Posts Tagged ‘skoppensboer Eugene N Marais’

Jaco Barnard-Naudé. Eksistensialisme in ‘Skoppensboer’

Wednesday, March 19th, 2014

Skoppensboer

I

‘n Druppel gal is in die soetste wyn;
‘n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ‘n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag,
is Skoppensboer.

II

Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.

III

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ‘n goue gloed;
die dagbreek op elk’ sagte wang
en oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.

IV

L’ENVOI

Gewis is alles net ‘n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ‘n lanferlap
wat selfs die son ‘n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid,
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!

Eugene N. Marais

Ek lees Marais se gedig as een van daardie konkrete gedigte waarin ‘n sterk filosofiese boodskap oorgedra word – ‘n filosofiese boodskap oor die mens se eksistensiële lot. Die gedig staan duidelik in die teken van Sartreaanse eksistensialisme soos verwoord in byvoorbeeld die novelle Nausea en in die beroemde Being and Nothingness. Sartre sien die menslike toestand en menslike vryheid as verstikkend. Nausea is die verhaal van Roquentin wat agterkom dat die wêreld om hom beperkend, dissiplinêr en onuithoudbaar is en dat hy hierdie wêreld slegs kan ontkom in die dood. In Being and Nothingness verkry die argument ‘n sterker sosiaal-Marxistiese dimensie: die geboorte tot samelewing bestaan in die oog van die Ander. Die Ander maak van my ‘n objek van sy projek en op hierdie manier vervreem die Ander my van myself en bepaal my as iets instede van iemand – wie ek is is uiteindelik ‘n funksie van die Ander se projek – hel is ander mense. Uit Heidegger neem Sartre die idee van die mens (Dasein) as wese gerig tot sy dood. Arendt sou later ‘n komplekse posisie teenoor beide hierdie denkers inneem – ‘n posisie wat steun op menslike nataliteit en die inisiatief van gesamentlike aksie – ‘n gerigtheid tot ‘n begin. Téén die eksistensialisme skryf Arendt gevolglik: ‘The life span of man running toward death would inevitably carry everything human to ruin and destruction if it were not for the faculty of interrupting it and beginning something new, a faculty which is inherent in action like an ever-present reminder that men, though they must die, are not born in order to die but in order to begin.’

‘Skoppensboer’ as eksistensiële gedig verweef elemente van die werk van bogenoemde denkers. Die gedig is in vier dele waarvan die eerste deel open met die bekende ‘’n Druppel gal is in die soetste wyn; ‘n traan is op elk’ vrolik snaar,’. Die fokus is hier op eksistensiële relativering, die feit dat daar in ons grootste oomblikke van geluk en blydskap ‘n besef van die verganklike is, die feit dat daar in alle geluk ‘n soort hartseer is. In sy laaste openbare onderhoud skryf Derrida hieroor as volg: ‘I am never more haunted by the necessity of dying than in moments of happiness and joy. To feel joy and to lament the specter of death, for me is the same thing. When I go over my life, I tend to think that I had the chance to love even the unhappy moments of my life, and to cherish them. Almost all, with almost no exception. When I think of the happy moments, I cherish them too, of course, at the same time that they guide me toward thoughts of death, toward death, because it’s over, finished.’ Soos Marais tereg opmerk aan die einde van die eerste deel van die gedig: ‘Die een wat deur die nag / ons pret beloer / en laaste lag / is Skoppensboer.’ (Skoppensboer hier natuurlik die dood, maar ook God. Hierdie kan dus gelees word as ‘n ironiese, wrang stelling dat God – die groot voyeur – in werklikheid ons aardse pret bederf deur ons gedurig aan die oomblik van ons heengaan te herinner.)

Hoewel die dood en die verganklikheid die uiteindelike troefkaart – skoppensboer – oor die mens hou / is, neem Marais in die tweede deel van die gedig die Shakesperiaanse posisie (uiteengesit in Sonnet 65) in, naamlik dat die woord al is wat die mens oorleef. Aardse besittings en rykdom vergaan deur ‘mot en roes’ (‘n beskrywing oorgeneem uit die Bybel), maar die woord is seker en staan vas. Soos Shakespeare dit stel:

‘[…] Where, alack,
Shall time’s best jewel from time’s chest lie hid?
Or what strong hand can hold his swift foot back?
Or who his spoil or beauty can forbid?
O none, unless this miracle have might,
That in black ink my love may still shine bright.’

Ooreenkomstig hierdie oortuiging argumenteer Arendt dat dit slegs in die woord is wat grootse menslike optrede en uitnemendheid stand hou teen die verloop van tyd: ‘Action reveals itself fully only to the storyteller, that is, to the backward glance of the historian, who indeed always knows better what it was about than the participants.’ Die woordkeuse ‘historian’ moet hier verstaan word as enige skrywer van stories, inlsuitend, natuurlik die digter. En ‘stories’ in die Arendtiaanse konteks is natuurlik nie beperk tot chronologiese narratiewe verloop nie, maar ondervang alle beskrywing van menslike belewing en die menslike toestand. Poësie is dus noodwendig hierdie rebellie teen die verweer en uitwissing van tyd.

In deel drie besin die digter verder oor die weerloosheid van die menslike vlees en oor die mens se onmag om die Noodlot te beheer: ‘oge vol van sterreprag / is weerloos teen sy groter mag’. In die vierde deel van die gedig bring L’Envoi ‘n meer opgewekte toon, hoop en selfs ontkenning van die vroeër insigte. Alles is ‘net ‘n grap’, dit is sinneloos om te treur oor ons menslike toestand en om eindeloos te mediteer oor die feit van ons verganklikheid. Die boodskap hier is dat dit beter is om hierdie lot te aanvaar en om daaroor te lag. Dit is die einste Arendt wat geskryf het dat om vir iets of iemand te lag altyd neerkom op ‘n uitdaging van die mag en gesag wat daardie ‘iets’ of ‘iemand’ oor jou probeer uitoefen. Die digter moedig ons aan om te lag vir die dood, om dit nie te vrees nie en om ‘die nag’ te leef terwyl ons nog hier is, om verganklikheid gelate te aanvaar. Dit is juis die feit dat ons saambestaan en ons samehorigheid, ons menslike verhoudinge en gesamentlike optrede, wat van ‘heel die winter blomtyd maak’. Tog is daar in die poging om die lewe as ‘n ‘komedie’ voor te stel steeds ‘n tragiek: ons is ‘geblinddoek met ‘n lamfer-lap’. Die wrang opgewekte luim van die slot gee aan die gedig ‘n soort groteske lading, ‘n versteurdheid, iets soos die grynsende, geraamte-mombakkies waarmee die Dood konvensioneel esteties verpersoonlik word.