Mellet Moll. Taras Sjefsjenko
Tuesday, June 7th, 2022
Taras Sjefsjenko
Ons sal hom op die hoë grond begrawe,
in die Steppe tussen koringlande en die
steil oewers van die Dnipro-rivier.
Ons sal monumente in sy naam oprig
en universiteite sal sy nalatenskap huldig
as die rivier die bloed van ons vyande
na die Swartsee dra. En wanneer hy die
grond oplaas verlaat sal die koringlande
en die heuwels in die mis sy verse word
wat oor hierdie gekaapte land weerklink.
O land van oorlog én van onderdrukking
deur tiranne, tsaars, keisers en despote:
staan wag oor hom en bring die tyding
van hoe ons opstaan en die kettings breek
en hoe ons hom op grafstil dae onthou
en só sy testament bewaar.
© Mellet Moll, 2022