Posts Tagged ‘Swerfvalk gedig’

Susan Smith. as ‘n swerfvalk teen ‘n ruit vasvlieg

Tuesday, May 5th, 2020

 

 

 

 

Un ange tombe

Un ange bombe

 

 

kyk hoe stil lê hy nou

hy, aan vlug

en hoogtes gewoond

 

aan kantel en duik en opwaarts

die son kloof

 

wind roer die borswering

van veertjies asof

daar nog lewe is

 

die wind sê kniel

die harde slag sê kyk

ek kniel en kyk

 

die gestreepte vlerkspan strek ek

groter as my hand

 

ondersoek die geel kloue

vir oulaas saamgetrek

soos vir ’n roof

 

die vlekkie bloed

uit een oog se hoek

’n rooi bloeisel op die stoep

 

die borskas beeldhouwerk

nog warm onder my palm

 

ek hou aan streel

asof my hande iewers

’n hartklop sou roer

 

asof hierdie

nie sy sterfuur is nie

 

my oë steel

die gevoude liggaam

’n onversadigde blik wat áánhou

 

Ínkyk op die dood

 

om die dood te vergeet

is om afstande

aan die ánder kant

af te meet

 

die hart is ’n veer

die wind laat dit vlieg

 

© Susan Smith, 2020

 

 

  •