Posts Tagged ‘Speech therapy’

Alwyn Roux. Leesverslag: Spraakterapie/Speech therapy (2021), ʼn selfpublikasie

Monday, August 16th, 2021

 

 

 

Spraakterapie/Speech therapy deur Hanta Henning, Poetree Publications, 2021.

Ek deins altyd terug wanneer dit kom by digbundels wat self gepubliseer is. Mens wonder waarom die digter besluit het om nie by ʼn uitgewer aan te klop nie.

Vir die doeleindes van ‘n kreatiewe skryfkunswerkswinkel by Unisa het ek onlangs die digteres Nkateko Masinga uitgenooi om met my studente te kom gesels. Een van die redes wat sy aanvoer waarom sy self gepubliseer het, is om nie deur enigiemand gesensor te word nie. Sy voer aan dat jy jou sê kan sê op ʼn wyse waarop jy dit wil sê. Dié gesprek het verder gelei tot die vraag na die oorbruging van die kloof tussen ‘n selfgepubliseerde werk en dié by hoofstroomuitgewerye. Myns insiens is dit juis die verwagting van die leser wat anders daar uitsien – van ʼn selfgepubliseerde werk verwag jy nie dat die kwaliteit noodwendig op dieselfde vlak gaan wees as dié van ʼn professionele uitgewersmaatskappy nie.

Die digter en akademikus Hanta Henning se debuutbundel, getiteld Spraakterapie/Speech Therapy (2021) het onlangs op my tafel geland. Henning het haar bundel laat uitgee met behulp van Poetree Publications onder die redaksie van Flow Wellington. Wellington se maatskappy word op die internet beskryf as “one of South Africa’s leading female-, black-owned, independent self-publishing companies that offer writers affordable, tailored packages to create high-quality literary products”. Ander publikasies by Poetree Publications sluit die werk van Engelstalige digters soos Raphael d’Abdon en Sarah Godsell in.

Voorin die bundel word genoem dat twee proeflesers verantwordelik was vir die redigering van die bundel – Anné Guillaume-Combrink en Maureen van Helden. Dit is reeds verblydend om te sien en verleen op die intrapslag swaartekrag aan dié selfpublikasie. Aanvanklik kan mens ook noem dat dié publikasie in beide Afrikaans én Engels uitgegee is, wat reeds as een van die beweegredes vir selfpublikasie gesien kan word, aangesien hoofstroomuitgewers nie daartoe geneig is om tweetalige digbundels te publiseer nie.

Die titel Spraakterapie/Speech therapy laat onmiddellik die betekenisassosiasies van die behandeling van kommunikasieprobleme en spraakstoornisse by die leser opkom. Dié tegnieke wat deur spraakterapeute gebruik word, word spesifiek gebruik om kommunikasie te verbeter. Met betrekking tot die bundel is daar ook metaforiese betekenisse aanwesig, byvoorbeeld die gedagte dat die digproses as sulks gesien word as ʼn vorm van terapie, wat te make het met “spraak” as uiting gee aan jou verstaan van die werklikheid.

Die bundel word opgedra aan Stinkie en Joe, en bestaan uit twee afdelings, naamlik “Selfspraak/Self-speech” en “Haatspraak/Hometalk”. Die eerste afdeling word voorafgegaan deur ʼn motto ontleen aan Coenie de Villiers se “Reisiger” (“steeds bly ek ʼn reisiger/ wat die nate van die wêreld ken”). Die afdelingtitel word soos volg in die gedig “wat was” geïntegreer: “selfbeheersing kwyn/ vreet weg jou/ vrees en angs/ jou haat van self/ jou haat spraak/ raak jou/ kindersondes jou/ selfprofesie/ en als wat soet/ en bitter waak/ drillend en deinsend/ nou geset/ permalae/ van vet op vet”. Hierin word selfhaat terselfdertyd verbind aan die tematiek van liggaams- en selfbeeld, wat deurlopende motiewe van die bundel is.

Interessant is dat die eerste sewe gedigte in afdeling een deur asteriske van mekaar geskei word en nie van titel voorsien word nie. Die suggestie word dus geskep dat dié fragmente deel uitmaak van die digter se selfspraak. Hierby ook die gedagte dat selfspraak soos opdrifsels van gedagtes is wat sigself by die digter as die skrywende instansie aanmeld – vergelyk:

die borrels breek steeds bros
in my borskas
soos ek inasem
asem
asem
om die angs
te kan besweer

kristalhelder sfere van glas
bruis op in my keel
nes ek voel ek kan loskom
van dit wat kom en was

iewers in my voorbrein
speel iets vingerbakatel
slegs skalks ‘n lukrake wiellaer
raak teen ‘n sinaps se swel

woorde word ‘n hersenskim
gedagtes wattewolke
soos ‘n klip in water wyer kring
in die grys diep
dieper
diepste
kolke

Ná ʼn aantal fragmentariese gedigte, vind die leser vyf kwatryne in Engels, getiteld “rhyming quatrains (or, a working mother’s guide to continued mental health)”. Die verwysing na “continued mental health” laat val die klem op die beoefening van digkuns as ʼn vorm van psigologiese verweer. Die eerste kwatryn begin met die idee van ʼn moeder se selfdood, waarvan die nagevolge op ʼn afstandelike, alhoewel onstellende wyse verbeel word. Daaropvolgend borduur die digteres voort op fragmentariese wyse, waarin die digterlike ek besin oor hoe dit sou wees as sy as persoon nooit hier was nie – vergelyk die eerste twee strofes:

mag ek stof word
en op die wind
weg word

mag my geboorte
uitgewis
my spore
woorde
wasem word

“Shrinkage” is ʼn gedig wat die motief van terapie weer eens op die voorgrond plaas. Op treffende wyse beskou die spreker haar lewe op verskillende ouderdomme met spesieke verwysing na die terapie wat sy ontvang het. Die sardoniese kommentaar op die raad wat sy ontvang, gee die trefkrag van die gedig: “when you’re 16/ and you go to a psychiatrist/ they’ll say/ you’re 16/ you’re just sad/ it wasn’t real love/ losing your home was worse for your parents/ take these pills/ and you’ll feel good”. Vergelyk ook “flagellaat (ʼn ope brief aan die akademie)” waarin die spreker op dieselfde sardoniese wyse die akademie beskou as ʼn god waarvoor brandoffers gebring moet word.

Tussendeur die gedigte vind die leser ook persoonlike foto’s van Henning, wat insluit van haar kinderdae, van haar familie, geliefdes en skoolvriende. Dit is ʼn fenomeen wat nie algemeen is van bundels by hoofstroomuitgewers nie en vermoedelik ook een van die redes waarom Henning besluit het om hierdie bundel self uit te gee.

Die tweede afdeling, “Haatspraak/Hometalk” word ingelei deur ʼn motto ontleen aan ʼn gedig van Philip Larkin (“they fuck you up, your mum and dad./ they may not mean to, but they do”). Dit is vreemd dat die tweede afdeling se titel “Haatspraak” in Engels vertaal word as “Hometalk” en nie as “Hate speech” nie. Hierdeur word die suggesie geskep dat “haat” en “huis” metafories gelykgestel word aan mekaar, dit wil sê dat die haat sigself taamlik gewoon voordoen, veral met Larkin se motto ingedagte. Laasgenoemde sou dan ook gesien kan word as ʼn voorbeeld van dit wat ʼn uitgewer besmoontlik sou verander het, alhoewel die teks sigself juis vir hierdie soort interpretasie oopmaak.

Die gedig wat begin met die versreël “veertien reëls in ‘n sonnet” is ʼn liefdesgedig, waarin die liefde tussen die geliefdes vergelyk word met ʼn sonnettekring. Die gedig is speels gedoen met ʼn slim eerste strofe:

italianers skryf
kwatryn maal drie
– die lyf –
gevolg deur
‘n koeplet

in die weste
eers oktaaf
en dan
die rymende
sestet

Ongelukkig word die aanvanklike gehalte van die gedig nie deurgaans gehandhaaf nie. Die speelsheid word te sentimenteel aan die einde van die gedig met woorde soos “siel” en “wese” wat abstrak en geyk voorkom. Nog ʼn voorbeeld van ʼn gedig wat nie sy volle potensiaal bereik het nie, is “prys die heer (op die voortrekkerwysie)”, wat sigself aanvanklik sterk voordoen, maar uitendelik beter kon wees.

Die tweede afdeling bestaan dan ook uit ʼn aantal herinneringsverse, wat spesifiek bemaak word aan gestorwe geliefdes. ʼn Sterk, emosiebelaaide elegie, getiteld “Briewe van die nadood / The book of the dead” betreur die dood van ʼn ou skoolvriend (laasgenoemde lei ek af uit ʼn foto onderaan die derde gedig van die siklus). Hierdie gedigsiklus bestaan uit ses gedigte, wat afwisselend in Afrikaans en Engels geskryf word. Die strekking van die gedig word in die sesde gedig soos volg beklink:

i’m starting to believe
that mourning never truly ends
like the prickling
of a phantom limb
the solar cycle
rocks crumbling into sand
winds buffeting
these arid winter lands
white water
eroding river bends
it’s hard to say
where mourning stops
and dissonance begins –

Nog ʼn voorbeeld van ʼn herinneringsvers is “ek (ont)hou my pa” – vergelyk die eerst etwee strofes: “ek onthou jou/ soos my gisters// onthou vertrekke met/ kleipot en kalbas/ beendere/ grasse en peule/ uitgestal op jou vensterkas”.

Ook tree die digteres gemaklik én heel sukselvol in gesprek met figure van die Afrikaanse poësie, byvoorbeeld met DJ Opperman in “met apologie”:

my pa is in ‘n nartjie
my ma is in kaneel
ek is haar klein papie
‘n ertjie in ‘n peul

soms sê my ma ek’s wonderlik
soms sê sy ek is sleg
ek luister wat sy sê
sluit dit op donker plekke weg

my pa spreek glad geen woorde
behalwe dié wat breek
en die wat brand en dié wat bly
en in die donker plek vassteek

my pa is in sy papie
my ma ‘n voël wat kweel
ek haal die donker woorde uit
en sien dit in die spieël

Een van my gunsteling verse is die gedig “paĉjojn”, ʼn kinderlike aanspreekvorm wat “pappa” beteken. Ek haal die gedig in sy geheel aan:

paĉjojn

my pa woon
by die groot mpopana
daar was rus en vrede
en liefde was
my pa woon
in die malse eikelanings
langs die mooirivier
in die klaskamers
en lesinglokale
wasgoedspruit –
die groot mumvumvu
waak oor sy wese
is sy woord en sy behoud –
hy is steeds en is altyd hier
al is hy nou slegs as

my pa
woon op ‘n heuwel
by die olyfboom
donkerswart
my pa woon
in ‘n huis van leuens
in brixton se vuil strate
by die krematorium
wit rook en as –
die olea europea
werp swart skadu’s
teen sy muur
dig en donker
word die ure
van dit wat kon
en dit wat was

In Hanta Henning se bundel Spraakterapie/Speech therapy is die digterlike ek deurgaans in selfspraak (in stryd met die self). Onderwerpe soos die psigologiese welstand, ouerskap en verhoudings met ouers en geliefdes, staan voorop. Dit is ʼn intieme en persoonlike bundel. Terselfdertyd gee die spreker ook ʼn satirese en ironiese kyk op die sisteem waarin sy haarself bevind.

Een voordeel van selfpublikasie is dat Henning haar eie stempel op die bundel afdruk deur tweetalig te publiseer, en tweedens, deur persoonlike foto’s by die bundel in te sluit. Alhoewel daar ʼn stigma oor selfpublikasie bestaan, is daar ruimte vir selfpublikasie wanneer ʼn bundel keurig uitgegee word. Met talle goeie verse, slaag Henning daarin om dié ruimte op ʼn uitnemende wyse te benut.