Posts Tagged ‘Sunita Keyser gedig’

Sunita Keyser. Verbintenis

Sunday, December 5th, 2021

 

verbintenis

 

noudat jy geknak is

op my bang elmboog moet leun

dat ons skuifel-skuifel

deur die laaste seisoen kan loop

verstaan ek eers

my eie haikoedig

lank gelede neergestip

wat vertel van tye

– toe dit maklik was

dink ek dat dit moeilik is

maar weet nou beter –

vrees ek eers

my lykgedig

– as jy eerste moet gaan

is ek die een wat laastelik

jou menswees

in ’n kissie met as

by die ondernemer sal gaan haal

om snarsies van jou te strooi

op al die plekke waar ons eenmaal was

omdat jy vir altyd sal wil wees

in die kwantum van jou bestaan

waar lammers in die hawer speel

’n erdvark in die maanlig dwaal –

onthou ek  eers

my liefdesvers

– êrens het jy vir my

’n stukkie geel gepluk

met in jou oë dankie

dat van hierdie wêreld

ons twee ook ’n deeltjie is –

weet ek eers

dat mymer oor vergane tyd

die waarheid is

want aaneengestring is jaar op jaar

wentelings van hierdie aarde

om die son

’n sirkelgang wat telkens stol

van bloeisel tot volronde vrug

die verkleurde blaar wat sug

en eindelik los

’n vermaerde tak alleen

in die winterkou wat wag

tog in die kroes van elke lewe

versmelt die ritme van ons tyd

dat net twee getye bly

die groen seisoen van jonk

wat vorentoe wil reik

en ’n laaste vale stond van peins

en nademaal terug na alles kyk

met net skrale woorde

en verbintenis

 

© Sunita Keyser, 2021