Posts Tagged ‘Sophie Ward’

Jelleke Wierenga. Op safari

Thursday, June 10th, 2010

So is jy op safari deur die eter, half bevrore in ’n appelkooskleurige T-hemp met ’n soort gebreide knoppiestekstuur wat jy nog wil weggee, maar nog steeds dra. Jy het dit in ’n oomblik van algehele gebrek aan selfinsig gekoop. Sulke oomblikke is nie skaars nie. Jy dra dit weens jou onuitroeibare selfvernietigingsdrang.

Jou swerftog onderbreek jy met stormlope na buite, waar jy bose oog ná bose oog werp na die buurman se werf. Jou telepatiese moordorgieë het geen uitwerking nie, nie alleen weens die gebrek aan ’n weerligstraal op jou voorhoof nie, maar ook gestuit deur die onafwendbare lyding wat jy vooraf uitverkies is om te ondergaan. Die masjiene gaan rustig voort om die lug te vermoor.

Om aan een van die mees onderskatte siektes van die 21ste eeu te ly, is om aan die teëls in die badkamer te verduidelik dat jy reken ’n sekere mengsel van geel en groen is ’n onaanneemlike kleur. Wat is ’n sensitiewe oor nou, in die konteks van die heiligheid van alle dinge, à la Allen Ginsburg.

Mense dink dis oulik dat jy aan pienk oorpluise verslaaf is, ter wille van oorlewing. Ha-ha, die grap van ’n ander se pyn.

Heilig is die houtskaafmasjien
heilig die elektriese ywer
die teëlsnymasjien die angelgrouer
die keelgesang heilig
die rukkende liggaam
heilig hostel heilig Roth
heilig Tarantino heilig
die selfoontoon o
heilig KaEfEm en
die bevrore groen ertjies
die supermark waar inkopers
nie onheilig behoort te gil nie
heilig die bulk van die bekke
die vuvuzelas van die honde heilig
bokker die sokker
it is here o heilige Here
heilig alle uitlaatpypende
motorfietse die geheiligde handel
vragmonsters heilig heilig
verkragting heilig heilig heilig
heilig

Die swerftog … jy wil meer weet oor Aart van der Leeuw, skrywer van De kleine Rudolf. Dis ’n klassieker (soos die Hollanders sê) wat jy ter hand geneem het uit jou boekrak, om geen rede nie. Maar nou blyk dit dat die lewe nie redeloos is nie, hoewel reddeloos, want jy ontdek ’n aanhaling van Van der Leeuw onder “Quotes for a weekly end”: “The mystery of life is not a problem to be solved but a reality to be experienced.” Hy het dit waarskynlik in goeie Nederlands geuiter. Jy peins: Hoekom kon jy nog nooit die wyshede van gesegdes uitleef nie? Dis tog so eenvoudig.

Lukraak kies jy ’n onlangs geposte blog genaamd “Yes it is empty but with such fullness”. Jy frons oor die vermiste komma ná “Yes”. Ja, weinig gun die komma nog sy korrekte funksie. ’n Tirade oor die verkeerdom-komma van “’n” volg eersdaags.

So ontdek jy die rolprent Waking life, wat die vraag stel of ons slaapwandel in ons wakker staat of wakker wandel deur ons drome. Terstond voeg jy die DVS by jou wenslysie op Loot. Hoe lank wonder jy nie al of jy wakker is of droom nie. Jy verwag geen antwoorde nie, maar teorieë is interessant en verdryf tyd.

En so kom jy af op die “big long open gash” van Sophie die gesofistikeerde model. (Sies vir dié met vuil gedagtes.) Jy ontdek die liewe en mooi kind se diep gedagtes. Sy is fenomenaal lewensgeleerd vir ’n vyf-en-twintigjarige. Jy ontdek dat sy ’n suster genaamd Gemma Ward het, wat blykbaar ’n fameuse ding is om te hê. Tipies jou tydskrif- en TV-lose ignoramus wat haar prada in Pep Stores gaan soek, het jy nog nooit van dié juweel van ’n suster gehoor nie.

Hierdie mooi Sophie blyk geen familie van Roald Dahl te wees nie – sover bekend het sy ook nog nie saam met ’n sagmoedige reus by koningin Elizabeth II gaan ontbyt nuttig nie. Maar sy kan !spel! – hoe gelukkig kan ’n mens nie op ’n oorverdowende Maandag wees nie. Sy kan skryf, pittig en skerp. Ene Tom Sadowski stem saam, en dis ’n aanbeveling. Ek’s hoeka lief vir Joodse en/of Poolse ouens met snaakse neuse wie se van op -ski eindig, soos Jerzy Kosinski.

Sophie is stigter, president en kreatiewe direkteur van Paper Castle Press. (Die prentjie daarby laat jou kop in die hande kreun omdat jy in die eeu van onbaldadige Bauhaus gebore is.) Uit haar pen verskyn eersdaags The Ginger Marmalade Toastmeister, ’n geïllustreerde kinderverhaal oor ’n gewilde en geurige kat, die Toastmeister, wat ’n sukkelende vlakvark ontmoet en sy/haar lewe transformeer. Dis ’n boek wat ek net eenvoudig móét besit, want ek identifiseer só met sukkelende vlakvarke en het só ’n respek vir die dodelike selfversekering van katte.

Danksy de kleine Rudolf het ek die lange Sophie ontdek. Maak kennis met die meisie se sofistery hier:

http://papercastlepress.com/blog/

Gelukkig kan ’n mens nog bedags lees met pienk oorpluise in jou ore, hoewel dit jou om die een of ander rede erg beduiweld laat.

  •