Posts Tagged ‘Skisofrenie’

Johann Lodewyk Marais. Wopko Jensma

Thursday, November 5th, 2009

Oor die jare heen het die Suid-Afrikaanse digter en grafiese kunstenaar Wopko Jensma (1939–1993?) vir hom ‘n plek in die geheue van talle mense in Suid-Afrika en in die buiteland verower. Gedurende die 1960’s en 1970’s het hy dosyne gedigte in literêre tydskrifte die lig laat sien, asook drie gepubliseerde digbundels met ‘n sterk sosiopolitieke bewussyn en getuienis van ‘n verwikkelde en gekwelde persoonlikheid. Daarbenewens het hy van die 1960’s tot die 1980’s verskeie (afdrukke van) kunswerke, boek- en omslagillustrasies gemaak en kunsuitstallings gehou. Omdat die meerderheid van sy gedigte in Engels geskryf is en hy meelewende en ondersteunende Engelstalige vriende gehad het wat hulle sterk met onder meer sy sosiopolitieke opvattings vereenselwig het, het veral Engelstalige skrywers en/of letterkundiges (soos Michael Gardiner) aandag aan sy werk gegee. Tog het die Afrikaanse literêre en kunsgemeenskap nie afsydig teenoor hom en sy werk gestaan nie, hom meermale in beskerming geneem en uiteindelik ‘n plek in toonaangewende Afrikaanstalige bloemlesings besorg.

Geskrifte oor Jensma sedert die 1990’s het baie aandag aan sy lewensverhaal gegee, maar ongelukkig ook mites oor hom die wêreld help instuur. Moontlik hou ‘n groot deel van die belangstelling met bespiegeling oor en ‘bekoring’ met sekere aspekte van sy lewe verband. Heelwat aandag is ook aan Jensma se sosiopolitieke opvattings en voorkeure as ‘n “white liberal voice” (Jacques Alvarez-Pereyre) gegee, wat inderdaad uit van sy gedigte afgelei kan word. Dit is ook gegrond op die standpunte wat Jensma by geleentheid in die media oor die tydgenootlike situasie in Suid-Afrika ingeneem het en die omstandighede van sy huwelik met ‘n Zoeloe-vrou in ‘n tyd toe die regering dit verbied het, hulle onstabiele huwelik en latere egskeiding. ‘n Ander faset wat in die geskrifte voorkom en bygedra het om hom tot ‘n enigma te verhef, is sy skisofrenie en laaste dae as ‘n boemelaar. Sy siektetoestand word oënskynlik in sy gedigte en kunswerke weerspieёl en het ook na alle waarskynlikheid met sy spoorlose verdwyning in 1993 verband gehou.

Uit ‘n boek-in-wording deur Leti Kleyn en Johann Lodewyk Marais

  •