Posts Tagged ‘Spike Milligan’

Philip de Vos. Om met twee linkervoete te kan dans

Saturday, May 17th, 2014

Jare gelede reeds het ek die vreugde van ligte versies ontdek.

En tog vermoed ek dat daar dalk ‘n hele klomp slimmes is wat neersien op hierdie nederige vorm van poësie.

Ek het gou agtergekom dat ek self nooit ernstige gedigte sal kan skryf nie, maar het gelukkig wel spoedig ontdek dat ek kan rympies maak.

Ja, êrens in my binneste was daar ‘n yslike begeerte is om te kan dans alhoewel ek wel deeglik daarvan bewus was dat ek in werklikheid twee linkervoete het en dit nooit op ‘n dansbaan sou kon waag nie.

Selfs toe ek ‘n operasanger was, het ek ook dikwels in musicals opgetree – en outydse musicals beteken natuurlik dat daar op een of ander stadium om geen rede op aarde gedans moet word nie. Dan het David Matheson, die regisseur, my gewoonlik in die héél agterste ry op die verhoog geplaas, daar waar hopelik nie ‘n enkele persoon in die gehoor my ooit sou opmerk nie.

Maar selfs met nie-dans tonele kan daar partykeer iets op die verhoog skeefloop en dit het wel een aand met my gebeur.

In Hello Dolly het ek in die koor gesing en op een stadium is daar ‘n groot produksienommer: When the Parade passes by. Die koorlede het elk sy eie instrument gekry om te bespeel en waarom hulle juis vir my gekies het om die groot ronde trom (wat op aarde is bass drum in Afrikaans?) om my middel vas te gespe en elke liewe aand in formasie saam met die ander heen en weer oor die verhoog te beweeg, weet die joos alleen.

Met musicals is almal gewoonlik teen die 55ste opvoering ‘n bietjie uitgekuier met dié werk. Ewenwel, een aand staan ons aan die sykant van die verhoog – gereed vir ons groot oomblik. Waarom ek dit gesê het, weet ek tot vandag toe nie, maar net voor ons op die verhoog moes gaan, sê ek vir een van die ander koorlede: “This bass drum is so heavy. What if one evening the belt breaks during a performance?”

En dit was presies wat gebeur het. Ons het almal, soos elke aand lustig saam gesing:

When the parade passes by
Listen and hear that brass harmony growing
When the parade passes by
Pardon me if my old spirit is showing
All of those lights over there
Seem to be telling me where I am going …

En toe gebeur dit. Met watter woorde dit was, kan ek nie meer onthou, maar dit moes seker by daardie bass harmony growing, gewees het, want ‘n gemene gees êrens in die diepste ruimtes het seker my woorde gehoor en daardie gordel geknip.

Die yslike trom het skielik op die plek losgebreek, en oor die verhoog begin rol en rol. Toe ek dit agterkom, het ek heeltemal die formasie-lopery geïgnoreer en agter die ding begin aanhardloop. En daar in die Nico Malan-operahuis van destyds het ek daardie trom net op die laaste oomblik gekeer voordat dit op ‘n fluitspeler in die orkesbak beland het. Nodeloos om te sê – die parade was in sy maai!

In my versies dans ek wel, en dit gee my die plesier wat ek in die werklike lewe ontbreek.

Dit is tog snaaks hoe die diep-denkendes onder ons glad nie lawwe versies kan verstaan nie en so het Spike Milligan dit juis gesê:

“The extraordinary part of nonsense is that only a small persentage of people gain pleasure from it. I have tried it successfully with children of all races and 99% have always laughed. But then I have sat with men, intellectuals who are totally baffled by nonsense.”

So gee ligte versies my steeds groot plesier, soos dié van John O’Mill uit Rollicky Rhymes in Dutch and double Dutch:

 

De koning van Biscaye

die had een kattapult

Daar schoot ie mee op haaie

Very difficult

 

en hierdie een:

 

De koning van Oeganda

Die had een grote smoel

Met sewe gouwe tande

Very beautiful

 

En terwyl ons by die Nederlanders vertoef, kan ek ook Kees Stip noem:

 

Een hen sprak peinzend tot een ei:

“Wie was êrens eerder: ik of jij?

De wiisbegeerte mag misschien

op deze vraagd geen antwoord zien

maar ik heb, wat men ook mag zeggen,

nog nooit een ei een hen zien leggen.

 

Die Engelse het natuurlik hulle eie Lewis Carroll:

 

en Edward Lear

en die Amerikaners het hulle Ogden Nash:

 

FLEAS

 

Adam

had ‘em

 

En dan is daar hierdie wonderlike kortetjie van ‘n anonieme digter

 

ODE TO MY GOLDFISH

O

wet

pet

 

Ek het self nooit geweet dat ek lawwe versies kan skryf nie totdat Leon Rousseau my in 1978 (om watter rede weet ek nie) gevra het: Hoekom skryf jy nie kinderversies nie?

En hierdie was my eerste:

 

Wat is die verskil

tussen katte en muise?

Muise het sterte

en katte het luise.

Ja,  muise het sterte

en so ook ’n kat,

maar geen luis

het ’n muis

of ’n kat

op sý blad.

’n Muis

het ’n luis

en ’n stert

nes ’n perd,

en perde

het luise

maar ly nóóít

aan muise,

en katte

het luise

en lang

gladde sterte

en soms kyk

hul dromerig

dóér in die verte

na muise

en luise

en perde soos huise

en dis hoe jy weet

wat is katte en muise

illustrasie: Jan Vermeiren uit O togga, ‘n gogga!

 

Mense het my al gevra: Is dit regtig ál wat jy kan skryf?

En my antwoord:

 

Elke outjie

het sy lied:

Hadida of

zoeiiii-muskiet

Of dit fraai

of goor

of gek is –

Jy moet sing

soos jy gebek is.

illustrasie: Piet Grobler uit Mallemeuleman

 

Ja, selfs met twee linkervoete kan ek nou so bietjie dans.

 

Philip de Vos. As ek met my hond gaan stap

Saturday, April 26th, 2014

 

( foto van my geliefde Toffee 2013)

 

Wat is dit omtrent honde?

Katte laat digters seker makliker na ‘n pen gryp. Vra maar vir Lina Spies.

En dit is juis aan Lina Spies te danke (te wyte?) dat vandag se inskrywing g’n vorm gaan hê nie. G’n begin. middel en einde soos my standerd 8 meneer vir my gesê het nie. En dis ook glad geen wonder dat my opstelle nooit in die skooljaarblad verskyn het nie – en na 60 jaar is ek steeds jaloers op Ferdinand Bukes en Goethe Olwagen wie se gedigte destyds jaar, na jaar na jaar in Hoërskool Sentraal se jaarblad verskyn het, en myne half-vergete êrens in ‘n laai gelê het, vol rooi strepe van die onderwyser se pen.

Ewenwel, hier dwaal ek al klaar af. sien maar my vroeëre blog oor aandagafleibaarheidsgebreksindroom (seker een woord volgens die Afrikaanse woordelys en Spelreëls)

http://versindaba.co.za/2010/11/06/aandagsgebreksindroom-of-pleinweg-add/

En van Lina Spies gepraat ek dink nog steeds sy is half vies dat sy nooit in my fotoboek Milieu verskyn het nie, maar dan moet Mimi Coertse ook vir my kwaad wees. Maar om so half en half en half te vergoed is hier twee foto’s wat ek van hierdie twee dames geneem het, alhoewel ek sterk twyfel of hulle ooit hierdie inskrywing sal lees of die foto’s sal sien.

Om te troos: hier is die laaste deel uit Lina se gedig Huid en Haar oor katte:

 

Klein edel dier wat ek bemin

– volgens giere van homo sapiens

eeue lank beurteling verafsku en vereer –

ek streel jou, dank die Heer:

jy minstens lewer vir die kaal en ydel wyfiemens

geen pels.

 

En hier is ‘n foto van Johann de Lange se kat met so ‘n bietjie hulp van Photoshop.

Nou dat ek alreeds by hierdie paragraaf uitgekom het, het ek al skoon vergeet wat ek oorspronklik wou sê. Dit het seker iets te doen met honde en dit het my aan die dink gesit toe ek vanmôre met my Staffie, Toffee gaan stap het.

Na al die jare het ek nog nooit ‘n ordentlike versie oor honde geskryf nie – my mooi gedagtes bly maar hier êrens binnekant en sal seker nooit op papier beland nie. Dit laat ek maar ander digters oor. Hier is ‘n gedig van Spike Milligan:

 

The Dog Lovers

So they bought you
And kept you in a
Very good home
Central heating
TV
A deep freeze
A very good home-
No one to take you
For that lovely long run-
But otherwise
‘A very good home’
They fed you Pal and Chun
But not that lovely long run,
Until, mad with energy and boredom
You escaped- and ran and ran and ran
Under a car.

Today they will cry for you –
Tomorrow they will buy another dog.

En hierdie gedig het my vanoggend half skaam laat voel. Toffee het twee jaar gelede in my lewe gekom. In die koerant het Animal Welfare ‘n Staffie geadverteer wat êrens in Kaapstad rondgedwaal het. En niemand het haar kom opeis nie. En ek en Peter het uiteindelik ons dink gedink. Moet ons weer ‘n hond in ons lewe toelaat? Winnie het soveel plesier in ons lewe gebring en nou lê sy al drie jaar in die tuin begrawe langs een van die Uilhuis se meerminne.

En nou is Toffee al twee jaar deel van ons huis. Wat haar voornaam was, weet ons nie. Hoe oud sy is, weet ons nie. Of sy ‘n Afrikaanse of ‘n Engelse hond is weet ons ook nie, maar in albei tale reageer sy darem op die woord Sit en dit is seker al wat tel.

En toe ek Spike Milligan se gedig lees, voel ek skielik skuldig. Van nou af moet ek en sy meer gaan stap.

Ek gaan altyd eenkeer per dag met Toffee stap. en die res lê sy op ‘n kussing in my studeerkamer, met haar pote reg langs haar gesig gevou en dit lyk of sy gelukkig is om saam met my te wees.

Maar is dit dalk  blote verveling wat haar so laat lê? Toe neem ek haar vandag reeds vroeg-oggend uit vir ‘n stappie.

En met daardie wonderwoord Walkies was daar skielik lewe en ‘n waai van die stert en ek-kan-wag-nie uitdrukking in haar honde-oë.

En vanoggend se staproete was anders: Al met High Levelweg af. Links by Cavalcadeweg af waar Johan Dippenaar eens gewoon het. En sommer-so met die stap begin die gedagtes al. Dit was by hierdie einste straat wat ek jare-gelede deur ‘n badkamervenster moes klim en oor die huis se dak tot in die tuin moes vlug vir iemand wat my lyf al te begeerlik gevind het. (Helaas, dit was baie jare gelede.)

Toe draai ek regs tot in Thorhillweg tot by die parkie oorkant Green Court. Dit was vroeg-oggend sonder spelende kinders. Die kennisgewing het gesê honde aan ‘n leiband word toegelaat, en omdat daar niemand in die parkie was nie, maak ek toe die leiband los en Toffee ran and ran and ran … presies soos in die Spike Milligan gedig:

En dit is nog een van daardie outydse parkies met ‘n glyplank en ‘n verweerde mallemeul.

En skielik was ek weer terug in Bloemfontein van my kinderjare. Bloemfontein van die jare veertig.

In on huis in Cricketstraat was die enigste boeke the Masterpiece library of short Stories en die boekklubboeke wat so dan en wan daar aangeland het.

In die aand kon ons na Hoffmanplein in die middestad ry met sy verligte spuitfontein wat van rooi na groen na blou na geel verander het. Te wonderlik.

En een keer per jaar: die groot lekkerte: Mamma vat vir my en Rea na die dieretuin toe. Daar was die leeus in hulle hokke en die hok van die apies, maar die lekkerste van alles was die namiddag as ons na die speelpark toe kon gaan, met sy wiegende perdjies, sy swaaie en ‘n mallemeul en die wonderlikste glypank. Kon daar enigiets op aarde groter plesier gegee het?

En dit is hier by hierdie einste glyplank wat ek ‘n voortand gebreek het, en daarna vir ‘n paar jaar met ‘n voortand: half-emalje, half goud kon spog.

En in die aand terug in Cricketstraat, na die 9-uur sirene wat alle swart mense waarsku om buite te stad te wees, wanneer alles stil geword het, kon ons soms die dieretuin se leeus in die verte hoor brul.

En daar in Green Park het ek aan Ogden Nash se versie oor leeus gedink wat hy vir Saint-Saëns se Karnaval van die Diere geskryf het.

 

The lion is the king of beasts,

And husband of the lioness.

Gazelles and things on which he feasts

Address him as your highoness.

There are those that admire that roar of his,

In the African jungles and velds,

But, I think that wherever the lion is,

I’d rather be somewhere else.

 

En toe – baie jare later skryf ek ook ‘n versie vir dieselfde werk:

 

LIONS

Lions will eat  anything

be it beggarman or king.

They love noses, they love toes.

They will eat you …

plus

your clothes.

But – don’t give them

a Brussels sprout –

and sauerkraut is also out.

Give them T-bones give them meat,

but never, ever beans nor wheat.

I don’t want one

as a pet myself.

For should it roar,

I’d  wet myself.

(illustrasie: Piet Grobler vir Carnival of the Animals)

En toe ek klaar gedink het, stap en maar verder met Toffee en vergeet ek heel en al van die gedigte in my kop en was ek skielik baie gevlei toe ‘n verbyganger stop en vir my sê: “Beautiful dog!”

Miskien moet ek meer dikwels met Toffee gaan stap.