Posts Tagged ‘Spyt’

Andries Bezuidenhout. “Spyt” by Aardklop

Thursday, October 7th, 2010

Een van die tonele in ʼn teaterstuk wat ek nogal lank sal onthou, is ʼn oomblik in Ingrid Winterbach se toneelstuk Spyt, wat ek by Aardklop gesien het. Die karakters staan in ʼn ry, aan die agterkant van die verhoog. ʼn Stem wat vooraf opgeneem is, ʼn pa, vertel van die rugby wat hy saam met sy seun gesien het. Het hulle vis gevang ook? Ek kan nie heeltemal die strekking van die pa se vertelling onthou nie, maar die man het nie die woorde om te beskryf hoe hy die rugby geniet het nie. Al wat hy kan doen is om die woord “awesome” te herhaal. “Awesome” word ʼn refrein wat instaan vir die man se onvermoë om homself in Afrikaans uit te druk.

Terwyl hy vertel, maak die akteurs – steeds aan die verhoog se agterkant – wilde bewegings met hul lywe. Dit lyk of hulle dans, maar daar is nie musiek nie. ʼn Mens kan nie anders as om aan Jan Rabie te dink nie: “Aanhou beweeg en geraasmaak.”

Dan stap die akteurs vorentoe, in ʼn ry. Hulle herhaal die woord “awesome”. Die betekenis daarvan verander, soos hulle ophou praat en net asemhaal. “Awesome” word “asem”, soos mense in Pretoria die woord uitspreek: “ôsem”. Wat is die verskil tussen “awesome” en “asem”?

Ek sien Spyt as ʼn toneelstuk wat (onder andere) gaan oor oorvloed (“excess”) – tye waarin plesier ʼn kommoditeit word, maar waar mense die vermoë om betekenis in taal uit te druk verloor. Oorvloed en vervlakking. Een toneel, waar twee karakters die kuns van ʼn jong swart kunstenaar as ʼn goeie belegging bespreek terwyl hulle verwoede seks het, in vele posisies, komies, soos in pornografiese films, maak ook hierdie punt. Die karakters is konstant met hulle lywe besig – in die gimnasium en op die bed. Die sekstonele is deurgaans komies, of hartseer, maar een oomblik moontlik mooi – soos waar ʼn kunstenares die hoofkarakter se buitelyne op ʼn reuse stuk papier natrek (juis die punt toe baie mense uitstap).

Ek het baie in Spyt gevind om oor na te dink. Ek sou dit baie graag weer wou sien. Ek wens ek het die teks gehad om te lees. Dit was werklik goeie teater – ʼn stuk wat oor verlies rou, maar ook skreeusnaaks is by tye (veral as Donna Summer sing). Ek wil nie veel meer daaroor sê nie. Ek hoop mense wat dit nie in Potchefstroom gesien het nie, kry ʼn kans in Oudtshoorn, of elders.

Na die naweek lees ek die volgende brief op Beeld se webwerf, deur S.P. van Zyl:

“Spyt kom altyd te laat.

“Ná net tien minute is ek so deur spyt oorval dat ek vinnig ‘n vertoning van Ingrid Winterbach se stuk Spyt op Aardklop verlaat het.

“Ek voel egter steeds vuil.

“Die beskrywing van die stuk het dit nou wel duidelik gestel dat geen persone onder 16 toegelaat word nie en dat die vertoning ‘nie vir fyngevoelige kykers’ bedoel is nie, maar o wee, ek voel totaal om die bos gelei!

“‘n Waarskuwing soos: ‘Hierdie toneelstuk bevat eksplisiete seks-tonele’ of iets in dier voege sou my en menigte ander feesgangers twee keer laat dink het voordat ons hierdie walgstuk sou kyk.”

Dan is daar ʼn hele paar reaksies op die brief. Ek haal ʼn seleksie aan:

“Ek voel sekstonele hoort in die kamer en nie op die verhoog nie. Ons almal weet tog waaroor seks gaan. Het ons skrywers/kunstenaars nie meer ‘n trots op hulle taal nie. Is dit nodig om sover te daal met sulke vieslike taalgebruik en tonele. Ek is ook geskok in sommige van my gunsteling akteurs en hulle toevoeging tot hierdie verhoogstukke nie.”

“Winterbach en kie noem dit kuns en die akteurs daarin stem natuurlik saam – dit is vir my altyd vreemd dat hierdie sogenaamde ‘kunstenaars /akteurs’ altyd probeer wegkom met ‘dit is hoe dit gaan daarbuite’. Hierdie klomp dink die publiek is hoofsaaklik ‘n versameling van seksbehep, wanaangepaste, breinlose idiote. Hulle is betreurenswaardig.”

Ek wonder of dit die toneel met die kunstenares is wat die volgende reaksie ontlok het:

“So word ons ou volkie verlei deur seks wat eintlik net vir die huwelik bedoel is.Maar nou oop en bloot op ‘n verhoog blootgestel word,maar die komuniste het tog gese verlei hulle met seks sodat verbastering kan plaasvind.Gaan lees Deutr.11.”

Iemand wat ook by Aardklop was:

“Dankie SP van Zyl vir jou kommentaar, ek ondersteun jou heelhartig. Ons was ook daar en het ook uitgeloop, dis die swakste vorm van kuns wat ek in my hele lewe nog gesien het. Dit wil voorkom of al die skrywers/kunstenaars opdrag gekry het om seks te propageer. Die skrywer het die vooraf advertensie van die stuk baie interessant laat klink met woorde soos: ‘’n Verhoudingsdrama met ‘n verskil. So verskriklik vermaaklik….’ Ons is om die bos gelei en stukke soos hierdie het my totaal genees van kunstefeeste!”

Seks propageer? Het ek ʼn ander toneelstuk gesien? Nog kommentaar:

“Seks, seks, seks en vloek, vloek vloek. Ek is al so gatvol daarvoor. Dit word gebruik om goed te verkoop, om mense te vermaak en vir talle ander dinge. Dit word gedurig in ons kele afgedruk. Seks as ‘n goedvoel daad tussen twee toestemmende volwassenes het lankal sy waarde en betekenis verloor. G’n wonder die samelewing is so siek nie. Oorlading van seks en ‘n gevloekery (hallo, Jack Parow) desensitiseer mense en maak van hulle niks meer nie as ‘n klomp agtertangse barbare met min of geen morele waardes.”

“Mense, skrik wakker. Daar is maar MIN ‘kuns’ hierdie dae wat nie ‘polities korrek’ of vulger is nie. As ek nie 100% seker gemaak het voor die tyd nie, gaan ek nie om my te laat besoedel nie. Dan kla die sogenaamde ‘kunstenaars’ dat Afrikaners ongekultiveerd is. As ek die gemors wat vandag as kuns opgedis word moet waardeer om as gekultiveerd beskou te word, wel dan bly ek maar ‘ouderwets en dom’ (uit ‘Vooruitgang’). En aan die slim, gekultiveerdes wat so ‘oe’ en ‘aah’ daaroor, kan ek net se: DIE KEISER WAS NOG NOOIT SO KAAL SOOS VANDAG NIE!”

“Dan wonder ons nog waarom is SA een van die gevaarlikste lande in Afrika? Dis ook een van die vieslikste lande met vrye pornografie, gay regte, aborsie… noem maar op!”

“Aardklop het ook maar net weer die vertoonvenster geword van die Afrikaner se morele verval. Die groot getal Afrikaners met hulle walglike sedes verdien ‘n Zuma en Malema. Dankie SP van Zyl vir die moed van jou oortuigings!”

Dan is daar ook ʼn opmerking oor Marlene van Niekerk se teaterstuk:

“Het een van julle dalk ‘Die kortstondige raklewe van Anastasia W’ gesien?? Wat ‘n klomp bol! Ek sien die stuk het nogal ‘n prys of wat gewen, laat my nogal wonder oor die klomp ‘kenners’ wat die pryse uitdeel.”

Nou wonder ek oor myself. Hoekom vind ek soveel aanklank by ‘n “walgstuk”? Hoekom walg dit my nie? Hoekom is dit vir my vol deernis en rou? Is my morele afstomping so akuut dat ek ʼn heel ander toneelstuk sien as my duidelik beter opgevoede en meer behoudende landgenote wat hier skryf? Is ek ʼn karakter in “Die groot vrot”?

________________________________

Die oorspronklike brief en kommentaar daarop is hier.

  •