Posts Tagged ‘Smee Gerhard Barkhuizen’

Resensie: “Smee” (Gerhard Barkhuizen)

Thursday, February 24th, 2022

 

 

 

 

Smee deur Gerhard Barkhuizen. Turksvy Publikasies, 2021.

Resensie: Stefan van Zyl

 

Smee is die debuutdigbundel van die visuele kunstenaar en afgetrede sielkundige dr. Gerhard Barkhuizen. Die bundel is ʼn uitvloeisel van sy MA in Kreatiewe Skryfkuns wat hy in 2017 aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van prof. Joan Hambidge voltooi het. Die titel, tesame met die voorbladontwerp, is redelik selfverklarend en verwys in die eerste instansie na die handeling waar metale in ʼn gloeiende warm toestand aanmekaargeslaan of gesweis word. Benewens dié letterlike betekenis, roep die woord ook figuurlike betekenisse soos die smee van bande of nuwe woorde op. Dit kan ook verwys na die ontwerpproses wat hier uiters toepaslik is. Die motto voorin die bundel is ʼn aanhaling van die veelweter dr. Patricia “Robin” Woodruff:

In poetry we pare down our thoughts into their most
graceful shapes, like minimalist sculptures.

Reeds met hierdie aanhaling word die leser georiënteer ten opsigte van die interdissiplinêre en intertekstuele aard van die bundel. Die verbandlegging tussen die literêre en die visuele in die aanhaling is voorts tekenend van die (outo)ekfrastiese aard van heelwat van die verse in die bundel, en dit sluit ook aan by die titel waar woord en beeld in die bundel saamgesmee word. Ekfrastiese verse word in reaksie op visuele kunswerke geskryf. Outoëkfrastiese verse verwys na verse wat ʼn digter in reaksie op sy eie visuele kunswerke skryf. By Barkhuizen vind die proses volgens hom ook andersom plaas waar die woorde eerste kom en daarna die maak van ʼn kunswerk.

Dit is interessant dat die verse in Barkhuizen se MA-portefeulje wel in sinvolle afdelings ingedeel is, maar die 77 verse in die uiteindelike bundel nie. Lesers sou myns insiens wel by sodanige indeling kon baat omdat ek die indruk gekry het dat die verse in die bundel redelik lukraak gerangskik is wat eerder ʼn gevoel van fragmentering as van samesmelting gee. Die digter versterk eintlik hierdie indruk self in die volgende ars poëtiese vers:

Ars poetica (p. 11)

Fragmente uitgesoek: sny,
slypskuur en buig om in te pas
vir die opstel en oplyn
met klampe en magneet.
Die vullerpen skraap blitse
oor die metaalblad.
Voorloper vir die boogvlam
wat knetter, mik en tref.
Deeltjies versigtig gefuseer
teen smelthoë temperatuur:
ʼn growwe silhoeët
rus op die afkoelblad.
Eenkant vir nog ʼn laaste vyl
voorlopig tot gietsel afgepoets.

Benewens die (outo)ekfrastiese verse, wat ʼn onderskeidende kenmerk van die bundel is, is daar ʼn uitermatige verskeidenheid verssoorte, naamlik liefdesverse, opdragverse, reisverse, natuurverse, verse oor prosesse (droog van vrugte, sweiswerk, waterwys, tempering, gietwerk, smeewerk), verse as kind, ouer en grootouer, verse wat die sielkunde en filosofie betrek, intertekstuele verse met musiek en film as inspirasie, betrokke verse, verse oor maatskaplike kwessies in Suid-Afrika, sportverse, oorlogverse, verse oor die dood en selfreflektiewe verse.

Elk van die vyftien outoëkfrastiese verse gaan gepaard met foto’s van die digter se eie kunswerke (beeldhouwerke, metaalwerke, skilderye, linosneë) en die titel van elke vers is ook dieselfde as dié van die betrokke kunswerk. Die foto’s is simulakra van die kunswerke omdat dit slegs beelde is sonder die substansie of eienskappe van die oorspronklike kunswerke. Die ekfrastiese verse kan voorts beskou word as geskrewe simulakra wat selfs verder van die oorspronklike kunswerk beweeg deur middel van die digter se poëtiese beskrywing en interpretasie daarvan. Die outoëkfrastiese vers “Primaat” (p. 81) is ʼn goeie voorbeeld van die manier waarop die digter die ontstaan van die kunswerk, wat hyself geskep het, beskryf en dan dié beskrywing transendeer met ʼn interpretasie gesteun deur, onder meer, personifikasie:

 

Primaat (2014)

 

Primaat

Tweegesprek in ons werkkamer.
Jy, stadig aan die vorm,
eers uit ’n rowwe tekening,
dan uit vierkant yster.
Simmetriese dolosse,
geskuurslyp, saamgesmelt
in ’n ontvleesde graat.
Ontdaan van spraak
heg jou dun, sterk lyf
aan twee ploegskare:
jou bekken geanker
op die werkblad
waar sweisvlamme om ons dans.
Skedelloos, geen kopknik,
huil of bloos nie.
Net die skyn van insig
in slierte doringdraad,
kartelend deur die hol gewrig.
Geen impuls
ooit
om woorde
oop te breek.

Daar is ook ander ekfrastiese verse in die bundel soos byvoorbeeld “Poet under a tree” (p. 10) geïnspireer deur die self-opgeleide Amerikaanse surrealis, popskilderkunstenaar en beeldhouer Ernst Trova se beeld Poet sitting by a tree (1973), “Meervoudig” (p. 25) wat handel oor Johannes Vermeer se skildery Meisie met die pêreloorbel, “Vrysetting” (p. 60) gebaseer op ʼn 1945-skets van Georg Tauber oor die hangpaalmartelmetode wat in die Dachau-konsentrasiekamp toegepas is en “Strandbeest” (p. 82) wat verwys na die bekende gelyknamige visuele kunswerk deur die Nederlandse kunstenaar Theo Jansen.

Benewens die intertekstuele refleksies op die werke van ander visuele kunstenaars, is daar ook heelwat verwysings na musiek, byvoorbeeld “Sunrise, sunset” uit Fiddler on the roof in “Opgemerk” (p. 18), “Losing my religion” van R.E.M. in “Soeklig” (p. 37), “Me and Bobby McGee” van Kris Kristofferson in “Verhuising” (p. 54) en “Like a rolling stone” van Bob Dylan in “Denominasie” (p. 56).

Een van my gunstelingverse in die bundel is die opdragvers vir Boerneef wat herinner aan sy beatnik-verse (meer spesifiek “Varkleerbaadjie en klinknaelbroek” uit Mallemole (1962)) waarin die stadsjapie (oftewel die sogenaamde “nuwe volksmens” soos Hennie Aucamp daarna verwys het) teen die tradisionele dorpsjapie afgespeel word:

Nuwe orde (p. 59)

Vir Boerneef

Tekstielgeharnas, dubbelgestikte jeans,
die metroman met sy tweedagbaard
ontsluit die landgoedhek elektronies;
ontsnapte uit die tralies en die draad.
Vir avontuur, ongegrimeer agterop,
styfgepantserde geenontwerperpop.
Vroegdaggrondpad op ʼn knorgalop –
haltertrek by die eerste koffiestop,
vars geperkuleer en onlangs ingevoer.
Donkerbriloë skreef teen die son, loer
onder die handskoen, beplan nog ʼn skof.
Tweewielskadu skuif verby in Karoostof,
flikker geflenter aan rye soetdoring.
GoPro ontsluit dié avontuur se kroning.

Hierdie vers sluit aan by die talle reisverse in die bundel waarvan ʼn hele aantal deur Frankryk geïnspireer is. Barkhuizen het ook in 2019 vir twee maande in ʼn studio van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir die Visuele Kunste (SANAVA) in die bekende Cité Internationale des Arts in Parys, Frankryk deurgebring.

Politieke en maatskaplike kwessies soos radikale ekonomiese transformasie en geweld teen kinders kom ook in die bundel aan bod:

Grondwet vir kinders (p. 39)

Die Kinderwet en regulasies,
opgedateer 2013
(oorspronklik Wet 38 van 2005).
Kompak, sewehonderd drie-en-twintig bladsye,
daarnaas ʼn dataskyf, ewe bondig.

Doelwitte:

  • promovering, preservering, versterking:
    familiebande;
  • effektering: konstitusie van ʼn kind


Betreffende die Republiek se obligasie rakende kinders:
       voorsiening en versterking van gemeenskapstrukture;
beskerming aan kinders teen allerlei gevare;
herkenning en erkenning van behoeftes en gebreke
met die klem op algemene groei en ontwikkeling.

Op straat: konstante dikker bundels,
koerante, dag vir dag,
veral oor naweke,
weerlê die regsbeginsels
in banale foto’s van vergrype.

Resolusies snags in stegies ontbind,
artikels en rubrieke gewy aan onreg.
Die Konvensie van Den Haag
aand vir aand verkrag.

Uit hoofde van Barkhuizen se werk as sielkundige is daar ook verwysings na sielkundiges soos Rorschach, Freud, Jung en Frankl sowel as selfreflektiewe verse. Een van die treffendste selfreflektiewe herinneringsverse is “Kinders van die wêreld” (p. 27) wat na die bekende ensiklopediereeks gepubliseer in 1962 verwys:

Kinders van die wêreld

Hy kuier by onbekende kinders
veilig binne blou buiteblaaie:
in ʼn igloe, tent, houthut of skuur.
Laatnag blink die vreemde stat
se kospotte en diere om die vuur
in die flitskol onder sy kombers.
En wanneer almal slaap
is hy bewapen om in die klas
die slingervel of langspies
te lanseer. ʼn Uitklophou
vir almal wat hom onderskat.

Die meeste verse in die bundel is oorwegend vrye verse. Daar is wel ook ʼn paar goedgeskrewe kwatryne, soos byvoorbeeld “Droogbaan” (p. 2), “Kwatryne” (p. 91) en “Albasterspel: Karas” (p. 93). ʼn Interessante stilistiese verskynsel is die gebruik van die ampersand (à la Johann de Lange) in enkele verse: “Praatsiek” (p. 73), “Emotikon” (p. 79) en “Strandbeest” (p. 82). In “Emotikon” kan die argument gevoer word dat die vers oor simbole handel en daarom toepaslik is, maar wat die ander twee verse betref, is die betekenis onduidelik.

Smee kan gelees word as ʼn eerlike literêre en visuele versmelting van die verskillende sfere waarin die digter hom bevind. As woordsmid-kurator het Gerhard Barkhuizen daarin geslaag om sy veelkantige belewing van die wêreld op verdienstelike wyse ten toon te stel in ʼn aanskoulike bundel met die verse en vyftien kleurafdrukke van sy kunswerke op glanspapier gedruk.

Luister gerushierna voorlesings uit die bundel deur die digter self.

RSG-onderhoud met Gerhard Barkhuizen

Wednesday, January 26th, 2022
Daar is onlangs ‘n onderhoud met digter Gerhard Barkhuizen op RSG gevoer oor sy nuwe bundel Smee. Luister by die onderstaande skakel na die Potgooi: