Posts Tagged ‘Tafelberg’

Desmond Painter. Adam Small: Outobiografiese penskets

Monday, January 16th, 2012

Adam Small

Adam Small

Ek koop al baie jare lank tweedehandse boeke by Cafda, ʼn boekwinkel geleë net langs die Cavendish Square winkelsentrum in Claremont, Kaapstad. Cafda het altyd ʼn goeie versameling Afrikaanse boeke. Wanneer ek soms op ʼn Saterdagoggend daar gaan rondkrap, is daar amper altyd iets wat die moeite werd is om te koop; dikwels iets wat al lankal uit druk is.  

Nou onlangs weer: Gesprekke met Skrywers 2, destyds uitgegee deur Tafelberg. Ek kan nie onthou hoeveel volumes daar uiteindelik in die reeks gepubliseer is nie, maar hierdie gebundelde literêre onderhoude met Afrikaanse skrywers was ‘n uitstekende projek. Ek het die eerste volume destyds toe ek nog op skool was by die Brackenfell biblioteek uitgeneem — om F.I.J. van Jaarsveld se gesprek met Etienne Leroux te lees.

 

Ook in Gesprekke met Skrywers 2 is fassinerende gesprekke opgeneem. Een van die interessantste in die boek is Ronnie Belcher s’n met Adam Small. Die boek is in 1972 gepubliseer; Small, gebore in 1936, was dus nog maar 36 jaar oud. Op die foto’tjie wat vir die omslag gebruik is lyk hy selfs jonger: ʼn netjiese, ernstige skoolseun. Tog was sy belangrikste werk toe al gepubliseer: Kitaar my kruis (1961), Sê sjibolet (1963) en Kanna hy kô hystoe (1965). Almal voor hy 30 was!

Aan die einde van elke gesprek word enkele feitelike vrae aan elke skrywer gestel: geboortedatum, boeke gepubliseer, pryse gewen, lewensloop, geliefkoosde skrywer, ontspanning, ens. Small se beskrywing van sy lewensloop is ʼn lieflike klein outobiografiese skets; dit verdien om volledig hier aangehaal te word:

Lewensloop: gebore Wellington, Kaap (waar glo ook Piet Retief). Groei egter tot so 9 jaar oud op in buitewyke van Robertson waar my vader destyds ʼn plaasskooltjie van die N.G. Sending aan die gang gehou het onder die arbeiders van omringende plase. Hier waar die eerste en blywende siel van protes oor die lot van die ‘underdog’ my gegee is (God?). Gelukkige huislike lewe as kind. (Weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ʼn ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.) Moeder ʼn tot die Christendom bekeerde Mohammedaan (dus die ‘Oostersheid’ van my ‘bloed’), vader ʼn diepsinnige mens, gedissiplineerd maar liberaal in lewensuitkyk, eintlik humanis (filosofie het ek dus van albei kante en twee wêrelddele. As kinders (ek het ʼn jonger suster, en dis al), alhoewel streng grootgemaak, is ons nooit tot enigiets gedwing nie, en het ons geheel en al vry van ideologieë grootgeword, iets waaroor ek nie genoeg dankbaar kan wees nie. Word feitlik uitsluitlik Afrikaans groot, alhoewel Engels vandag vir my soms ʼn geestelike toevlug is (nooit voldoende nie; daarom dat ek dikwels teen my mede-Afrikaners vloek; dan lees ek weer N.P. van Wyk Louw). Matrikuleer aan ʼn Roomse skool in Kaapstad. Woon die Universiteit van Kaapstad by, en later dié van Londen en Oxford, met beurse. Trou. Het twee slim seuns. Probleme. Skei. Het nog die twee slim seuns. Trou later weer, en my vrou is op die oomblik van publikasie hiervan akademikus saam met my aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Walg my vir die ‘rat-race’ en probeer wég van die kleinlikheid lewe, jaloers veral op my intellektuele integriteit. Reis nou onlangs nog in Amerika en leer nogal baie by die Yanks. Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense, en dat ek van hulle notisie geneem het).”

 

Andries Bezuidenhout. As almal ver is

Monday, October 19th, 2009

Kom maak tog maar ‘n draai Woensdagaand. Ek gaan ‘n paar tunes ook speel.

  •