Posts Tagged ‘Sutherland’

Andries Bezuidenhout. Die Louw-huis in Sutherland

Friday, January 7th, 2011

Sutherland bly een van my gunstelingdorpe in die Karoo. ʼn Belangrike rede hiervoor is seker Karel Schoeman se boek Hierdie lewe, ʼn hartroerende roman wat dokumenteer hoe Afrikanerboere in die omgewing hul grond bekom het, hoe hulle hulself uit armoede uit opgewerk het en hoe hulle die landskap begin domineer het. Dit is seker een van die mees sensitiewe studies van koloniale, landelike patriargie. Die boek is ʼn belangrike verwysingspunt in Marlene van Niekerk se Agaat.

In Sutherland bly ons gewoonlik op Nicol en Marina van der Merwe se plaas Blesfontein. Die plaas is op die Roggeveld se eskarp. As jy op die eskarpkant staan kan jy die Cederberge sien en onder jou die Tankwa-Karoo, of die Ceres-Karoo soos sommige mense dit hier noem.

Vir meer as drie eeue jaag die boere hier hul skape elke winter met die Oubergpas af na onder toe, sodat die skape nie van winterkoue en sneeu omkom nie. Soos meeste van die ander boere, het Nicol en Marina ook ʼn plaas onder in die Tankwa-Karoo. Dis al hoe jy hier kan boer.

Karel Schoeman se bemoeienis met Sutherland se geskiedenis kom natuurlik van sy belangstelling in die wêreld van NP van Wyk Louw. Ons hou in Sutherland stil, sodat ek foto’s kan neem van hoe die huis waar NP van Wyk Louw en WEG Louw grootgeword het vandag lyk.

Andries Bezuidenhout. Vier grondpadpasse na liefde vir die poësie

Friday, January 8th, 2010

Ek weet ek is hierdie maand veronderstel om te skryf oor waar my liefde vir die poësie vandaan kom. Ek het egter ʼn ruk gelede my derms daaroor uitgeryg en ek moet besluit of ek nie maar eerder net ʼn skakel daarnatoe moet plaas nie. Intussen sit ek nog in verwondering oor die paaie wat ek en Irma hierdie Desember deur die Karoo gery het. So eerder as om oor gedigte te skryf, wil ek ʼn paar aanbevelings maak oor plekke om heen te reis. Dis nou as ʼn mens nie te erg aan hoogtevrees  ly nie, of nie omgee om op grondpaaie te ry nie.

Die pad tussen Sutherland en Merweville
ʼn Mens ry suidwaarts uit Sutherland en draai dan links, op die grondpad in Merweville se rigting. Jy ry deur die Roggeveld, dan oor Komsberg se eskarp, tot jy in die Koup kom. Dit neem ʼn tydjie voor ʼn mens op die eskarp beland, maar dan kan jy ver sien – tot by die Groot Swartberge. Ons het hierdie pad sewe jaar gelede gery en hierdie keer ʼn aangename verrassing in Merweville gekry. In vergelyking met sewe jaar gelde lyk dit soos ʼn splinternuwe dorp. Amper al die huise is gerestoureer. (Dis die geval in baie van die dorpe wat ons weer besoek het.) Of dalk is dit maar net dat ons deesdae lugversorging en ʼn dieselenjin het, en nie heeltemal so hot en bothered is na ʼn lang grondpad nie.

Hier is by eerste poging om die dag op hierdie pad te beskryf:

WEGRAPING
(op die pad tussen Sutherland en Merweville)

                                           Kersdag,
laat-oggend reeds ʼn warm spieël.
Ons diesel oor die Komsberg-eskarp,
deur die Koupvallei met die Dwyka langs,
padkos en rooibos op ʼn naamlose pas:

Dóér suid, die Swartberge
met Gamkaskloof se pad na Die Hel.

Hier net leksels lewe op ʼn droë tong –
oorstuurde graatjiemeerkatte,
merino’s gebondel langs ʼn yl peperboom,
windop, hoog, ʼn slangarend se spikkels.

Van menselewe slegs die spore
van ʼn slingerende donkiekar
wat in ʼn rivierloop opdroog.
Skynbaar is almal kerk toe,
of stoel by skottels geofferde dorpers
in donker vertrekke op werwe
met trekkerwrakke en populiere.

Miskien uiteindelik die wegraping,
lag ons, en ons al wie oorbly,
salig onbewus van die merk van die Bees
bo ons wenkbroue.

Vir ingeval, nét vir ingeval,
hou ons tóg op blindehoogtes links.

(25 Desember 2009)

Die Swartbergpas
Ek hoef seker nie veel hieroor te sê nie. ʼn Mens vind die pad Gamkaskloof toe (ook bekend as Die Hel), op hierdie pas. Aan die een kant van die berg sien jy die Moordenaarskaroo, die Klein-Karoo aan die ander kant. Jy ry om haarnaalddraaie, langs klipmuurtjies, skrams verby asemrowende afgronde. Dis geen wonder dat sommige mense weier om dit vir ‘n tweede keer te doen nie; dit kan ‘n skrikwekkende ondervinding wees as jy ‘n senuweeagtige bestuurder met hoogtevrees is.

Die pas is in 1888 reeds geopen. Thomas Bain het die droëklipmetode gebruik om dit te bou. Dis nogal vreemd om te dink dat die klippe van die slingerpaadjie waarop ‘n mens langs die skerp afgrond ry, bly staan bloot omdat hulle heel noukeurig op mekaar gepak is. Daar is geen sement of ander bindmateriale gebruik nie. Tog, vir meer as ‘n eeu nou word die pas gebruik sonder dat die seismiese aktiwiteite in die berge ‘n ineenstorting veroorsaak het.

Daar is ongeveer honderd en vyftig grafte van gevangenes wat omgekom het met die bou van die pas. Gevangene-arbeid is gebruik om die koste te verminder van ongeveer £25 000 na net meer as £10 000. Moordenaars en ander gevaarlike gevangenes is vasgeketting terwyl hulle klippe gekap het. Indien daar spoke in die bergpas is, sou ‘n mens waarskynlik maklik verklarings daarvoor kon vind.

Ouberg se pas
Vir meer as ʼn eeu jaag mense skape met hierdie roete van die Roggeveld af na die Ceres-Karoo (sommige mense noem dit die Tankwa-Karoo, ander sê dis twee streke, die een noord en die ander suid). In die winter is dit te koud vir die skape om op die Roggeveld te oorleef. Mense hier rond het dus plase bo en onder en trek saam met die seisoene tussen die twee. In die laat-1960s het die boere in die omgewing die regering versoek om die roete toeganklik vir voertuie te maak. Die pas is in 1969 voltooi. ʼn Mens kan die Cederberge van hier af sien.

Die Gannagapas
ʼn Mens ry terug Roggeveld toe met hierdie pas, in die rigting van Middelpos, wat tussen Sutherland en Calvinia aan Karoobossies vasklou. Die pas is deel van die Tankwa-Karoo Nasionale Park, een van die land se nuwer reservate. Die reservaat is besig om uit te brei en het nou akkommodasiegeriewe. Daar’s blyplek aan die bopunt van die pas – Gannaga Lodge, of so iets. Ag, ek sal sukkel om die uitsig te beskryf sonder om in clichés te verval waaraan ek myself reeds skuldig gemaak het.

Terug by die tema van die maand, dan. Hoe kan ʼn mens nie gedigte wil skryf as jy súlke paaie kan ry nie? Hoe kan jy nie die landskap se wonderlike, maar tragiese geskiedenis wil ontgin nie? Vir my vroeër bydae oor waar my liefde vir die poësie vandaan kom, gaan kyk gerus hier. Vir eers het ek niks meer hieroor te sê nie, behalwe dat ek onwetend gelieg het oor die feit dat ek ʼn tangverlossing was. Dit was my ouer broer.

Andries Bezuidenhout. Die Roggeveld se eskarp

Monday, January 4th, 2010

Johannesburg lyk groen, groen, groen, ná ʼn paar weke in die Karoo. By Sutherland met Ouberg se pas afgery, van die Roggeveld na die Tankwa-karoo, met die pad wat generasies reeds gebruik word om skape af te jaag tydens die winter, na die warmer dele in die vallei. Dele van die Tankwa-karoo is seker die naaste wat ons aan die Namib sal kom. ʼn Mens kan verstaan hoekom ʼn boerdery met skape hier nie op sy eie sal uitwerk nie. Nicol en Marina van der Merwe boer steeds met hulle dorpers op hierdie trekboermanier. Hulle plaas grens aan die eskarp. Teen sononder het ons hier oor die vallei gekyk, die Cederberge doer op die horison gesien. Baie gedink aan Hierdie lewe, Karel Schoeman se boek wat hier afspeel. Ook aan NP van Wyk Louw gedink, weer Antjie Krog se lesing oor sy “beautiful woorde” gelees. ʼn Aantal plase behoort aan ʼn ene NP van Wyk. Neem aan dis die ma se kant; kan nie nou onthou nie, al het ek jare gelede Steyn se dubbelloopbiografie gelees. Hier is my tentatiewe kommentaar op die wêreld van Louw:

 

TELESKOOP BUITE SUTHERLAND

Vreemd hoe die sterre prut vannag,
kaal deur die oog beskou, ʼn donker brousel,
maar as jy hiér – op die Roggeveld se skurwe eskarp,
ver van fabriek en brandende stad –
in die duisternis roer met lens en silinder,
kan jy Sirius aanstip, daardie witwarm son,
selfs die mane geslingervel om Jupiter, die reus,
nóg wêrelde wat swerk in die wolk van Magellaan
en in elke ster wat uitbrand ontkiem ontelbaar meer.

Ja, ʼn sterrewag moet skerp kan kyk,
want alles bars in skille na buite,
vanaf ʼn pit iewers, een of ander tyd,
lank voor die woord.
Eeue reeds, maar steeds te laat,
volg ons dié trajek met passer en teleskoop.

Ek swaai die buis te na aan die maan,
die sekel blits, my pupille ʼn seeroos,
kramp toe, en kyk ek meteens na binne,
na ʼn stomme heelal wat in my oogbal ontplof.

21 Desember 2009

  •