie Krog
Antjie Krog se ou staatmaker word gedoen met die woede maar sonder die woedende mens – net die arme lessenaar, tikmasjien, stoel en skryfbehoeftes wat die klappe moet vat.
7. Die skedel lag al huil die gesig – Wilma Stockenström
Van die twaalf gedigte hier, is hierdie een vir my die beste. Is dit nie die droom van enige kunstenaar op aarde nie: om een frase te skep wat menswees troos. Die skedel lag al huil die gesig. Wat ‘n gedagte. Mamma mia.
Verdien definitief sy eie filmvers.
8. What abou’ de lo – Adam Small
Margot Luyt het vir Adam Small gevra om hierdie gedig vir hulle oor die telefoon te lees – en uiteindelik is sy stem net so gebruik.
Baie jare terug het ek Small saam met sy seun sien optree op Oudtshoorn. Hy het begin deur vir die gehoor te sê dat daar geen grootsheid sonder stilte kan wees nie.
Dit is presies wat hierdie pragtige filmvers kommunikeer – eerder as op en af spring, is dit net iemand (een mens of twee – ek kan nie besluit nie) wat koffie maak en ‘n sigaret rook terwyl hy/sy na die gedig oor die radio luister…
9. Last grave at Dimbaza – Fanie Olivier
Hartseer verdra nie truuks nie. Om by hartseer uit te kom moet jy fokus. Hier is die een filmvers met genoeg van die regte goed om jou diep te roer. Dis die brief aan ‘n mynwerker wat die nuus breek dat sy baba (wat hy nog nie gesien het nie) oorlede is.
Alle eer aan Anna-Mart van der Merwe vir haar voordrag hiervan.
10. ‘n Gewone blou Maandagoggend – Ronelda Kamfer
Ronelda Kamfer se Maandagoggend – wat die banale met die horribale meng – is die grillerigste van die klomp. Haar eie droë traak-my-nie-agtige leesstem maak dit nog meer effektief.
11. Timotei Shampoo – Gert Vlok Nel
Ek is Gert Vlok Nel se grootste fan – maar hierdie filmvers, met twee film-modelle wat om die beurt na mekaar en weg van mekaar kyk – was vir my totaal pretensieus.
12. Ek sal sterf en na my vader gaan – Breyten Breytenbach
En dan Breyten – die staf van die lewe – wat sou ons sonder hom gedoen het?
Dit is weer die digter self wat dit lees met ‘n pragtige toonsetting van Laurinda Hofmeyr en ‘n minimalistiese animasie wat die vryheid van kleinheid seëvier.
Hallelujah.
Nou ja, dit was die eerste twaalf treë op Mars.
Praat ek snert? Het ek die kat aan die stert beet? Gaan kyk en besluit self.
Wie gaan die volgende twaalf treë gee?
Die goeie nuus is dat daar weer ‘n kans is. Die ATKV nooi voornemende kunstenaars wat belangstel na twee werkswinkels wat Filmverse 2 gaan afskop.
Gauteng – 14/15 September
Stellenbosch – 21/22 September
Vir enige navrae oor Filmverse, kontak Nita Cronje op nitac@atkv.org.za
©Gert Rautenbach / 2015
Gert Rautenbach is een van die produktiefste Afrikaanse bloggers op die internet en Versindaba het hom gevra om hierdie maand as gasblogger deel te neem aan die webblad. Hy skryf al vir meer as ‘n dekade lank oor die letterkunde, films, musiek, gedigte en kuns op sy persoonlike blog http://gertrautenbach.blogspot.com – en hy weier om op te gee. Gert het grootgeword in die Klein Karoo – op ‘n plaasskool skoolgegaan en as koshuisbrak in Pretoria gematrikuleer.. Blogging is sy droomwêreld, maar in die regte wêreld werk hy as ‘n IT projekbestuurder in Kaapstad. |