Posts Tagged ‘skilderkuns’

Bibi Slippers. Insig by die lig van ‘n swak skildery en ‘n mooi musiekvideo.

Tuesday, March 23rd, 2010

Dit was ‘n moeilike week in die wêreld van ‘n wordende digter…  soms voel leer meer soos teer-en-veer of sweer of skeur.  Kortom:  SEER.  Veral as dit om woorde gaan wat eenmaal êrens in jou vas was, wat die stories moet vertel wat uit jou eie vleis geruk is. 

Maar na die bloedbad, as die wonde skoongelek is en tyd in rowe oor die ergste gate kom kors, kom daar insig by die lig van ‘n swak skildery en ‘n mooi musiekvideo. 

  

 Die swak skildery is my eie, en ek weet presies hoekom die ding nie “sing” nie.  Daar is geen fokuspunt nie en daar gaan te veel verskillende goed in die skildery aan wat te hewig met mekaar kompeteer.   Daar is te veel teksture wat bots en heelwat lelike, onafgewerkte kolle.  Die gesteelde dele is nie goed in die oppervlak ingewerk nie, sit te los bo-op die doek. Party van die plaksels is onnodig, oorbodig, sekere dele slordig geskilder.  Dis maar morsig. Dit lyk baie soos een van my onlangse gedigte.   

As dit maar net vir my so maklik was om die foute in ‘n vrot gedig raak te sien.  My dosent bel om te troos en sê dit kom met oefening.  Ek probeer haar glo… onthou dan dat dit vier jaar onder ‘n ander dosent se vlerk gevat het voor ek geleer het dat mooi oomblikke met bietjie moeite en “…some clever cropping…” uit ‘n lelike skildery gered kan word.  Maak kleiner. Maak minder.  Moenie al jou grappe gelyk vertel nie.  Kortom: Edit.

 En weet: soms is dit regtig net die proses wat iets van waarde oplewer.

 

 

Dis alles waar vir gedigte ook.  Dit hoef nie so seer te wees om aan hulle te sny of heeltemal te skrap en net die mooiste bietjie van die maak-proses te hou nie.

Terwyl ek in my afte my gunsteling musiekvideo kyk om myself op te beur, besef ek dat hier ook iets is om te leer.  Hierdie keer gaan dit oor die alledaagse konteks, die eenvoudige milieu waarbinne al die toordery plaasvind.  Die bed bind die hele storietjie as eenheid saam en alhoewel die beelde oorspronklik en opwindend is, pas hulle perfek in binne die verwysingsraamwerk wat oorspronklik geskep is.  Dis nie nodig om so ver in die vreemde te gaan soek nie…  mens verdwaal te maklik daar in die donkerte van jou eie maaksels.       

Na dese kan ek opstaan uit die diep gat wat ek vir myself ge-dig het.  Ek weet daar sal nog klomp swak werk wees…  maar ten spyte van die flops is daar darem die vertroosting van onvoorwaardelike aanvaarding uit een of ander oord:  Na ‘n bietjie werk hang my lelike skildery in my ma se kamer – sy hou daarvan.  Daar is dus ook hoop vir my vrot verse.

  •