Posts Tagged ‘streeksverse’

Resensie: “minjonet en bitterbos” (Thomas Deacon)

Wednesday, March 2nd, 2022

 

 

 

minjonet en bitterbos – Thomas Deacon. Naledi, 2022.

Resensent: Marlies Taljard

 

“Minjonet en bitterbos” is Thomas Deacon se vyfde digbundel. Vantevore het uit sy pen verskyn “Sand Uit die Son” (1989), “Die predikasies van Jacob Oerson” (1993), “Maagmeisie” (2003) en “Duifiedorings” (2019). Die digter is op 21 Januarie 2022 oorlede; “Minjonet en bitterbos” is dus die laaste digbundel wat tydens sy lewe verskyn.

Soos sy vorige digbundels, bevat “minjonet en bitterbos” hoofsaaklik gedigte wat as “kontreikuns” of “streeksverse” of “volkspoësie” beskou sou kon word. Dit is kuns (in hierdie geval gedigte) waarin ʼn bepaalde landstreek uitgebeeld word, asook die gebruike, tradisies en taal (dikwels taalvariante en/of dialekte) wat dié geografiese ruimte kenmerk en wat maklik verstaanbaar is. Die kleurvolle voorblad deur Susan Smith in helder primêre kleure is ‘n belangrike metatekstuele skakel wat die ruimte tipeer.

Afrikaans het sedert sy vroegste ontstaan ʼn ryk tradisie aan volkskuns / streekskuns / regionale kuns waarin klankverletterliking, die plattelandse idioom en taalvariëteit ʼn belangrike rol speel. Dink maar byvoorbeeld aan N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk”, aan Boerneef, Adam Small, Hans du Plessis, Nathan Trantraal, George Weideman … Deacon skryf dikwels in Griekwa-Afrikaans wat volgens Christo van Rensburg ʼn onderverdeling van Oranjerivier Afrikaans is – ʼn dialek wat ontwikkel het met die invloed van Khoi-tale en -dialekte wat in die Namakwaland en Griekwaland-Wes-streke gepraat word. Hans du Plessis is die ander bekende digter wat in dié dialek skryf.

In “Literêre Terme en Teorieë” toon Wium van Zyl aan dat kontreikuns dikwels afgeleë, plattelandse ruimtes oproep (soos Deacon se Pella-streek). Die spreker se verbondenheid met dié streek vind dan dikwels gestalte in herinneringsverse “wat herwaarderend terugkyk na die streekstoestande waarvan hy vroeër deel was”. Verskeie kritici wys daarop dat, ten spyte van die fokus op die lokale, universele waardes en probleme eweneens tematies in kontreikuns voorkom en dié genre dikwels verryk.

Die eerste afdeling van “Minjonet en bitterbos” heet “vlug” en is “[vir die ou nama-moeder siena joseph van pella [1893 – 1988]”. Hierdie opdrag bevat dus ʼn verwysing na bevolkingsgroep (“nama”) én plek (“pella”). Die openingsgedig (hieronder) maak gebruik van klankverletterliking en is ryk aan woorde, uitdrukkings en grammatikale wendinge wat tipies in die Namakwalandse streeksidioom voorkom. ʼn Spesifieke lokaliteitsaanwysing is die verwysing na die Bantamberg – ʼn heuwel wat binne die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap geleë is.

 

oulap se rooi

 

as die son maandae oulap se rooi

hoog bó die bantamberge gooi

moes ons tjenners voetsaam

houtveld se kant toe staan

dis houtmaak die ganske dag

tot honger virrie stukkie kos

jakkalstjankies uit jou maag laat los

maar hout se tjent moes kláár

ma-goed had geen genade

vir rônekoptjenners nie

vanaand, wanneer ma-goed ons roep

loop sit ons ommie vyebosvuur

met derms en suursous

en ons praat     en ons lag oor

alle dinge van dié lang dag

en ons kyk hoelat vyebosvlam

oulap se rooi teen’ie swart skadu

vannie rietdak gooi

(p. 11)

 

In hierdie gedig, soos ook in die ander gedigte in die eerste bundelafdeling, word ʼn tyd, ʼn ruimte en ʼn lewenswyse opgeroep wat vreemd is aan moderne (stads)mense. Dit skets ʼn prentjie van bykans onvoorstelbare armoede, van ʼn lewe sonder enige gerief, van een karige maaltyd per dag en van harde hande-arbeid. Tog, teen alle verwagting in, is dit ook ʼn lewe wat deur klein vreugdes en ongekompliseerde lewensverwagtinge gekenmerk word. Dit is ʼn tipiese herinneringsvers waarin die vreugdes onthou word en die swaarkry as’t ware verheerlik word omdat dit nie meer aan die lyf gevoel word nie.

Ook die tweede gedig in die bundel, “melkbosdans” (p. 12) is ʼn tipiese herinneringsvers waarin die hede teenoor die verlede gestel word en verromantiseerde jeugjare onthou word:

 

vandag se tjenners loop en spog

lat onse oumense nie kop of gat weet

van déúrnagdeur se dansdinge nie

vetlampie se jare loop mos voetsaam

deur onse are

ons het die lewe gekén, my seur (…)

 

Die spreker in hierdie sewetal gedigte is waarskynlik Siena Joseph van Pella, aan wie die eerste afdeling opgedra is en die sewe gedigte in die afdeling kan dan seker gelees word as ʼn kort outobiografiese skets van “die ou nama-moeder”. Stories van verlies, soos in “vlug” (p. 13) en “rooi lewe” (p. 17) en ander primordiale temas soos geboorte, vreugde en gebed vorm die skering en inslag van hierdie afdeling. Vergelyk byvoorbeeld die volgende reëls uit die gedig “gebed” (p. 16):

 

nou vra ek, Oubaas

gee lat ek soos u maan word

wat katnael deur’ie swart lug seil

samblief, my Oubaas

lat’ie boesmanland se lewe

dunskyf sny

deur hierie afgoilyf van my

 

In die tweede bundelafdeling, “minjonet en bitterbos”, is ʼn ander spreker aan die woord – hierdie keer iemand wat hoofsaaklik Standaardafrikaans praat. Ook in hierdie afdeling voer argetipiese temas die botoon. Twee gedigte handel oor die dood van ʼn kind, gedigte soos “soms onthou hy nog” (p. 22-23) en “sal jy eendag weer” (p. 24) roep vergane liefdes op, herinneringe aan die Boesmanlandse streek word verwoord in gedigte soos “kalkoentjies trap” (p. 25), “soms wil hy” (p. 29), “hartvreetland” (p.31), “kleure” (p. 33), “ek slaan my oë op” (p. 37) en “boesmanland” (p. 38). Afskeid, ouderdom, verlies van jeugdigheid en verlange na die ruimte waarin die digter eens gelukkig was, spreek uit gedig na gedig in hierdie afdeling. Die “minjonet” (ʼn klein blou blom) word teenoor die “bitterbos” gestel in “minjonet en bitterbos” (p. 21). Die opnoem van plek-, plant- en insekname in ʼn gedig soos “boesmanland” (p. 38) moet help om dié ruimte tasbaar, sigbaar en hoorbaar voor die geestesoog te roep:

 

boesmanland

 

as growwe-twa en ‘ga-gras

en fyn-twa die boesmanland

soos ‘n digte jas omvou

en skaapbos en geelbos

en gannabos met verre rante trou

sal ek huppel-t’rug na jou toe kom

my langbeenvyg, my botterblom

want soos boesmanland ná lekkerreëns gedy

leef ek vir jou en jy in my

 

waar kokerbome by driekop blom

sal ek voetsaam oor die rante kom

met die stofpad langs óór onseepkans

sal ek lag en sing en hoogtrap dans

ja, as geelblom uit sy koker spring

sal ek handvol bidreëns vir jou bring

 

maar as die pê-pê fluit ten einde laas

vir my sy afskeidsliedjie blaas

en ses paar voete my sal dra

is daar iets wat ek wil vra:

grou ʼn lêgat in die boesmanland

laat rooison op my kopklip brand

en as ʼn geelryp volle maan

stilweg oor die rante traan

sal ek luister na die heutjiehee

wat na sy maat bly skree

 

Die laaste afdeling, “troosbossies”, wat met 26 gedigte die langste afdeling in die bundel is, bevat hoofsaaklik kort gedigte in ʼn volkslied-agtige styl soos ook by van Wyk Louw in “Klipwerk”, Boerneef, Hans du Plessis en George Weideman. Volksliedjies word oor die algemeen gekenmerk deur hulle speelsheid en aardsheid – dit is poësie wat deur die “volk” verstaan kan word en het dikwels ʼn eenvoudige vorm, hoewel dié stelling nie die meerduidigheid van sommige volksverse onderskat nie. Kannemeyer sê dat die “irrasionele en onlogiese” kenmerkend is van volkspoësie (1978:69) en volgens A.P. Grové, wat oor die “Klipwerk”-gedigte skryf, besit hulle “nou eenmaal iets orakelagtigs” (Grové, 1978:84). Volksgedigte het dikwels die aard van inkantasies met hulle sterk melodiese aard, herhalings en streng ritme en metrum, asook die oënskynlike sinloosheid, wat soos antieke towerspreuke, besonder sterk tot die Onbewuste en die Argetipes spreek. Dikwels straal iets oer-mensliks uit die Volksgedig deurdat dit die mens en die landskap met mekaar vervleg.

Dit is alombekend dat Thomas Deacon, benewens digter en skrywer, ook ʼn bekende sanger van ligte liedjies was. Sy gedigte word van die begin af gekenmerk deur sterk ritme, metrum en klankspel met verskillende vorme van rym soos alliterasie, assonansie en klanknabootsing, asook die herhaling van woordgedeeltes volgens ‘n vaste patroon. In gedigte soos “kalkoentjies trap” (p. 25) word die bekende lied “kalkoentjies trap al-so” verruimend opgeroep as verwysingsveld. Hier is De Haan (1982: 49) se uitspraak ter sake, naamlik dat die volkslied die musikale bo die rasionele verkies. Die voorbeelde wat hieronder aangehaal word, illustreer enkele van die aspekte wat hierbo in verband met Volkspoësie bespreek is:

 

my bekertjie loop oor

 

my bekertjie loop oor

my broodjie is ʼn dubbeldoor

die wind speel op sy rietjiesfluit

en voordag stort sy rooiwyn uit

(p. 27)

 

tussen kleinsee en koingnaas

 

tussen kleinsee en koingnaas

waar die son wydsbeen

oor yl narrabossies staan

grawe ʼn kapaterbok t!kamaroe

wat so lekker na namakwaland

se wegblywater proe

(p. 63)

 

“Die bundel bevat ook ʼn heuglike inslag van Boerneef se loslittige Afrikaans met ʼn voorkeur vir die kontreiwoord en -uitdrukking” – aldus die agterbladteks. Ek weet nie of ek die woord “heuglik” hier sou gebruik het nie … Baie van die gedigte herinner wel aan Boerneef se poësie, onder andere die gedig “berggans” (p. 69) wat speel met Boerneef se “die berggans het ʼn veer laat val” en “boerneef loer” (p. 50). Oor die algemeen sou ek sê dat intertekstualiteit nie per se ʼn positiewe of negatiewe bydrae tot ʼn gedig maak nie. Dit hang af wat die digter met die brongedig gedoen het en hoe hy/sy daarmee in gesprek getree het. Dieselfde geld vir nabootsing van ouer/ander digters se style. Ek kry die afgelope tyd te dikwels die indruk dat digters (oor die algemeen) te loslittig met ander digters se werk omgaan onder die vaandel van “intertekstualiteit” – en hier bedoel ek nié dat Deacon dit doen nie. Ek het wel gevoel dat die digter van “minjonet en bitterbos” se stem in sommige gedigte in die derde afdeling van die bundel sterker kon oorkom. Persoonlik het ek, as iemand wat sterk bande met die Noord-Wes Kaap het, baie gehou van die eenvoudige kontrei-spesifieke gedigte.

Thomas Deacon se stem het stil geword. As digter het hy ʼn besondere nis in die Afrikaanse poësie volgestaan en is hy wyd geëer vir sy werk. Sy dood is ʼn verlies vir die Afrikaanse digkuns en vir talle van ons wat sy vriende was. Die bundel “minjonet en bitterbos” bevat van sy allerbeste werk. Noudat sy oeuvre volledig is, behoort daar ʼn omvattende studie daaroor onderneem te word – byvoorbeeld deur ʼn Meestersgraad-student. Hoewel eenvoudig in vorm, is Deacon se gedigte dikwels meerduidig en gelaagd en bevat dit byna sonder uitsondering argetipiese, algemeen-menslike waarhede wat die leser ontroer en bybly lank nadat die bundel toegemaak is.

 

Bronne

De Haan, T.W.R. 1982. Volk en dichterschap over de verhouding tussen volkscultuur en officiele literatuur. Tweede druk. Den Haag: Kruseman’s.

Grove, A.P. 1978. Natuurwysheid van die Klipwerk. In: Grové, A. P. 1978. Dagsoom. Kaapstad: Tafelberg: 83-99

Gouws, Tom. 2013. Die agste teken – Basie Duvenhage. Datum geraadpleeg: 27 Februarie 2022.

https://versindaba.co.za/2013/09/09/resensie-die-agste-teken/

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur band 1. Pretoria: H & R-Academica.

Nel, Elias P. 2020. Korona-kortverhaalfees: Elias P Nel oor “Die heks van Gelukspoort”. Datum geraadpleeg: 2 Maart 2022

https://www.litnet.co.za/korona-kortverhaalfees-elias-p-nel-oor-die-heks-van-gelukspoort/?fbclid=IwAR1hYEhlN8F_FZ8jntcjKNO3ltG5iDHHIT5Ir4R6gwoQHEyPhCr6oeupsvg

Van Rensburg, Christo. 2015. Klipwerk: ‘n Rooihakskeenlesing. Stilet, September 2015 XXVII(2): 83-111

(Datum geraadpleeg: 27 Februarie 2022

https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/20566/2015Klipwerk.pdf?sequence=1&isAllowed=y

Van Zyl, Wium. Regionale Literatuur. In: Literêre Terme en Teorieë (aanlyn). Datum geraadpleeg: 26 Februarie 2022

https://www.litterm.co.za/index.php/r/195-regionale-literatuur