Posts Tagged ‘Taalpolitiek’

Desmond Painter. Universiteit, taalpolitiek, literatuur: ‘n Mymerskrif op die muur

Friday, November 11th, 2011

Ek was in Brasilië as gas van die Universiteit van São Paulo (my Portugese titel, terloops, was Auxilio Professor Visitante, nogal kinky!), maar omdat my gasvrou ʼn dubbele aanstelling het, het ek die geleentheid gehad om ook die Pontifícia Universidade Católica de São Paulo (PUC-SP) twee keer te besoek – een keer om ʼn lesing aan te bied, die ander keer om te gesels met navorsers en aktiviste wat werk met jeugdiges in die favelas in en rondom die stad.

Dit was nogal vir my ʼn eer, ʼn thrill, om op die PUC-SP kampus te wees, want dit is ʼn universiteit met ʼn ryk geskiedenis en ʼn sterk tradisie van radikale denke en aktivisme – so anders as my eie universiteit, waar daar natuurlik nie werklik ʼn tradisie van kritiese teorie en radikale praktyk is nie.

Voor die PUC-SP

Voor die PUC-SP

 

Tydens die militêre diktatuur, veral, het akademici en studente van die PUC-SP nie weggeskram daarvan om kritiek te lewer en op ander maniere by te dra tot die verligting van politieke en ekonomiese ellende nie. Die universiteit het ook heenkome gebied aan etlike akademici wat, weens hulle politieke idees en aktiwiteite, by openbare universiteite afgedank is.

Die PUC-SP is ʼn private, Katolieke universiteit wat as ʼn nie-winsgewende instelling bedryf word. Dit is ‘n tipiese stadskampus: dit is in die middel van ‘n besige buurt, daar is graffiti op die mure, jy ruik bier in die stegies en jy voel die energie van studente oral aan, selfs na-uurs. 

Studente en winkel, PUC-SP

Studente en winkel, PUC-SP

 

Een groot figuur in die sosiale wetenskappe wat vir baie jare aan die universiteit verbonde was, is Paulo Freire. Freire, natuurlik, het bekendheid verwerf vir sy teoretisering en toepassing van die ‘pedagogie van hoop’, ʼn begrip wat deesdae baie by my eie universiteit ook gebruik word – trouens, ʼn begrip wat toenemend deel vorm van die US se korporatiewe identiteit.  

In die teoretiese en politieke verbeelding van Freire is ‘hoop’ ʼn radikale, revolusionêre beginsel, en alhoewel ek Russel Botman se goeie bedoelinge in hierdie opsig nie in twyfel trek nie, is dit moeilik om nie ʼn bietjie sinies te wees oor hoe ‘hoop’ aan die US tot ʼn bemarkbare slagspreuk verskraal word nie. Nogtans bly dit ʼn belangrike uitdaging: hoe om teorie, praktyk, die universiteit as sodanig, in terme van ʼn radikale aandrang op en uitbreiding van maatskaplike hoop te herdink. 

Om dit reg te kry, volgens my, kan ons egter nie toelaat dat ons konsepte deur bemarkers oorgeneem word nie. En dit is oraloor presies wat aan die gebeur is, ʼn soort oorname en aftakeling van ons konsepte en semiotiese beweegruimtes deur die leë instrumentalisme en selfdienende opportunisme van bemarkingsdiskoers. Net laasweek nog het ek ʼn ‘Revolution’ T-hemp in Truworths gesien, kompleet met Che Guevara se gesig daarop… Die begrip ‘Occupy’ sal seker dieselfde paadjie loop.

My geliefde Foucault, boekwinkel, PUC-SP

My geliefde Foucault, boekwinkel, PUC-SP

 

Ons moet veg vir die outonomie van ons taal en konsepte, want hiersonder word dit onmoontlik om outonomie in ander domeine ook te bedink en te artikuleer. Bewussynsvryheid is ʼn taalpolitieke kwessie. In hierdie opsig kan ʼn mens seker praat van ʼn globale taalstryd, een wat nie rondom spesifieke tale geveg word nie, maar wat fokus op die onderwerping van alle taal, betekenis en woorde aan die imperatief van bemarking en verkope; op die korporatiewe besitname van bewussyn en die verskraling van groepe en subjektiwiteite tot individuele en kollektiewe verbruikers.

Ek en Miriam, my gasvrou, PUC-SP

Ek en Miriam, my gasvrou, PUC-SP

 

Die poësie (omdat ʼn ander verhouding met taal daar geld) bly ʼn loopgraaf in hierdie semiotiese oorlog – en in hierdie opsig is alle poësie taalpolitiek, net soos alle belangrike letterkunde op ʼn manier die politieke dimensies van ons bestaan aansny. (Politiek breed verstaan: ons moet die begrip ‘politiek’ immers ook terugeis…)  

Enige aandrang op die teendeel (op die essensieel apolitiese aard van die poësie en die letterkunde) is die gevolg van ‘n verkeerde, wesenlik bourgeois opvatting dat menslike selfverwesenliking buite die verband van samelewing (die bemiddelende instellings en praktyke waardeur ons as menslike subjekte tot stand kom en gereproduseer word) tot uitdrukking (tot sê, tot segging, tot storie) kan kom.   

Miriam en ons tolk, Marcio

Miriam en ons tolk, Marcio

 

Taal is by uitstek die ruimte en meganisme van hierdie bemiddeling van (en tussen) die ek, die jy, die ons, en die hulle. Taal, as ‘n gedeelde ruimte, funksioneer vir die ‘ek’ as die moontlikheidsvoorwaarde waarsonder daar geen erkenning en ervaring van die ‘eie’ en die ‘ander’ kan wees nie. Dit is te danke aan taal dat ‘ek’ gesê kan word, en dat die gemeenskaplike gesubjektiveer kan word tot ‘individualiteit’ en psigologiese ‘innerlikheid’.   

Die politiek en die letterkunde begin albei waar ons selfsyn en samesyn vir ons probleem en projek word. Beide is ten nouste verstrengel met die fundamentele taligheid van ons bestaan. Die poging om kennis, wetenskap en literatuur onafhanklik van die politiek te verklaar, berus op ‘n misverstand oor die aard van taal. 

 

 

Ek en kollegas, PUC-SP

Ek en kollegas, PUC-SP

Desmond Painter. Afrikaans, ras en nasionaliteit: Deel 1

Thursday, April 29th, 2010
Frantz Fanon

Frantz Fanon

In September hierdie jaar gaan ek die 18de tweejaarlikse Sociolinguistics Symposium in Southampton, Engeland, bywoon. Soos dit maar gaan — oftewel, soos dit maar met my gaan — moes ek oornag ‘n abstrak produseer, met die gevolg dat dit ‘n bietjie sonder fokus is, maar ook doelbewus vaag, sodat ek, wanneer dit by die skryf van die referaat kom, nie onnodig deur die abstrak aan bande gelê word nie…

Die onderwerp van my beoogde referaat is, breedweg gestel, taalpolitiek en taalideologie in Suid-Afrika, en meer spesifiek die diskursiewe posisionering (histories sowel as hedendaags) van Afrikaans ten opsig van ‘ras’, ‘witheid’, ‘bruinheid’/’swartheid’ en ‘nasionaliteit’/’Suid-Afrikaansheid’ hier te lande. Dit is baie vaag, ek weet; en meer nog, dit is (kyk maar na die abstrak hieronder) nog lomp en swaarwigtig geformuleer.

Die hele projek trek ook eintlik in twee rigtings. Aan die een kant wil ek iets probeer skryf oor die verstrengeling van taal (en spesifiek dan Afrikaans) met historiese konstruksies van ‘ras’ en ‘nasionaliteit’ in Suid-Afrika — ‘n idee wat eerstens by my posgevat het na die herlees van Jan Rabie se uitspraak oor Afrikaans as ‘n ‘nie-rassige prestasie’, maar wat ook gestimuleer is deur wat myns insiens ‘n verwaarlosing is van die rol van taal in akademiese besinning oor die historiese konstruksie van ‘ras’, ‘nasionalisme’ en dergelike onderwerpe in Suid-Afrika. Aan die ander kant wil ek ‘n aantal intellektuele hulpbronne (bv. Fanon se idees oor taal en kolonialisme, Bourdieu se teorie van simboliese heerskappy, Hardt en Negri se werk oor ‘Empire’) aktiveer binne die konteks van die huidige debatte oor veeltaligheid in Suid-Afrika. Ek sal moet besluit wat presies dit is wat ek wil doen.

Hoe ook al, teen die agtergrond van die debatte tans rondom die rol en status van ‘swart Afrikaans’ en ‘swart Afrikaanssprekendes’ dink ek tog my leeswerk vir die referaat kan vir sommige lesers van Versindaba interessant wees. Meer nog, hier is sekerlik heelwat lesers wat my van waardevolle raad kan bedien, veral wat die geskiedenis van Afrikaans en die Afrikaanse taalpolitiek betref. Wat ek dus wil doen is om so elke nou en dan oor my navorsing te rapporteer op hierdie blog. Ek belowe om dit nie oordrewe akademies te maak nie, maar te hou by temas en gedagtes wat vir lesers van hierdie blog dalk van belang kan wees. Hier is die abstrak, vratte en al:

 

Race, ‘whiteness’ and the ambiguities of national identity in representations of the ‘politics of Afrikaans’

This paper analyses representations of ‘the politics of Afrikaans’ in South Africa across a number of different discursive contexts, including academic writing, the media, and position documents produced by government as well as various cultural organizations. The aim of the paper is not to provide an analysis of the politics of Afrikaans as such, but to explore how struggles over and about the role, status and future of Afrikaans in South African public life are articulated, legitimitized, problematized and generally positioned in relation to the field of the political. What make representations of the politics of Afrikaans analytically particularly interesting is the fact that the language still occupies an ideologically ambiguous position in current South African political discourse. On the one hand, it is currently a minority language within a context of increasing (local and global) English hegemony, and hence subject to discourses of multiculturalism, minority language rights and linguistic justice. On the other hand, the history of Afrikaans as a language of apartheid administration and of racism in South Africa clearly remains a relevant (and rhetircally deployed) component of its public representation, especially regarding patterns of legitimization and deligitimization of the various cultural and political claims made in relation to it. Thirdly, in recent years Afrikaans has increasingly been contested in relation to its foundational relationship to ‘whiteness’ in South Africa, becoming the vehicle and stake also of black social, cultural and political aspirations. Representations of the politics of Afrikaans in South African discourse, then, reveal a number of important tensions in the relationships between language, on the one hand, and race, culture, national identity, the postcolonial and globalization on the other hand. These topics, with particular emphasis on the discursive (re)constitution of Afrikaans in relation to race, ‘whiteness’ and national identity, are explored from a language ideological perspective, drawing on the analytic strategies of discursive social psychology.     

  •