Posts Tagged ‘sonnet’

Pieter Hugo. Die geboorte van ‘n middeljarige digter

Friday, March 12th, 2010

Dit is geen geheim nie. Van die 22 digters in Nuwe Stemme 4 is ek by verre die oudste. Ek word binnekort 50. Ek vind dit natuurlik baie vleiend dat daar so mildelik gepraat word van die ‘jong’ digters wat met Nuwe Stemme 4 gedebuteer het. Al weet ek daar word eintlik bedoel ons is jonk in die digterskap.

 

Dit is ook geen geheim dat Daniel Hugo my broer is nie. En dat hy in die vroeë 1980’s al gedebuteer het en intussen vele digbundels op sy kerfstok het. Die logiese vraag is natuurlik hoekom ek nou eers digterlik ontwaak?

 

Soos die meeste van ons seker, het ek wel op skool al ‘n paar gedigte geskryf, maar vandat my broer ‘n erkende digter geword het, het ek in ‘n digterlik geinhibeerde hibernasie van dekades gegaan. As ek wel nou en dan iets poeties gepleeg het, het dit net by volkskwatryne gebly. As ek waagmoedig was, dalk ‘n  limeriek.

 

Tot ‘n paar jaar gelede. My seun George, toe nog op hoërskool, het gereeld liedjies geskryf en met ghitaarbegeleiding vir ons gesing. Een aand sit en speel hy ‘n wonderlike nuwe melodie waarvoor hy nog nie lirieke het nie. Ek gryp ‘n pen en probeer woorde skryf vir sy song. Die resultaat was ‘n dramatiese flop. Iets soos: Vervlietend geel / het jou lippe my gestreel / dalk ‘n sweempie groen / agter jou soen? Die res was nog erger.

 

Ek het wel later gedink daar is moontlikheid in die “vervlietend geel”, sodat, toe ek ‘n week of wat later vir ‘n naweek by my broer gaan kuier, ek die geel gemors onder sy oe gedruk het. Hy het dit natuurlik as die gemors gesien wat dit was, maar die kans benut om my, weereens, te probeer inspireer om my hand te waag aan iets anders as volkskwatryne en limirieke.   

 

Of dit al die goeie wyn of die meesterlike broederlike leiding was, weet ek nie, maar daardie naweek in September 2004 was die keerpunt in my ontwikkeling van kwatrynrymelaar na digter. Dit het my eerste sonnet (Woordstof) geïnspireer. Daarna het ek ‘n swoegende jaar en ‘n half geskryf aan 15 sonnette in ‘n sonnettekroon, waar die laaste reël van die eerste sonnet gebruik word as die eerste reël van die tweede sonnet, ensovoorts. Die 15de sonnet, die pêrel in die kroon, bestaan in sy geheel uit die eerste reëls van elk van die vorige 14. Tussendeur het ek natuurlik baie ander gedigte ook geskryf.  

 

Toe George ‘n paar jaar later met een van sy gereelde ‘ghitaarbesoeke’ dáárdie melodie speel, steeds sonder woorde, spring ‘vervlietend geel’ weer in my kop. Die uiteindelike resultaat, na baie skuur en skaaf, is weliswaar nie lirieke vir ‘n song nie, maar tog wel ‘n heel gawe gedig (Kuns van die lewe).

 

Die ironie is dat die enigste van my gedigte wat George wel as lirieke gebruik, van my ou volkskwatryne is. Hulle werk perfek as blues songs!

 

 

 

Woordstof

 

Ek kuier lekker by my oudste broer

oor ‘n droomdis van vis en baie wyn.

Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:

enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

 

“Skryf ‘n sonnet. Dan is jy ‘n digter!”

daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,

maar kry net kwatryne. So breek die dag:

kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

 

Ons luister radionuus; ons lees koerant,

Ons sink weg, verdrink in die alfabet!

Ek stofsuig alles op, van A tot Z,

die ganse woordgemors, van hoek tot kant,

 

maar die suier verstop letterlik. Met

die skud verskyn figuurlik: dié sonnet.

                                               

 

 

Die kuns van die lewe

 

Gesien in sy geheel

is ons beraamde lewe

maar ’n enkele oogwink,

vlietend verbeel:

 

’n Verruklike geel . . .

Ons het ’n Van Gogh moment,

koringland, kraaie en wind,

vlugtig gedeel.

 

’n Glimlag wat byna speel . . .

Ek het vir ’n ewige oomblik,

soos Da Vinci van Lisa,

jou wese gesteel.

 

’n Skreeu, diep uit die keel . . .

Straks word ek, grafies versteen

in Munch se mono-angs,

die laaste toneel.

 

  •