Posts Tagged ‘Spivak’

Desmond Painter. Sonder luister? Taal en die geesteswetenskappe in Suid-Afrika

Thursday, August 25th, 2011

 

In ’n opstel wat nou reeds kanonieke status in die geesteswetenskappe verkry het, vra Gayatri Spivak (1993) hierdie steeds dwingend relevante vraag: “Can the subaltern speak?” Die “subaltern”-verwysing hier is na die stilgemaakte en andersins stemlose subjekte van die (veral koloniale) geskiedenis; na hulle wat die produkte is van imperialistiese projekte van subjektivering en wat voortdurend onderhewig bly – wanneer hulle wel objekte van kennis word; wanneer daar, met ander (se) woorde, wel óór hulle gepraat word – aan wat Spivak tereg “epistemiese geweld” noem (p 104). Die “subalterns” is die ondergeskiktes, die onderhoriges, die onderdruktes. Hulle na wie Frantz Fanon (1961) verwys het as “die verdoemdes van die aarde”.

Die onderhoriges is dus hulle wat uitgesluit word van sisteme van representasie; hulle wat stemloos is; hulle wat letterlik nie ’n sê het nie, wat nie in die posisie is om by te dra tot amptelike diskoers nie (p 104). Maar nie net uitsluiting is ter sprake nie – die onderhoriges word ook verteken en wanvoorgestel binne heersende sisteme van representasie, hetsy histories, polities, wetenskaplik, artisitiek of literêr.

Daar word verder van die onderhoriges verwag (oftewel: hulle word hiertoe gedwing ter wille van ekonomiese en maatskaplike oorlewing) om hulleself te “vertaal” – hulle word sigbaar en stemhebbend in die mate waarin hulle koloniale sisteme van representasie aanneem en hulleself in koloniale terme voorstel: ’n koloniale naam; ’n koloniale godsdiens; ’n koloniale regsisteem; ’n landskap wat koloniaal gekarteer, benoem en begrens is; ’n koloniale taal. Op hierdie manier word die moontlikheidsvoorwaardes vir identiteit, verlossing, geregtigheid, mobiliteit en selfs betekenis en kommunikasie effektief gekolonialiseer.

Koloniale wanvoorstelling en blatante negering van die onderhoriges kan ook nie sommer reggestel word deur bloot stem te verleen aan “die ander” nie (en terloops, die alomteenwoordige verwysings na “die ander” in die geesteswetenskappe, dikwels eerbiedig in hoofletters geskryf, loop immer die gevaar om koloniale verhoudinge op allerlei maniere te depolitiseer, ten gunste van ’n ahistoriese, kwasimetafisiese diskoers oor self en ander): die sosiale wetenskappe ontkom nie so maklik aan hulle gedeelde geskiedenis van koloniale meewerking en gepaardgaande epistemiese geweld nie; en die romantisering van die (onvervreemde en onvervreemdende) “stem” van die onderhoriges hou dikwels nie rekening met presies hoe onagterhaalbaar enige idee van ’n “oorspronklike kultuur/identiteit” of “prekoloniale leefwyses” eintlik is nie.

Waarmee ons gelaat word, is dus die buikspraak van die koloniale geskiedenis. Spivak se vraag bly beslis relevant: Kan die onderhoriges praat? Maar miskien is die eintlike vraag (vir ons, in elk geval) nie soseer of die onderhoriges kan praat nie, maar veel eerder of die geesteswetenskappe kan hoor. Want natuurlik is daar ook veel meer as bloot koloniale buikspraak ter sprake: geen proses van kolonisering is volledig nie; daar is altyd oorblyfsels, hibridisering, mutasies en allerlei herwinningspogings. Die onderhoriges het eintlik nooit opgehou om te praat nie.


Maar hoe kan die geesteswetenskappe in Suid-Afrika voorgee om te luister en te hoor wanneer taal, en spesifiek die Afrikatale, so laag op die akademiese agenda is? Pogings om die Afrikatale as akademiese tale te bemagtig word dikwels met agterdog en hovaardigheid bejeën. Weinig navorsing word in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika (en ek verwys nie na taaldissiplines soos die sosiolinguistiek nie) oor die maatskaplike en politieke dimensies van taal, taaldiversiteit en ons spesifieke “taalgeskiedenis” gedoen. Selfs in plaaslike publikasies oor kwalitatiewe navorsingsmetodes, oor etnografie en orale geskiedenis, aktiwiteite wat fundamenteel afhanklik is van taal en vertaling, word daar weinig sistematiese energie bestee aan die implikasie van taalverskeidenheid en vertaling.

Ek probeer nie hiermee voorgee dat die geesteswetenskappe in Suid-Afrika van hulle koloniale bagasie ontslae kan raak bloot deur inheemse tale aan te leer, of deur middel van inheemse tale te werk nie. So eenvoudig is dit ook nie. Die inheemse tale is in ’n sekere sin ook koloniale produkte, nie ongeskonde prekoloniale gegewens nie. Inheemse spraakvorme is immers koloniaal toegeëien en gereduseer en gestandaardiseer tot “tale” in die Europese sin van die woord, waarop verskillende en meestal heel arbitrêre etnonasionalistiese konstruksies boonop staangemaak is …


Maar hierdie historiese kompleksiteit is nogtans geen verskoning vir die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe nie – want miljoene mense praat dit, hoe arbitrêr die grense tussen verskillende “tale” dan ook somtyds is. Die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe bly ’n vorm van epistemiese geweld. Dit laat die meeste Suid-Afrikaners sprakeloos binne die diskoerse en voorstellings van die geesteswetenskappe. Hulle bly ongehoord en onderhorig. En dit laat ons, diegene wat die geesteswetenskappe bedryf, horende doof. En ons dissiplines sonder luister.

Wat hoor ek dus wanneer Suid-Afrika op die praatbank gaan lê? ’n Roesemoes van stemme, ja, maar weinig sin. Soos so baie van my kollegas is ek gewoon nie toegerus om na hierdie land se mense te luister nie, om hulle te hóór nie …

[Hierdie kort essay het verlede jaar op LitNet verskyn as deel van ‘n Mini-seminaar oor die onderwerp: Suid-Afrika op die Praatbank.]

Verwysings

Fanon, F. 1961. Les damnés de la terre. Paris: Francois Maspéro. [In Engels vertaal deur Constance Farrington as The wretched of the earth, Penguin Books, 1990.]

Spivak, G. 1993. Can the subaltern speak? In P Williams & L Chrisman (reds), Colonial discourse and post-colonial theory (pp 66–111). New York: Harvester Wheatsheaf.

Marius Crous. Voorblaaie en Spivak se bestuurslisensie

Thursday, March 17th, 2011

1

Diorama

Diorama

Een van die mooiste omslagontwerpe is seer sekerlik die op Johann Lodewyk Marais se Diorama. Ek onthou toe ek destyds my eerste bundel voorgelê het vir publikasie het ek ewe kordaat genoem dat ek graag ‘n Keith Alexander-skildery voorop wou hê.  Maar Nichol & kie was slim genoeg om op die kaartontwerp te besluit.

Diorama spog met ‘n swoele oerwoudstoneel met ‘n bruisende waterval en in die helderste kleure. Poster-agtig mooi. Sommige mense kan dit as kitsch afmaak, maar vir my is dit ‘n koloniale landskapskildery wat bo ‘n kaggel hoort; ‘n Edeniese aanklag teen die mensdom.

Wie onthou nog uit hul studiejare daardie klein geel Duitse boekies? Was dit van Reclam Verlag? Piepklein en in sulke helder kerriegeel omslae. Voorts was daar ook die kartonbuiteblaaie van die ander Duitse tekste met sulke lyntekeninge op.

In Afrikaans dink ek was die voorbladontwerp nog altyd ‘n tipe van ‘n lokmiddel om die koper (en hopelik leser) aan te spoor. Met die klassieke kortverhaalreeks van Human & Rousseau word hiervan wegbeweeg en is die voorblaaie, byna nes Eybers se digbundels al die jare, gestroop van enige ontwerp.

Gaan dit om die inhoud? Die naam van die skrywer? Of moet uitgewers mense lok met voorbladontwerpe? En hoekom was ons al die jare nog so sku vir slapbandboeke? Romans in sierlike blink harde omslae met foto’s en kunstige ontwerpe. Mense koop immers met die oog.

J P Smuts se Burgerband was altyd vir my een van die boeke met die onooglikste voorblaaie. Voorop, ‘n man met ‘n geweer wat skiet na flappende oop boeke. Hoekom dan tog? Mooi voorblaaie was daar tog vele: die skelet op Die anatomie van melancholie, die ontwerpe van Agaat en Die sneeuslaper of Die hemel help ons. Te veel om op te noem. En die gewaagdste? Onthou jy nog As die nood hoog is?

Vuurwiel

Vuurwiel

Ek wil ook nog die interessante gesprek ondersoek tussen die omslae van Carol Anne Duffy se Rapture en Joan Hambidge se Vuurwiel. Die leë beddens. Die lakens. Die tematiese ooreenkomste.

Ewe interessant is die keuse van omslag vir die Engelse vertaling van ‘n roman. Watter nuwe “betekenisse” word geaktiveer? Hoe word die keuses gemaak met die oog op ‘n buitelandse mark? Triomf met sy miniatuurskildery teenoor die Bagdad Café-agtige helder voorblad van die Amerikaanse uitgawe. Nogal ‘n heel opwindende tekstuele speletjie wat mens kan speel met omslae en hoe hulle met elke herdruk verander.

Julia Kristeva

Julia Kristeva

 

Dan is daar ook die omslae van Julia Kristeva se vroeëre akademiese boeke. Lesers van Kristeva se werk het deur die jare gewoond geraak aan die jong meisie met die vasgebinde hare en die skerp, skraal gesig. Op latere boeke is die senior Kristeva in pakkie (seker Chanel?) en met gestyfde hare.

 

2

Spivak

Spivak

Ek lees in ‘n onderhoud met Spivak (Public Culture 13(1), 2001) in antwoord op die vraag oor haar eie ervaring as vertaler: Toe sy in 1967 haar toets vir haar bestuurslisensie moes aflê, het sy filosofies gewonder oor die antwoorde op haar vrae. Volgens haar het sy gefaal in ‘n lae-vlak epistemiese vertaling wat die Iowa Motorlisensiedepartement aan haar gestel het, maar kon as jong akademikus wel Derrida se Of grammatology vertaal. Spivak gebruik hierdie voorbeeld om aan te toon dat alle leeswerk eintlik ‘n vorm van vertaling is. Probeer en tref.

Mens kan jou net die filosofiese kammagesprek tussen Mr Cop en die jong Indiese intellektueel voorstel; die filosofiese gesprekke oor die nut van driepuntdraaie en die epistemologie van die blindekol.