Posts Tagged ‘Susanne Pike Gisterwinter’

Resensie: Gisterwinter (Susanne Pike)

Tuesday, September 29th, 2020

 

 

 

 

 

Gisterwinter deur Susanne Pike. Minimal Press, 2020

Resensie: Elna de Beer

 

Gisterwinter is Susanne Pike se tweede digbundel. Die eerste bundel was Inkspoor, ‘n selfpublikasie, wat in 2016 verskyn het. Een van haar onlangse gedigte, Duisend Duine, is in 2020 getoonset deur Lizanne Barnard vir haar program Stuur my jou woorde. Gisterwinter is opgedra aan die digter se dogter wat in 2002 oorlede is.

Die titel, gisterwinter, verwys na ervaringe in die verlede wat soms traumaties en pynlik kan wees en ‘n stagnerende invloed op die lewe kan uitoefen, soos wat die winter die natuur in ‘n geforseerde ruspouse plaas. Dikwels word die doel van die mens se bestaan in so ‘n bevrore toestand bevraagteken en kan dit lei tot dieper insigte. Gelukkig is daar egter altyd die wete dat die lente op die winter sal volg en dat tragedies en traumatiese belewenisse wasdom en groei in die self en in verhoudings kan bewerkstellig.

Die voorbladfoto deur Rawpixel is ‘n swart en wit foto van die maan as agtergrond vir ‘n mot en ‘n blomtak. Die somber kleure herinner aan rou en dood :“die great sadness” waarna die spreker verwys in selfportret I (p.9), bosgroet (p. 25) en hierdie maan (p. 43). Die maan, mot/vlinder en blomme, is simbole wat die digter herhaaldelik in haar verse aanwend om verskillende aspekte van die dood-rou-herlewing-tema te illustreer. In vyeboom  (p. 22) skryf sy:

 

[met jou vlugvertrek

het swart vlinders die boom bedek]

 

waar sy die ongelukkige verloop van ‘n verhouding vergelyk met ‘n vyeboom. Die skoenlapper is simbolies van intense transformasie, die vermoë om uit een fase na ‘n ander te beweeg. Die digter beskryf in hierdie bundel ‘n intens persoonlike transformasie uit ‘n diep winterfase van rou en apatie na ‘n lentefase van herlewing. Die metamorfose van mot na skoenlapper kan dui op addisionele simboliese betekenisse van “mot”, soos die soeke na die goue randjie om elke donker wolk, teenoor die Bybelse assosiasie met verval waarna die digter verwys in elegie vir ‘n dooie huwelik (p. 23) waar ‘’die goue man” ontbloot word as klatergoud.

 

toe ons uiteindelik kragte meet

het ek geweet –

my El Hombre Dorado

was klatergoud vir roes en mot:

verpulwer deur die egverrot

 

Die eerste twee gedigte in die bundel is selfportret I (p. 9) met die motto: refleks in herfs en selfportret II (p. 10) met die motto: haikoes vir ‘n vier-seisoene vrou waarin die spreker introspeksie hou. Albei gedigte word gekoppel aan seisoene. Opvallend is dat die seisoene in die haikoes nie chronologies op mekaar volg nie, maar dat somer en herfs omgeruil is. Op hierdie wyse staan herfs dus in albei gedigte as eerste fokuspunt. Die laaste haikoe is dan die lente wat dui op die positiewe uitkoms en die metamorfose van die vlinder wat uit sy papie ontsnap. Dit is ook interessant dat die digter juis die fyn en delikate haikoe-vorm gebruik wat in sy wese herinner aan skoenlappers.

Herfs is simbolies van rypheid, volwassenheid en die laat val van skyn en voorgee. Dit behels pyn en afskeid en dui op ‘n proses van wording. Die natuur in al sy seisoene word ook deurlopend betrek in die gebeurtenisse rondom die spreker. So gebruik die spreker byvoorbeeld verskeie boomsoorte om die impak van mishandeling op die vrou te versinnebeeld in herbarium van verbale mishandeling (p. 32):

 

… boomvrou wat sy was,

haar krom dennerug

weer opgerig na ‘n dounat lug;

kruidjie-roer-my-niete

uit haar verlepte oë uitgepluk

doringwoorde      weggeruk

v  e  r  p  l  a  n  t

 

Die seisoene van die spreker se lewe word in verskillende groepe gedigte versinnebeeld. Die eerste groep gedigte handel oor swaarkry, nie net op ‘n emosionele vlak van verlies van geliefdes en die emosies wat daarmee gepaard gaan nie, maar ook op ‘n finansiële vlak. In die skedel breek oop (p. 11) slaag die digter, onder andere deur  haar gebruik van homonieme, om die gaping tussen diegene wat het en diegene wat nie het nie, te illustreer:

 

plastieksakke bult in Checkers, die brood

en melk is op, die kinders maak my op met

die geneul oor nuwe tablets, sê die ma, die pa

bedel tablets by Dis-Chem vir sy kop, die medies

is op, sug die pa …

 

 Hierdie kontras tussen armoede teenoor welstand kom ook in krismis II (p. 14) en sondaghuis (p. 33) duidelik na vore. Verder is dit ook ‘n deurlopende motief in die groep gedigte wat handel oor die spreker se kinderjare.

Die spreker steun egter deurlopend op haar geloof om haar deur die pynlike ervaringe te help. Haar visserspsalm (p. 12) is sprekend hiervan:

 

Die Here is my reddingsboei, Hy omsirkel my

met waterdigte arms.

Deur wildewaters lei Hy my na

‘n stil rivierstroom.

 

Ook in Moeder Teresa in ‘n wiskundeklas (p. 20) gee die spreker die geloof aan God en die krag wat daaruit geput word, die erkenning vir die optrede van die bekende non:

 

toe word jy wys en jy bewys

Sy teorie:

jy lééf Sy Storie

en jy kleur driedimensioneel

‘n reënboog in –

toe is jou lewensprent perfek

 

In die laaste groep gedigte kom daar ‘n sterk tema van hoop voor en waag die spreker versigtig om weer vreugde te ervaar. Dit dui op ‘n verandering van haar gemoedseisoene. In ‘n bietjie bitter (p. 61) skryf die digter speels:

 

ek het jou lief

ek het jou lief,

my bietjies-bietjies

aalwyndief

 

Hierdie is ‘n bundel gedigte wat wye aanklank sal vind. Die algemeen-menslike temas spreek tot lesers uit alle agtergronde. Die digter slaag daarin om haar gedigte toeganklik te maak vir lesers van ‘n verskeidenheid ouderdomsgroepe, van tieners tot volwasse en ouer lesers. Dit is gedigte wat ontroer en waarmee almal wat al pyn en verlies ervaar het, kan identifiseer.

 

 

  •